Johannes 14:1-6

Sermon  •  Submitted   •  Presented
0 ratings
· 52 views
Notes
Transcript
Inleiding:
Vir enige iemand om ‘n geliefde te verloor, is bitterlik moeilik. Dit is op daardie oomblik, dat ons besef, dat die afsterwe van ‘n geliefde, ‘n permanente skeiding is. Ons almal was sekerlik al gekonfronteer met hierdie waarheid en gevoel van afgryslike pyn wanneer iemand na aan ons, tot sterwe kom. En geliefdes, ons vergeet baie keer, dat God self ook so ‘n gevoel van onbeskryflike hartseer gehad het, met die dood van Sy Seun.
Dit was donker ure, daardie nag voordat die Here Jesus Christus verraai, mishandel, gemartel en uiteindelik gekruisig is. In 'n baie kort tydjie gaan die wêreld van die elf dissipels wat saam met Jesus in ‘n baie noue verhouding was, ineenstort in ongelooflike chaos. U sien, Jesus Christus, vir wie hulle alles opgeoffer het, was op pad. Hulle geliefde Meester, vir wie hulle meer liefgehad het as die lewe, die Een vir wie hulle bereid was om te sterf, sou weggaan deur die dood op die wrede kruis. Hulle son was op die punt om teen die middag te sak, en hulle hele wêreld sou oral rondom hulle inval. Trouens, die pyne het reeds begin. Die gevolge van alles wat Jesus vir hulle gesê het, moes hulle gedagtes laat wankel het, en teen Johannes 14 was hulle ongetwyfeld verward, en sekerlik gevul met angs. Hulle het voor ‘n deur van groot onbekendheid gestaan.
En so, reg hier aan die begin van Johannes hoofstuk 14 verwag Jesus Christus, alreeds die droefheid van hulle stukkende harte. En wat doen Hy? Hy gee hulle troos op troos. Soos ons Jesus Christus se woorde in die eerste ses verse lees, ontdek ons ​​hoe diep Hy vir sy dissipels omgegee het. Hy was op die punt om aan 'n kruis vasgespyker te word, en Hy het goed geweet dat Hy binnekort die sondes sou dra van almal wat ooit sou glo, vervloek sou word met die vloek van God, verlaat sal word deur Sy eie Vader, op gespoeg en bespot sou word deur die bose mense van die wêreld. U sien geliefdes, ek dink dat enige ander mens in daardie situasie sou in so 'n toestand van onbeheerbare beroering gewees het. Soveel so dat hy of sy, nooit hulle aandag op die behoeftes van ander sou kon fokus nie. Maar, on sweet, deur die lering van God se Woord, dat Jesus Christus anders is.
Martin Luther verwys na hierdie spesifieke gedeelte, as "die beste en mees vertroostende preek wat die Here Christus op aarde gelewer het, 'n skat en 'n juweel wat nie met die wêreld se goedere gekoop moet word nie." Hierdie verse word as die grondslag vir vertroosting beskou, nie net vir hierdie dissipels nie, maar ook vir ons. As jy ooit by die punt in jou lewe kom waar jy dink jy het sonder ontsnappings en daar is nie meer plekke waar jy kan rus nie, sal jy 'n geweldige sagte donserige kussing in Johannes 14:1-6 vind.
Hier is Jesus Christus, ten volle goddelik maar nietemin totaal menslik, wat die aakligste soort ervaring verwag, maar op hierdie stadium heeltemal kommerloos is, oor Sy eie ervaring, en geheel en al opgeneem is in die behoeftes van Sy elf vriende. Hy het sekerlik reeds die gewig gevoel van die verskriklike las van sonde wat Hy op die punt was om te dra, en besef dat Hy op die punt was om die bitter beker van die dood vir sondaars te proe, maar Hy het nietemin 'n primêre belangstelling in die smarte en die vrese van Sy apostels gehad. Ons lees in Johannes in 13:1 die volgende woorde; "EN voor die fees van die pasga het Jesus, omdat Hy wis dat sy uur gekom het dat Hy uit hierdie wêreld sou oorgaan na die Vader, en omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe”. U sien geliefdes, dit is duidelik dat Hy sy eie liefgehad het, dat Hy hulle liefgehad het, tot die einde toe.
Geliefdes, as daar 'n enkele sentrale boodskap in Jesus Christus se woorde is, is dit juis dat die basis daarvan, troos asook vertrouende geloof is. Ek wild it waag om vir u vanmore te sê, indien u dalk ontevrede, bekommerd, angstig, verward, of andersins vertroosting nodig het, is die enigste uitweg, om na Hom, Jesus Christus toe te kom, vir vertroosting. Want u sien, indien ons werklik op Jesus Christus vertrou, dan hoef ons nie bekommerd, angstig of verward te wees nie. Die rede waarom die dissipels so angstig was, is juis omdat hulle op hulle probleme begin fokus het, en daarom het dit gelyk asof hulle nie in staat is, om hulle vertroue in Jesus Christus te stel nie. En daarom is hierdie verse so belangrik, want Jesus herinner ons aan die belangrikheid, om op Hom te vertrou. Let op die woorde; “LAAT julle hart nie ontsteld word nie”. In die oorspronklike taal, naamlik Grieks beteken dit letterlik, "hou op om jou hart ontsteld te laat wees." Dit is belangrik om te weet, dat die dissipels reeds ontsteld was. Trouens, hulle was waarskynlik vreesbevange. Hulle was ten volle oortuig dat Hy die Messias was, maar die enigste werklike konsep wat hulle ooit van die Messias gehad het, was as 'n roemryke oorwinnaar, 'n soort van 'n superheld, 'n soewereine, regerende koning. Hulle hoop het net 'n week tevore selfs hoër gestyg, toe Jesus in Jerusalem aangery gekom het en almal palmtakke neergegooi en Hom aanbid het.
Tog, al het hulle getwyfel, was hulle liefde vir Hom onverminderd. Miskien het hulle te midde van hul vrese teen hoop gehoop dat Hy iets sou doen om te keer wat vir hulle na 'n onmoontlike situasie moes gelyk het. Jesus, wat hulle harte soos 'n advertensiebord kon lees, het presies geweet wat hulle dink. Hy was geraak deur die gevoelens van hulle swakhede, en in 'n sekere sin het Hy hulle hartseer en hulle seer gedeel. Hulle kon nie Sy pyn voel nie, maar Hy kon hulle s'n voel.
In hierdie eerste ses verse, is daar vir ons 3 kosbare waarhede rondom die vertroosting wat Jesus Christus bied indien ons Hom vertrou. Die eerste waarheid is, dat ons Sy Teenwoordigheid kan vertrou.
1. Ons Kan Sy Teenwoordigheid Vertrou (Vers 1)
LAAT julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My”.
Hierdie is sulke kosbare woorde vir elkeen van ons. Want u sien, al kan ons God nie sien nie, glo ons nogsteeds in Hom. Hierdie is ‘n kosbare bemoediging vir ons. U sien, Jesus sê eintlik vir ons “Hou aan glo”. “Jou geloof in My moet nie minder word, omdat jy my nie kan sien nie. Al kan jy my nie sien nie, sal Ek steeds by jou wees”. Jesus wou hê dat die dissipels dit moet verstaan ​​dat alhoewel Hy hulle fisies verlaat, Sy teenwoordigheid geestelik by hulle sou wees. Hy sou weggaan, maar hulle het en sou altyd toegang tot God hê, deur die geloof in Hom. Ons lees in Deuteronomium 31:6 die volgende; “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie”. U sien geliefdes, sulke geloof in die alomteenwoordigheid van God, was ’n basiese beginsel van die Joodse geloof. Alhoewel hulle nog nooit Sy gestalte gesien het nie, het alle Joodse mense implisiet geglo dat God altyd teenwoordig was. Hulle geskiedenis was bewys van Sy ewige sorg en beskerming. Hulle het volle geloof in die onsigbare God gehad! Deur Homself op dieselfde vlak as God te plaas, het Jesus Christus die dissipels aangespoor om Hom te vertrou selfs wanneer Hy nie fisies teenwoordig was nie. En hierdie woorde wat Jesus hier gespreek het, word baie keer aangehaal om na die reddende geloof te verwys. Hierdie kan nie korrek wees nie, want Hy het nie vir die dissipels gesê dat hulle in Hom moet glo om gered te word nie, want hulle het reeds in Hom geglo. Die woordjie “glo”, is eerder in ‘n lineêre werkwoordvorm gebruik, wat beteken: “Hou aan om My te vertrou net soos jy God vertrou, al sal ek nie sigbaar wees nie."
Ons leef met konflik, teleurstelling en pyn. Ons ervaar almal ure van diepe tragedie en tye van erge beproewing, maar Jesus Christus is met ons. Wat ook al jou moeilikheid is, in watter gemors jy ook al is, watter angs of verwarring jy ook al het, onthou net, die Here self is daar. Op 'n manier is dit beter as wanneer Hy sigbaar was, want Hy word nie deur die beperkinge van 'n fisiese liggaam verhinder nie. Hy kan wees waar ons Hom ook al nodig het. Terwyl Hy hier op aarde was, kon Hy net op een plek op 'n slag wees. Nou is Hy oral beskikbaar vir alle gelowiges. Tweedens, kan ons Sy beloftes vertrou.
2. Ons Kan Sy Beloftes Vertrou. (Vers 2).
In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei”.
Hierdie laaste frase is gevul met ‘n diepe betekenis. Jesus wou hê hulle moet weet dat Hy nie daarop uit is om hulle te mislei nie, en Hy sal nie toelaat dat hulle mislei word nie. Hulle het baie wanopvattings gehad wat reggestel moes word, maar hulle hoop op die ewigheid in die hemel saam met Hom was nie een van daardie wanopvattings nie. Hulle het byvoorbeeld geglo dat die Messias 'n oorwinnende monarg sou wees, en Hy het hulle geleer dat Hy eers 'n lydende dienaar moet wees. Nou, ter wille van die rekord, wou Hy hulle verseker dat hulle verwagting van die ewigheid in Sy koninkryk nie 'n ydele hoop was nie. Trouens, Sy vertrek sou slegs wees om die vervulling van hierdie verwagting tot vervulling te bring. En die verwagting was juis dit: “Ek gaan om vir julle plek te berei”. Kan jy jou indink hoe dit hulle moes vertroos het, om vir die eerste keer te besef hoekom Hy weggaan? Met ander woorde, Hy gaan nie net van hulle af weg om weg te kom nie. Nee, Hy gaan weg om vir hulle plek te gaan voorberei. Dit is belangrik om daarop te let dat Hy na die hemel hier verwys as hy sê, “In die huis van my Vader”. Sy gunsteling naam vir God was "My Vader." Jesus, wat vir ewig in die boesem van die Vader gewoon het, het na vore gekom sodat Hy die Vader kon openbaar, asook wat die Vader deur alle ewigheid was. Nou sou Hy deur die dood verheerlik word, en Hy was weer op pad na volle heerlikheid saam met die Vader in die Vader se huis. In die Nuwe Testament word die hemel dikwels 'n land genoem (wat die uitgestrektheid daarvan beklemtoon); 'n stad (vanweë die groot aantal inwoners); 'n koninkryk (vanweë sy struktuur en orde); en die paradys (vanweë sy skoonheid). Maar my gunsteling uitdrukking vir die hemel is hierdie: “In die huis van my Vader”. Ek dink een van die beste onthou dinge in ons elkeen se lewe, veral toe ons jong kinders was, en ons het iewers heen gegaan, dan was dit 'n onbeskryflike gevoel van goedheid om terug te kom huis toe, met ander woorde terug na die huis waar jou Vader en Moeder is, nie waar nie. Praat maar met studente ook wat van die huis af swot, waarna sien hulle die meeste uit? Na die wonderlike geleentheid om terug te keer huis toe. Waarom sou dit wees? Want dit is daar waar ons altyd welkom is. Daar is ek aanvaar. Daar kan ek vry wees om myself te wees. By die huis kan ek net ingaan, my skoene uitskop, in 'n stoel neersak en ontspan. Dit was net soveel my huis as my pa s'n, nie waar nie. U weet wat, so is die hemel ook. Om na die hemel huis toe te gaan, sal nie wees soos om in 'n reuse, onbekende paleis in te gaan nie, nee, dit sal wees om soos huis toe te gaan. Dit is ons Vader se huis, maar ons is inwoners daar, nie gaste nie.
Dit is die soort reëling waarna Jesus verwys het. Hy het nie gepraat van woonhuise of herehuise oor die heuwel nie, maar eerder 'n woonplek wat die hele familie van God insluit. Ons sal by God woon. Daar sal genoeg plek vir almal wees. Openbaring 21:16 sê vir ons die volgende: "En die stad het vierkantig gelê, en sy lengte was net so groot as sy breedte. En hy het die stad met die meetroede gemeet op duisend-vyfhonderd myl; sy lengte en breedte en hoogte was gelyk”. Die hemel, wat uniek voorberei is vir die verlostes om in verheerlikte liggame te woon, sal soos 'n kubus uitgelê word. Die hemel is asemrowend groot, maar my geliefdes, die gemeenskap in die hemel is baie intiem. In Openbaring 21:2-3het Johannes geskryf: “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is. En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God”. Hy is daar, onder sy volk wat by hulle woon in onafgebroke en ongehinderde gemeenskap. Johannes gaan egter Voort in vers 4 met die woorde; “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan”. U sien geliefdes, die Vader sorg vir al die seerkry en die behoeftes van Sy kinders in Sy huis. Daar is geen gevoel van behoefte, niks van wil hê nie, en geen negatiewe emosie nie. Elke gelowige moet alreeds gebonde voel tot die hemel. Waarom sê ek so? Want u sien, ons Vader is daar; ons Verlosser is daar; ons huis is daar; en daarom het ons burgerskap ook daar. Ons sien ook hoedat Johannes Voort gaan om te beskryf hoe die heerlikheid van God die stad sal verlig. Stel u voor die suiwerste, helderste lig wat deur die juwele in die mure van daardie wonderlike stad flits. Sy poorte word nooit gesluit nie, tog kan niks wat besoedel is daar binnegaan nie. Wat 'n stad sal dit net nie wees nie! Met deursigtige goud, diamantmure en lig van die Lam se glorie wat 'n skouspel van skitterende skoonheid vorm. En die Here Jesus berei dit spesiaal vir Sy eiendom voor. Kinders van die Here, naamlik wedergebore mense, is God se eiendom. En ons kry die belofte van hierdie waarhede in die woorde; “as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het”, vers 2. In werklikheid sê die Here Jesus, “Vertrou my beloftes! Ek het julle altyd die waarheid vertel". Hy gaan egter Voort as Hy sê; “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is”, vers 3. Wat ’n gerusstelling moes dit net nie daardie donker nag vir daardie beangste dissipels gewees het nie! So seker as wat Hy vertrek, sou Hy weer terugkom, persoonlik, om hulle persoonlik te ontvang op die plek wat Hy vir hulle sou voorberei. Geliefdes, ons kan volkome vertroue hê dat Hy terugkom, alhoewel ons nie weet wanneer nie. Trouens, Jesus is gretig om terug te keer en sy eie op te eis. In Johannes 17:24 bid Jesus tot die die Vader en sê; “Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld”. Hier sien ons hoedat Jesus Christus wil ons net so graag by Hom hê as wat ons by Hom wil wees.
Geliefdes, Jesus Christus kom terug. Hierdie onderwerp is op die lippe van Christene regoor die wêreld. Trouens, Hy kan vandag nog kom. Maar al doen Hy dit nie, weet ons Hy sal eendag. Hy begeer dit net so graag soos ons. Sê my geliefde, indien die Here sou vertoef om nou te kom, waarmee gaan u besig wees? Maar nog meer, ken u Hom as persoonlike Verlosser en Saligmaker sodat jy sy stem sal erken as Hy jou sou roep? Want, u sien en dit bring my by die finale punt, naamlik dat ons Sy persoon kan vertrou.
3. Ons Kan Sy Persoon Vertrou
Jesus se dissipels moes heeltemal verbysterd gewees het, toe Jesus, wat hier van Sy heengaan praat, ook bygevoeg het; “En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle”, vers 4. U sien, tot op hierdie stadium het hulle die idee van Sy heengaan nog nie heeltemal weerstaan nie, en na hierdie woorde, was hulle sekerlik nou van niks seker nie. Thomas het waarskynlik vir die res gepraat toe hy gesê het in vers 5; “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?”. In werklikheid en eenvoudig gestel, redeneer Thomas soos volg; “Ons kennis stop by die dood. Hoe kan ons na die Vader gaan tensy ons sterf? U gaan sterf en iewers heen gaan, maar ons weet nie wat na die dood aangaan nie. Ons het niks kaarte oor hoe om by die Vader uit te kom nadat U gesterf het." Hierdie is ‘n goeie argument. Maar kyk saam met my hoe diep Jesus Christus se reaksie is aan Thomas. Jesus sê in vers 6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”. Met ander woorde, "Jy hoef nie te weet hoe om daar te kom nie. Ek kom haal jou." Dit is 'n herbevestiging van alles wat Hy so pas aan hulle belowe het. Dit is 'n pragtige belofte hierdie aan elkeen van ons as gelowiges. Het u al ooit in 'n onbekende dorp ingery en gestop om aanwysings te vra? As die ervaring soos meeste is, dan het u waarskynlik iemand gehad wat vir jou 'n komplekse stel aanwysings gegee het wat u onmoontlik kon verstaan. Maar, hoeveel beter sal dit vir die persoon, wat aanwysings vra, wees om eerder te sê: "Volg my, ek sal jou soontoe neem”. En dit is presies wat Jesus doen; Hy wys nie vir ons die rigting na die Vader se huis nie, nee, Hy dra ons as te ware daarheen. Daarom is die dood vir die Christen gelowige so 'n heerlike ervaring. Of ons sterf en of Hy ons kom haal met die wederkoms, ons weet ons kan Hom vertrou om ons na die Vader se huis te neem.
In die voorbereiding van die dissipels vir Sy vertrek, het die Here Jesus dus sy voortdurende sorg vir hulle beklemtoon, met betrekking tot Homself met hulle vertroosting selfs in die aangesig van Sy eie naderende lyding. Uit Sy innige liefde vir hulle en vir almal wat hulle in geloof sou volg, het Hy vir hulle tasbare en betroubare redes gegee om altyd hoop te hê.
Jesus Christus se boodskap van troos en hoop is vandag net so van toepassing as wat dit was om en by 2000 jaar gelede. Hierdie wêreld waarin ons onsself bevind, is vol valse hoop. Maar afgesien van die Geesgegewe versekering van Jesus Christus se voortdurende teenwoordigheid, die vertroue dat Hy besig is om 'n plek in die hemel voor te berei, die oortuiging dat Hy die enigste weg na God is, die besef dat Hy God geïnkarneer is, die erkenning van Sy onderhoudende krag, en die verwagting dat Hy sy beloftes volkome met hemelse voorsiening en reëlmaat sal vervul, is alle ander bronne van vertroosting en hoop niks meer as “gebarste reënbakke wat geen water hou nie”, soos Jeremia in Jeremia 2:13 vir ons leer. Hulle sal uiteindelik teleurstel, terwyl Jesus Christus nooit teleur sal stel nie.
Ek sluit af;
Jesus Christus sê vanoggend vir my en jou in hierdie hartseer tyd. In hierdie onseker tyd van ons lewe; “Vertrou My!” Jy het nie 'n kaart nodig vir hierdie onbekende pad nie. Want; “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”. Met ander woorde, Ek is die weg na die Vader. Ek is die waarheid, hetsy in hierdie wêreld of die toekomstige wêreld. Ek is die lewe wat ewig is."
Hieruit leer ons dat Jesus Christus alles is, wat 'n mens nodig het. Alles wat Adam verloor het met die sondeval, mag ons in Jesus Christus herwin. Ons kan Sy teenwoordigheid, Sy beloftes en Sy persoon vertrou, want Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Ek weet van geen groter troos as hierdie troos, in die tye waarin onsself tans bevind nie.
Mag die Here, deur Sy Genade, vir ons help om hierdeur bemoedig te word, om Sy aangesig en teenwoordigheid in hierdie moeilike en onverstaanbare tye te soek. My geliefde, ek wil dan ook uitdaag vanmore, na aanleiding van die feit dat die lewe bitterlik kort is, dat u u hart sal ondersoek, en seker maak dat u saak met die Here Jesus in orde is, voordat dit te laat mag wees. Waar gaan u wakker word, 5 sekondes na jou dood?
Amen.
Related Media
See more
Related Sermons
See more