Untitled Sermon (4)

Sermon  •  Submitted   •  Presented
0 ratings
· 14 views
Notes
Transcript
Hartlik welkom by ons Kers Sangdiens. Ons is bly dat u hier teenwoordig is, en ons bid dat u hierdie besonderse erediens saam met ons sal geniet.
Na afloop van die erediens, nooi ons u almal uit om saam met ons in die saal bymekaar te kom, daar sal ons dan almal saam bietjie verversings en iets te drink saam geniet.
Ons gaan vanoggend 'n paar tradisionele bekende Kersliedere saam sing, asook dalk ‘n paar onbekende liedere, om hierdie geleentheid, ‘n besonderse geleentheid te maak. Ons sal vir u aandui wanneer ons gaan staan, en wanneer ons gaan sit om liedere saam te sing. Een versoek is dat wanneer ons saam sing, dat ons dit uit volle bors doen. Die woorde sal op die doek verskyn.
Daar is tussendeur voorlesings uit die Bybel, want ons is juis hier, om ons te herinner aan die kosbare verhaal van Kersfees, nie volgens die wêreld se oortuigings nie, maar volgens die Waarheid in die Woord van God.
Openings gebed.
· Kom ons staan ​​en sing ons eerste Kers Lied hartlik saam: Die Heiland is Gebore – Staande.
Storie Verteller: Wanneer 'n baba gebore word is daar geluk en blydskap by almal. Ons weet dat kinders 'n seën is vir die ouers, asook vir hulle familie. Maar, hierdie baba is meer as net ‘n seën vir Josef en Maria, want hierdie baba is gebore om die wêreld op 'n baie unieke manier te seën. Die geboorte van Jesus Christus, wat ook die Messias genoem word, is die vervulling van 'n belofte wat lank gelede gemaak is. Reeds in die Ou Testament kry ons hierdie belofte. Honderde jare voor sy geboorte in Bethlehem, is 'n profesie rakende Sy geboorte, in baie fyn besonderhede aan ons gegee. Hierdie besonderhede sluit dinge in oor die omstandighede van Sy geboorte, asook informasie oor Sy karakter en ook Sy bedieningswerk wat Hy sou verrig hier op aarde.
Kom ons luister terwyl Willem Zaaiman, vir ons hierdie profiese uit die Bybel voorlees, soos ons dit in die boek Jesaja kry. Jesaja 7:14 en Jesaja 9:2,6-7.
Jesaja 7:14; “14Daarom sal die Here self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem”.
Jesaja 9:2; “2U het die nasie vermenigvuldig, hulle vreugde groot gemaak; hulle is vrolik voor u aangesig soos iemand vrolik is in die oestyd, soos iemand juig as die buit verdeel word”.
Jesaja 9:6-7; “6tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen. 7DIE Here stuur ’n woord in Jakob, en dit val in Israel”.
Storieverteller: Immanuel, God met ons. Wonderlike Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Hierdie is almal wonderlike beskrywings van die beloofde Messias. Jesus Christus, die Seun van God, die Een wat op die vasgestelde tyd gekom het om te versoen, te herstel, maar ook om mense in 'n werklike verhouding met God te bring, dit is die besonderheid van hierdie Persoon wat vir ons gebore is.
· Kom ons sing ons tweede lied en besing die lof van hierdie kindjie gebore vir ons: Kom Alle Getroues – Staande.
Storieverteller: Maar wat sou die hoofdoel wees, van Jesus se geboorte, wonder baie mense. Ja, daar is selfs Christene wat die doel weet, wat dit selfs ontken, of maar dit dood eenvoudig vergeet het. Daar is ook baie mense wat wonder oor die gebeure van Jesus Christus se geboorte. Oor hoe dit alles gebeur het.
Kom ons luister as Zephan Coetser, vir ons die Geboorte van Jesus voorlees uit Matteus 1:18-25.
Matteus 1:18-25; “18DIE geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees. 19En Josef, haar man, omdat hy regverdig was en onwillig om haar openbaar te maak, het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei. 20Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; 21en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. 22En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: 23Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons. 24En toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem; 25en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het Hom Jesus genoem”.
Storieverteller: So geliefdes, dit is hoe Jesus Christus die Messias gebore is. Sy ma was Maria, wat verloof was aan Josef met die doel om met hom te trou. Maar voordat die huwelik plaasgevind het, terwyl sy nog 'n maagd was, het sy swanger geraak deur die krag van die Heilige Gees. Josef, haar verloofde, was 'n goeie man en wou haar nie in die openbaar tot skande bring nie, en daarom het hy besluit om die verlowing stilweg te verbreek. Terwyl hy dit oorweeg, het 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn. “Josef, seun van Dawid,” het die engel gesê, “moenie bang wees om Maria as jou vrou te neem nie. Want die kind in haar is deur die Heilige Gees verwek. En sy sal 'n seun hê, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes red.” Dit alles het gebeur om die Here se boodskap deur sy profeet te vervul wat sê; “Kyk! Die maagd sal 'n kind verwek! Sy sal geboorte gee aan 'n seun, en hulle sal hom Immanuel noem, wat beteken ‘God is met ons’.”
Toe Josef wakker word, het hy gedoen soos die engel van die Here beveel het en Maria as sy vrou geneem. Maar hy het nie hul huwelik voltrek voordat sy geboorte gegee het aan die seun nie. En Josef het hom Jesus genoem, wat beteken die Here red. Hierdie kort gesprek tussen Josef en die engel openbaar iets van die wonderbaarlike krag van die Heilige Gees om bevrugting aan die Maagd Maria te bring. Daar is ook die wonderlike openbaring van God se ewige plan, naamlik dat "Hy Sy volk sal van hulle sondes sal red”.
Liezel Britz sal nou vir ons lees uit Lukas 1:26-35, 'n rekord van 'n soortgelyke gesprek wat tussen Maria en die engel Gabriël plaasgevind het.
Lukas 1:26-35;26EN in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ’n stad in Galiléa met die naam van Násaret, 27na ’n maagd wat verloof was aan ’n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. 28En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. 29En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken. 30En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. 31En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, 33en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. 34Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? 35En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word”.
Storieverteller: Hier sien ons, net soos Josef, hoe bang en verward Maria was. Maar, in beide gevalle, was die hand van die Here op hulle. In beide gevalle, het God deur ‘n Engel vir hulle kamlte en versekering gegee, dat Hy met hulle is.
· Sing ‘n kerslied saam: Op Bethlehem se velde (Jerusalem) – Staande.
***Woorde dalk so bietjie vreemd, maar bekende wysie***
Storieverteller: En toe gebeur dit. Stel jou vir 'n oomblik voor hoe dit sal wees om op 9 maande van swanger wees, 'n lang reis aan te pak op ‘n perd of donkie. Om dit vandag te doen, met gladde paaie, lugversorging, en met “Google Maps” sal dit dalk nie so moeilik wees nie. Maar 2000 jaar gelede was dit 'n heeltemal ander storie. Indien enige hoogs swanger vrou op 9 maande enige reis sou aanpak, sal baie mense redineer dat dit ‘n baie groot fout is. Maar hierdie spesifieke reis, was ‘n noodgedwinge reis gewees.
Kom ons luister as Mariane Smit vir ons nou uit Lukas 2:1-7 'n gedeelte lees wat verduidelik waarom Josef en Maria daardie reis moes maak:
Lukas 2:1-7; “EN in daardie dae het daar ’n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele wêreld ingeskryf moes word. 2Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië was. 3En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad. 4En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, 5om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was. 6En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar; 7en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie”.
Storieverteller: Die geboorte van Jesus, was 'n nederige begin op soveel maniere, geen gemaklike bed of kussing nie, maar slegs 'n krip, 'n vee voerbak as Sy eerste bedjie. En stroke lap, lappe om Hom mee toe te draai. Tog het die Engele gesing en was verheug oor Sy geboorte. Dink vir 'n oomblik aan daardie Herders, daardie eenvoudige werkers, gewone mense, wat nie gerespekteerde ryk leiers was nie. Gewone mense soos ons. God het self gekies om die Herders uit te nooi, om Jesus Christus, die Baba te gaan sien, voordat enigiemand anders die voorreg gehad het, nie die Koning nie, ook nie die Goewerneurs van die land nie, nie die ryk en welgestelde mense van Bethlehem nie. Nee, gewone Herders kon eerste die voorreg hê.
Kom ons luister verder uit Lukas 2:8-20, as Mariane Smit vir ons die volgende voorlesing daaruit bring, wat ons opnuut herinner wat daardie nag met die Herders gebeur het.
Lukas 2:8-20; “8EN daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 9En meteens staan daar ’n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. 10En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, 11dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. 12En dit is vir julle die teken: julle sal ’n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê. 13En skielik was daar saam met die engel ’n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: 14Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae! 15En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het. 16En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die Kindjie wat in die krip lê. 17En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is. 18En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is; 19maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink. 20En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is”.
Storieverteller: Hierdie Herders wat waarskynlik deur die meeste mense van die dag op neergesien is, hulle het 'n spesiale uitnodiging, deur 'n magdom Engele gekry, om die Seun van God, ure na Sy geboorte, te gaan sien. Hierdie deel van die Kersverhaal wys vir ons dat gewone mense, soos ek en julle, vir God baie waardevol is! Die Herders was belangrik vir God en dit dui vir ons aan dat u en ek, ook Belangrik vir God is! As kinders van God, is ons almal vir Hom kosbaar. Met hierdie in gedagte,
· Kom ons sing dan hierdie kosbare lied staande saam: Herders op die Ope Velde.
Joy Britz gaan vir ons lees uit Matteus 2:1-12 wat vir ons vertel van die Wyse manne uit die Ooste.
Matteus 2:1-12; “EN toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom 2en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys. 3En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom; 4en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. 5En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe:
6En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ’n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees. 7Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra; 8en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys. 9En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was. 10En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug. 11En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre. 12En omdat hulle in ’n droom ’n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ’n ander pad na hul land teruggegaan”.
Storieverteller: Na aanleiding van wat ons nou net gehoor het, gaan ons nou almal die volgende lied saam sing: Betlehem Ster – Sittend.
Hier neem Jaco die Diens verder, en deel ‘n kort boodskap uit Johannes 1:1-14.
Marietjie Groenewald gaan vir ons uit Johannes 1:1-14 'n gedeelte lees wat praat van hoe Jesus Christus Sy heerlikheid vir ons opsy gesit, en die wêreld wat Hy geskep het, binnegekom het as volkome mens, asook volkome God!
Johannes 1:1-14; “IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2Hy was in die begin by God. 3Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. 5En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. 6Daar was ’n man van God gestuur, wie se naam Johannes was. 7Hy het tot ’n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo. 8Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. 9Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. 10Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. 11Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. 12Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; 13wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is. 14En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid”.
Die Heerlikheid van die Vleesgeworde Woord!
My liewe gemeente, ons leef in tye waar die Waarheid rondom die viering van Kersfees misgekyk en selfs blatant geignoreer word. Kersfees in my beskeie opinie het eerder die vorm van humanisme aangeneem, juis omdat dit mos gaan oor die grootste en duurste geskenk en hoeveel geld daar gespandeer word, nie waar nie. Vir ons as gelowiges, is dit uiters belangrik, om aan die waarheid, volgens wat die Bybel ons leer, vas te hou. En ek weet daar is baie argumente oor die presiese datum en tyd, maar die waarheid rondom Kersfees, is baie groter as ‘n klomp tegniese kwessies. Maar wat is hierdie waarheid, waarvan ek praat?
Hierdie openingsgedeelte van Johannes se evangelie, druk die mees diepgaande waarheid, in die mees duidelikste terme uit aan ons uit. En dit is ongetwyfeld so! Dit word so duidelik aan ons gestel, dat selfs 'n kind dit maklik kan verstaan. Maar tog geliefdes, dra Johannes se Gees-geïnspireerde woorde 'n waarheid oor, wat bo die vermoë van die slimste verstand in die menslike geskiedenis is, om te begryp. En hierdie waarheid is juis dat die Ewige, Oneindige God, 'n mens geword het, in die Persoon van Jesus Christus. Hierdie heerlike, en onbetwisbare waarheid, naamlik dat in Jesus Christus die Goddelike “Woord vlees geword het”, volgens vers 14, is die tema van Johannes se Evangelie. En geliefdes, dit is juis dan om hierdie rede, dat ons die voorreg kan geniet, om Kersfees op hierdie wyse te vier. Dit is ook juis dan die rede waarom ons eerder praat van ‘n “Christus Fees”, want Jesus Christus is die sentrale punt van hierdie fees. Die Godheid van Jesus Christus is 'n noodsaaklike, asook ‘n ononderhandelbare beginsel van die Christelike geloof. Daar is verskeie waarhede en genoegsame Bybelse bewyse, wat saam vloei, wat voldoende is, om te bewys dat Jesus Christus volkome God is. Kom ek wys vir u twee van hierdie waarhede.
Eerstens, bevestig die direkte stellings in die Bybel, dat Jesus Christus God is.
In ooreenstemming met sy klem op Jesus Christus se Godheid, teken Johannes verskeie van hierdie einste stellings aan. In die openingsvers van sy evangelie verklaar Johannes, “die Woord [Jesus] was God”. As ons na Johannes se evangelie kyk, dan is dit opmerklik dat Jesus herhaaldelik vir Homself die goddelike naam "Ek is" toegereken het. Ons lees by voorbeeld in Johannes 4:26; “26Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek!”, en dan ook by Johannes 8:24 staan daar geskrywe; “24Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe”. In Johannes 10:30, maak Jesus Christus die stelling dat Hy een met die Vader is, in Aard asook in Wese. Jesus het Tomas ook nie gekorrigeer toe hy Hom aangespreek het as "My Here en my God!”, daar in Johannes 20:28, trouens, Jesus het hom eerder geprys vir sy geloof, kyk wat staan geskryf in vers 29; “Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het”.
Aan die Filippense het Paulus geskryf: “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie”, Filippense 2:6. Hier sien ons duidelik geliefdes, dat Jesus Christus, in Sy Absolutheid, in gelykheid met God is. Ook in Kolossense 2:9 verklaar Paulus; “9Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik”. En dan geliefdes, in Hebreërs 1:8 staan daar geskrywe; “8maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer”. Kan u sien, hoedat God die Vader, die Seun as God aangespreek het? Ook, in sy eerste sendbrief het Johannes na Jesus Christus verwys as “die waaragtige God en die ewige lewe”, volgens 1 Johannes 5:20. Geliefdes, daar bestaan dus geen twyfel, dat Jesus Christus, wel God is nie!
Tweedens, besit Jesus Christus die onoordraagbare eienskappe van God, dit is eie aan Hom.
Die Bybel openbaar Jesus Christus aan ons as Ewig, volgens Miga 5:2 en Jesaja 9:6, die Alomteenwoordige, volgens Matteus 18:20 en Matteus 28:20, Alwetend, volgens Matteus 11:27, Johannes 16:30 asook Johannes 21:17. Jesus Christus is Almagtig, volgens Filippense 3:21, Hy is Onveranderlik volgens Hebreërs 13:8. Hy is natuurlik Soewerein volgens Matteus 28:18, en Hy is ook die Verheerlikte volgens Johannes 17:5 en 1 Korinthiers 2:8. In Jesaja 48:11 staan die volgende woorde geskryf; “11Om My ontwil, om My ontwil sal Ek dit doen—want ag, hoe is my Naam ontheilig!—en Ek sal my eer aan geen ander gee nie”. Hier sien ons ‘n duidelike verklaring geliefdes, dat God self verklaar, dat Hy Sy eer, aan geen ander sal gee nie!
Geliefdes, die realiteit dat Jesus Christus God is, wat in hierdie brief aan ons bekend gestel word, word deur die hele Evangelie van Johannes, op ‘n persoonlike vlak uiteengesit deur Johannes se noukeurige keuse van aansprake en wonderwerke wat die saak rondom die heerlikheid van die Vleesgeworde Woord, naamlik dat Jesus Christus nie net as ‘n mens gebore is nie, maar dat Jesus as die Heilige en Almagtige God gebore is, met ander woorde, volkome mens en God. En dit geliefdes, is die rede, waarom ons hierdie Christus Fees herdenk.
Ons volgende Kerslied praat van die sending van die Woord, Jesus Christus, Stille Nag, Heilige Nag – Staande.
Deel 2– Jesus Christus, God se finale Woord aan die mensdom, het Vlees geword.
Nou Vers 14 geliefdes, is sekerlik die mees bondigste Bybelse verklaring van die Menswording van Jesus Christus, en daarom een ​​van die Bybel se mees betekenisvolste Bybel verse. Die openings woorde waarmee hierdie vers begin, naamlik, “14En die Woord het vlees geword”, druk vir ons die werklikheid uit, naamlik dat God in Sy Menswording, as te ware die mensdom aangeneem het. Met ander woorde, die Onsigbare het Sigbaar geword, volgens Kolossene 1:15, en daarom kan ons sê dat die Skepper Sy skepping binnegekom het. Geliefdes, God het Homself aan die mens geopenbaar in die skepping. Ons lees in Romeine 1:18–21 die volgende; “18WANT die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, 19omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. 20Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; 21omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister”. Maar meer nog, het God Homself geopenbaar op die hoogste en mees duidelikste vlak denkbaar, naamlik deur Jesus Christus. Daar staan immers geskryf in Hebreërs 1:1-2; “NADAT God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun 2wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het”.
Die rekord van Sy lewe en asook Sy werk, en die toepassing en betekenis daarvan vir die verlede, hede en toekoms, word in die Nuwe Testament vervat. In die Evangelie van Johannes, sien ons duidelik day hy bevestig dat Jesus Christus, God se finale Woord aan die mensdom, volgens Hebreërs 1:1–2, vlees geword het. Ons moet oplet geliefdes, dat die term “vlees” hier, nie hier verwys na die negatiewe en morele konnotasie wat dit soms dra nie, maar verwys eerder na die mens se fisiese wese. Ons les wat dus aan ons bevestig word, is juis dan, dat die feit dat God vlees geword het, bevestig juis Jesus Christus se volle menslikheid. Die woordjie “word”, beteken nie dat Jesus Christus opgehou het om die ewige Woord te wees toe Hy 'n mens geword het nie. En, alhoewel God onveranderlik, die suiwer Ewige "Wese" is, en nie die "wordende" Wese, soos Sy skepsels is nie, het God in die Menswording, die Onveranderlike ten volle mens geword, EN tog ten volle God gebly. Die Hebreër skrywer skryf in Hebreërs 13:8; “8Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid”. Geen wonder dat Paulus, in 1 Timoteus 3:16, die volgende skryf oor die menswording; “16En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid”.
Ja, dit is so dat daar baie mense is, wat hierdie menswording betwyfel en selfs ontken. Maar kyk wat skryf Johannes in 1 Johannes 4:1-3; “GELIEFDES, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. 2Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; 3en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld”.
My broer en suster, die Ewige Seun, Jesus Christus het nie net mens geword nie, nee, Hy het ook drie-en-dertig jaar lank onder die mense gewoon. Jesus Christus se menslikheid was nie 'n blote verskyning nie. Hy het al die wesenlike eienskappe van die mensdom aangeneem, en is “aan die mense gelyk” gemaak, volgens Filippense 2:7. Ook in Hebreërs 2:14 staan daar; “14Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel”. Soos die Hebreërskrywer voortgaan om te verduidelik: "17Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen”. Geliefdes, alhoewel Jesus God se goddelike heerlikheid tydens Sy aardse lewe geopenbaar het met 'n helderheid wat nog nooit tevore gesien is nie, was dit steeds deur Sy menslike vlees bedek. Petrus, Jakobus en Johannes het 'n fisiese manifestasie van Jesus se hemelse heerlikheid gesien by die gedaanteverheerliking, toe "sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig”, volgens Matteus 17:2. Ook in 2 Petrus 1:16–18 kry ons die bevestiging van Jesus Christus se manifestasie. Hierdie was 'n voorskou van die onthulde heerlikheid wat by Sy wederkoms gesien sou word, en die volheid van Sy hemelse heerlikheid as die enigste Lig van die Nuwe Jerusalem, volgens Openbaring 21:23. Maar die dissipels het gesien hoe Jesus Christus, God se heilige natuur manifesteer, hoofsaaklik deur Sy Goddelike eienskappe te vertoon, soos in waarheid, wysheid, liefde, genade, kennis, krag en heiligheid. Let op geliefdes, Jesus Christus, het dieselfde wesenlike heerlikheid as die Vader geopenbaar, want as God besit hulle dieselfde natuur. Johannes 10:30 bevestig dita an ons, want daar staan geskryf; “30Ek en die Vader is een”. Geliefdes, Jesus Christus se manifestasie van die goddelike eienskappe, het Sy wesenlike heerlikheid as God se Seun geopenbaar. Ons lees in Kolossense 2:9hierdie kosbare woorde; “9Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik”. Die twee eienskappe wat die naaste met verlossing verbind word geliefdes, is Genade en Waarheid.
Die Bybel leer ons dat redding geheel en al, slegs deur God se waarheid is, wat beteken om die evangelie te glo. En wanneer ons die Evangelie glo, sal ons deur ons geloof in Hom, Sy reddende genade ontvang.
Paulus het die boodskap wat hy verkondig het, beskryf as “die evangelie van die genade van God” volgens Handelinge 20:24. In Romeine 3:24 het hy geskryf dat gelowiges “24deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is”, terwyl hy in Efesiërs 1:7 bygevoeg het: "7In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade”. Later in hierdie selfde brief het Paulus geskryf: “8Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie”.
My broer en suster, daar is geen verlossingsgenade behalwe vir diegene wat die waarheid van die evangelieboodskap glo nie. Paulus het die Efesiërs daaraan herinner: “13in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte”, Efesiers 1:13. In Kolossense 1:5 het hy die evangelie gedefinieer as die “die woord van die waarheid”. Mense word gered wanneer hulle “tot kennis van die waarheid kom”, volgens 1 Timoteus 2:4. Aan die ander kant sal sal mense verlore gaan, “omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie”, leer 2 Thessalonicense 2:10 ons. Juis ook daarom, sal elkeen “geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid”, 2 Thess. 2:12.
Ek sluit af;
Jesus Christus was die volle uitdrukking van God se genade. Al die nodige waarheid om te red is in Hom beskikbaar. Hy was die volle uitdrukking van God se waarheid. Dit wat deur profesieë, en beelde voorafgeskadu is, het die substansie geword wat in die Persoon van Jesus Christus verwesenlik is. Daarom kan Hy verklaar, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”. En ook; “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. 32En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak”. Johannes 14:6 en Johannes 8:31–32.
'n Vae geloof in God afgesien van die waarheid oor Jesus Christus sal nie redding tot gevolg hê nie. Soos Jesus self gewaarsku het: “dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe”. (Johannes 8:24). Diegene wat dink dat hulle God aanbid, maar onkundig is, of om die volheid van die Nuwe-Testamentiese leer rakende Jesus Christus verwerp, word mislei, want “Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie”. (Joh. 5:23).
Geliefdes, diegene wat God se volle openbaring van Homself in Jesus Christus verwerp, sal vir ewig verlore wees.
Sê my, glo jy dat Jesus Christus mens geword het, sodat Hy die versoenings prys aan die kruis, namens jou kon betaal, of Jesus vir jou, nogsteeds die babatjie wat in die krip lê?
AMEN
Kom ons sing die volgende Kerslied staandesaam: Die Here Jesus Lewe!
***Minder Bekend, maar die wysie is wel bekend***
Seëngroet:
24Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen. (Judas 1:24-25)
Na die Seëngroet sing die hele gemeente vir mekaar Somer Kersfees – Staande.
Related Media
See more
Related Sermons
See more