Faithlife
Faithlife

Om te kan vergewe

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 35 views
Notes & Transcripts

As Christene leef ons onder die vergifnis van God. Dit is God se vergifnis wat wat rede en hoop gee aan ons bestaan. Dit is God se vergifnis wat die kern is van alles waarin ons glo.

Volgens die tradisionele Joodse opvatting, tot vandag toe, moet jy ‘n ou tot drie keer vergewe wat teenoor jou oortree. Petrus moes dus uiters ruimhartig gevoel het toe hy vir Jesus vra hoeveel keer hy ‘n broer wat teenoor hom sondig moet vergewe. “Nie net drie kere nie Here, maar dalk selfs tot sewe keer? Want ons is u volgelinge en moet seker darem ‘n voorbeeld stel. U preek immers so dikwels oor naasteliefde en so dat sewe keer sekerlik nie te vergesogt is nie?”

Jesus se antwoord boul vir Petrus en die ander dissipels egter heeltemal uit. Nie sewe keer nie, maar sewentig maal sewe keer! Ek kan net vir myself indink hoe Petrus naarstigtelik begin sommetjies maak het, maar voordat hy by ‘n antwoord kan uitkom en ‘n te letterlike getal aan vergifnis koppel, begin Jesus om ‘n storie te vertel.

Dit is ‘n storie wat vir ons wat in die nuwe Suid-Afrika leef, en wat so af en toe koerant lees of nuus kyk, glad nie vreemd op die ore val nie. Dit is ‘n storie van ‘n witboordjiemisdaad – bedrog, diefstal, korrupsie en geldverduistering.

‘n Koning besluit om ‘n dag om sy boeke te laat oudit. Wat kom hy agter? Een van sy amptenare het oor die jare van hom geld gesteel, hier ‘n bietjie en daar ‘n bietjie meer en uiteindelik sommer ‘n hele lot - miljoene rande. Die oorspronklike Grieks praat van ‘n 10 000 talente. Talente is nie ‘n geldeenheid nie, maar ‘n gewigmaat waarmee goud en silwer geweeg is. Teen vandag se goudprys, ‘n bedrag van ongeveer nege honderd miljoen rand! ‘n Oorweldigende bedrag, maar nie saak watter tyd jy geleef het nie. Daar is natuurlik nie ‘n manier hoe hierdie amptenaar dit sou kon terugbetaal nie, en die koning  beveel dat die man saam met al sy besittings, sowel as sy vrou en kinders verkoop moes word. Reeds hier skemer iets in van die koning se genadige hart. Gebruiklik sou die man in die tronk gegooi word, terwyl sy vrou en kinders moes werk om sy skuld af te betaal. [Eintlik glad nie ‘n slegte gebruik nie. Dink maar net aan die positiewe voordele as jou skoonfamilie ‘n bietjie agter raak om hulle skuld terug te betaal. Skoonpa werk in die tuin, skoonma was skottelgoed en swaertjie skoffel in die tuin!] In hierdie geval sou dit nooit binne die man se leeftyd of selfs 10 leeftye kon gebeur nie. Die koning probeer so vinnig as moontlik die onsmaaklike saak af te handel deur die man ook te verkoop. Met die amptenaar se verwysings en ervaring sou hy ‘n baie goeie koper kry wat sy belegging waarskynlik baie mooi sou oppas.

Die amptenaar besef egter nie dat die koning hom eintlik baie genadig was nie, maar werp homself voor die koning neer om te pleit. “Gee my tog net ‘n bietjie uitstel, ek sal alles terugbetaal.” Nou kyk, hierdie koning was mos geen idioot nie. Waar gaan die amptenaar nege honderd miljoen rand kry om hom terug te betaal. Daar is eenvoudig net geen manier hoe dit gedoen kan word nie. Dan lees ons in vers 27 “Die koning het hom jammer gekry.” Dan doen die koning ‘n baie onverwagse ding, ongehoord. Hy skryf al sy skuld af en laat hom gaan. Sommer so! Die einde van ‘n baie mooi storie, of nie...

Want toe die man buite kom, sal hy nie toevallig ‘n man raakloop wat hom ‘n paar rand skuld nie. In vergelyking met wat die amptenaar die koning geskuld het was dit net ‘n paar rand. Die oorspronklike teks praat van ‘n 100 denari. ‘n Denari was ‘n romeinse geldeenheid. Een denari was die normale dagloon. In vandag se terme so R50. Dus het die man die amptenaar son ongeveer R5000 geskuld. ‘n Mens sou nou dink dat na die genade van die koning wat die amptenaar nou net ervaar, hy self ook ‘n bietjie genadig gestem sou gewees het. Moenie glo nie! Ons lees hy het die man gegryp en begin wurg terwyl hy sê “Betaal jou skuld!” Toe sy arme medeamptenaar blyk dat hy nie kan nie, het hy hom in die tronk laat gooi todat sy skuld betaal is.

Die man se mede-amptenare wat hierdie gedoente gade geslaan het was geskok en teleurgesteld. Hoe kon hy, wat nou net die koning se genade ontvang het, so ongenadiglik teenoor ‘n mede-amptenaar optree, en dit oor ‘n skamele 5000 randtjies!? Hulle het na die koning gegaan en hom mooi vertel wat gebeur het.

Natuurlik was die koning bitterlik kwaad. Hy het die amptenaar wat hom geld geskuld het laat roep. “Jou skurk, jou lae luis, jou agterbakse skirminkel! Ek skryf jou miljoene rande se skuld af nadat jy op jou knieë voor my pleit. Jy draai hier om, loop hier uit en net hier buite wurg jy ‘n mede-amptenaar oor ‘n paar rand se skuld en laat hom in die tronk gooi! Jy het ‘n bespotting gemaak van my genade teenoor jou!” Daar staan die koning het die man oorgegee om gemartel te word todat al sy skuld betaal was, met ander woorde, tot in ewigheid...

Jesus sluit die storie af met die donker woorde: “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

Die betekenis van hierdie gelykenis is voor die handliggend en dit was nie vir Jesus nodig om die uit te lê vir Sy dissipels nie. God is die Koning van Sy koningkryk en ek en jy is die amptenare. God vergeef ons al ons skulde en verwag dat ons ook die moet vergewe wat teenoor ons skuldig is. Ek wil tog net twee groot kontraste uitlig in die storie asook ‘n paradoks, oftewel ‘n skynbare teenstrydigheid. In die eerste plek die kontras in die hoeveelheid skuld. Die bedrae wat in die storie genoem word, is nie werklik bedrae nie, maar word eerder gebruik om ‘n onbetaalbare skuld en ‘n nietige skuld uit te beeld. Die feit is dat nie ek of jy ooit kan opmaak of vergoed vir ons sondige bestaan nie. Daar gaan nie ‘n dag verby wat ek en jy nie sondig nie, hetsy in daad of in gedagte. Maar ons grootste sonde bly nog steeds dat dit jou en my skuld is wat Jesus, God se seun, teen die kruis vasgespyker het. En die gebeur nog steeds, elke liewe dag. ‘n Ontmoontlik onophoudelike en onvergoedbare skuld. Maar selfs vir die moord van Sy seun, vergewe God ons...

Daarteenoor raak selfs die grootse verkeerd wat ons mekaar kan aandoen nietig en kleinlik.

Die tweede groot kontras is die karakter van die skuldeisers. Eerstens die koning wat se genade reeds van die begin af deurskemer. Sy barmhartigheid en genade wanneer sy skuldenaar berou kry en op sy knieë voor hom val. Dit teenoor die harde en hartelose optrede van die amptenaar teenoor sy skuldenaar.

Die paradoks van die storie is as volg. Dit wys daarop dat geen skuld van ons so groot is dat God dit nie kan vergewe nie. Maar dan aan die einde word gesê God sal ons nie vergewe as ons nie ons medemens vergewe nie.

Hierdie is inderdaag jou en my storie. Ek en jy leef uit dankbaarheid vir God se genade. Ons is vandag hier in die kerk as gevolg van genade en vergifnis. En tog, hier in hierdie kerkbanke sit daar mense wat nie kan vergewe nie.

So dikwels as ons praat van dinge wat verhoudings en gesinne opmors, fokus ons op die sigbare dinge. Drank, gesinsgeweld, ontrouheid, leuens ens. Laat ek egter die pertinent stel. Die onvermoë of onwilligheid om te vergewe het al meer huwelike, verhoudings, vennootskappe en vriendskap gekelder as enige iets anders! Ek praat van pa’s en seuns, ma’s en dogters wat nie meer met mekaar praat nie, van persone wat eens beste vriende was, maar nou mekaar vermy en slegpraat. Van broers en susters wat mekaar niks gun nie. Lidmate van dieselfde gemeente vanoggend sover as moontlik van mekaar sit. Alles oor een of ander onreg wat gepleeg is en nooit vergewe is nie.

God verwag vergifnis. Hoekom? Eerstens omdat Hy ons eerste vergewe het en nog steeds vergewe. Tweedens omdat ons almal deel is van Sy liggaam en Sy kerk en so ‘n gesindheid maar die hele kerk seer. Dit gaan oor ‘n groter saak as net jy. Maar ten einde laaste gaan dit ook oor jou. Jy wat God so oneindig lief het. Jy wat God so graag wil beskerm teen seer en kwaad. Jy aan wie God die lewe gegee het en wil hê moet dit in oorvloed geniet. Jou onvergewensgesind maak jou eindeloos meer seer as die ander persoon. Hoeveel keer gebeur dit nie dat ‘n persoon ‘n wrok teen iemand anders koester en daardie persoon salig onbewus is daarvan of dit doodeenvoudig nie pla nie. Dit terwyl dit aan jou binneste vreet en knaag. Dit is soos ‘n stuk lood in jou hart, daardie wrok. ‘n Struikelblok in jou verhouding met God en met jou medemens.  Jy sal nooit waarlik gelukkig of vry wees as jy nie vokome kan vergewe nie nie. Jy sal nooit werklik God se vrede wat alles verstand te bowe gaan kan ervaar as jy met ‘n wrok in jou hart rondloop nie.  Spreek jou broer of suster vry en jy spreek jouself vry. Paulus sê in Rom 12:17 - 21 die volgende: 17Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. 18As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. 20“As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte. 21Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. “

As ons vergewe, moet ons vergifnis volkome wees, soos God s’n. Nie voorwaardelik of gedeeltelik nie. Om iemand te vergeef is nie om hom of haar op parool vry te laat nie. Okay, maar as dit weer gebeur... Om werklik te vergewe beteken dat jy nooit weer daardie ou koei gaan opgrawe nie. Dat jy nooit die daardie onreg in jou agterkop gaan hê in jou onderhandelinge en verkeer met daardie persoon nie. Dat jy selfs sal ophou dink daaraan.

Dalk sit jy vanoggend hier en dink by jouself dit is alles goed en wel, maar die onreg wat teenoor my gepleeg is, is net te groot. Hoe kan ek man vergewe wat my dogter gemolesteer of verkrag het. Hoe kan ek die man of vrou vergewe wat my huweliksmaat verlei en mee geslaap he? Hoe kan ek die moordenaar van iemand vir wie ek lief was vergewe? Liewe vriend, God se vergifnis het nie maklik gekom nie. Sy genade was nie goedkoop nie. Hy het met Sy seun se lewe daarvoor betaal. Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie, maar dit is moontlik. Nie uit jouself nie, maar omdat God se vergifnis dit vir jou moontlik maak.

Ongeveer tien jaar terug was die Waarheids-en-versoeningskommissie werksaam in die land en het die volgende toneel afgespeel tydens ‘n verhoor. Stel jouself hierdie prentjie voor. ‘n Verswakte bejaarde swart vrou kom stadig orent op haar voete. Sy is in haar sewentigs. ‘n Paar tree van haar, aan die oorkant van die vertrek sit ‘n paar voormalige blanke lede van die destydse Suid-Afrikaanse Veiligheidspolisie, onder andere ‘n sekere Mnr Van der Broek, wat so pas verhoor is en betrek is by die moord van haar seun en man ‘n paar jaar terug.

Dit was inderdaad Mnr, van der Broek, so het die ondersoekkommissie bevind, wat ‘n paar tevore by die vrou se huis opgedaag het, haar seun geneem het en koelbloedig doodgeskiet het, daarna die liggaam verbrand het en daar naby dit saam met van sy mede-offisiere gaan vier.

So ‘n paar jaar later het Van der Broek teruggekeer saam met ‘n paar van sy trawante en die keer haar man weggevat. Vir ‘n lang tyd het sy niks gehoor van hulle of haar man nie. Toe, amper twee jaar later, het Van der Broek teruggekeer om die vrou self te kom haal. Hoe duidelik kan sy nog daardie aand onthou. Hulle het haar na ‘n rivier geneem en haar haar man gewys waar hy stukkend geslaan en aangerand op ‘n houtstapel gelê het. Die laaste woorde wat sy haar man hoor sê het, terwyl die Van der Broek-hulle petrol oor hom gegooi het en aan die brand gesteek het was “Vader, vergeef hulle.”

Nou staan die vrou in ‘n hofvertrek en luister na die skuldbelydenis van Mnr Van der Broek. ‘n Lid van die Waarheids- en Versoeningskommissie draai na haar en vra: “So wat wil u hê, hoe moet ons reg laat geskied teenoor hierdie man wat brutaal u hele gesin vernietig het?”

“Ek soek drie dinge,” begin die swart vrou, kalm maar selfversekerd. “Ek wil geneem word na die plek waar my man verbrand is sodat ek sy as bymekaar kan maak en hom ‘n ordentlike begrafnis kan gee.

Sy haal diep asem, ‘n traan loop oor haar wang. Haar stem begin bewe. “My man en seun was my enigste familie. Daarom wil ek in die tweede plek hê dat Mnr van der Broek my seun sal word. Ek wil graag hê hy moet ten minste twee keer ‘n maand by my in die lokasie kom kuier en die dag by my deurbring sodat ek die liefde wat ek nog oorhet in hom kan belê.

“Die laastens, die derde ding. Ek wil hê Mnr van der Broek moet weet dat ek hom vergewe, omdat my Jesus gesterf het sodat ander vergewe kan word. Dit glo ek was ook wat my man wou hê.

“Kan ek iemand vra om my arm te vat en te ondersteun na die oorkant van die vertrek dat ek Mnr vd Broek in my arms kan neem, en hom druk sodat hy weet hy is werklik vergewe.”

Terwyl iemand die bejaarde swart vrou oor die hof lei, val Mnr van der Broek flou, oorweldig duer wat nou net plaasgevind het. Saggies begin die vrou se vriende in die hof, mede-verdruktes en slagoffers van ongeregtigheid saggies sing “Amazing Grace, how sweet the sound, that saved a wretch like me.”

Dit, liewe vriende, is waartoe God se vergifnis ons in staat stel.

Seen: Mag God julle vergewe. Mag julle leer om te vergewe soos God vergewe. En mag God se vrede wat alle verstand te bowe gaan oor julle harte wag hou.

RELATED MEDIA
See the rest →
RELATED SERMONS
See the rest →