Genesis 15 Preek - Die Genadeverbond van God

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 1 view
Notes & Transcripts

GENESIS 15

DIE GENADEVERBOND VAN GOD

Preek.

Dis altyd lekker om goeie nuus te kry!   Dit maak mens opgewonde en alles lyk sommer ook beter.

Die Bybel is vol goeie nuus!   Die jammerte natuurlik is dat ons al so gewoond geraak het daaraan dat ons nie meer opgewonde raak nie!   Dit sal wonderlik wees as die kerk en veral die Ned Geref Kerk weer opgewonde kan raak oor die Goeie Nuus - die Evangelie!!

Kom ons dink nou  weer wat die Goeie Nuus regtig beteken.

In hierdie stukkie geskiedenis uit Genesis 15 hoor ons ook van hierdie goeie nuus op 'n baie besondere manier.   God stel 'n kontrak met Abram op.  S¢ 'n kontrak het God ook met ons opgestel.  En dis juis die goeie nuus.

Alles wat God vir Abram gesê het, was baie wonderlik, maar is dit alles waar?  Hoe sal hy dit weet?   Sal dit regtig gebeur en bedoel God wat Hy s?   En dan stel God 'n kontrak op - op eg Oosterse wyse. 

Dink net vir 'n oomblik weer aan die omstandighede.   Abram en Sara is besig om oud te word.  Die Here het 'n groot nageslag vir Abram belowe en 'n eie land wat die nageslag sal besit.  In daardie tyd was dit geweldig belangrik.   Dit was die hoogste ideaal waarvoor 'n mens kon lewe!   Maar Abram bly kinderloos en daar is geen moontlikheid dat die Here se woord waar kan word nie.   En hoe langer hy moes wag, hoe groter het die spanning geword.   En dan vra Abram 'n teken!   Nie om daarmee te sê dat hy God nie vertrou nie en dat hy nie sal glo voordat hy bewyse het nie, maar soos die pa van die stom seun in Mark.9 vir Jesus gesê het, sê Abram ook nou vir God: Ek glo Here, kom help my geloof tog net so 'n bietjie - kom help my tog in my ongeloof.

En dit moet ons maar weet: Juis omdat Abram geglo het - regtig geglo het - daarom hierdie twyfel.   Ons dink gewoonlik twyfel staan teenoor geloof.  'n Mens wat glo twyfel nie en as jy twyfel, glo jy nie!   Nou, natuurlik kan 'n mens twyfel aan God juis omdat jy nie  glo nie.  Maar daar is ook 'n twyfel wat juis uit jou opregte geloof spruit.  Twyfel wat niks anders as geloof is wat in die middel van die nag nie kan sien wat aangaan nie.   Soos hier by Abram.

En dan sê die Here: Goed Abram, Ek sal my beloftes met 'n kontrak vaslê.   Abram kry opdrag om 'n vers, 'n bok en 'n skaapram te bring, almal drie jaar oud.   Abram het dadelik geweet wat God wil doen.   Hyself het dikwels kontrakte opgestel met een en ander van die vorste by wie hy grond gehuur het.  Dit was 'n algemene gebruik.

Om 'n kontrak op te stel het die twee partye kraal toe gegaan en 'n vers of bok of ram gekies soos hulle besluit.   Die diere is dan geslag en middeldeur gedeel. Die helftes van die karkasse is dan teenoor mekaar gelê sodat daar 'n bloedpad tussen die helftes gevorm het.  Die twee partye het elk 'n fakkel in die hand geneem en dan op die bloed tussen die vleis deurgeloop terwyl hulle onder eed die voorwaardes van die ooreenkoms aanvaar.  As iemand kontrakbreuk sou pleeg, sou met hom ook gedoen kon word wat met die diere gebeur het.   S¢ was 'n kontrak daardie tyd in die Ooste opgestel.

Dis wat Abram nou moet doen.   Hy moet alles gereedmaak sodat daar 'n kontrak tussen hom en God opgestel kan word.  Dit sou 'n bindende kontrak wees!   En ek stel my voor dat Abram met groot opgewondenheid alles gereedgemaak het.  Terwyl hy werk het hy seker sy woorde wat hy vir God sou sê goed geformuleer.  Oor en oor het hy seker gedink wat hy alles sou belowe.

Uiteindelik is alles klaar en Abram staan gereed, fakkel in die hand.   Maar God is nie daar nie!   Abram wag, maar God bly weg!  Toe kom daar aasvoëls wat die vleis wou opvreet en Abram het al sy moeite om die voëls van die karkasse weg te hou.   Die son is warm en Abram word later moeg, maar God bly weg!  En toe die son ondergaan, het God nog nie gekom nie.   En Abram is gedaan en teleurgesteld en sy twyfel nog groter!   God het nie gekom nie!  Hoe sal hy nou weet?  En moeg en teleurgesteld raak Abram aan die slaap!

Maar toe dit heeltemal donker was, na 'n vreeslike nagmerrie, skrik Abram wakker en hy sien hoe God die kontrak teken!   'n Oond wat rook en 'n fakkel wat brand gaan tussen die stukke vleis deur! (Die rokende oond en die brandende fakkel is dieselfde as die vuur en die wolkkolom wat die volk tydens hulle woestynreis gelei het!)  Oombliklik het Abram geweet:  God is besig om met 'n eed sy beloftes aan Abram te bevestig.   Dit sal so wees!  God sweer dit!!  En Abram weet: God sal doen wat Hy beloof het!   Abram mag hierdie beeld in die nag nooit vergeet nie.  Sy Bondgenoot wat met 'n fakkel tussen die stukke vleis deur op die bloedpad beweeg!

Is dit nie aangrypend nie!  Dis dieselfde as wanneer die Here vandag vir ons sou sê:  Kry 'n prokureur, stel 'n kontrak op oor die sekerheid van jou saligheid, oor jou verlossing.   Dan sal Ek kom sodat ons dit saam kan onderteken, elke bladsy daarvan!  S¢ werklik was dit daardie dag vir Abram.   S¢ wonderlik!

Maar dan voel mens êrens pla iets, êrens is iets nie reg nie.  God gaan wel in die tekens van oond en fakkel tussen die stukke vleis deur - God beloof en onderneem wel alles van die kontrak, maar moes Abram dan nie ook, fakkel in die hand saam met God die bloedpad loop nie?   Eintlik wag 'n mens in spanning dat God sal sê:  Kom Abram, Ek is gereed.  Vat jou fakkel en kom.  Ek sal my beloftes stel en jy kan sê wat jy beloof!   Maar God swyg en Abram bly verstom waar hy is.

Is dit dan nog 'n geldige verbond?   Geen prokureur sal so 'n kontrak reël nie en geen hof sal dit as geldig aanvaar nie.  As daar twee partye is, dan moet twee partye dit onderteken!  Was hierdie 'n geldige kontrak?

Wat hier gebeur raak vir my en jou in die diepste van ons bestaan.  In hierdie gebeurtenis word die ganse diepte van die genade van God uitgebeeld.  Dit is juis die GOEIE NUUS:  GOD STAP ALLEEN DIE BLOEDPAD!!

Sê nou Abram het ook met sy fakkel saamgestap.  Dan het hy gesweer: Here, ek sal U dien, ek sal getrou wees, ek sal U vertrou tot in die fynste besonderhede van my lewe, ek sal nooit steel nie, ek sal nooit lieg nie, ek sal......  En as ek in enige opsig faal, sal die kontrak as nietig geag word en sal met my gebeur wat met hierdie diere gebeur het!  Sˆ nou Abram het dit gedoen.  Onthou u wat gebeur in hoofstuk 20, by koning Abimelek, soos ook in Hoofstuk 12 in Egipte?  Abram, die groot geloofsheld bly maar die klein mensie met sy sonde voor God!   Soos in Egipte lieg hy oor Sara om sy vel te red en sê hy: Dis NIE my vrou nie!

As hy saam met God die verbond gesluit het, sou hy pas daarna sy dure eed verbreek het en was die verbond tot niet!   Dit  het God geweet.  En God wou in sy plan met Abram se toekoms (en met ons ewige toekoms!) nie risiko's loop nie.   Hy wou ons teen onsself beskerm!   Daarom moes Abram maar toekyk hoe God alleen tussen die stukke vleis deurloop!

Dit is die Goeie Nuus!  Dis die Evangelie in Genesis!!   'n Ketting is so sterk soos die swakste skakel.  As die ketting wat my aan God bind ook moes bestaan uit skakels van my pogings (geloof, bekering gebed, gehoorsaamheid) dan kon ek nooit seker wees nie, want die ketting sou aanmekaar breek!   Dis dan ook dikwels die rede waarom mense nie geloofsekerheid het nie.  Ag, ek weet nie, ek doen dan nog so baie sonde, my geloof is so swak, ek twyfel nog so baie, ek bid so min, ek, ek, ek!!  S¢ kry jy NOOIT sekerheid nie!  As die brug oor die kloof tussen God en die mens op twee pilare sou staan: God en die mens, dan was die brug lankal inmekaargestort!

Maar God het geen risiko's geneem nie.   Ook nie toe Hy op Golgota die eintlike kontrak opgestel het nie!  Toe was die mens ook maar net toeskouer.  Toe het God weer alleen die bloedpad van die kruis geloop!  Daar het Hy vir ewig die verbond met Abram vasgemaak!   So lief het God die wêreld gehad....

En daarom lê die sekerheid van my verlossing en redding nie in myself of in iets wat ek kan en moet doen nie.   Nee, dit lê veilig en vasverankerd in wat God gedoen het! En Hy bly getrou!  Hy het tussen die stukke deurgegaan.  Hy het die bloedpad van Golgota alleen geloop!

Weet u waar word dit pragtig bevestig?  As ons gedoop word!  Daarom kan ons maar ons babas doop.  God hoef nie te wag totdat ons 'n teenprestasie kan lewer nie.  Dan sal Hy in elk geval tot in ewigheid tevergeefs wag!   Daarom mis die oneindige argumente oor groot of klein doop. die hele punt.   Want dit maak nie saak hoe oud jy is nie.  Jy word gedoop as hulpelose baba al is jy 50 jaar oud!!

Maar nou is die klassieke vraag natuurlik:  Maar moet ek dan niks doen nie?  Kan ek nou maar aangaan soos ek wil?  Nooit glo nie en my nooit bekeer nie en nooit groei in heiligmaking nie en dan maar eendag ontdek: raai ek is ook in die hemel!   En dan daarby die ewige redenasie oor die mens se aandeel in sy verlossing en God se aandeel.   Is dit nou 50/50 of is dit 100/100?   Daarvan moet u asseblief vergeet.   Hoor die evangelie van God se genade.  Ontdek en hoor dat God dit vir jou sê:  Ek het ALLES vir jou gedoen!  Jy kan NIKS doen nie!!   En as m jy dit gehoor het, as jy dit ontdek het, dan het daar klaar iets met jou gebeur!  God het dit laat gebeur!!   Dan kan jy nie meer wees wat jy was nie!  Dan is jy 'n nuwe mens, deur God nuutgemaak!!

Nou kan jy dit noem wat jy wil:  Geloof, bekering, wedergeboorte, doop met die Heilige Gees.  Noem dit net wat jy wil!   Maar weet tog dat dit nie iets van jou is waaraan jy jou sekerheid moet koppel nie!   Dis iets wat jy doen omdat God klaar die bloedpad vir jou geloop het!   DAARIN is jou sekerheid!  LEEF TOG IN HEMELSNAAM DAARUIT!!!  Dis die Evangelie.  Dis die Goeie Nuus!   En DIT maak mens opgewonde!!!

RELATED MEDIA
See the rest →
Get this media plus thousands more when you start a free trial.
Get started for FREE
RELATED SERMONS
See the rest →