1 KOR 15:10 Deur die genade van God is ek wat ek is

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 1,015 views
Notes
Transcript

EREDIENS  APK  PRETORIA-OOS

22 APRIL 2007

VOTUM : “Ons hulp is in die Naam van God wat hemel en aarde gemaak het, en in die Naam van Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgewek is en sit aan die regterhand van God die Vader en daar vir ons intree en in die Naam van die Heilige Gees wat ons in alle waarheid lei.  Amen.”

VOORSANG :           PSALM 150:1 en 3

Wet en Belydenis :  GESANG 71:1 en GESANG 51:1, 3

WET :

Gemeente luister na die Wet van die Here soos ons dit opgeteken vind in Exodus 20 :

Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het.

[1] Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie. [2] Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.  Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie.  Want Ek, die Here jou God, is ʼn jaloerse God, wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat.; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en My gebooie onderhou.  [3] Jy mag die Naam van die Here  jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat Sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.  [4] Gedenk die Sabbatdag dat jy dit heilig.  Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God, dan mag jy geen werk doen nie - jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.  Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus.  Daarom het die Here die Sabbatdag geseën en dit geheilig.  [5] Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.  [6] Jy mag nie doodslaan nie.  [7] Jy mag nie egbreek nie.  [8] Jy mag nie steel nie.  [9] Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.  [10] Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.

SING : GESANG 71:1

“Aan almal wat met ʼn ware berou en opregte geloof  hulle toevlug neem tot ons enigste Verlosser, Jesus Christus die Here, verkondig die Woord vergifnis van sondes.”

Saam met die kerk van alle eeue bely ons ons geloof:

BELYDENIS :

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van hemel en aarde.  En in Jesus Christus , Sy Eniggebore Seun, onse Heer; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig, gestorwe en begrawe is, en neergedaal het na die hel; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader, vanwaar Hy sal kom om te oordeel die lewende en die dode.  Ek glo in die Heilige Gees; ek glo aan ʼn heilige, algemene, Christelike kerk; die gemeenskap van die heiliges; vergewing van sondes; wederopstanding van die vlees, en ʼn ewige lewe.

Amen.

SING : GESANG 51:1, 3

 

 

 

 

 

 

SKRIFLESING :       HANDELINGE 17:16 – 34

                                    1 KORINTHIËRS 15:1 - 11

GEBED

SING:                         PSALM 138:1, 4

 

TEKS :                       HANDELINGE 17:32 –

“Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.”

                                    1 KORINTHIËRS 15:10a –

“Maar deur die genade van God is ek wat ek is...”

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

TEMA: Deur die genade van God is ek wat ek is!

"Gewoonlik word die dood beskou as ʼn onherroeplike, onherstelbare verlies. Maar Christus het voor sy kruisiging gesê dat Hy op die derde dag sou opstaan uit die dood. Daarom het alles na sy begrafnis as’t ware in ademlose spanning gewag op die derde dag. Die skepping het sy grootste krisispunt bereik. As Christus nie weer uit die graf te voorskyn sou kom nie, dan was die wêreld en die hele mensdom vir goed verlore." (De Bruyn.1993:110)

"Christus se opstanding uit die dood is die grootste wonder van alle tye. Wat gelyk het onmoontlik te wees, het werklik plaasgevind: ʼn mens wat gesterf het, het weer lewendig geword. In ʼn seker sin kan ʼn mens verstaan dat die Ateners Paulus uitgelag het, toe hy aan hulle vertel het dat Christus uit die dood opgestaan het." (De Bruyn.1997:110)

So geliefdes is die sin van ons bestaan geleë in God se groot genade in en deur Jesus Christus se opstanding. Dit is geleë in Jesus Christus wat opgestaan het en na die hemel toe opgevaar het.

En nou is die vraag:

Hoe dink jy oor jou lewe?
Wat dink en ervaar en beplan jy vir die res van jou lewe?
Of raak jy, of is jy al klaar moedeloos vir die jaar wat met ʼn spoed begin het?
Of dink jy ook maar, ek is wat ek is en ek moet my maar so aanvaar en almal om my
moet my so aanvaar met my foute en al?

Geliefdes maar dit is ʼn eng, ja verkeerde siening van ons lewe. God is almagtig en groot en goed IN ALLES wat elke dag gebeur. Ja ook in die klein dingetjies, maar ook met elkeen van ons persoonlik. God is elke dag besig met jou as individu, van die oudste tot die jongste. Paulus besef baie deeglik dat God met hom persoonlik, met hom as gewese vervolger van die kerk, met hom persoonlik besig is.

Ons lees in 1 Korintiërs 15:10a dat Paulus skryf:

"MAAR DEUR DIE GENADE VAN GOD, IS EK WAT EK IS"

Hoekom het Paulus hierdie belydenis gedoen?

Die Grieke het nie geglo in die opstanding van die dooies nie. Toe Paulus in Athene by die Areopagus gepreek het en hulle vertel het van die opstanding uit die dood het party hom uitgelag (Handelinge 17:32).

Die wysgere en filosowe van die Grieke het hulle geleer dat die liggaam die gevangenis is van die siel, en hoe gouer die siel uit die liggaam kom, hoe beter is dit vir die persoon se siel. Die Grieke het die menslike liggaam beskou as ʼn instrument van swakheid en sondigheid en goddeloosheid en slegtheid. Daarom, hoe gouer ʼn persoon se siel sy liggaam verlaat, hoe beter is dit vir daardie persoon. (Wiersbe.1992:465)

Paulus preek nou vir die Korintiërs en hy stel dit as ʼn onbetwisbare feit, met bewyse aan hoeveel mense en groepe Jesus verskyn het na Sy opstanding. En Paulus leer dat as Jesus nie opgestaan het nie, dan is hulle geloof nutteloos en sonder inhoud. Die opstanding van Jesus Christus is ʼn onbetwisbare historiese heilsfeit. (1 Korintiërs 15:1-11)

Maar dan sê Paulus dat Jesus Christus ook aan hom verskyn het.

"Heel laaste het Hy ook aan my, die misgeboorte, verskyn." - 1 Korintiërs 15:8

Paulus verwys hier na die gebeure op die Damaskuspad (Handelinge 9:1vv). Paulus weet wat daar gebeur het dat dit die opgestane Here was wat aan hom verskyn het, presies soos aan die ander apostels.

Hoekom noem Paulus homself ʼn misgeboorte of ontydig geborene?

Paulus wys hier daarop dat hy die apostel is wat uit sy eie onwaardig en onverdienstelik is. Hy beskou homself as iets wat wegwerplik is. Hy het dan ons Here Jesus Christus se kerk vervolg en mense gedood en in die gevangenis gegooi omdat hulle in Christus geglo het. Paulus besef dat hy die geringste is van al die apostels. Sy naam staan heel laaste van die apostel. Hy sê dat hy nie eers werd (hikanos) is om apostel genoem te word nie.

Die Griekse woord, hikanos beteken hier:

hy is nie werd om ʼn apostel genoem te word nie,
ten opsigte van sy vroeëre gedrag kwalifiseer hy nie om ʼn apostel te wees nie,
daar ontbreek iets aan hom.

Paulus was diep onder die indruk dat hy die gemeente van God vervolg het en daardeur homself teen God verset het. Nogtans het God hom aangegryp en tot apostel aangestel!

As Paulus dan so sleg was, hoekom het God hom aangegryp?

Geliefdes, hierop het Paulus net een antwoord: (1 Korintiërs 15:10a)

"MAAR DEUR DIE GENADE VAN GOD, IS EK WAT EK IS"

Drie maal in een vers lees ons van God se GENADE!

Dit is net God se genade wat Paulus maak wat hy is. Dit is net God se genade wat Paulus kan laat uitroep - deur die genade is ek wat ek is.

Geliefdes, ons gebruik ook so maklik hierdie uitdrukking, ek is wat ek is. Maar ons gebruik dit so maklik in die verkeerde sin. Ons wil daardeur onsself verontskuldig, asof ek nie kan help dat ek ʼn sondige mens is nie. Ons wil so maklik daardeur onsself regverdig en daardeur sê, aanvaar my nou maar soos ek is, en moet my nie verkwalik dat ek sonde doen nie.

Geliefdes dit is ʼn totale verkeerde redenasie. God het elkeen van Sy kinders so lief dat Hy ons wederbaar deur die Heilige Gees. Hy skep nuwe mense in Christus deur Sy Woord en Gees. Dit is God se ongelooflike ryk genade wat Hy aan ons betoon. Want elkeen van ons wat vanmôre hier sit, wat waarlik glo, wat Hom bely, wat deel is van die verbond van God, word deur Sy genade bekeer en verander. Ja geliefdes, God het elkeen van Sy kinders lief.

Paulus sê baie persoonlik:

"Deur die genade van God is ek wat ek is!"

Paulus gebruik nie maar sommer net woorde nie. Dit mag miskien vir ons as christene ʼn bekende woord wees, GENADE, maar dit hou ʼn besondere troos van redding en verlossing en ewige lewe in.

Vroeër het Paulus gedink hy ken homself. Toe was hy ʼn Fariseër wat op die voorste sitplekke in die Sinagoge gesit het en deur die mense geëer is. Hy het God se wet geken en het Christus en Sy kerk ywerig vervolg.

Nou hoor ons egter ʼn ander taal uit sy hart en mond.

Hy het ʼn nuwe mens geword.
Hy is die geringste van die apostels, nie eers werd sê hy, om ʼn apostel genoem te word nie.
Hy noem al sy misdade op in plaas van al sy prestasies.
Hy kan nie ophou om sy misdade te noem nie omdat hy ʼn heilige mishae het daarin.

Deur God se genade is hy nou ʼn bekeerde. Deur God se genade is hy ʼn dienswillige navolger van Jesus Christus. Alles in hom en aan hom is net genade. God het hom vasgegryp in hande van genade.

Hy het immers baie gehad om op te roem, ja na sy bekering op pad na Damaskus was hy seker die apostel wat die meeste gely het. Ons lees in 2 Korintiërs 11:22-29 hoedat hy skryf as hy wou roem, het niemand soveel soos hy gely nie. Dit alles is egter dwaasheid, want wat is dit in vergelyking met Christus se onverdiende lyding vir ons. Paulus sê dat as hy dan wil roem dan is dit oor sy swakhede.

"As daar dan geroem moet word, sal ek roem,
maar dan oor my swakhede." -
2 Korintiërs 11:30

Toepassing in ons lewens vandag!

Christus se opstanding uit die dood is die grootste wonder van alle tye.  Wat gelyk het onmoontlik te wees, het werklik plaasgevind: ʼn Mens wat gesterf het, het weer lewendig geword.

GLO JY DIT!

As jy dit glo kan jy saam met Paulus sê dat God se genade genoeg is.

As God Paulus dan geroep en bekeer het deur Sy genade, Paulus met al sy vervolginge van die kerk, dan roep God vandag nog Sy kinders elkeen persoonlik.

God is vandag en elke dag met elkeen van ons besig. Ja broeder, suster en kind met jou persoonlik. Hy roep ons elke dag op tot bekering. God ken elkeen van ons by die naam. Ons name is op Sy handpalm geskryf.

Ja jy wat ʼn pap babetjie grootmaak, God ken hom of haar.
Jy as skoolkind, kleuter, graad eentjie, skolier, student, werkende, afgetredene, getroud of ongetroud.

God se genade is vir jou genoeg.

Met jou doop is God se verbond weer beklemtoon in jou lewe. Met jou belydenisaflegging het jy persoonlik bely dat Christus uit die dood opgestaan het. So beleef ons elke dag God se intense genade!

Hierdie genade is nie maar ʼn persoonlike besit wat jy in jou binneste moet koester vir jouself nie.

Daar moet ʼn vuur in jou brand vir God en Sy koninkryk!
Daar moet  ʼn vuur brand om die evangelie te leef en uit te leef!

Ten Slotte

Deur God se genade is ek wat ek is!

Ja broeder en suster, jongmens en kind. God se genade is vir jou! Die genade verkry ons omdat Jesus Christus opgestaan het uit die dood!

Die troos en blydskap hiervan beteken:-

Deur Sy opstanding het ons volkome verlossing van ons sondes.
Deur Sy krag word ons tot ʼn nuwe lewe opgewek.
Deur Sy opstanding het ons ʼn betroubare waarborg van ons opstanding.

As Christus alles in jou lewe is, dan word die kerk aktief. Dan leef die kerk en getuig. Dan getuig die kerk en werk. Dan word die kerk ʼn getuienis in die wêreld. Dan spreek die genade van God in en deur Jesus Christus in  elkeen van ons se lewens.

Amen

DANKGEBED

SLOTSANG:  GESANG 295 : 1 - 4

(Na die opneem van die Offergawes)

GROET :  Gaan nou heen in vrede en ontvang die seën van die Here:  Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God onse Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met u almal.  Amen.

Related Media
See more
Related Sermons
See more