VEG OM TE WEN

VEG OM TE WEN  •  Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 174 views
Notes
Transcript
Sermon Tone Analysis
A
D
F
J
S
Emotion
A
C
T
Language
O
C
E
A
E
Social
View more →

8Sleutel Skrif gedeeltes

Psalm 20:7 AFRIKAAN
8 Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar óns, ons vertrou op die Naam van die Here ons God.
Matthew 21:21–22 AFRIKAAN
21 Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur. 22 As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.
John 6:29–30 AFRIKAAN
29 En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.” 30 Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen?
Galatians 2:15–21 AFRIKAAN
15 Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. 16 En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie. 17 As uit ons soeke na vryspraak in Christus geblyk het dat ons ook sondaars is, beteken dit dan dat Christus in diens van die sonde staan? Beslis nie! 18 Maar as ek die bepalings van die wet wat ek nietig verklaar het, weer laat geld, dan maak ek myself daarmee tot ’n oortreder. 19 Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20 en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 21 Ek verwerp nie die genade van God nie. As ’n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het
Hebrews 11:1–3 AFRIKAAN
1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2 Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is. 3 Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is; die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.

Perikope

Genesis 6:9–12 AFRIKAAN
9 Hier volg die verhaal van Noag. Noag was ’n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef. 10 Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet. 11 Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; 12 Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot.
Genesis 6:13–22 AFRIKAAN
13 Toe sê God vir Noag: “Ek het besluit om ’n einde te maak aan alle mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg. 14 “Maak vir jou ’n ark van goferhout. Jy moet vertrekke in die ark maak en dit binne en buite met pik dig maak. 15 Jy moet dit soos volg maak: die lengte van die ark moet honderd vyf en dertig meter wees, sy breedte twee en twintig en ’n half meter en sy hoogte dertien en ’n half meter. 16 Jy moet ’n dak vir die ark maak en sy nok moet jy vyf en veertig sentimeter hoog maak. Verder moet jy ’n deur aan die kant van die ark insit en ’n onderste, middelste en boonste verdieping maak. 17 “Ek gaan ’n oorstroming oor die aarde laat kom om al wat daarop lewe, te verdelg, elke lewende ding onder die hemel. Alles wat op die aarde is, sal omkom, 18 maar met jou wil Ek ’n verbond sluit. Jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou skoondogters. 19 Van al wat leef, van al die diere, moet jy twee van elk, manlik en vroulik, in die ark laat ingaan om saam met jou aan die lewe te bly. 20 Van elke soort voël en dier, ook van dié wat kruip, van almal sal daar twee na jou toe kom om aan die lewe te bly. 21 Jy moet vir jou kos saamvat, van alles wat geëet kan word, en dit by jou wegpak. Dit sal jou en die diere se kos wees.” 22 Noag het alles gedoen presies soos God hom beveel het
Genesis 12:1–9 AFRIKAAN
1 Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys. 2 Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees. 3 Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.” 4 Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek. Abram was vyf en sewentig toe hy uit Haran weggetrek het. 5 Hy het sy vrou Sarai en sy broerskind Lot en al die besittings wat hulle bymekaargemaak het en al die slawe wat hulle in Haran aangeskaf het, saamgevat en hulle het weggetrek na Kanaän toe. Nadat hulle in Kanaän aangekom het, 6 het Abram deur die land getrek tot by Sigem se aanbiddingsplek by die groot waarsêersboom. In daardie tyd het die Kanaäniete die land bewoon. 7 Toe het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land.” Abram het daar ’n altaar gebou vir die Here wat aan hom verskyn het. 8 Van daar af het Abram verder getrek na die bergwêreld toe, oos van Bet-El, waar hy tent opgeslaan het met Bet-El aan die westekant en Ai aan die oostekant. Daar het hy ’n altaar vir die Here gebou en die Naam van die Here aangeroep. 9 Toe het Abram kamp opgebreek en al gaande na die Suidland toe versit
Genesis 15:1–21 AFRIKAAN
1 Hierna het die woord van die Here in ’n gesig tot Abram gekom: “Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees.” 2 Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.” 3 Abram het verder gesê: “U het nie vir my ’n nageslag gegee nie. ’n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.” 4 Maar die woord van die Here het tot Abram gekom: “Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.” 5 Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.” 6 Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het. 7 Hy het vir Abram gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het om hierdie land aan jou te gee as jou besitting.” 8 Maar Abram vra: “Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?” 9 Toe beveel die Here hom: “Bring vir my ’n vers, ’n bok en ’n skaapram, almal drie jaar oud, en ’n tortelduif en ’n jong duif.” 10 Abram het dit alles vir die Here gebring en dit middeldeur gesny. Hy het elke helfte teenoor die ander helfte neergesit. Die voëls het hy nie verdeel nie. 11 Die roofvoëls het op die karkasse begin toesak, maar Abram het hulle weggejaag. 12 Teen sononder het ’n diep slaap Abram oorval; angs, ’n groot donkerte het hom oorweldig. 13 Toe sê die Here vir Abram: “Weet beslis dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ’n land wat nie aan hulle behoort nie. Daar sal hulle slawe wees en onderdruk word, vier honderd jaar lank. 14 Maar Ek sal die nasie straf wat van jou nageslag slawe maak, en dan sal hulle met baie besittings wegtrek. 15 Jy sal in vrede sterf en op ’n hoë ouderdom begrawe word. 16 Die vierde geslag ná jou sal hiernatoe terugkom. Dan eers sal die ongeregtigheid van die Amoriete sy volle maat bereik het.” 17 Toe die son ondergegaan het en dit donker was, gaan daar skielik ’n oond wat rook en ’n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur. 18 Op daardie dag het die Here ’n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van Egiptespruit af tot by die Eufraat, die groot rivier; 19 die land van die Keniete, die Kenissiete en die Kadmoniete, 20 die Hetiete, die Feresiete en die Refaïete, 21 die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete.
Genesis 16:1–16 AFRIKAAN
1 Sarai het nog nie vir haar man Abram ’n kind in die wêreld gebring gehad nie. Sy het ’n Egiptiese slavin met die naam Hagar gehad. 2 Toe sê Sarai vir Abram: “Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Gaan slaap by my slavin. Miskien bring sy ’n kind in die wêreld wat my eie kan word.” En Abram het saamgestem met sy vrou. 3 Abram was al tien jaar in Kanaän toe Sarai, die vrou van Abram, self vir Hagar, haar Egiptiese slavin, gevat en vir haar man Abram as vrou gegee het. 4 Hy het by Hagar gaan slaap en sy het swanger geword. Toe sy agterkom sy is swanger, het sy haar eienares geminag. 5 Toe sê Sarai vir Abram: “Jy dra die skuld vir hierdie onreg wat ek moet verduur. Ek het my slavin vir jou gegee om met haar gemeenskap te hê, en noudat sy agterkom sy is swanger, minag sy my. Mag die Here hierdie saak tussen my en jou uitwys.” 6 Maar Abram sê vir Sarai: “Jou slavin staan onder jou. Doen met haar soos jy goeddink.” Sarai het haar slavin toe sleg behandel, en sy het weggeloop. 7 Die Engel van die Here het vir Hagar ontmoet by ’n fontein in die woestyn, die fontein langs die pad na Sur toe, 8 en vir haar gevra: “Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?” Toe antwoord sy: “Ek loop van my eienares Sarai af weg,” 9 en die Engel van die Here sê vir haar: “Gaan terug na jou eienares toe en onderwerp jou aan haar gesag.” 10 Verder het die Engel van die Here vir haar gesê: “Ek sal jou nageslag so baie maak dat hulle te veel sal wees om te tel.” 11 En toe sê die Engel van die Here ook nog vir haar: “Kyk, jy is swanger; jy sal ’n seun in die wêreld bring. Jy moet hom Ismael noem, want die Here het van jou swaarkry gehoor. 12 Jou seun sal ’n man wees so ontembaar soos ’n wildedonkie: hy sal teen almal wees, en almal sal teen hom wees. Hy sal in vyandskap leef met sy bloedverwante.” 13 Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: “U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.” 14 Daarom word die fontein genoem Lagai-Roï-fontein . Die fontein is tussen Kades en Bered. 15 Hagar het vir Abram ’n seun in die wêreld gebring, en Abram het sy seun wat Hagar in die wêreld gebring het, Ismael genoem. 16 Abram was ses en tagtig toe Hagar vir Ismael vir hom in die wêreld gebring het
Genesis 22:1–19 AFRIKAAN
1 ’n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” 2 God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.” 3 Vroeg die volgende môre het Abraham ’n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het. 4 Op die derde dag het Abraham die plek uit die verte gesien. 5 Toe sê hy vir sy slawe: “Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.” 6 Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en ’n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop, 7 sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?” Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?” 8 Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.” Daarna het hulle twee saam verder gestap. 9 Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar ’n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout. 10 Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, 11 roep die Engel van die Here uit die hemel na hom: “Abraham, Abraham!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” 12 Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.” 13 Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom ’n skaapram wat aan sy horings in ’n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer. 14 Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.” 15 Die Engel van die Here het weer uit die hemel na Abraham geroep 16 en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê ’n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. 18 In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.” 19 Daarna is Abraham terug tot by sy slawe, en hulle het almal saam na Berseba toe gegaan. Abraham het daar gewoon
Genesis 24:1–9 AFRIKAAN
1 Abraham was al baie oud, en die Here het hom in alles geseën. 2 Abraham het vir sy slaaf gesê, vir die vernaamste in sy huis, die een wat in beheer was van sy besittings: “Sit jou hand onder my heup 3 dat jy vir my met ’n eed in die Naam van die Here die God van die hemel en die aarde kan beloof dat jy nie my seun sal laat trou met ’n dogter van die Kanaäniete by wie ek nou woon nie; 4 jy moet na my land toe gaan, die land waar ek gebore is, en daar ’n vrou gaan haal vir my seun Isak.” 5 Die slaaf het vir Abraham gevra: “En as die vrou nie saam met my hierheen wil kom nie? Moet ek dan u seun laat teruggaan na die land toe waar u vandaan kom?” 6 Toe sê Abraham vir hom: “Sorg dat jy nie my seun daarnatoe laat teruggaan nie. 7 Die Here die God van die hemel het my weggevat uit my familie, uit die wêreld waar ek gebore is, en my met ’n eed beloof: ‘Ek gee hierdie land waar jy nou is, aan jou nageslag.’ Die Here sal sy engel voor jou uit stuur sodat jy vir my seun ’n vrou van my land af sal kan bring. 8 As die vrou nie saam met jou hierheen wil kom nie, is jy vrygestel van hierdie verpligting. Maar jy mag nie my seun laat teruggaan nie.” 9 Toe het die slaaf sy hand onder die heup van Abraham, sy eienaar, gesit en vir hom met ’n eed beloof om dit alles te doen.
Genesis 43:1–34 AFRIKAAN
1 Maar dit was ’n kwaai hongersnood, 2 en toe die kos begin opraak wat die broers uit Egipte gebring het, sê hulle pa vir hulle: “Julle moet maar weer vir ons ’n bietjie kos gaan koop.” 3 Juda het hom geantwoord: “Daardie man het ons nadruklik gewaarsku en vir ons gesê: ‘Julle kom nie weer hier by my sonder julle broer nie!’4 As Pa instem en ons broer saam met ons stuur, sal ons vir Pa gaan kos koop. 5 Maar as Pa nie instem om hom saam te stuur nie, sal ons nie gaan nie, want daardie man het vir ons gesê ons kom nie weer by hom sonder ons broer nie.” 6 Toe sê Israel: “Waarom het julle my hierdie onreg aangedoen en vir die man vertel julle het nog ’n broer!” 7 Hulle het gesê: “Die man het ons uitgevra na ons familie. Hy het gevra: ‘Leef julle pa nog? Het julle nog ’n broer?’ Ons het net geantwoord op hierdie vrae van hom. Hoe moes ons weet hy sou sê: ‘Bring julle broer hiernatoe’?” 8 Juda het vir sy pa Israel gesê: “Stuur tog maar die kind saam met my sodat ons dadelik kan vertrek. Dan kan ons aan die lewe bly. So nie sterf Pa saam met ons en ons kinders. 9 Ek waarborg hy sal terugkom. Pa kan hom van my eis. As ek hom nie vir Pa terugbring en hom hier voor Pa kom laat staan nie, sal ek vir altyd by Pa in die skuld wees. 10 En as ons nie so getalm het nie, kon ons nou al twee keer terug gewees het.” 11 Toe sê hulle pa Israel vir hulle: “Nou ja, as dit dan so is, moet julle dit maar doen. Vat van die beste wat ons land het saam in julle graansakke as ’n geskenk vir die man: ’n bietjie balsem, ’n bietjie heuning, gom, hars, neute en amandels. 12 Julle moet die geld verdubbel wat julle saamvat. En die geld wat julle bo in die graansakke teruggebring het, moet julle ook saamvat. Dalk was daar ’n misverstand. 13 Vat julle broer en maak klaar en gaan terug na die man toe. 14 God die Almagtige sal sorg dat die man julle goedgesind is en julle ander broer terugstuur en ook vir Benjamin. En ek, as ek dan my kinders moet verloor, moet ek hulle maar verloor.” 15 Die manne het toe die geskenk gevat en hulle het die geld wat hulle saamgevat het, verdubbel. Hulle het vir Benjamin gevat en klaargemaak en Egipte toe gegaan. Hulle het by Josef gekom, 16 en toe hy sien Benjamin is by hulle, sê hy vir sy hoofamptenaar: “Vat die manne na my huis toe. Laat slag en laat ’n ete voorberei, want hulle moet vanmiddag by my eet.” 17 Hy het toe gedoen wat Josef gesê het. Hy het die manne na Josef se huis toe gevat, 18 en hulle het bang geword omdat hulle na Josef se huis toe gebring is. Toe sê hulle: “Dit is oor die geld wat die vorige keer in ons graansakke teruggesit is. Ons word hierheen gebring om ons te oorval en te oorrompel en van ons slawe te maak en ons donkies te vat.” 19 By die deur van die huis het hulle die hoofamptenaar genader 20 en vir hom gesê: “Ekskuus, Meneer, ons was al ’n vorige keer hier om kos te koop. 21 En toe ons hier weg is en die aand ons graansakke oopmaak, lê elkeen se geld bo in sy sak. Dit was presies die regte bedrag. Maar ons het dit nou weer saamgebring, 22 en ook nog geld om weer kos te koop. Ons weet nie wie die geld in ons sakke teruggesit het nie.” 23 Toe sê die amptenaar vir hulle: “Wees gerus! Moenie bekommerd wees nie. Julle geld het by my uitgekom, en dit is julle God, die God van julle voorvaders, wat ’n skat in julle sakke gesit het.” Die amptenaar het toe vir Simeon na hulle toe gebring. 24 Nadat die amptenaar hulle in Josef se huis ingebring het, het hy vir hulle water gegee, en hulle het hulle voete gewas. Hy het ook hulle donkies voer gegee. 25 Die broers het hulle geskenk gereed gehou vir wanneer Josef die middag kom, want hulle het gehoor dat hulle daar gaan eet. 26 Toe Josef inkom, bring hulle vir hom die geskenk wat hulle saamgebring het, na die huis toe. Toe buig hulle diep voor hom. 27 Josef het hulle toe gevra hoe dit gaan. Hy het gevra: “Hoe gaan dit met julle pa wat so oud is en van wie julle my vertel het? Leef hy nog?” 28 Hulle het geantwoord: “Dit gaan goed met u onderdaan, ons pa. Hy leef nog.” Hulle het weer voor Josef gebuig en hom so geëer. 29 Toe Josef sy broer, sy ma se seun Benjamin, raaksien, vra hy: “Is dit julle jongste broer van wie julle my vertel het?” En Josef sê vir hom: “My seun, God sal jou genadig wees.” 30 Toe het Josef haastig padgegee om eenkant te gaan huil, want sy gemoed was vol oor sy broer. Josef is na sy kamer toe en hy het daar gaan huil. 31 Daarna het hy sy gesig gewas en teruggegaan. Hy was weer homself en hy het gesê: “Bedien die ete.” 32 Hulle het vir Josef afsonderlik bedien en so ook die broers en die Egiptenaars wat daar by hulle geëet het, want die Egiptenaars het ’n afsku daarvan om dieselfde kos as die Hebreërs te eet. 33 Die broers het teenoor Josef gesit, volgens hulle ouderdom: van die oudste af tot die jongste. Hieroor het die manne mekaar verbaas aangekyk. 34 Elkeen se kos is van Josef se tafel af aangegee, maar Benjamin s’n was vyf keer meer as dié van die ander. Hulle het wyn gedrink en saam met Josef dronk geword
Exodus 2:1–10 AFRIKAAN
1 ’n Man uit die stam Levi was met ’n Levitiese meisie getroud. 2 Die vrou het swanger geword en ’n seuntjie in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi is hy, het sy hom drie maande lank weggesteek. 3 Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom ’n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit. 4 Sy suster het op ’n afstand gaan staan om te sien wat met hom gebeur. 5 ’n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal. 6 Met die oopmaak sien sy dit is ’n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies. 7 Sy suster kom sê toe vir die farao se dogter: “Mag ek vir u ’n vrou gaan roep, ’n Hebreeuse vrou met ’n pasgebore baba, dat sy die seuntjie vir u kan laat drink?” 8 Die dogter van die farao het haar geantwoord: “Ja, goed!” Die meisie het toe die seuntjie se ma gaan roep. 9 Toe beveel die farao se dogter die ma: “Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink. Ek sal jou daarvoor betaal.” Die vrou het die seuntjie geneem en vir hom gesorg. 10 Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses genoem, “want” het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.
Exodus 4:18–31 AFRIKAAN
18 Daarna het Moses na sy skoonpa Jetro toe teruggegaan en vir hom gesê: “Ek wil graag teruggaan na my mense toe in Egipte om te sien hoe dit met hulle gaan.” Jetro antwoord hom: “Gaan gerus.” 19 In Midian het die Here aan Moses gesê: “Gaan nou terug na Egipte toe, want al die mense wat jou wou doodmaak, is al dood.” 20 Toe is Moses met sy vrou en kinders na Egipte toe. Hy het sy vrou en kinders op ’n donkie laat ry en die kierie wat God hom gegee het, saamgevat. 21 Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan Egipte toe, moet jy sorg dat jy al die wonderwerke waartoe Ek jou in staat gestel het, voor die farao doen. Maar Ek sal hom hardkoppig maak, en hy sal die volk nie laat gaan nie. 22 Dan moet jy vir die farao sê: So sê die Here: Israel is my oudste seun. 23 Ek het vir jou gesê: Laat my seun gaan sodat hy My kan aanbid. Maar jy het geweier om hom te laat gaan, en nou gaan Ek jou oudste seun doodmaak.” 24 Waar Moses-hulle langs die pad oornag het, het die Here by hom gekom en wou Hy vir Moses doodmaak. 25 Sippora vat toe ’n klipmes, sny haar seun se voorhuid af, raak daarmee aan Moses se voete en sê: “Jy is nou my bruidegom wat deur bloed beskerm word.” 26 Die Here het Moses met rus gelaat net toe sy sê: “bruidegom wat deur bloed beskerm word.” Dit het betrekking op die besnydenis. 27 Intussen het die Here vir Aäron opdrag gegee om Moses in die woestyn tegemoet te gaan. Hy het gegaan en hom by die berg van God aangetref en met ’n soen gegroet. 28 Moses vertel toe vir Aäron van alles waarvoor die Here hom gestuur het, ook van al die tekens wat Hy hom beveel het om te doen. 29 Moses en Aäron het gegaan en al die leiers van die Israeliete bymekaargeroep. 30 Aäron het hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en daarna het Moses die tekens voor die volk gedoen. 31 Hulle het hom geglo. Toe hulle hoor dat die Here die nood van die Israeliete gesien het en Hom hulle lot aangetrek het, het hulle in aanbidding gebuig
Exodus 14:1–31 AFRIKAAN
1 Die Here het vir Moses gesê: 2 “Beveel die Israeliete om weg te draai en kamp op te slaan naby Pi-Hagirot tussen Migdol en die see. Regoor Baäl-Sefon by die see moet julle kamp opslaan. 3 Dan sal die farao dink die Israeliete het verdwaal en is deur die woestyn vasgekeer. 4 Ek sal die farao weer koppig maak, sodat hy julle agtervolg, en Ek sal my mag laat geld teen hom en sy leër. Dan sal Egipte besef dat Ek die Here is.” Die Israeliete het die bevele uitgevoer. 5 Toe die koning van Egipte die berig kry dat die volk vir goed weg is, het sy houding en dié van sy amptenare teenoor die Israeliete verander. Die Egiptenaars het gesê: “Wat het ons aangevang dat ons die Israeliete laat trek het? Nou is ons hulle diens kwyt!” 6 Die farao het sy strydwa laat inspan en sy leër saam met hom gevat. 7 Hy het sy ses honderd beste strydwaens gevat, asook al die ander Egiptiese strydwaens, elkeen met ’n bemanning van drie. 8 Die Here het die farao, die koning van Egipte, koppig gemaak sodat hy die Israeliete agtervolg het, maar die Israeliete het onder die beskerming van God verder getrek. 9 Die Egiptenaars het hulle agtervolg, en al die strydwaens van die farao met bemanning en leërmag het hulle ingehaal terwyl hulle besig was om by die see kamp op te slaan, naby Pi-Hagirot regoor Baäl-Sefon. 10 Toe die farao nader kom, sien die Israeliete skielik die Egiptenaars sit hulle agterna. Hulle het baie bang geword en benoud na die Here geroep. 11 Hulle het vir Moses gesê: “Is daar nie begraafplek in Egipte nie dat jy ons saamsleep om in die woestyn te sterwe? Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het? 12 Ons het jou mos in Egipte gesê om ons te laat staan dat ons vir die Egiptenaars werk. Dit is vir ons beter om vir hulle te werk as om hier in die woestyn om te kom.” 13 Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. 14 Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” 15 Toe het die Here vir Moses gesê: “Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. 16 En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan. 17 Ek sal die Egiptenaars so koppig maak dat hulle die Israeliete sal agtervolg. So sal Ek my mag laat geld teenoor die farao en sy hele leër: strydwaens en bemanning. 18 Wanneer Ek my mag laat geld teenoor die farao, sy strydwaens en hulle bemanning, sal Egipte besef dat Ek die Here is.” 19 Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek ingeneem. Ook die wolkkolom wat voor hulle was, het agter hulle ingeskuif, 20 tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Aan die Egiptiese kant was die wolk donker en aan die Israelitiese kant het dit die nag verlig. Die hele nag deur het die twee groepe nie nader aan mekaar gekom nie. 21 Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met ’n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is. 22 Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos ’n muur gestaan. 23 Die Egiptenaars het hulle agternagesit: die farao se perde, strydwaens en bemanning is almal agter hulle aan die see in. 24 In die vroeë môre het die Here uit die vuur- en wolkkolom afgekyk op die Egiptiese leër en verwarring onder hulle gesaai. 25 Hy het die wiele van hulle strydwaens laat uitval, sodat hulle skaars kon beweeg. Toe sê die Egiptenaars: “Ons moet wegkom van die Israeliete af, want die Here veg vir hulle teen Egipte.” 26 Maar die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor die see sodat die water oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en bemanning kan stroom.” 27 Moses steek toe sy hand oor die see uit. Teen dagbreek het die see teruggestroom oor sy bodem en die Egiptenaars het hulle teen die water vasgevlug: die Here het hulle deur die see laat meesleur. 28 Toe die water terugstroom, was die strydwaens en bemanning, die hele leërmag van die farao wat agter die Israeliete aan die see in is, tóé onder die water. Daar het nie een van hulle oorgebly nie. 29 Maar die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan en die water het weerskante van hulle soos ’n muur gestaan. 30 Die Here het Israel daardie dag gered van Egipte, en die Israeliete het die Egiptenaars dood op die strand sien lê. 31 Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.
Numbers 10:11–36 AFRIKAAN
11 In die tweede jaar, op die twintigste van die tweede maand, het die wolk opgetrek van die tabernakel met die getuienis af. 12 Die Israeliete het hulle reis toe van die Sinaiwoestyn af verder voortgesit, totdat die wolk in die Paranwoestyn gaan staan het. 13 Hulle het begin trek op bevel van die Here deur Moses. 14 Die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Juda het eerste vertrek. Nagson seun van Amminadab was hier in bevel. 15 Netanel seun van Suar was in bevel van die afdeling van die stam Issaskar, 16 en Eliab seun van Gelon was oor die afdeling van die stam Sebulon. 17 Daarna is die tabernakel afgebreek, en het die Gersongroep en die Merarigroep wat dit moes dra, ook vertrek. 18 Die volgende wat vertrek het, was die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Ruben. Elisur seun van Sedeür was in bevel van hierdie afdeling. 19 Selumiël seun van Suri-Saddai was in bevel van die afdeling van die stam Simeon, 20 en Eljasaf seun van Reüel was oor die afdeling van die stam Gad. 21 Daarna het die Kehatgroep vertrek. Hulle het die gewyde voorwerpe gedra. Die tabernakel moes opgerig wees teen die tyd dat hulle daar aankom. 22 Ná hulle het die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Efraim vertrek. Elisama seun van Ammihud was in bevel van hierdie afdeling. 23 Gamliël seun van Pedasur was in bevel van die afdeling van die stam Manasse, 24 en Abidan seun van Gidoni oor die afdeling van die stam Benjamin. 25 Die volgende wat vertrek het, was die vaandel van die afdelings onder leiding van die stam Dan wat die agterhoede van al die afdelings gevorm het. Agiëser seun van Ammi-Saddai was in bevel van hierdie afdeling. 26 Pagiël seun van Okran was in bevel van die afdeling van die stam Aser, 27 en Agira seun van Enan oor die afdeling van die stam Naftali. 28 Dit was die volgorde waarin die afdelings van Israel op hulle reis vertrek het. 29 Moses het vir Gobab seun van sy skoonpa Reüel, die Midianiet, gesê: “Ons trek na die land waarvan die Here gesê het: ‘Ek sal dit aan julle gee.’ Kom saam met ons. Ons sal jou goed behandel, want die Here het goeie dinge aan Israel beloof.” 30 Maar Gobab het vir Moses gesê: “Ek sal nie saam gaan nie, ek sal teruggaan na my eie land en familie toe.” 31 Moses het toe by hom aangedring: “Moet ons tog nie verlaat nie. Jy ken die plekke in die woestyn waar ons kamp kan opslaan, en jy moet ons gids wees. 32 As jy met ons saam kom, sal ons die goeie dinge wat die Here aan ons gee, met jou deel.” 33 Die Israeliete het van die berg van die Here af weggetrek, drie dagreise ver. Die verbondsark van die Here het gedurende die drie dae voor hulle uit getrek om vir hulle ’n plek te vind waar hulle kon oorbly. 34 Die wolk van die Here was bedags oor hulle as hulle van die kampplek af wegtrek. 35 Elke keer wanneer die ark vertrek, het Moses gesê: “Trek op, Here, verstrooi u vyande! Laat hulle wat vir U haat, voor U wegvlug!” 36 En wanneer die ark neergesit word, sê Moses: “Kom terug, Here, na die ontelbare menigtes van Israel toe.
Numbers 13:1–33 AFRIKAAN
1 Die Here het vir Moses gesê: 2 “Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken. Uit elke voorvaderlike stam moet jy een stuur wat ’n leier onder hulle is.” 3 Op die bevel van die Here het Moses hulle toe van die Paranwoestyn af uitgestuur. Al die manne was leiers onder die Israeliete. 4 Hulle was Sammua, seun van Sakkur uit die stam Ruben, 5 Safat, seun van Gori uit die stam Simeon, 6 Kaleb, seun van Jefunne uit die stam Juda, 7 Jigal, seun van Josef uit die stam Issaskar, 8 Hosea, seun van Nun uit die stam Efraim, 9 Palti, seun van Rafu uit die stam Benjamin, 10 Gaddiël, seun van Sodi uit die stam Sebulon, 11 Gaddi, seun van Susi uit die stam Manasse, ’n Josefstam, 12 Ammiël, seun van Gemalli uit die stam Dan, 13 Setur, seun van Migael uit die stam Aser, 14 Nagbi, seun van Wofsi uit die stam Naftali, en 15 Geüel, seun van Maki uit die stam Gad. 16 Dit is die name van die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken. Moses het aan Hosea seun van Nun die naam Josua gegee. 17 Moses het hulle gestuur om Kanaän te verken, en vir hulle gesê: “Trek deur die Suidland en op na die bergwêreld toe. 18 Bekyk die land, hoe dit is, en of die mense wat daar woon, sterk of swak, min of baie is, 19 of die land waarin hulle woon, goed of sleg is, en of die mense se stede oop of versterk is, 20 of die grond vrugbaar of skraal is, of dit bome het of nie. Doen julle bes om van die land se vrugte saam te bring.” Dit was juis die tyd van die eerste ryp druiwe. 21 Hulle het toe die land gaan verken, van die Sinwoestyn af tot by Regob, by Lebo-Hamat. 22 Hulle het deur die Suidland getrek en by Hebron gekom, waar Agiman, Sesai en Talmai, afstammelinge van Enak, gewoon het. Hebron is reeds sewe jaar voor die Egiptiese stad Soan gebou. 23 Toe hulle by Eskolspruit kom, het hulle daar ’n rank met een druiwetros afgesny. Twee van hulle het dit aan ’n stok gedra, saam met ’n paar granate en vye. 24 As gevolg van die tros wat die Israeliete daar afgesny het, het hulle die plek Eskolspruit genoem. 25 Nadat hulle die land veertig dae lank verken het, het hulle teruggegaan. 26 Die verkenners het toe by Moses en Aäron en die hele vergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Daar het hulle aan Moses-hulle en aan die hele vergadering verslag gedoen en vir hulle die vrugte van die land gewys. 27 Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte. 28 Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien. 29 Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en Amoriete in die Bergwêreld, en die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan.” 30 Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.” 31 Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.” 32 Die manne het toe ’n slegte gerug onder die Israeliete versprei oor die land wat hulle verken het. Hulle het gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is ’n land wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak, en die mense wat ons daarin gesien het, is almal baie groot. 33 Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.
Numbers 14:1–10 AFRIKAAN
1 Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla. 2 Al die Israeliete was in verset teen Moses en Aäron, en die hele vergadering het vir hulle gesê: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het! 3 Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring? Net om doodgemaak te word? Ons vrouens en kinders sal krygsgevangenes word. Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie?” 4 Hulle het toe vir mekaar gesê: “Kom ons kies ’n leier en gaan terug Egipte toe!” 5 Moses en Aäron het toe voor die hele vergadering van Israeliete wat daar saam was, op hulle knieë geval. 6 Ook het Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur, 7 en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is ’n buitengewoon goeie land. 8 As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. 9 Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!” 10 Maar die hele vergadering het gedreig om vir Josua en Kaleb met klippe dood te gooi. Toe het die magtige teenwoordigheid van die Here by die tent van ontmoeting vir al die Israeliete sigbaar geword.
Numbers 16:20–40 AFRIKAAN
20 Die Here sê toe vir Moses en Aäron: 21 “Gee pad van hierdie gemeente af, dat Ek hulle in ’n oogwink kan vernietig.” 22 Maar Moses en Aäron het op hulle knieë geval en gebid: “O God, God wat aan alle mense die lewe gee, sal u toorn teen die hele gemeente ontvlam as net een mens gesondig het?” 23 Toe sê die Here vir Moses: 24 “Sê vir die gemeente: Gee pad van Korag, Datan en Abiram se tente af!” 25 Daarna het Moses na Datan en Abiram toe gegaan, en die leiers van Israel het hom gevolg. 26 Hy sê toe vir die gemeente: “Gee pad van die tente van hierdie goddelose mense af! Moenie aan iets van hulle raak nie, dat julle nie deur al hulle sondes omkom nie.” 27 Die gemeente het toe van Korag, Datan en Abiram se tente af padgegee. Datan en Abiram het uitgekom saam met hulle vrouens, hulle kinders en almal onder hulle sorg en voor hulle tente gaan staan. 28 Toe sê Moses: “Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen en dat dit nie uit myself is nie. 29 As hierdie manne ’n gewone dood sterf en dit met hulle gaan soos dit met elke mens gaan, het die Here my nie gestuur nie! 30 Maar as die Here iets nuuts laat gebeur en die aarde sy mond oopmaak en hulle insluk saam met alles wat aan hulle behoort, sodat hulle lewend in die doderyk afgaan, sal julle weet dat hierdie mense die Here geminag het.” 31 Net toe Moses klaar gepraat het, skeur die grond onder hulle oop 32 en maak die aarde sy mond oop en sluk vir Datan en Abiram met hulle gesinne in en ook vir Korag en al die manne by hom saam met hulle besittings. 33 Hulle en alles wat aan hulle behoort, het lewend in die doderyk afgegaan; die aarde het hulle bedek, en so het hulle uit die gemeente verdwyn. 34 Al die Israeliete in die omgewing het gevlug toe hulle die geskree hoor, want hulle het gedink: dalk sluk die aarde ons ook in! 35 Toe het die Here ’n vuur gestuur en dit het die twee honderd en vyftig man wat die wierookoffer wou bring, verteer. 36 Daarna het die Here vir Moses beveel: 37 “Sê vir die priester Eleasar seun van Aäron hy moet die vuurpanne wegvat waar die brand was en die kole êrens weggooi, want die kole is aan die Here gewy. 38 Van die vuurpanne van die manne wat deur hulle sonde gesterf het, moet julle dun plate maak en die altaar daarmee oortrek, want hulle is by die altaar gebruik en is aan die Here gewy. Hulle moet die Israeliete altyd aan hierdie gebeure herinner.” 39 Die priester Eleasar het toe die bronsvuurpanne gevat wat by die altaar gebruik is deur die manne wat verbrand is, en hulle uitgeklop en die altaar daarmee oorgetrek. 40 Dit moes die Israeliete altyd daaraan herinner dat iemand wat nie uit Aäron se geslag is nie en dus nie daartoe bevoeg is nie, nie ’n wierookoffer na die altaar toe mag bring om dit aan die Here te offer nie. Anders sal so ’n persoon soos Korag en sy bende word oor wie die Here deur middel van Moses uitspraak gelewer het.
Deuteronomy 31:1–8 AFRIKAAN
1 Moses het met die hele Israel gaan praat 2 en vir hulle gesê: “Ek is nou honderd en twintig jaar oud, ek kan nie meer gaan oorlog maak nie. Die Here het vir my gesê: ‘Jy mag nie deur die Jordaan trek nie.’3 Die Here julle God sal voor julle uit deur die Jordaan trek en Hy sal hierdie nasies voor julle uitroei sodat julle hulle gebied in besit sal neem. Josua sal julle deurlei, soos die Here beloof het. 4 Die Here sal met hierdie nasies doen soos Hy gedoen het met die Amoritiese konings Sihon en Og en met hulle land toe Hy hulle uitgeroei het. 5 Die Here sal hierdie nasies in julle mag oorgee, en julle moet met hulle alles doen wat ek julle beveel het. 6 Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.” 7 Toe het Moses vir Josua geroep en vir hom gesê waar die hele Israel dit kon hoor: “Wees sterk, wees dapper! Jy gaan saam met hierdie volk in die land in wat die Here met ’n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. Jy moet hulle dit in besit laat neem. 8 Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.”
Joshua 2:1–24 AFRIKAAN
1 Josua seun van Nun het van Sittim af in die geheim twee verkenners uitgestuur en vir hulle gesê: “Gaan kyk die land deur, veral Jerigo.” Hulle is toe weg en het uitgekom by die huis van ’n prostituut met die naam Ragab en daar tuis gegaan. 2 Die koning van Jerigo het berig gekry dat daar in die nag van die Israeliete af mense aangekom het om die land te verken, 3 en hy het vir Ragab laat weet: “Lewer die manne uit wat na jou toe, na jou huis toe, gekom het. Hulle is hier om die land te verken.” 4 Die vrou het die twee manne weggesteek en vir die koning laat weet: “Daar het manne by my aangekom, maar ek weet nie waarvandaan hulle is nie. 5 Hulle het met donker vertrek toe dit tyd was vir die stadspoort om te sluit, en ek weet nie waarheen hulle is nie. Maak gou en agtervolg hulle. Miskien haal u hulle in.” 6 Sy het die twee manne intussen op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlasstoppels wat sy daar oopgesprei het. 7 Die koning se manne het na die twee verkenners gaan soek op die pad na die Jordaan toe, in die driwwe se rigting. Nadat die agtervolgers weg is agter die verkenners aan, is die stadspoort gesluit. 8 Voor die verkenners aan die slaap geraak het, is die vrou na hulle toe op die dak 9 en het sy vir hulle gesê: “Ek weet die Here gee vir julle die land; ons is skrikbevange vir julle, al die inwoners van die land bewe van vrees vir julle. 10 Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het met julle trek uit Egipte, en ook wat julle met die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan, met Sihon en Og, gedoen het, hoe julle hulle voor die voet uitgeroei het. 11 Ons het dit gehoor en ons harte het van angs verstyf. Niemand het nog moed teen julle nie, want julle God, die Here, is God, bo in die hemel en onder op die aarde. 12 “Ek het julle goed behandel. Lê dan nou vir my ’n eed voor die Here af dat julle my familie ook goed sal behandel, en gee my ’n betroubare aanduiding 13 dat julle my pa en ma, my broers en susters en almal wat by hulle hoort, se lewens sal spaar en ons so van die dood sal red.” 14 Toe sê die manne vir haar: “Ons staan met ons eie lewe in vir julle s’n. As julle nie oor ons praat nie en die Here gee ons die land, sal ons jou goed behandel en ons woord hou.” 15 Sy het hulle met ’n tou deur die venster laat afsak; haar huis was in die stadsmuur ingebou, sodat sy in die muur gewoon het. 16 Haar woorde aan hulle was: “Gaan die berge in sodat die mense wat na julle soek, julle nie raakloop nie. Kruip drie dae daar weg tot hulle die soektog staak. Daarna kan julle julle koers gaan.” 17 Die manne het vir haar gesê: “Die eed wat jy ons laat aflê het, sal ons net bind 18 as jy, wanneer ons die stad aanval, hierdie bloedrooi tou vasbind aan die venster waardeur jy ons laat afsak, en jou pa en ma, jou broers en jou hele familie by jou in die huis bymekaarhou. 19 Enigeen wat by jou huis se deure uitgaan buitentoe, sal self vir sy dood verantwoordelik wees, nie ons nie. Ons hou ons verantwoordelik vir enigeen wat by jou in die huis is; daar sal nie ’n hand teen hom gelig word nie. 20 En as jy oor ons praat, is ons nie gebind aan die eed wat jy ons laat aflê het nie.” 21 Sy het gesê: “Laat dit wees soos julle gesê het,” en sy het hulle laat gaan en hulle is weg. Sy het toe die bloedrooi tou aan die venster vasgebind. 22 Hulle het vertrek en is die berge in. Daar het hulle drie dae gebly tot die mense wat hulle gaan soek het, teruggekom het. Die mense het langs die hele pad gesoek en niks gekry nie. 23 Daarna het die twee manne uit die berge teruggekom en is hulle die rivier oor na Josua seun van Nun toe. Hulle het hom alles vertel wat met hulle gebeur het. 24 Hulle het vir Josua gesê: “Die Here gee die hele land oor in ons mag. Al die inwoners van die land bewe van vrees vir ons.
Joshua 3:1–17 AFRIKAAN
1 Josua het die môre vroeg van Sittim af vertrek en by die Jordaan aangekom, hy en al die Israeliete. Hulle het daar oorgebly voor hulle deur die rivier sou trek. 2 Na drie dae het die beamptes die kamp deurgegaan 3 en die volk beveel: “Wanneer julle sien die Levitiese priesters dra die verbondsark van die Here julle God, moet julle van julle staanplekke af vertrek en die ark volg, 4 sodat julle kan weet watter pad om te gaan, want julle het nie vantevore met dié pad langs gegaan nie. Maar daar moet ’n behoorlike afstand wees tussen julle en die ark, omtrent nege honderd meter. Moenie te naby hom kom nie.” 5 Josua het vir die volk gesê: “Reinig julle, want môre gaan die Here wonders doen tussen julle.” 6 Vir die priesters het Josua gesê: “Tel die verbondsark op en stap voor die volk uit.” Hulle het die verbondsark opgetel en voor die volk uit geloop. 7 Toe sê die Here vir Josua: “Ek begin vandag om vir jou hoë aansien in die oë van die hele Israel te gee sodat hulle kan weet dat Ek by jou is soos Ek by Moses was. 8 Sê nou vir die priesters wat die verbondsark dra, hulle moet by die Jordaan gaan staan wanneer hulle by die waterkant kom.” 9 Josua het vir die Israeliete gesê: “Kom nader, luister na die woorde van die Here julle God!” 10 Daarna sê hy: “Hieraan sal julle weet dat die lewende God tussen julle is en dat Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete sekerlik sal verdryf om vir julle plek te maak: 11 kyk, die verbondsark van die Here van die hele aarde sal voor julle uit die Jordaan in gaan. 12 Wys nou twaalf man aan uit die stamme van Israel, een uit elke stam. 13 Wanneer die voetsole van die priesters aan die Jordaan se water raak, die priesters wat die ark van die Here dra, die Here van die hele aarde, sal die water van die Jordaan wat afkom, afgesny word en op een hoop gaan staan.” 14 Die volk het toe van hulle tente af vertrek om deur die Jordaan te trek. Die priesters wat die verbondsark gedra het, was voor hulle. 15 Die draers van die ark het by die Jordaan aangekom. Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, 16 het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny. Die volk het regoor Jerigo deurgetrek. 17 Die priesters wat die verbondsark van die Here dra, het daar binne-in die Jordaan op die droë bedding gaan staan terwyl die hele Israel oor die droë bedding deurgaan tot die hele nasie uiteindelik deur die Jordaan is
Joshua 6:1–27 AFRIKAAN
1 Jerigo was gesluit en verskans teen die Israeliete; niemand het uitgegaan of ingekom nie. 2 Die Here het vir Josua gesê: “Ek gaan Jerigo, sy koning en sy soldate nou in jou mag oorgee. 3 Julle moet om die stad loop; al die manne onder wapen moet een maal om die stad gaan, en dit moet julle ses dae lank doen. 4 Sewe priesters moet elkeen ’n ramshoring voor die ark uit dra. “Die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop. Dan moet die priesters die ramshorings blaas, 5 en sodra die ramshorings blaas en julle dit hoor, moet al die manskappe die aanvalskreet hard uitskreeu. Die muur van die stad sal dan inmekaar stort en die manskappe kan oorklim, elkeen reguit vorentoe.” 6 Josua seun van Nun het die priesters geroep en vir hulle gesê: “Vat die verbondsark en laat sewe priesters elkeen ’n ramshoring voor die ark van die Here uit dra.” 7 Vir die manskappe het hy gesê: “Kom verby en loop om die stad. Die gewapende manne moet verbygaan voor die ark van die Here uit.” 8 Josua was nog besig om met die manskappe te praat, toe kom die sewe priesters wat elkeen ’n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, verby en blaas die ramshoring terwyl die verbondsark van die Here agter hulle aan kom. 9 Die gewapende manne het voor die priesters geloop wat die ramshorings blaas, en die agterhoede het die ark gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas. 10 Josua het die manskappe beveel: “Julle moenie skreeu of ’n geluid laat hoor nie; nie ’n woord moet uit julle mond kom voor die dag dat ek vir julle sê: ‘Skreeu!’ nie, dan moet julle skreeu.” 11 Josua het die ark van die Here toe om die stad laat gaan. Toe dit een maal om was, het hulle na die kamp toe teruggegaan en die nag in die kamp deurgebring. 12 Die volgende môre het Josua vroeg begin. Die priesters het die ark van die Here gedra. 13 Die sewe priesters wat elkeen ’n ramshoring voor die ark van die Here uit moes dra, het die ramshorings geblaas terwyl hulle loop; die gewapende manne het voor hulle geloop, en die agterhoede het die ark van die Here gevolg. Terwyl hulle loop, het die ramshorings geblaas. 14 Hulle het die tweede dag een maal om die stad geloop en het toe teruggegaan kamp toe. Dit het hulle ses dae gedoen. 15 Die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, begin. Hulle het sewe maal om die stad gegaan, in dieselfde volgorde as tevore. Daardie dag het hulle dus sewe maal om die stad gegaan. 16 Na die sewende maal het die priesters die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Skreeu! Die Here gee die stad aan julle oor! 17 Dit moet heeltemal uitgedelg word as banoffer vir die Here: die stad en al wat daarin is, behoort aan die Here. Net die prostituut Ragab mag lewe, sy en almal by haar in die huis, want sy het die verkenners wat deur ons uitgestuur is, weggesteek. 18 Maar weerhou julle van wat aan die Here behoort. Moet niks vat van wat aan Hom behoort en vernietig moet word nie, anders maak julle dat die kamp van Israel self vernietig moet word en bring julle die dood daaroor. 19 Die silwer en goud en die brons- en ystergoed in die stad is alles aan die Here gewy. Dit moet in die skatkis van die Here kom.” 20 Toe skreeu die manskappe en die ramshorings blaas. Net toe die manskappe die ramshorings hoor, het hulle die aanvalskreet hard uitgeskreeu. Toe stort die mure inmekaar en die manskappe gaan oor, die stad in. Hulle het die stad ingeneem 21 en al wat daarin is, uitgedelg, man en vrou, jonk en oud, selfs die beeste, die skape en die donkies. 22 Vir die twee manne wat die land moes verken, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut toe en bring die vrou en al haar mense uit soos julle haar met ’n eed beloof het.” 23 Die verkenners het toe gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en al haar mense, haar hele familie, uitgebring en vir hulle ’n plek buite die kamp van Israel ingerig. 24 Die stad met alles daarin is verbrand, net die silwer en goud en die brons- en ystergoed is in die skatkis van die huis van die Here gesit. 25 Josua het die prostituut Ragab en haar familie, al haar mense, laat lewe. Sy het tussen die Israeliete gewoon, en haar nageslag woon nou nog hier, omdat sy die manne vir wie Josua gestuur het om Jerigo te verken, weggesteek het. 26 Josua het destyds plegtig verklaar: “Die Here sal die man straf wat dié stad, Jerigo, probeer herbou. Dit sal hom sy oudste seun kos as hy die fondament lê en sy jongste as hy die poortdeure hang.” 27 Die Here was by Josua. Josua was oor die hele land bekend
Joshua 14:6–15 AFRIKAAN
6 Toe die mense van Juda na Josua toe gekom het in Gilgal, het Kaleb seun van Jefunne, ’n Kenassiet, vir Josua gesê: “Jy onthou wat die Here vir Moses, die man van God, oor jou en oor my gesê het in Kades-Barnea. 7 Ek was veertig toe Moses, die dienaar van die Here, my van Kades-Barnea af gestuur het om die land te verken. Ek het aan hom verslag gedoen soos ek sake gesien het, 8 maar my medeverkenners wat saam met my gegaan het, het die volk se hart laat verstyf van angs. Ek het die Here my God getrou gevolg, 9 en Moses het my daardie dag met ’n eed belowe: ‘Die gebied wat jy deurgestap het, sal jou en jou nageslag se permanente besitting wees omdat jy volhard het in jou trou aan die Here my God.’ 10 “Van die tyd af dat die Here dit vir Moses gesê het toe Israel deur die woestyn getrek het, het die Here my in die lewe laat bly soos Hy beloof het, vyf en veertig jaar lank. Ek is nou ’n man van vyf en tagtig, 11 maar ek is vandag nog net so sterk as die dag toe Moses my uitgestuur het. Die krag wat ek toe gehad het, het ek nou nog. Ek kan nog gaan oorlog maak en behoue terugkom. 12 Gee my nou asseblief die bergwêreld waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy het daardie dag gehoor dat daar Enakiete is en groot vestingstede. Miskien sal die Here by my wees sodat ek hulle kan verower soos Hy beloof het.” 13 Josua het sy seën uitgespreek oor Kaleb seun van Jefunne en aan hom Hebron as besitting toegeken. 14 Daarom behoort Hebron tot vandag toe aan Kaleb seun van Jefunne, die Kenassiet. Dit is omdat hy die Here die God van Israel getrou gevolg het. 15 Die naam van Hebron was voorheen Kirjat-Arba. Arba was die naam van ’n groot man onder die Enakiete. Die oorlog was verby, die land het gerus
Judges 7:1–25 AFRIKAAN
1 Jerubbaäl, dit is Gideon, en al sy manne het vroegmôre klaargemaak en kamp opgeslaan by En-Garod. Die kamp van Midian was noord van Gideon s’n, in die vlakte by Waarsêershoogte. 2 Die Here het vir Gideon gesê: “Ek kan Midian nie oorgee in die mag van soveel manne by jou nie. Israel sal teenoor My spog en sê: ‘Ek het myself gered.’3 Jy moet vir die manskappe sê dié wat bewe en bang is, moet omdraai en van Gileadberg af padgee. Al die manskappe moet dit kan hoor.” Twee en twintig duisend man het toe van die leër af padgegee en tien duisend het oorgebly. 4 Toe sê die Here vir Gideon: “Daar is nog te veel. Vat hulle af water toe, en daar sal Ek hulle vir jou sif. As Ek vir jou sê: ‘Hierdie een moet saamgaan’, moet hy met jou saamgaan, maar elkeen van wie Ek vir jou sê: ‘Hierdie een mag nie saamgaan nie’, hy mag nie met jou saamgaan nie.” 5 Toe het Gideon die manne afgevat water toe en daar het die Here vir hom gesê: “Elkeen wat water drink soos ’n hond dit met sy tong oplek, moet jy skei van dié wat kniel om te drink.” 6 Drie honderd het die water met die hand opgeskep. Die res het gekniel om te drink. 7 Toe sê die Here vir Gideon: “Ek sal julle red met die drie honderd man wat die water opgeskep het. Ek sal vir Midian in jou mag oorgee. Die ander moet almal huis toe gaan.” 8 Gideon-hulle het al die kos en die ramshorings gevat en toe het hy die ander almal huis toe gestuur. Hy het net die drie honderd by hom gehou. Die kamp van die Midianiete was teenoor hom in die vlakte. 9 Dié nag het die Here vir hom gesê: “Kom, gaan na die Midianiete se laer toe. Ek gee hulle in jou mag oor. 10 Maar as jy bang is om hulle aan te val, moet jy en jou slaaf Pura eers in hulle kamp ingaan. 11 Luister wat hulle sê, dan sal jy moed skep en hulle aanval.” Gideon en sy slaaf Pura is toe sowat vyftig tree in die Midianiete se kamp in. 12 Die Midianiete, die Amalekiete en die ander mense uit die ooste wat die vlakte ingeval het, was so baie soos sprinkane, en die kamele kon nie getel word nie. Hulle was so baie soos die sand aan die see. 13 Gideon het in die kamp ingekom net toe ’n man vir sy maat hierdie droom vertel: “Ek het gedroom,” het hy gesê, “daar kom ’n ronde garsbrood in ons laer ingerol. Die brood het tot by die tent gerol, daarteen gestamp en dit laat omval. Die brood het die tent omgestamp en die tent het inmekaargetuimel.” 14 Die maat het geantwoord: “Dit is beslis die swaard van die Israeliet Gideon seun van Joas. God gee Midian en sy hele leër in Gideon se mag oor.” 15 Toe Gideon die droom en sy uitleg hoor, het hy die Here gedank en na die Israeliete se kamp toe teruggegaan en gesê: “Kom, die Here gee die leër van Midian in ons mag oor.” 16 Gideon het die drie honderd man in drie groepe verdeel en aan elkeen ’n ramshoring en ’n leë erdekruik met ’n fakkel daarbinne gegee. 17 Toe sê hy vir sy manne: “Let mooi op wat julle moet doen: as ek by die onderpunt van die kamp kom, moet julle doen wat ek doen. 18 As ek en almal by my die ramshoring blaas, moet julle almal wat rondom die kamp is, dit ook doen en dan moet julle uitroep: Vir die Here en vir Gideon!” 19 Gideon en die honderd man by hom het tot by die onderpunt van die kamp gegaan. Dit was in die nag, aan die begin van die middelste wagaflos, en die wagte was net klaar omgeruil. Toe blaas Gideon-hulle die ramshorings en breek die erdekruike. 20 Al drie afdelings het dit gedoen: hulle het die fakkels in die linkerhand gehou en die ramshorings met die regterhand om dit te blaas. Toe roep hulle: “Die swaard van die Here en Gideon!” 21 Hulle het rondom die kamp gestaan, elkeen op sy pos. Toe die drie honderd man die ramshoring blaas, het die hele kamp op die vlug geslaan, hulle het geskreeu en gehardloop, en toe het die Here dit bewerk dat hulle mekaar daar in die kamp doodmaak. Die kamp se mense het gevlug tot by Bet-Sitta na Sereda se kant toe, tot by die grens van Abel-Megola naby Tabbat. 23 Die Israeliete uit Naftali, Aser en die hele Manasse is toe opgeroep om die Midianiete te agtervolg. 24 Gideon het boodskappers na die Efraimsberge toe gestuur: “Kom val vir Midian aan, beset die Jordaan tot by Bet-Bara voordat die Midianiete daar kom.” Toe is die Efraimiete opgeroep, en hulle het die Jordaan beset tot by Bet-Bara. 25 Hulle het twee leiers van die Midianiete gevang, Oreb en Seëb. Efraim het vir Oreb doodgemaak op die Orebrots en vir Seëb in die Seëbparskuip. Nadat Efraim die Midianiete klaar agtervolg het, het hulle die koppe van Oreb en Seëb na Gideon toe gebring wes van die Jordaan
Judges 13:1–25 AFRIKAAN
1 Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hy het hulle veertig jaar lank oorgegee in die mag van die Filistyne. 2 Daar was ’n man uit Sora uit die stam van Dan. Sy naam was Manoag. Sy vrou was kinderloos. 3 Die Engel van die Here het aan haar verskyn en vir haar gesê: “Jy is nou kinderloos, maar jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring. 4 Jy moet jouself goed oppas en nie wyn of bier drink nie en ook nie iets onreins eet nie. 5 Trouens, jy is reeds swanger en jy sal ’n seun in die wêreld bring. Sy hare mag nie geskeer word nie, want die kind sal van sy geboorte af aan God gewy wees. Hy sal die Israeliete begin red uit die mag van die Filistyne.” 6 Die vrou het toe vir haar man gaan sê: “Daar het ’n man van God by my gekom. Hy het gelyk soos ’n engel van God, ’n man met gesag. Ek het hom nie gevra waarvandaan hy kom nie, en hy het my nie gesê wat sy naam is nie. 7 Hy het vir my gesê: Kyk, jy is swanger en sal ’n seun in die wêreld bring. Jy mag voortaan nie wyn of bier drink nie en ook nie enigiets onreins eet nie, want die kind sal van sy geboorte af tot met sy dood aan God gewy wees.” 8 Toe het Manoag tot die Here gebid: “Here, laat die man van God vir wie U gestuur het, asseblief weer na ons toe kom dat hy ons kan leer wat ons moet doen met die kind wat gebore sal word.” 9 God het Manoag se gebed verhoor, en die Engel van God het weer na die vrou toe gekom. Sy het in die veld gesit, en haar man Manoag was nie by haar nie. 10 Toe hardloop sy gou en sê vir haar man: “Die man wat nou die dag na my toe gekom het, het weer aan my verskyn.” 11 Manoag is toe dadelik agter sy vrou aan. Hy het by die man gekom en vir hom gevra: “Is u die man wat met my vrou gepraat het?” Die man het geantwoord: “Ja, ek is.” 12 Manoag het vir hom gevra: “Wanneer u belofte waar word, hoe moet die kind hom dan gedra en wat moet hy doen?” 13 Die Engel van die Here het vir Manoag geantwoord: “Jou vrou moet alles doen wat Ek vir haar gesê het. 14 Sy mag nie die opbrengs van ’n wingerdstok eet nie, en sy mag nie wyn of bier drink nie. Sy mag ook nie iets onreins eet nie. Sy moet alles doen wat Ek vir haar gesê het.” 15 Toe sê Manoag vir die Engel van die Here: “Wag tog ’n rukkie, dan maak ons vir u ’n bokkie gaar.” 16 Die Engel van die Here sê toe vir Manoag: “Al laat jy My ’n rukkie wag, sal Ek nie jou kos eet nie. Maar as jy ’n brand-offer wil bring, moet jy dit vir die Here bring.” Manoag het nie besef dat dit die Engel van die Here is nie, 17 en toe sê Manoag vir die Engel: “Wat is u naam? Wanneer u belofte waar word, wil ons aan u eer betoon.” 18 Hy het vir Manoag geantwoord: “Waarom vra jy my Naam? Dit is te wonderlik om uit te spreek.” 19 Toe vat Manoag die bokkie, en hy sit dit saam met ’n graanoffer op ’n klip as offer vir die Here. Terwyl Manoag en sy vrou staan en kyk, het die Here ’n wonder laat gebeur. 20 Die vlam het van die altaar af opgegaan hemel toe en die Engel van die Here het in die altaarvlam opgestyg. Manoag en sy vrou het dit gesien en hulle het platgeval op die grond. 21 Die Engel van die Here het nie weer aan Manoag en sy vrou verskyn nie, maar Manoag het besef dat dit die Engel van die Here was. 22 Toe sê Manoag vir sy vrou: “Ons gaan beslis sterf, want ons het God gesien,” 23 maar sy sê vir haar man: “As die Here ons wou doodmaak, sou Hy nie die brandoffer en graanoffer van ons aangeneem het nie. Hy sou ons ook nie hierdie wonderlike ding laat sien het en ons vandag hierdie nuus meegedeel het nie.” 24 Die vrou het ’n seun in die wêreld gebring en sy het hom Simson genoem. Die kind het groot geword en die Here het hom geseën: 25 die Gees van die Here het hom in Magane-Dan, tussen Sora en Estaol, begin lei
1 Samuel 1:8–18 AFRIKAAN
8 Dan sê haar man Elkana vir haar: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?” 9 Op ’n keer ná die offermaaltyd in Silo het Hanna opgestaan terwyl die priester Eli op sy stoel langs die deurkosyn van die tempel van die Here gesit het. 10 Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil. 11 Sy het ’n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ’n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.” 12 Sy het lank tot die Here gebid, en Eli het stip na haar mond bly kyk. 13 Hanna het in haar gedagte gepraat, net haar lippe het geroer. Eli kon nie haar stem hoor nie, en daarom het hy gedink sy is dronk. 14 Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!” 15 Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net ’n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here. 16 Moet tog nie dink ek is ’n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.” 17 Toe sê Eli: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.” 18 En sy het gesê: “Mag dit vir my wees soos u sê.” Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie.
1 Samuel 14:1–23 AFRIKAAN
1 Op ’n dag sê Jonatan seun van Saul toe vir sy wapendraer: “Kom ons gaan oor na die patrollie van die Filistyne toe daar oorkant.” Hy het dit egter nie vir sy pa vertel nie. 2 Saul was toe onder ’n granaatboom by die dorsvloer net buite Gibea met omtrent ses honderd man by hom. 3 Die priester Agija seun van Agitub, broer van Ikabod seun van Pinehas, seun van Eli wat priester van die Here in Silo was, het die skouerkleed gedra. Maar die manskappe het nie geweet dat Jonatan weggegaan het nie. 4 Weerskante van die pas waar Jonatan probeer deurgaan het na die patrollie van die Filistyne toe, was daar ’n spits rots. Die naam van die een rots was Boses en dié van die ander Senne. 5 Die een spits het soos ’n pilaar aan die noordekant teenoor Mikmas gestaan, en die ander aan die suidekant teenoor Gibea. 6 Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan oor na die patrollie van hierdie heidene toe. Miskien sal die Here ons help. Hy kan red, deur baie of deur min.” 7 En sy wapendraer sê vir hom: “Net soos u wil. Ek is tot u diens.” 8 Jonatan sê toe vir hom: “Nou toe, kom ons gaan in hulle rigting sodat hulle ons kan sien. 9 As hulle vir ons sê: ‘Staan stil totdat ons by julle kom,’ bly ons hier onder staan. Ons gaan dan nie op na hulle toe nie. 10 Maar as hulle vir ons sê: ‘Kom op na ons toe,’ gaan ons na hulle toe, want dan sal dit vir ons die teken wees dat die Here hulle in ons mag gee.” 11 Toe die Filistynse patrollie die twee sien, het die Filistyne gesê: “Kyk daar! Party Hebreërs het uitgekom uit die gate waarin hulle weggekruip het.” 12 En die manne van die patrollie het vir Jonatan en sy wapendraer uitgedaag: “Kom op na ons toe dat ons julle ’n les kan leer.” Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Klim agter my aan! Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee.” 13 Jonatan het hande-viervoet opgeklouter met sy wapendraer op sy hakke. Die vyand het voor Jonatan geval, en agter hom het sy wapendraer hulle doodgemaak. 14 In hierdie eerste slagting deur Jonatan en sy wapendraer het omtrent twintig man geval, en dit op ’n klein stukkie grond. 15 Toe het die hele leër van die vyand paniekbevange geword, in die laer en in die veld; die patrollie en die roofbende het ook paniekbevange geword: daar was ’n aardbewing en God het hulle paniekbevange gemaak. 16 Toe die wagte van Saul by Gibea in Benjamin sien dat die menigte in beroering is en in die rondte maal, 17 het Saul vir die manskappe by hom gesê: “Stel dadelik vas wie van ons is weg.” Hulle het vasgestel Jonatan en sy wapendraer is nie daar nie. 18 Saul sê toe vir Agija: “Bring die ark van God nader.” Die ark van God was in dié tyd by die Israeliete. 19 Terwyl Saul nog met die priester aan die praat was, het die rumoer in die laer van die Filistyne steeds groter geword. Toe sê Saul vir die priester: “Laat staan maar!” 20 Saul en die manskappe by hom het bymekaargekom en toe hulle by die geveg kom, was die Filistyne besig om onder mekaar te veg. Daar was baie groot verwarring. 21 Boonop het die Hebreërs wat voorheen saam met die Filistyne se leër opgetrek het, oorgeloop na die Israeliete toe wat by Saul en Jonatan was. 22 Al die Israeliete wat in die Efraimsberge weggekruip het, het gehoor dat die Filistyne vlug en het hulle agterna gesit. 23 Die Here het Israel daardie dag gered. Hulle het veg-veg by Bet-Awen verbygegaan.
1 Samuel 17:17–37 AFRIKAAN
17 Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Vat tog vir jou broers sestien kilogram gebraaide koring en tien brode en bring dit gou vir hulle in die kamp. 18 Die tien kase moet jy na die aanvoerder van die afdeling toe vat. Dan moet jy sommer kyk of dit nog goed gaan met jou broers, en ’n bewys daarvan saambring. 19 Saul en jou broers en die hele Israel is in die laagte by die groot boom aan die veg teen die Filistyne.” 20 Dawid het die môre vroeg opgestaan, die kleinvee aan die wagter afgegee, die goed opgetel en gegaan soos Isai hom beveel het. Net toe hy by die kamp aankom, het die leër wat na die gevegslinie toe uitgaan, die oorlogskreet aangehef. 21 Israel en die Filistyne het naamlik in linies teenoor mekaar stelling ingeneem. 22 Dawid het die pak wat hy gedra het, onder die sorg gelaat van die man wat die goed oppas, en na die linies toe gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan, 23 en terwyl hy nog met hulle praat, kom die baasvegter Goliat die Filistyn uit Gat juis uit die linies van die Filistyne vorentoe en hy praat weer so. Dawid het dit gehoor. 24 Toe die Israeliete die man sien, het hulle almal vir hom gevlug en hulle was baie bang. 25 ’n Israeliet sê toe: “Julle sien hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom net om Israel te verkleineer. Die man wat hom verslaan—die koning sal daardie man baie ryk maak en sy dogter aan hom gee, en die man se familie sal in Israel van alle verpligtinge vrygestel wees.” 26 Dawid het vir die manskappe wat by hom staan, gevra: “Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?” 27 Die manskappe het dieselfde vir hom gesê: “So sal gedoen word aan die man deur wie die Filistyn verslaan word.” 28 Dawid se oudste broer Eliab het gehoor wat hy met die manskappe praat en Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen gekom en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die droëveld afgegee? Ek ken jou vermetelheid en kwaadwilligheid. Het jy net hierheen gekom om na die geveg te kyk?” 29 Toe sê Dawid: “Wat het ek nou gedoen? Is dit dan nie ’n belangrike saak nie?” 30 Dawid het van hom af weggedraai na ’n ander een toe en dieselfde gevra, en die manskap het geantwoord soos die eerste. 31 Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword. Die manskappe het dit vir Saul vertel, en hy het hom laat haal. 32 “’n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie,” sê Dawid toe vir Saul. “Ek sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.” 33 Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is jonk en hy ’n vegter van kindsbeen af.” 34 Toe sê Dawid vir Saul: “As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom ’n leeu of ’n beer en dra ’n lam weg uit die kudde, 35 gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. 36 Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer.” 37 Verder het Dawid gesê: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.” Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die Here by jou wees.”
1 Samuel 17:38–58 AFRIKAAN
38 Saul het sy eie uitrusting vir Dawid laat aantrek: hy het ’n bronshelm op sy kop gesit en hom ’n harnas laat aantrek, 39 en Dawid het Saul se swaard bo-oor sy uitrusting vasgegord. Maar hy kon nie loop nie, want hy was dit nie gewoond nie. Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek is dit nie gewoond nie.” En Dawid het dit uitgetrek. 40 Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy slingervel in die hand het hy op die Filistyn af geloop. 41 Die Filistyn het al hoe nader gekom na Dawid toe, terwyl sy skilddraer voor hom was. 42 Toe hy vir Dawid sien, het die Filistyn hom met minagting aangekyk omdat hy jonk was, met ’n rooi gelaatskleur en ’n mooi voorkoms. 43 Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Is ek ’n hond dat jy met kieries na my toe kom?” Hy het Dawid toe in die naam van die Filistynse gode vervloek. 44 Verder het die Filistyn vir Dawid gesê: “Kom ’n bietjie hier dat ek jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee.” 45 Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. 46 Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel ’n God het. 47 Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee.” 48 Toe die Filistyn regmaak en nader kom om Dawid te ontmoet, het Dawid die Filistyn vinnig op die vegterrein tegemoet gehardloop. 49 Toe steek Dawid sy hand in die sak, vat ’n klip daaruit, gooi met die slingervel, en tref die Filistyn teen die voorkop. Die klip het in sy voorkop ingedring, en hy het vooroor geval op die grond. 50 Met die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy hom verslaan en doodgemaak. Dawid het nie eens ’n swaard by hom gehad nie! 51 Toe het Dawid gehardloop, by die Filistyn gaan staan, sy swaard gevat, dit uit die skede getrek en hom van kant gemaak: hy het sy kop daarmee afgekap. Die Filistyne het gesien dat hulle held dood is, en het gevlug. 52 Die manskappe van Israel en Juda het opgestaan, die aanvalskreet uitgeskreeu en die Filistyne agtervolg tot by die ingang van Gat en die poorte van Ekron, sodat die gesneuweldes van die Filistyne op die pad van Saärajim af tot by Gat en Ekron gelê het. 53 Daarna het die Israeliete teruggekom van die strawwe agtervolging van die Filistyne af en hulle kamp geplunder. 54 Dawid het die kop van die Filistyn gevat en dit na Jerusalem toe gebring, maar die Filistyn se wapens het hy in sy eie tent gaan sit. 55 Toe Saul vir Dawid sien uitgaan om die Filistyn te ontmoet, het hy vir Abner die hoof van die leër gevra: “Abner, wie se kind is dié jong man tog?” Abner het geantwoord: “So seker as u leef, U Majesteit, ek weet nie.” 56 Die koning sê toe: “Vra jy tog wie se kind die jong man is.” 57 Toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom gevat en voor Saul gebring met die kop van die Filistyn nog in sy hand. 58 Saul het vir hom gevra: “Seun, wie se kind is jy?” “Die kind van u onderdaan Isai, uit Betlehem,” het Dawid geantwoord
2 Samuel 12:16–23 AFRIKAAN
16 Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê. 17 Die hoofde van sy huishouding het hom probeer oorreed om van die grond af op te staan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle aan tafel verskyn nie. 18 Op die sewende dag het die kind gesterwe, en Dawid se amptenare was bang om hom te vertel dat die kind dood is. Hulle het gesê: “En nou? Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, en hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy sal ’n onbesonne ding aanvang.” 19 Dawid het agtergekom dat sy amptenare onder mekaar fluister en hy het afgelei dat die kind dood is. “Is die kind dood?” het hy gevra. “Hy is dood,” was hulle antwoord. 20 Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid. Hierna is hy huis toe en het hy kos gevra. Hulle het hom ’n ete voorgesit en hy het geëet. 21 Sy amptenare vra hom toe: “Wat doen u nou? Toe die kind nog gelewe het, het u gevas en gehuil. Nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?” 22 Sy antwoord was: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe. 23 Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.”
2 Samuel 15:13–37 AFRIKAAN
13 Toe kom daar iemand by Dawid met die berig: “Die hele Israel is aan Absalom se kant.” 14 Dawid het toe sy hele hofhouding wat by hom in Jerusalem was, beveel: “Maak klaar. Laat ons vlug, want Absalom sal geen genade vir ons hê nie. Maak gou voordat hy ons dalk inhaal en ’n groot ramp ons tref deurdat hy ’n bloedbad in die stad aanrig.” 15 Hulle het die koning geantwoord: “Net soos die koning verkies. Ons is gereed.” 16 Nadat hy tien byvrouens agtergelaat het om die paleis op te pas, het die koning en sy hele hofhouding te voet gevlug. 17 Hy en al die inwoners het die stad te voet verlaat. By die laaste huis het hulle gaan staan. 18 Daar het hy al sy amptenare by hom laat verbygaan; so ook sy hele lyfwag en al ses honderd man wat hom uit Gat gevolg het. Terwyl die mense voor die koning verbytrek, 19 vra hy vir Ittai die man uit Gat: “Waarom gaan jý ook saam met ons? Draai om en bly by die nuwe koning. Jy is ’n uitlander en uit jou eie gebied verban. 20 Jy het maar onlangs hier aangekom, en nou maak ek jou dakloos as ek jou saam met ons laat gaan. Ek weet nie waar ek sal beland nie. Draai om en laat jou volksgenote ook omdraai. Dit is immers aan jou dat hulle trou en lojaliteit verskuldig is.” 21 Ittai sê toe vir die koning: “Ek verklaar voor die Here en voor u: Ek bly by u, my koning in lewe en in dood.” 22 Toe sê die koning: “Kom dan maar saam.” Ittai die Gattiet en al die manne by hom is toe saam, en so ook al die afhanklikes wat by hom was. 23 Al die mense, al die inwoners van die stad, het hardop geloop en huil. Die hele volk en die koning het deur Kedronspruit getrek en toe het die volk in die rigting van die woestyn koers gekies. 24 Sadok en al die Leviete wat die verbondsark van God gedra het, was by die koning. Abjatar het ook saamgekom. Hulle het die ark van God neergesit totdat die volk uit die stad was. 25 Toe het die koning vir Sadok beveel: “Vat die ark van God terug stad toe. As die Here my dit vergun en my terugbring, sal Hy my die ark en sy heiligdom weer laat sien. 26 Maar as die Here sou te kenne gee: ‘Ek is nie meer tevrede met jou nie,’ sal ek dit aanvaar. Dan kan Hy met my maak soos Hy dit goedvind.” 27 Verder het die koning vir die priester Sadok gesê: “Sien jy hoe staan sake? Gaan gerus terug stad toe; ook jou seun Agimaäs en Jonatan seun van Abjatar. Die twee seuns moet saam met julle teruggaan. 28 En onthou, ek sal by die woestynpas wag totdat ek van julle hoor.” 29 Daarna het Sadok en Abjatar die ark van God na Jerusalem toe teruggevat en daar gebly. 30 Dawid het die Olyfberg huil-huil uitgeklim en as teken van sy droefheid was sy kop toegemaak en het hy kaalvoet geloop. Almal wat by hom was, het ook hulle koppe toegemaak en huil-huil die helling uitgeklim. 31 Toe aan Dawid gesê is: “Agitofel is tussen die samesweerders by Absalom,” het hy gebid: “Here, laat daar tog niks kom van Agitofel se raad nie.” 32 Toe Dawid op die kruin kniel in die rigting van die ark van God het Gusai die Erekiet onverwags by hom aangekom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop. 33 Dawid het vir hom gesê: “As jy saamgaan, sal jy vir my ’n oorlas wees. 34 Maar as jy teruggaan stad toe en vir Absalom sê: ‘U Majesteit, ek is u onderdaan; ek was in u vader se diens, maar van hierdie oomblik af is ek u onderdaan,’ kan jy vir my Agitofel se raad tot niet maak. 35 Kyk, die priester Sadok en Abjatar sal daar by jou wees. Alles wat jy uit die paleis hoor, moet jy hulle vertel. 36 Hulle twee seuns Agimaäs en Jonatan is saam met hulle daar, en wat julle ook al hoor, kan julle vir my met hulle laat weet.” 37 Gusai die vriend van Dawid het toe die stad ingegaan, en Absalom was op pad na Jerusalem toe
2 Samuel 22:1–25 AFRIKAAN
1 Dawid het die woorde van hierdie lied tot die Here gerig op die dag toe die Here hom gered het uit die mag van al sy vyande en uit die mag van Saul. 2 Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, 3 my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting, my toevlug en bevryder. Van geweld het U my verlos. 4 Onder bespotting roep ek na die Here, dan word ek van my vyande gered. 5 Waarlik, golwe van die dood het my omsluit, strome van onheil het my verskrik. 6 Bande van die doderyk het my vasgetrek, strikke van die dood het my bedreig. 7 In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my. 8 Die aarde het geskud en gebewe, die fondamente van die hemel het getril en geskud, want Hy was vertoorn. 9 Rook het uit sy neus getrek, vuur uit sy mond het alles verteer, gloeiende kole uit sy binneste. 10 Hy het die hemel afgebuig en afgekom, onder sy voete was duisternis. 11 Hy het op ’n gerub geklim en gevlieg; op die vleuels van die wind het Hy verskyn. 12 Hy het Hom in donkerte gehul, donker waters en wolkemassas was sy bedekking. 13 Uit die gloed voor Hom het weerligstrale geblits. 14 Die Here het dit uit die hemel laat dreun, die Allerhoogste het sy stem laat hoor. 15 Hy het sy pyle afgeskiet en die vyand uitmekaar gejaag, hulle met weerligstrale op loop gejaag. 16 Die seebodem het sigbaar geword, die fondamente van die aarde is blootgelê deurdat U, Here, op hulle gebulder het met die orkaan van u toorn. 17 Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. 18 Hy het my gered van my vyand wat sterk was, van my haters toe hulle vir my te magtig was. 19 Die dag toe hulle my aangeval het, was my ondergang naby, maar die Here het my daarvan bewaar. 20 Hy het my in vryheid laat uitgaan, my gered omdat Hy my liefhet. 21 Die Here het aan my reg laat geskied, Hy het my onskuld aanvaar, 22 want ek het my aan sy voorskrifte gehou en my nie teenoor my God skuldig gemaak nie; 23 ek het my deur al sy bepalings laat lei en nie van sy voorskrifte afgewyk nie. 24 Ek was opreg voor Hom, ek was op my hoede teen enige ongeregtigheid. 25 Die Here het aan my reg laat geskied want ek was onskuldig in sy oë.
2 Samuel 22:26–51 AFRIKAAN
26 U betoon u getrou teenoor die getroue, opreg teenoor die opregte, 27 rein teenoor die reine, maar U verwerp die huigelaar. 28 U red die verdrukte volk, U verneder die trotses. 29 U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my. 30 Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. 31 Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy. 32 Waarlik, wie anders as die Here is God? Ja, wie anders as ons God is ’n rots? 33 God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig. 34 Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan. 35 Hy leer my hande om oorlog te maak, my arms om selfs die stramste boog te span. 36 Die redding wat U gebring het, was vir my ’n beskerming, deur u hulp het ek sterk geword. 37 U het my ruim vastrapplek gegee, my enkels het nie geswik nie. 38 Ek het my vyande agtervolg en ingehaal, ek het nie omgedraai voordat hulle uitgewis was nie. 39 Ja, ek het hulle verpletter, sodat hulle nie weer kon opstaan nie. Hulle het voor my voete gesneuwel. 40 U het my met krag omgord vir die stryd, U het my teëstanders voor my laat swig. 41 U het my vyande voor my laat vlug en ek kon my haters uitwis. 42 Hulle roep om hulp, en daar is niemand wat help nie; hulle roep selfs na die Here, maar Hy antwoord hulle nie. 43 Ek maak hulle fyn soos stof, ek laat hulle wegspat soos modder in die strate, ja, ek vermorsel hulle. 44 U het my gered van opstandige mense, my as hoof van vreemde nasies aangestel. ’n Volk wat ek nie geken het nie, is my onderdane. 45 Wie ook al van my verneem, gehoorsaam my. Vreemde volke kruip voor my. 46 Hulle skrik en kom bewend uit hulle forte uit. 47 Die Here leef! Ek loof Hom wat my rots is. Ek prys my God wat my verlos het. 48 Dit is God wat my die oorwinning gee, wat volke aan my onderwerp. 49 Hy red my van my vyande. Ja, U stel my buite bereik van my teëstanders, U bevry my van geweldenaars. 50 Daarvoor sal ek U loof voor die nasies, Here, tot eer van u Naam ’n lofpsalm sing! 51 Dit is Hy wat aan sy koning groot oorwinnings gee en trou aan sy gesalfde betoon, aan Dawid en sy nageslag vir altyd
2 Samuel 23:1–7 AFRIKAAN
1 Hier volg die laaste woorde van Dawid: “Dit is Dawid seun van Isai wat praat. Dit is ’n man wat praat, een wat hoog geplaas is, die gesalfde van die God van Jakob, die gevierde in die liedere van Israel: 2 “Die Gees van die Here het deur my gepraat, ja, sy woord was op my lippe. 3 Die God van Israel het gepraat, die Rots van Israel het vir my gesê: ‘Hy wat regverdig oor mense heers, wat regeer in eerbied teenoor God, 4 is soos die môrelig as die son opkom op ’n oggend sonder wolke; dit skitter na die reën; die gras skiet op uit die grond.’ 5 “God het my koningskap goed gevestig, Hy het aan my ’n verbond vir altyd gegee, behoorlik opgestel en goed bewaar. Al my hulp, al my vreugde, dit kom van Hom af. 6 Maar die goddelose is soos doringtakke wat alles weggegooi word; niemand vat met die hand daaraan nie. 7 Wie daarmee werk, doen dit met yster of hout. In ’n vuur brand hulle heeltemal uit.
2 Samuel 24:10–17 AFRIKAAN
10 Nadat hy die volk laat tel het, het Dawid se gewete hom gekwel. Hy het teenoor die Here bely: “Ek het swaar gesondig met wat ek gedoen het. Vergewe tog nou my oortreding, Here! Waarlik, ek het baie dwaas opgetree.” 11 Nadat Dawid die oggend opgestaan het, het die profeet Gad, die siener van Dawid, na hom toe gekom. Die woord van die Here het tot Gad gekom en gesê: 12 “Gaan sê vir Dawid: So het die Here gesê: Ek lê drie dinge aan jou voor. Kies vir jou een daarvan, dan sal Ek dit laat gebeur.” 13 Gad het toe vir Dawid die boodskap gebring: “Wat wil jy liewer hê? Sewe jaar hongersnood in jou land, of drie maande waarin jy voor jou teenstanders vlug en hulle jou agtervolg, of drie dae lank pes in jou land? Oorweeg nou goed hoe ek Hom wat my gestuur het, moet antwoord.” 14 Dawid het vir Gad geantwoord: “Ek is in ’n hoek gedryf. Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is groot. Ek wil nie in die hand van ’n mens val nie.” 15 Daarna het die Here ’n pes van die oggend af tot die aand onder Israel ingestuur. Van die noorde tot die suide het daar sewentig duisend gesterf. 16 Net toe die engel sy hand na Jerusalem toe uitsteek om dit te verdelg, het die Here besluit om die straf nie verder te voer nie. Hy het vir die engel wat die verderf onder die volk aanrig, gesê: “Dis nou genoeg. Trek jou hand terug.” Die engel van die Here was toe net by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet. 17 Terwyl Dawid die engel sien wat die volk tref, sê hy vir die Here: “Dit is ék wat gesondig het. Ja, ék het oortree. Wat het hierdie arme mense gedoen? Tree liewer op teen my en my familie.”
1 Kings 17:8–16 AFRIKAAN
8 Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê: 9 “Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ’n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.” 10 Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar ’n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief ’n bekertjie water om te drink.” 11 Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief ’n stukkie brood saam.” 12 Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net ’n handvol meel in die kruik en ’n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar ’n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.” 13 Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. 14 So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.” 15 Sy gaan maak toe soos Elia gevra het. Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. 16 Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.
1 Kings 18:20–40 AFRIKAAN
20 Toe stuur Agab die boodskap aan al die Israeliete; hy het ook die profete op Karmelberg laat bymekaarkom. 21 Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.” Die volk het hom nie ’n woord geantwoord nie. 22 Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as profeet van die Here, maar daar is vier honderd en vyftig profete van Baäl. 23 Bring nou vir ons twee bulle. Hulle kan vir hulle een bul kies en hom opsny en op die hout uitlê. Maar hulle moet dit nie aan die brand steek nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal hom op die hout uitlê, maar dit ook nie aan die brand steek nie. 24 Dan moet julle tot julle god bid, en ek sal tot die Here bid. Hy wat met vuur antwoord, is God.” Die hele volk het geantwoord: “Dis goed so.” 25 Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies ’n bul en maak julle hom eerste gereed, want julle is die meeste. Bid dan tot julle god. Maar julle mag nie die vuur aansteek nie.” 26 Hulle neem toe die bul wat hy hulle laat kies het en maak hom gereed. Hulle bid toe tot Baäl en roep van die môre af tot die middag toe: “Baäl, antwoord ons!” Daar was nie ’n geluid van hom af nie. Niemand het geantwoord nie, hoe hulle ook al vir Baäl gedans het by die altaar wat hulle gemaak het. 27 Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos ’n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!” 28 Toe roep hulle nog harder; en soos altyd kerf hulle hulle stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hulle loop. 29 Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan, en teen laatmiddag, die tyd vir die aandoffer, was daar nog geen geluid nie. Niemand het geantwoord nie, daar was geen reaksie nie. 30 Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan. Toe het hy die stukkende altaar van die Here weer reggemaak. 31 Hy het twaalf klippe gevat, net soveel as die stamme van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” 32 Met die klippe het hy die altaar van die Here reggemaak en ’n behoorlike sloot daar rondom gegrawe. 33 Toe sit hy die hout reg, sny die bul stukkend en lê dit uit op die hout. 34 Toe beveel hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit op die brandoffer en op die hout.” Daarna sê hy: “Doen dit weer,” en hulle het dit nog ’n keer gedoen. Toe sê hy: “Doen dit ’n derde keer,” en hulle het weer so gemaak. 35 Toe stroom die water oor die hele altaar, en selfs die sloot rondom het vol geword. 36 Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. 37 Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.” 38 Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek. 39 Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!” 40 Hierop sê Elia vir hulle: “Gryp die profete van Baäl! Nie een van hulle mag wegkom nie.” Toe die volk hulle gegryp het, het Elia die profete laat afbring na Kisonspruit toe en daar het hy hulle doodgemaak.
2 Kings 16:1–20 AFRIKAAN
1 In die sewentiende regeringsjaar van Peka seun van Remalja het Agas seun van koning Jotam van Juda op die troon gekom. 2 Agas was twintig toe hy koning geword het en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die Here sy God soos sy voorvader Dawid nie. 3 Hy het die pad geloop van die konings van Israel. Hy het selfs sy seun verbrand volgens die afskuwelike gebruike van die heidennasies wat deur die Here voor die Israeliete uit verdryf is. 4 Hy het diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes en op die rante en onder elke groen boom. 5 Destyds het koning Resin van Aram en koning Peka van Israel, seun van Remalja, opgetrek om teen Jerusalem te veg. Hoewel hulle vir Agas beleër het, kon hulle nie ’n geveg afdwing nie. 6 In daardie tyd het koning Resin van Aram die stad Elat vir Aram herower en die Judeërs daaruit verdryf. Arameërs het in Elat ingetrek en woon tot vandag toe daar. 7 Toe stuur Agas ’n boodskap na koning Tiglat-Pileser van Assirië: “Ek is u onderdaan en seun. Ruk op en bevry my uit die mag van die koning van Aram en van die koning van Israel, hulle val my aan.” 8 Agas het die silwer en die goud wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis was, gevat en as geskenk aan die koning van Assirië gestuur. 9 Die koning van Assirië het aan sy versoek voldoen en teen Damaskus opgetrek. Hy het die stad verower en die bevolking na Kir toe weggevoer; vir Resin het hy doodgemaak. 10 Koning Agas het hierna Damaskus toe gegaan om vir koning Tiglat-Pileser van Assirië te ontmoet. Nadat Agas ’n altaar gesien het wat daar in Damaskus gestaan het, het hy aan die priester Urija ’n afbeelding en ’n model daarvan gestuur om dit getrou na te maak. 11 Die priester Urija het die altaar gebou in ooreenstemming met koning Agas se aanwysings uit Damaskus. Die priester Urija het dit presies so gemaak nog voordat die koning uit Damaskus aangekom het. 12 Toe die koning van Damaskus af kom en die altaar sien, het hy nader gegaan en op die altaar geklim. 13 Hy het sy brandoffer en sy graanoffer gebring, sy drankoffer uitgegiet en die bloed van die maaltydoffers ten behoewe van homself teen die altaar uitgegooi. 14 Die bronsaltaar ter ere van die Here het hy van die voorkant van die tempel af, tussen die altaar en die huis van die Here uit, verskuif na die noordekant van die altaar toe. 15 Koning Agas het die priester Urija beveel: “Steek die oggendbrandoffer en die aandgraanoffer aan die brand op die groot altaar en ook die koning se brandoffer en graanoffer, die brandoffer van die landsburgers, hulle graanoffers en hulle drankoffers. Die bloed van elke brandoffer en van elke ander diereoffer moet julle teen die groot altaar uitgiet. Die bronsaltaar sal myne bly om die wil van God te wete te kom.” 16 Die priester Urija het alles gedoen wat koning Agas hom beveel het. 17 Koning Agas het die sluitplate van die waentjies verwyder en die waskomme van hulle af geneem en die waterbak het hy opgelig van die beeste af wat van brons gemaak is, en op ’n klipvloer gesit. 18 Die oordekte gang vir die sabbat wat hulle by die tempel gebou het, en die buitenste ingang vir die koning het hy ter wille van die koning van Assirië van die huis van die Here af verwyder. 19 Die ander verhale oor Agas en wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Juda. 20 Agas is oorlede, en hy is begrawe by sy voorvaders in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Hiskia het hom as koning opgevolg
2 Kings 18:1–16 AFRIKAAN
1 In die derde regeringsjaar van koning Hosea van Israel, seun van Ela, het Hiskia seun van koning Agas van Juda op die troon gekom. 2 Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Abi ’n dogter van Sagaria. 3 Hiskia het gedoen wat reg is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg. 4 Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer. Die slang is Negustan genoem. 5 Hiskia het op die Here die God van Israel vertrou. Nie een van al die konings van Juda voor of na Hiskia was soos hy nie. 6 Hy was getrou aan die Here en het nie van Hom af weggedraai nie. Hiskia was gehoorsaam aan die gebooie wat die Here aan Moses gegee het. 7 Die Here was by Hiskia, en Hiskia was voorspoedig in alles wat hy onderneem het. Hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en was nie meer aan hom onderdanig nie. 8 Hy het die Filistyne verslaan en hulle teruggedryf, wagpos vir wagpos, vestingstad vir vestingstad, tot by Gasa en die gebied daar rondom. 9 In die vierde regeringsjaar van koning Hiskia, die sewende regeringsjaar van koning Hosea van Israel, seun van Ela, het koning Salmaneser van Assirië teen Samaria opgetrek en die stad beleër. 10 Hy het die stad na drie jaar ingeneem, in die sesde regeringsjaar van Hiskia. In die negende regeringsjaar van koning Hosea van Israel is Samaria verower. 11 Die koning van Assirië het die inwoners van Israel as gevangenes na Assirië toe weggevoer en hulle hervestig in Galag en aan die Gaborrivier in Gosan en in die stede van Medië. 12 Dit was omdat die inwoners van Israel nie gehoorsaam was aan die Here hulle God nie. Hulle het die verbondsverpligtinge wat die Here op hulle gelê het, alles wat Moses die dienaar van die Here hulle beveel het, oortree. Hulle was ongehoorsaam en het die bevele nie uitgevoer nie. 13 In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië al die vestingstede in Juda aangeval en verower. 14 Koning Hiskia van Juda het toe vir die koning van Assirië in Lakis laat weet: “Ek het verkeerd gedoen. Trek u manskappe terug, ek sal betaal wat u vra.” Die Assiriese koning het koning Hiskia van Juda toe beboet met iets meer as tien ton silwer en een ton goud. 15 Hiskia moes al die silwer wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis was, afgee. 16 Terselfdertyd moes hy die goudbeslag wat hy self laat aanbring het, van die deure van die tempel van die Here en van die deurposte afstroop om die koning van Assirië te betaal.
2 Kings 18:17–37 AFRIKAAN
17 Daarna het die koning van Assirië die hoof van sy leër en sy hoofamptenaar en sy hoofadjudant met ’n groot leërmag uit Lakis na koning Hiskia toe in Jerusalem gestuur. Hulle het na Jerusalem toe opgetrek en toe hulle daar aankom, het hulle posisie ingeneem langs die kanaal van die boonste dam, langs die pad na die Bleikveld toe. 18 Hulle het na die koning geroep, en toe het die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf na hulle toe gegaan. 19 Toe sê die hoofadjudant vir hulle: “Sê vir Hiskia: So sê die groot koning van Assirië: Waarop berus hierdie vertroue van jou? 20 Jy dink woorde alleen is genoeg vir strategie en militêre mag. Op wie vertrou jy dat jy in opstand is teen my? 21 Jy vertrou op Egipte, op ’n versplinterde riet wat jou in die hand steek en jou seermaak as jy op hom leun. Dit is wat die farao, die koning van Egipte, beteken vir almal wat op hom vertrou. 22 En as julle vir my wil sê julle vertrou op die Here julle God, dit is mos Hy wie se hoogtes en altare Hiskia laat verwoes het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet net by hierdie altaar in Jerusalem aanbid.’23 Wil jy ’n ooreenkoms aangaan met my koning, die koning van Assirië? Ek gee jou twee duisend perde: sal jy die ruiters vir hulle kan voorsien? 24 Hoe sal jy weerstand kan bied teen één goewerneur, één van my koning se onbelangrikste amptenare? En dan vertrou jy op Egipte vir strydwaens en perde! 25 Buitendien, ek het nie sonder die Here opgetrek teen hierdie plek om dit te verwoes nie; die Here het vir my gesê: Trek op teen daardie land en verwoes dit.” 26 Toe sê Eljakim seun van Gilkija, en Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Praat tog asseblief met ons Aramees, ons verstaan dit, maar moenie met ons Judees praat dat die manskappe op die muur dit kan verstaan nie.” 27 Maar die hoofadjudant sê vir hulle: “Dink julle my koning het my net na julle koning en na julle toe gestuur om dié dinge te sê, en nie ook na die manne wat op die muur sit nie? Hulle sal hulle eie ontlasting moet eet en hulle eie urine moet drink, net soos julle!” 28 Toe gaan staan die hoofadjudant en hy skree hard in Judees: “Luister wat die groot koning sê, die koning van Assirië! 29 So sê die koning: Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie uit my mag red nie. 30 En moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie. Hy sê: ‘Die Here sal ons sekerlik red; dié stad sal nie oorgegee word in die mag van die koning van Assirië nie.’31 Moenie na Hiskia luister nie, want só sê die koning van Assirië. Maak vrede met my en kom uit na my toe, dan sal elkeen die vrugte van sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink 32 tot ek kom en julle wegvat na ’n land toe net soos julle land. Dit is ’n land met koring en wyn, ’n land met kos en wingerde, ’n land met olyfolie en heuning. Dan sal julle lewe, julle sal nie sterwe nie. Moenie na Hiskia luister nie. Hy bedrieg julle as hy sê die Here sal julle red. 33 Kon die gode van die ander nasies hulle lande red uit die mag van die koning van Assirië? 34 Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim, Hena en Awwa? Kon hulle Samaria uit my mag bevry? 35 Wie van al die gode van die ander lande kon sy land uit my mag red? Dan sal die Here mos nie Jerusalem uit my mag kan red nie!” 36 Die manskappe het stilgebly en nie geantwoord nie, want die koning het hulle beveel om nie te antwoord nie. 37 Die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf het hulle klere geskeur en is terug na Hiskia toe om hom te vertel wat die hoofadjudant gesê het
2 Kings 19:1–7 AFRIKAAN
1 Toe koning Hiskia dit hoor, het hy ook sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en is na die huis van die Here toe. 2 Daarna stuur hy die paleisbestuurder Eljakim, die staatsekretaris Sebna en die leiers van die priesters, almal in rouklere, na die profeet Jesaja seun van Amos toe. 3 Hulle het vir Jesaja gesê: “So sê Hiskia: Dit is ’n dag van rou. Ons is in die moeilikheid en ons is verneder. Ons is soos vrouens wat in die kraam is, maar nie die krag daarvoor het nie. 4 Miskien sal die Here u God let op die woorde van die hoofadjudant wat deur die Assiriese koning gestuur is om die lewende God te smaad, en miskien sal die Here u God hulle straf oor wat Hy moes aanhoor. Bid tog vir die klompie van ons wat nog oor is.” 5 Toe koning Hiskia se amptenare by Jesaja kom, 6 sê hy vir hulle: “Julle moet vir julle koning sê: So sê die Here: Moenie bang wees oor wat jy gehoor het, hoe die amptenare van die koning van Assirië My gelaster het nie. 7 Ek gaan hom onrustig maak, sodat hy na sy land toe sal teruggaan wanneer hy daarvandaan ’n berig kry. Ek sal hom in sy eie land laat doodmaak.”
2 Kings 19:8–19 AFRIKAAN
8 Toe die hoofadjudant hoor dat die koning van Assirië weg is van Lakis af, het hy teruggegaan. Hy het die koning aangetref waar hy met ’n aanval op Libna besig was. 9 Daar het die koning van Assirië berig gekry dat koning Tirhaka van Kus op pad is om hom aan te val. Die koning van Assirië stuur toe weer gesante na Hiskia toe met die boodskap: 10 “Sê vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met sy versekering dat Jerusalem nie in my mag oorgegee sal word nie. 11 Jy het mos gehoor hoe die konings van Assirië die een land na die ander verwoes het. Sal jý dan vrykom? 12 Kon die gode van die nasies wat deur my voorgangers uitgedelg is, hulle red: Gosan, Haran, Resef, die mense van Eden in Telassar? 13 Waar is die konings van Hamat en Arpad, die konings van die stede Sefarwajim, Hena en Awwa?” 14 Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe voor die Here oopgesprei. 15 Toe het hy tot die Here gebid: “Here, God van Israel, U wat oor die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde, U het die hemel en die aarde gemaak. 16 Hoor tog, Here, luister, kyk tog, Here, let tog op! “Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap beledig! 17 Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes 18 en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig. 19 Here, ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is.”
2 Kings 20:1–11 AFRIKAAN
1 In dié tyd het Hiskia ernstig siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en gesê: “So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie.” 2 Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here: 3 “Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.” Hiskia het bitterlik gehuil. 4 Jesaja was nog nie die binneplein van die stad oor nie toe die woord van die Here tot hom kom en sê: 5 “Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk: So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak, en jy sal oormôre weer na die huis van die Here toe kan gaan. 6 Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng en jou en dié stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal dié stad beskerm, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.” 7 Jesaja het toe opdrag gegee dat hulle ’n vyekoek moet bring en op die sweer moet sit, en die koning het beter geword. 8 Toe vra Hiskia vir Jesaja: “Wat is die teken dat die Here my sal gesond maak en dat ek oormôre weer na die huis van die Here toe sal gaan?” 9 Jesaja het geantwoord: “Die Here gee jou die volgende teken dat Hy sal doen wat Hy gesê het: moet die skaduwee tien trappe vorentoe gaan of tien terugkom?” 10 Hiskia sê toe: “Dit is maklik vir die skaduwee om tien trappe vorentoe te skuif. Nee, laat dit tien trappe terugkom.” 11 Die profeet Jesaja het die Here aangeroep, en Hy het die skaduwee wat reeds teen die trap van Agas afgesak het, tien trappe laat terugskuif
1 Chronicles 5:11–22 AFRIKAAN
11 Teenoor die Rubeniete het die Gadiete in Basan gewoon, tot by Salka. 12 Joël was die hoof en Safam die tweede in rang. Verder was daar in Basan ook nog Janai en Safat. 13 Hulle stamgenote volgens hulle families was Migael, Mesullam, Seba, Jorai, Jakan, Sia en Eber, sewe altesaam. 14 Dié was afstammelinge van Abigajil seun van Guri, seun van Jaroag, seun van Gilead, seun van Migael, seun van Jesisai, seun van Jagdo, seun van Bus. 15 Agi seun van Abdiël, seun van Guni, was hulle familiehoof. 16 Hulle het gewoon in Gilead, in Basan en sy voorposte en in al die veegebiede van Saron sover as wat dié gestrek het. 17 Hulle is almal in die register opgeneem in die tyd van koning Jotam van Juda en koning Jerobeam van Israel. 18 Van die Rubeniete, Gadiete en die halwe Manassestam was vier en veertig duisend sewe honderd en sestig weerbare manne, vegsmanne met skild en swaard gewapen, boogskutters en opgeleide vegters. 19 Toe hulle die Hagareërs, en vir Jetur, Nafis en Nodab aangeval het, 20 het hulle hulp ontvang en is die Hagareërs en al hulle bondgenote aan hulle onderwerp. Hulle het God in die stryd aangeroep en Hy het hulle verhoor omdat hulle hulle vertroue in Hom gestel het. 21 Aan vee het hulle vyftig duisend kamele gebuit, twee honderd en vyftig duisend stuks kleinvee en twee duisend donkies, en hulle het ook nog honderd duisend gevangenes weggevoer. 22 Daar het bowendien baie mense gesneuwel, want dit was ’n oorlog wat deur God gevoer is. Hulle het toe die verowerde gebied bewoon tot met die ballingskap
1 Chronicles 28:1–21 AFRIKAAN
1 Dawid het al die gesagsdraers van Israel laat bymekaarkom in Jerusalem: dié wat gesag gehad het oor die stamme, oor die afdelings in diens van die koning, oor duisend, oor honderd, oor al die koninklike besittings en vee, en verder sy seuns saam met die hoofbeamptes, die helde en al die manne van betekenis. 2 Toe het koning Dawid opgestaan en gesê: “My broers, my volk, luister na my! Ek was van gedagte om ’n gebou op te rig as staanplek vir die verbondsark van die Here en as rusplek vir die voete van ons God. Ek het reeds voorbereidings vir die bouwerk getref, 3 maar God het vir my gesê: ‘Jy sal nie vir my Naam ’n huis bou nie, want jy is ’n man van baie oorloë en jy het baie bloed vergiet.’ 4 “Die Here die God van Israel het my bo my hele familie verkies om my lewe lank koning oor Israel te wees. Hy het Juda gekies as leidende stam, uit die huis van Juda my familie, en Hy het onder my vader se seuns aan my die voorkeur gegee om oor die hele Israel te regeer. 5 Uit al my seuns, want die Here het my baie seuns gegee, het Hy my seun Salomo gekies om te sit op die troon van waar die Here self oor Israel regeer. 6 Hy het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo sal vir My die tempel met sy voorhowe bou, want Ek het hom vir My as seun gekies, en ek sal vir hom ’n vader wees. 7 As hy volhou om my gebooie en bepalings na te kom soos nou, sal Ek sy koningskap sy lewe lank bevestig.’ 8 “Daarom gebied ek, Dawid, julle nou in teenwoordigheid van die hele Israel, die gemeente van die Here, en ten aanhore van ons God: Onderhou en ondersoek al die gebooie van die Here julle God, dat julle die goeie land kan bly besit en dit as ’n blywende erfenis aan julle kinders na julle kan nalaat. 9 En jy, Salomo, my seun, jy moet die God van jou vader ken en Hom dien met jou hele hart en met ’n gewillige gemoed, want die Here ondersoek alle harte en ken die bedoeling van elke gedagte. As jy na Hom vra, sal Hy Hom deur jou laat vind, maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verwerp. 10 Besef nou dat die Here jou gekies het om ’n gebou as heiligdom op te rig. Pak nou die werk aan en doen dit!” 11 Dawid het sy seun Salomo voorsien van ’n model van die voorportaal met die geboue wat daarby behoort: die voorraadkamers, soldervertrekke, binnevertrekke en die vertrek waarin die versoendeksel sou kom. 12 Dit was ’n model van alles wat hy hom voorgestel het: van die voorhowe van die huis van die Here en van al die kamers rondom vir die tempelskatte en die wydingsgeskenke, 13 vir die afdelings priesters en Leviete, vir al die werk verbonde aan die diens in die huis van die Here en vir al die gereedskap wat nodig was vir dié diens. 14 Dawid het Salomo ook ingelig oor die presiese hoeveelheid goud wat nodig sou wees vir al die gereedskap vir elke soort diens, die presiese hoeveelheid vir al die silwergereedskap, oor al die gereedskap vir elke besondere werk, 15 oor die presiese hoeveelheid vir die goue kandelaars met hulle goue lampe, die hoeveelheid wat nodig sou wees vir elke kandelaar met sy lampe, oor die silwerkandelaars, die presiese hoeveelheid vir ’n kandelaar met sy lampe al na gelang die funksie van die kandelaar, 16 oor die hoeveelheid goud vir elkeen van die tafels met die offerbrood, die silwer vir die silwertafels, 17 oor die vurke, komme en kanne van suiwer goud, oor die hoeveelheid vir elke goue beker en elke silwerbeker, 18 oor die hoeveelheid gesuiwerde goud vir die wierookaltaar en oor die vorm van die rytuig, die gerubs van goud wat hulle vlerke moes uitsprei om die verbondsark van die Here te bedek. 19 Dit alles, die hele uitvoering van die werk, het Dawid deur ’n openbaring van God te wete gekom en hy het dit op skrif gestel. 20 Dawid het vir sy seun Salomo gesê: “Wees sterk, staan vas, begin die werk! Moenie bang wees nie en moenie besorg wees nie, want God die Here, my God, is by jou. Hy sal jou nie aan jouself oorlaat of jou verlaat nie, sodat jy al die werk vir die diens in sy huis kan afhandel. 21 Die afdelings priesters en Leviete is gereed vir die volledige tempeldiens, en daar is vakmanne tot jou beskikking wat bedrewe is in al die soorte werk vir elke diens, terwyl die amptenare en die hele volk op jou bevele wag.
2 Chronicles 13:1–14:1 AFRIKAAN
1 In die agtiende regeringsjaar van koning Jerobeam het Abia koning oor Juda geword, 2 en hy het drie jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Miga ’n dogter van Uriël, uit Gibea. Daar het ’n oorlog tussen Abia en Jerobeam uitgebreek. 3 Abia het die oorlog begin met ’n mag van vier honderd duisend uitgesoekte soldate, en Jerobeam het hom teengestaan met ag honderd duisend man, ook uitgesoekte soldate. 4 Abia was op Semarajimberg in die Efraimsberge en hy het daarvandaan geroep: “Luister, Jerobeam en al julle Israeliete! 5 Julle weet tog dat die Here die God van Israel die koningskap oor Israel vir altyd aan Dawid en sy nageslag gegee het. Dit is ’n onverbreekbare verbond. 6 Jerobeam seun van Nebat en amptenaar van Salomo seun van Dawid het teen sy koning in opstand gekom, 7 en ’n klomp roekelose boewe het om hom saamgekoek. Hulle was te sterk vir Rehabeam seun van Salomo, want hy was nog jonk en sag en kon hom nie teen hulle handhaaf nie. 8 Nou wil julle die koninklike mag van die Here weerstaan wat Hy aan die nageslag van Dawid toevertrou het. Júlle is baie en julle het die goue kalwerbeelde by julle wat Jerobeam vir julle vir gode gemaak het. 9 Julle het die priesters van die Here, die nageslag van Aäron, en ook die Leviete verdryf en vir julle priesters aangestel soos die volke in ander lande doen: elkeen wat ’n bul of sewe skape gebring het, het priester geword vir daardie afgode van julle. 10 “Óns dien die Here ons God; óns het Hom nie verlaat nie. Die priesters wat die diens van die Here verrig, is uit die geslag van Aäron, en die Leviete staan hulle by. 11 Hulle bring elke môre en elke aand vir die Here brandoffers en geurige wierookoffers, hulle sit gereeld die offerbrood op ’n rein tafel en steek elke aand die goue kandelaar se lampe op. Ons onderhou nog die diens van die Here ons God, maar júlle het Hom verlaat. 12 Ons het die Here self by ons as leier, en sy priesters staan reg om die trompette te blaas dat die stryd teen julle kan begin. Israeliete, moenie teen die Here, die God van julle voorvaders, veg nie. Julle kan nie wen nie!” 13 Jerobeam het van sy manskappe om die linies van Juda gestuur om ’n hinderlaag agter hulle op te stel. Daar was dus ’n hinderlaag agter die Judeërs, en Jerobeam en die ander troepe was voor hulle. 14 Toe die Judeërs omkyk en sien hulle word van voor en van agter bedreig, het hulle na die Here om hulp geroep en het die priesters die trompette geblaas. 15 Die manskappe van Juda het die oorlogskreet aangehef, en God het Jerobeam en die hele Israel ’n neerlaag laat ly teen Abia en Juda. 16 Die Israeliete het vir Juda gevlug, want God het Israel in die mag van Juda oorgegee. 17 Abia en sy manne het ’n groot slagting onder hulle aangerig. Vyf honderd duisend van Israel se uitgesoekte manne het gesneuwel. 18 So is die Israeliete destyds ’n vernederende neerlaag toegedien, en het Juda die oorhand gekry omdat hulle gesteun het op die Here, die God van hulle voorvaders. 19 Abia het sy oorwinning oor Jerobeam opgevolg met die besetting van verskeie van Jerobeam se stede: Bet-El, Jesana en Efron, elkeen met sy voorposte. 20 Gedurende die regeringstyd van Abia kon Jerobeam nie sy mag herwin nie. Die Here het hom onverwags laat sterf. 21 Abia se mag het toegeneem. Hy het veertien vrouens gehad en was die pa van twee en twintig seuns en sestien dogters. 22 Die res van die verhale oor Abia, wat hy gedoen en gesê het, is opgeteken in Die Kommentaar van die Profeet Iddo. 1 Abia is oorlede, en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg en in dié se tyd het die land tien jaar lank vrede gehad
2 Chronicles 14:2–15 AFRIKAAN
2 Asa het gedoen wat goed en reg is in die oë van die Here sy God. 3 Hy het die altare van vreemde gode en die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. 4 Hy het bevel gegee dat Juda aan die Here, die God van hulle voorvaders, gehoorsaam moet wees deur sy wil te doen en sy gebooie na te kom. 5 Hy het die hoogtes en die wierookaltare in al die stede van Juda laat verwoes. Onder hom het die land vrede gehad. 6 Omdat die land vrede gehad het, en Asa nie oorlog moes voer nie, het hy in dié jare vestingstede in Juda gebou. Die Here het hom rus gegee, 7 en daarom het hy vir Juda gesê: “Laat ons dié stede versterk met mure en torings, poorte en sluitbalke. Die land is nog ons s’n, want ons is gehoorsaam aan die Here ons God, en Hy het ons na alle kante toe rus gegee.” Hulle was dan ook voorspoedig met die bouwerk. 8 Asa se leër het bestaan uit drie honderd duisend weerbare man uit Juda wat met skild en spies bewapen was, en twee honderd en tagtig duisend uit Benjamin, gewapen met skild en pyl en boog, almal dapper manne. 9 Die Kussiet Serag het Juda binnegeval met ’n leër van ’n miljoen man en met drie honderd strydwaens. Hy het deurgedring tot by Maresa, 10 en daar het Asa hom tegemoet getrek. Die Kussiete was opgestel in die Sefatalaagte by Maresa. 11 Asa het die Here sy God aangeroep en gesê: “Here, net U kan die swakke teen ’n oormag help. Help ons, Here ons God! Ons steun op U, en in u Naam trek ons teen dié menigte op. U is ons God, Here; moenie dat ’n méns teen U seëvier nie.” 12 Die Here het die Kussiete die onderspit laat delf teen Asa en Juda. Toe die Kussiete op die vlug slaan, 13 het Asa en die manne by hom hulle agtervolg tot by Gerar, en daar het soveel Kussiete gesneuwel dat hulle leër nie kon herstel nie. Hulle is deur die Here en sy leër uitmekaargeslaan. Die Judeërs het ’n groot hoeveelheid buit gekry. 14 Hulle het toe al die stede in die omgewing van Gerar ingeneem en geplunder, want die stede was van skrik bevange vir die Here. Daar was ook baie buit. 15 Daarna het hulle die kampe van die veewagters aangeval en baie kleinvee en kamele gebuit en na Jerusalem toe saamgevat
2 Chronicles 16:1–6 AFRIKAAN
1 In die ses en dertigste regeringsjaar van Asa het koning Baesa van Israel met ’n veldtog teen Juda begin. Hy het die stad Rama in ’n vesting omskep om te verhoed dat mense heen en weer beweeg na en van koning Asa van Juda. 2 Asa het toe silwer en goud uit die skatkamers van die huis van die Here en die paleis gevat en dit vir koning Ben-Hadad van die Arameërs in Damaskus gestuur met die boodskap: 3 “Daar is ’n verdrag tussen u en my en daar was al een tussen ons vaders. Ek stuur vir u silwer en goud. Breek u verdrag met koning Baesa van Israel dat hy uit my land kan terugtrek.” 4 Ben-Hadad het voldoen aan die versoek van koning Asa. Hy het sy leëraanvoerders gestuur om die stede van Israel aan te val, en hulle het Ijon, Dan, Abel-Majim en al die voorraadstede in Naftali verower. 5 Toe Baesa dit hoor, het hy die bouwerk by Rama gestaak en die hele onderneming laat vaar. 6 Koning Asa het die hele Juda saam gevat en hulle die klip en hout wat Baesa vir die bouwerk by Rama gebruik het, laat wegdra. Hulle het dié gebruik vir bouwerk by Geba en Mispa
2 Chronicles 16:11–14 AFRIKAAN
11 Die verhale oor Asa, dié van vroeër sowel as dié van later, is opgeteken in die annale van die konings van Juda en Israel. 12 In sy nege en dertigste regeringsjaar het Asa ’n uiters ernstige siekte aan sy voete opgedoen, maar selfs in dié siekte het hy nie die Here geraadpleeg nie, wel die dokters. 13 Hy is oorlede in die een en veertigste jaar van sy regering. 14 Hulle het hom begrawe in die graf wat hy vir hom in die Dawidstad laat uitkap het, en hulle het sy liggaam neergelê op die plek wat hy met balsem en allerlei speserymengsels laat bedek het. Hulle het ook ter ere van hom ’n groot vuur aangesteek
2 Chronicles 18:1–27 AFRIKAAN
1 Toe Josafat ryk geword het en groot aansien geniet het, het hy ’n huwelik tussen ’n lid van sy familie en een uit die familie van Agab gereël. 2 Na ’n paar jaar het hy vir Agab in Samaria gaan besoek, Agab het ter ere van Josafat en sy gevolg ’n groot aantal skape en beeste geslag en hom ook probeer omhaal om ’n veldtog teen Ramot in Gilead te begin. 3 Koning Agab van Israel het vir koning Josafat van Juda gesê: “Sal jy met my saamgaan na Ramot in Gilead toe?” Josafat het geantwoord: “Ek en jy is een, en ons leërs is een. Ons is saam met jou in dié oorlog, 4 maar,” het Josafat verder vir die koning van Israel gesê, “vind nou eers uit wat sê die Here.” 5 Die koning van Israel het toe vier honderd profete bymekaargeroep en vir hulle gevra: “Moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ek dit laat staan?” Hulle antwoord was: “Gaan gerus. God gee die stad aan die koning oor.” 6 Toe sê Josafat: “Is hier nie nóg ’n profeet van die Here dat ons hom ook kan raadpleeg nie?” 7 “Hier is nog een man deur wie ons die Here kan raadpleeg,” het die koning van Israel vir Josafat gesê, “maar ek haat hom, want hy voorspel vir my nooit iets goeds nie, net altyd die slegste. Dit is Miga seun van Jimla.” Josafat sê toe: “Die koning moenie so praat nie!” 8 Die koning van Israel roep toe ’n paleisamptenaar en sê: “Gaan haal gou vir Miga seun van Jimla.” 9 Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het elkeen in sy koninklike gewaad op sy troon gesit by die dorsvloer voor die poort van Samaria. Voor hulle was al die profete besig met hulle voorspellings. 10 Sedekia seun van Kenaäna het vir hom ’n paar horings van yster gemaak en gesê: “So sê die Here: Met hierdie horings sal u die Arameërs stoot tot dit klaar is met hulle.” 11 So het al die profete voorspel. Hulle uitspraak was: “Trek op teen Ramot in Gilead. U sal wen. Die Here gee die stad aan die koning oor.” 12 Die boodskapper wat vir Miga gaan roep het, het vir hom gesê: “Kyk, die uitspraak van die profete was eenstemmig gunstig vir die koning. Laat joune nou tog dieselfde wees. Sê iets goeds!” 13 Maar Miga sê: “So seker as die Here leef, wat my God vir my sê, dit sal ek sê!” 14 Toe hy by die koning kom, sê dié vir hom: “Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ek dit laat staan?” “Gaan gerus,” antwoord Miga, “en mag dit goed gaan, mag die stad aan u oorgegee word.” 15 Maar die koning sê vir hom: “Hoeveel keer moet ek nog by jou daarop aandring dat jy vir my niks anders as die waarheid in die Naam van die Here moet sê nie!” 16 Toe sê Miga: “Ek het die hele Israel verstrooi op die berge gesien soos skape wat nie ’n wagter het nie. Die Here het gesê: Hulle het nie ’n koning nie, laat hulle maar in vrede teruggaan, elkeen na sy huis toe.” 17 Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Ek het jou mos gesê hy voorspel vir my nie iets wat goed is nie, net die slegste.” 18 En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan. 19 En die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab koning van Israel so ver kry dat hy na Ramot in Gilead gaan en daar sneuwel?’ Die een het toe dit gesê en die ander dat, 20 totdat die Gees vorentoe gekom en voor die Here gaan staan en gesê het: ‘Ek sal hom so ver kry.’ En toe die Here vir hom vra: ‘Hoe?’21 sê die Gees: ‘Ek sal uitgaan en ’n leuengees word in die mond van al sy profete.’ Toe sê die Here: ‘Jy sal hom so ver kry. Gaan doen dit, jy sal dit regkry.’22 So het die Here ’n leuengees in die mond van hierdie profete van u laat kom, maar Hy het in werklikheid vir u ’n ramp aangekondig.” 23 Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op die kakebeen en sê: “Met watter pad is die Gees van die Here van my af weg om met jou te praat?” 24 En Miga antwoord: “Dit sal jy sien die dag as jy in een donker kamer na die ander probeer wegkruip.” 25 Die koning van Israel het toe beveel: “Vat vir Miga en bring hom na Amon, die stadsbevelvoerder, en na prins Joas toe. 26 Sê vir hulle die koning sê hulle moet hierdie man in die tronk sit en hom ’n skraal rantsoen kos en water gee tot ek behoue terugkom.” 27 Maar Miga het gesê: “As u behoue terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie.” Verder het hy gesê: “Hoor dit, alle manskappe!”
2 Chronicles 20:1–30 AFRIKAAN
1 Later het die Moabiete en die Ammoniete, en saam met hulle ’n groep Meüniete , ’n veldtog teen Josafat begin. 2 Josafat het berig gekry: “’n Groot menigte van oorkant die Dooie See, van Edom af, het teen u opgetrek. Hulle is al by Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.” 3 Josafat was bang en het by die Here hulp gesoek. Hy het ’n vasdag in die hele Juda uitgeroep, 4 en die Judeërs het bymekaargekom om die hulp van die Here te vra. Uit al die stede van Juda het hulle gekom om die Here se hulp te vra. 5 Josafat het opgestaan in die gemeente van Juda en Jerusalem, in die tempel reg voor die nuwe voorhof, 6 en gebid: “Here, God van ons voorvaders, U is God. U heers uit die hemel oor al die koninkryke van die nasies. Uit u hand kom die mag en die krag. Niemand kan teen U stand hou nie. 7 Dit is U, ons God, wat die vroeëre inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdryf het en die land aan die nageslag van u vriend Abraham as ’n blywende besitting gegee het. 8 Hulle het hulle hier gevestig en hier vir u Naam ’n heiligdom gebou en gesê: 9 ‘As U ’n ramp oor ons bring, of ’n oorlog om ons te straf, of pes, of hongersnood, sal ons voor hierdie tempel kom staan, voor U, want u Naam is in hierdie tempel, en ons sal na U om hulp roep uit ons nood. Hoor dan en help ons!’ 10 “Nou het die mense van Ammom en Moab en die Seïrberge gekom. U het Israel met sy trek uit Egipte nie toegelaat om in hulle gebied te kom nie. Die Israeliete het daardie mense vermy en hulle nie uitgeroei nie. 11 Maar nou vergoed hulle ons deur te kom en ons uit u besitting te wil verdryf wat U aan ons gegee het. 12 Ons God, sal U hulle nie straf nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, te weerstaan nie. Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig.” 13 Die hele Juda en hulle afhanklikes, vrouens en kinders, het daar voor die Here gestaan. 14 Toe kom die Gees van die Here daar in die gemeente oor die Leviet Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, uit die nageslag van Asaf, 15 en sê: “Luister, mense van Juda, inwoners van Jerusalem en koning Josafat! So sê die Here vir julle: Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie ’n saak vir julle nie, maar vir God. 16 Trek hulle môre tegemoet wanneer hulle in die Bloeiselpas opkom. Julle sal hulle aantref by die punt van die vallei wat in die Jeruelwoestyn uitloop. 17 Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie, Juda en Jerusalem, moenie bang wees nie. Trek hulle môre tegemoet. Die Here sal by julle wees.” 18 Toe kniel Josafat, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here gebuig en Hom eer betoon. 19 Daarna het die Leviete van die Kehat- en die Koraggroepe opgestaan en die Here die God van Israel uit volle bors geprys. 20 Josafat-hulle is die volgende môre vroeg uit na die Tekoawoestyn toe. Terwyl die manne vertrek, het Josafat daar gestaan en hulle toegespreek: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Stel julle vertroue in die Here julle God, en julle sal vas staan. Stel julle vertroue in sy profete, en dit sal goed gaan met julle.” 21 Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.” 22 Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle het die een neerlaag na die ander gely. 23 Toe val die Ammoniete en die Moabiete die inwoners van die Seïrberge aan en spaar niemand nie en roei hulle uit. En toe hulle klaar was met die inwoners van Seïr, het hulle mekaar begin uitdelg. 24 Toe die Judeërs by die uitkykpos teenaan die woestyn kom en na die magtige vyand soek, lê daar net lyke op die grond. Daar was nie een oorlewende nie. 25 Josafat en sy manskappe het die buit bymekaar kom maak en ’n groot hoeveelheid gekry: persoonlike besittings aan die lyke en allerlei kosbare goed. Hulle het soveel gekry dat hulle dit nie kon dra nie. Drie dae lank was hulle besig om die buit bymekaar te maak, soveel was dit. 26 Op die vierde dag het hulle ’n samekoms gehou in die Lofdal. Hulle het die Here daar geloof, daarom noem hulle dié plek tot vandag toe die Lofdal. 27 Al die manne van Juda en Jerusalem, met Josafat aan die hoof, is toe met groot blydskap terug Jerusalem toe. Die Here het hulle bly gemaak oor hulle vyande. 28 Hulle is terug na Jerusalem, na die huis van die Here toe, met harpe, liere en trompette. 29 Al die koninkryke was van skrik bevange vir God toe hulle hoor dat die Here oorlog gevoer het teen die vyande van Israel. 30 Die heerskappy van Josafat het rustig voortgegaan, en sy God het hom na alle kante toe rus gegee
2 Chronicles 25:5–16 AFRIKAAN
5 Amasia het die manskappe van Juda bymekaar laat kom en hulle familiegewys ingedeel onder bevelhebbers oor duisend en oor honderd—die hele Juda, en ook Benjamin. Hy het dié van twintig jaar en ouer laat tel, en daar is gevind dat hulle drie honderd duisend was, geskik vir militêre diens en gewapen met spies en skild. 6 Vir sowat drie en ’n halwe ton silwer het hy uit Israel nog honderd duisend soldate gehuur. 7 Toe kom daar ’n man van God na hom toe en sê: “Moenie die leër van Israel met u laat saamgaan nie, want die Here is nie by Israel, by die Efraimiete, nie. 8 As u dit tog doen, doen dit dan, maar dan sal u krag nodig hê vir die stryd, want God sal u dan voor die vyand laat swig. God het die mag om te help of om te laat swig.” 9 Maar Amasia vra vir die man van God: “En wat dan van die drie en ’n halwe ton silwer wat ek vir die Israelitiese leërafdeling betaal het?” En die man van God antwoord: “Die Here kan u meer as dit gee.” 10 Amasia het toe die leërafdeling wat uit Efraim by hom aangesluit het, ontslaan en huis toe laat gaan. Hulle was bitter kwaad vir Juda en is woedend terug huis toe. 11 Daarna het Amasia die nodige moed bymekaargeskraap en sy manne na die Soutvlakte toe gelei waar hy tien duisend Edomiete verslaan het. 12 Bowendien het die manne van Juda nog tien duisend lewendig gevange geneem, hulle bo op ’n krans gebring en hulle daar afgegooi. Almal het hulle te pletter geval. 13 Intussen het die lede van die leërafdeling wat deur Amasia teruggestuur is sodat hulle nie saam met hom op die veldtog kon gaan nie, ’n strooptog teen die stede van Juda gemaak, van Samaria af tot by Bet-Goron. Hulle het drie duisend mense doodgemaak en baie buit weggedra. 14 Toe Amasia van sy oorwinning oor die Edomiete af terugkom, het hy hulle afgodsbeelde saamgebring en die beelde vir homself opgestel as gode. Hy het hulle vereer en vir hulle offerandes gebring. 15 Hieroor het die toorn van die Here teen Amasia ontvlam. Die Here het ’n profeet na hom toe gestuur en vir hom gesê: “Waarom dien jy gode wat nie hulle eie volk uit jou hande kon red nie?” 16 Maar Amasia het die profeet in die rede geval: “Is jy aangestel as raadgewer van die koning? Bly stil. Soek jy jou dood?” Die profeet het dit toe daargelaat en gesê: “Ek weet nou dat God besluit het om u te vernietig. U maak daarna en u wil nie na my raad luister nie.
2 Chronicles 28:16–21 AFRIKAAN
16 In dié tyd het koning Agas laat hulp vra by die konings van Assirië. 17 Die Edomiete het weer gekom en Juda verslaan en gevangenes weggevoer. 18 Die Filistyne het deur die Laeveld en die Suidland van Juda ’n strooptog gemaak en selfs stede beset en daar gaan woon: Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Soko met sy buitedorpe, Timna met sy buitedorpe, Gimso met sy buitedorpe. 19 Dit was oor koning Agas van Juda dat die Here Juda dié vernedering aangedoen het, want Agas het die verdorwenheid in Juda vrye teuels gegee en hy was ontrou teenoor die Here. 20 Koning Tiglat-Pileser van Assirië het opgetrek, maar téén Agas. Hy het Agas nie kom help nie, maar sake vir hom nog moeiliker gemaak. 21 Agas het van die huis van die Here, die paleis en die amptenare goud gevat en dit vir die koning van Assirië gegee, maar dit het hom niks gehelp nie.
2 Chronicles 31:1–21 AFRIKAAN
1 Toe alles verby was, is al die Israeliete uit na die stede van Juda toe, almal wat by die fees was. Hulle het in die hele Juda en Benjamin en ook in Efraim en Manasse die klippilare afgebreek, die gewyde pale afgekap en die hoogtes en altare verwoes. Eers nadat alles vernietig is, is die Israeliete terug na hulle stede toe, elkeen na sy eie stukkie grond toe. 2 Hiskia het ook die pligte van die afdelings priesters en Leviete bepaal. Die priesters sowel as die Leviete moes afdelingsgewys, elkeen volgens die aard van sy dienswerk, sorg dra vir die brandoffers, die maaltydoffers, die algemene diens, die belydenis en die lofprysing in die poorte van die woning van die Here. 3 Soos dit in die voorskrifte van die Here vasgelê is, het die koning uit sy persoonlike besit sy deel gedoen vir die brandoffer, die môre- en aandoffers, die offers op die sabbat, die nuwemaansfees en die vasgestelde feestye. 4 Die volk, die inwoners van Jerusalem, moes op bevel van die koning sorg vir die onderhoud van die priesters en die Leviete, sodat dié hulle aandag kon gee aan die uitleg van die wet van die Here. 5 Namate die bevel bekend geword het, het die Israeliete die eerste opbrengste aan koring, wyn, olie, heuning en alles wat die land opgelewer het, ingebring, en ook die tiendes van alles, in groot hoeveelhede. 6 Ook die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het, en die mense van Juda self, het hulle tiendes uit die groot- en kleinvee ingebring en hulle het die gawes wat aan die Here hulle God gewy was, kom neersit, hope en hope. 7 Hulle het in die derde maand daarmee begin, en die goed het bly ophoop tot die sewende maand toe. 8 Toe Hiskia en die amptenare kom en die hope sien, het hulle die Here en sy volk Israel geprys. 9 Hiskia het by die pristers en die Leviete navraag gedoen oor die hope goed, 10 en Asarja die hoëpriester uit die huis van Sadok het vir hom gesê: “Vandat die offergawes by die huis van die Here begin inkom het, is hier meer as genoeg om te eet en daar bly baie oor. Die Here het sy volk geseën, daarom is daar so ’n massa goed oor.” 11 Hiskia het toe opdrag gegee dat daar kamers aan die tempel aangebou word, en dit is gedoen. 12 Die offergawes, die tiendes en die gewyde gawes het getrou ingekom. Die Leviet Kenanja moes daaroor toesig hou, en sy ampsgenoot Simi was tweede in bevel. 13 Die amptenare tot beskikking van Kenanja en sy ampsgenoot Simi was Jegiël, Asasja, Nagat, Aseal, Jerimot, Josabad, Eliël, Jis-makja, Magat en Benaja. So het koning Hiskia en die hoof van die tempel, Asarja, dit gereël. 14 Die toesig oor die vrywillige gawes aan God en oor die uitdeling van die offergawes van die Here en van die besondere gewyde gawes was in die hande van die Leviet Kore seun van Jimna, die wag by die Oospoort. 15 Hy is bygestaan deur Eden, Minjamin, Jesua, Semaja, Amarja en Sekanja, en hulle moes in die priesterkwartiere op ’n billike wyse die toewysings aan hulle ampsgenote in die afdelings doen, aan groot en klein, 16 Daarnaas het hulle ook toewysings gedoen aan die seuntjies van drie jaar en ouer wat in die register opgeneem is, almal wat een of ander tyd in die tempel sou kom vir die tempeldiens en die wagbeurte binne hulle afdelings, soos dit van dag tot dag nodig sou wees. 17 Die priesters is familiegewys in die register opgeneem, en van die Leviete dié van twintig jaar en ouer volgens diensbeurt en afdeling. 18 Al hulle afhanklikes is ook in die register opgeneem: die vrouens, die seuns en die dogters van die hele tempelgemeenskap. Die priesters en die Leviete het hulle getrou gereining met die oog op die diens in die heiligdom. 19 Ook die Aäronitiese priesters in die weigebiede van die stede is versorg. In elke stad is mense by die naam aangewys om al die manlike lede van die priesterfamilies en al die Leviete wat in die register opgeneem was, hulle deel te laat kry. 20 So het Hiskia dwarsdeur Juda gedoen. Hy het gedoen wat goed en reg en eerbaar is in die oë van die Here sy God. 21 In alles wat hy onderneem het ter bevordering van die tempeldiens en die gehoorsaamheid aan wet en gebod, het hy met sy hele hart gevra na die wil van sy God, en daarom was hy voorspoedig
2 Chronicles 32:1–19 AFRIKAAN
1 Na dié gebeure, waarin Hiskia sy trou betoon het, het koning Sanherib van Assirië op die toneel gekom. Hy het Juda ingeval en die vestingstede beleër met die bedoeling om deur hulle verdediging te breek. 2 Toe Hiskia hoor van die koms van Sanherib en dat hy op oorlog teen Jerusalem uit is, 3 het hy in oorleg met sy amptenare en offisiere besluit om die water van die fonteine wat buite die stad was, af te sny. Hulle het met hom saamgestem, 4 en ’n groot klomp mense het bymekaargekom en al die fonteine en ook die watervoor wat deur die omgewing geloop het, toegegooi. Hulle het gesê: “Hoekom moet die konings van Assirië baie water kry as hulle hier kom?” 5 Hiskia het al die mure wat afgebreek was, herbou, die forte hoër gebou, nog ’n muur buite-om opgetrek en die terras by die Dawidstad laat versterk. Hy het ook ’n groot klomp spiese en skilde laat maak. 6 Nadat hy bevelhebbers oor die volksleër aangewys het, het hy hulle by hom laat bymekaarkom op die plein by die stadspoort en hulle moed ingepraat: 7 “Wees sterk, wees dapper, moenie bang wees nie, moenie skrik vir die koning van Assirië en die menigte by hom nie. By ons is meer as by hom. 8 By hom is menslike mag, by ons is die Here ons God wat ons sal help en ons oorlog sal veg.” Die manskappe was bemoedig deur dié woorde van koning Hiskia van Juda. 9 ’n Tyd daarna het koning Sanherib van Assirië, wat toe met sy hele krygsmag by Lakis was, van sy ondergeskiktes na Jerusalem toe gestuur met ’n boodskap vir koning Hiskia van Juda, en vir al die mense van Juda in Jerusalem. Die boodskap het gelui: 10 “So sê koning Sanherib van Assirië: Op wie steun julle dat julle in Jerusalem in die vesting bly? 11 Hiskia sê: ‘Ons God sal ons red van die koning van Assirië,’ maar mislei hy julle nie, sodat julle van honger en dors sal sterwe? 12 Dit is mos dié Hiskia wat die hoogtes en die altare van julle God verwyder het en vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet by net een altaar aanbid en offers bring.’13 Julle weet mos wat ek en my voorvaders aan al die volke in ander lande gedoen het. Kon die gode van die nasies in daardie lande hulle lande red uit my mag? 14 Wie van al die gode van daardie nasies wat al deur my voorvaders uitgeroei is, kon sy volk red uit my mag? Kan júlle God julle dan red uit my mag? 15 Moet dan nou nie dat Hiskia julle so bedrieg en julle mislei nie. Moet hom nie glo nie. Geen god van enige nasie of koninkryk kon sy volk red uit my mag of uit dié van my voorvaders nie. Júlle God sal julle ook nie red uit my mag nie.” 16 Die boodskappers het nóg dinge gesê teen God die Here en teen sy dienaar Hiskia. 17 Sanherib het ook briewe geskryf waarin hy die Here die God van Israel gehoon het en dinge teen Hom gesê het. Hy het geskryf: “Soos die gode van die nasies van ander lande hulle volke nie kon red uit my mag nie, so sal die God van Hiskia sy volk nie red uit my mag nie.” 18 Om die mense van Jerusalem wat op die mure was, bang te maak en hulle die skrik op die lyf te ja sodat die Assiriërs die stad kon inneem, het die boodskappers hard in die Judese taal geroep 19 en oor die God van Jerusalem gepraat soos oor die gode van die volke van ander lande, gode wat die werk van mensehande is.
Ezra 8:21–23 AFRIKAAN
21 Ek het daar by die Ahawarivier ’n vasdag uitgeroep om ons voor ons God te verootmoedig en Hom te bid om ’n voorspoedige reis vir onsself, ons afhanklikes en al wat ons besit het. 22 Ek was skaam om vir die koning soldate en ruiters te vra om ons teen vyande langs die pad te help. Ons het vir die koning gesê ons God sorg goed vir almal wat Hom dien en Hy straf almal swaar wat Hom verlaat. 23 Ons het dus gevas en die hulp van ons God gevra vir die onderneming, en Hy het ons gebede verhoor.
Nehemiah 1:1–11 AFRIKAAN
1 Die verhaal van Nehemia seun van Gakalja. Dit was in die maand Kislef, die twintigste jaar. Ek was in die vestingstad Susan. 2 Ganani, een van my medeamptenare, het daar aangekom uit Juda, hy en ’n paar ander manne. Ek het by hulle navraag gedoen oor die Judeërs wat uit die ballingskap vrygelaat is en teruggegaan het, en oor Jerusalem, 3 en hulle het vir my gesê: “Die ballinge wat teruggegaan het, beleef daar in die provinsie Juda groot ellende en smaad. Die muur van Jerusalem lê om, en die stadspoorte is verbrand.” 4 By die aanhoor van dié woorde het ek gaan sit en gehuil en dae lank getreur. Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid. 5 Ek het gesê: “Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en u troue liefde handhaaf teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam, 6 luister tog, gee tog ag op die gebed wat ek, u dienaar, sonder ophou tot U bid. “Ek bid vir u dienaars, die Israeliete, ek doen belydenis van die sondes wat ons teen U begaan het. Ook ek en my familie het gesondig. 7 Ons het U nie geëer nie, ons was ongehoorsaam aan die gebooie, die voorskrifte, die bepalings wat U aan u dienaar Moses gegee het. 8 “Dink tog aan die belofte wat U aan u dienaar Moses gemaak het: ‘As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi, 9 maar as julle julle tot My bekeer en my gebooie gehoorsaam en nakom, sal Ek julle weer bymekaarmaak, al is julle oor die hele aarde versprei. Ek sal julle terugbring na die plek toe wat Ek gekies het om my Naam daar te laat woon.’ 10 “Hulle is u dienaars, u volk vir wie U met u groot mag en krag gered het. 11 Ag, Here, luister tog na die gebed van u dienaar en na die gebed van u dienaars, hulle vir wie dit ’n vreugde is om u Naam te eer. Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen. Laat hierdie man my simpatiek gesind wees.” Ek was die koning se skinker
Nehemiah 2:11–20 AFRIKAAN
11 Ek het in Jerusalem aangekom, en na ek drie dae daar was, 12 is ek die nag stilletjies uit met ’n paar man by my. Ek het vir niemand gesê wat my God my in die hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie. Behalwe my rydier het ek geen diere by my gehad nie. 13 Ek is dié nag deur die Dalpoort na die Jakkalsfontein en die Vullispoort toe en het die mure van Jerusalem nagegaan waar hulle afgebreek was en ook die poorte wat verbrand was. 14 Toe ek by die Fonteinpoort en die Koningsdam kom, was daar nie plek vir my rydier om verby te kom nie, 15 en moes ek in die nag met die vallei op boontoe sodat ek die muur kon nagaan. Daarna het ek omgedraai en is ek weer deur die Dalpoort en terug huis toe. 16 Die ampsdraers het nie geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie. Tot dusver het ek niks laat blyk teenoor die Judeërs, die priesters, die vooraanstaande burgers, die ampsdraers of die ander wat die werk moes doen nie. 17 Maar toe sê ek vir hulle: “Julle sien self die benarde toestand waarin ons sit. Jerusalem lê in puin en sy poorte is verbrand. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, dat dié vernedering nie langer op ons rus nie.” 18 Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak. 19 Maar toe Sanballat die Goroniet, Tobija die Ammonitiese amptenaar en Gesem die Arabier hoor wat ons doen, het hulle ons uitgelag en smalend gevra: “Wat vir ’n ding is dit waarmee julle besig is? Wil julle in opstand kom teen die koning?” 20 Ek het hulle geantwoord en vir hulle gesê: “Die God van die hemel sal ons laat slaag in wat ons doen. Ons, sy dienaars, gaan bou. Julle het nòg aandeel nòg reg in Jerusalem, en geen historiese band met hom nie.
Nehemiah 4:1–23 AFRIKAAN
1 Toe Sanballat hoor ons bou die muur, was hy woedend. Hy het met groot ergernis smalend teen die Judeërs uitgevaar 2 en vir sy medeamptenare en vir die soldate in Samaria gesê: “Waarmee is die arme Judeërs besig? Wil hulle vir hulle ’n stadsmuur bou? Wil hulle offerandes bring en in een dag klaarmaak? Wil hulle die klippe laat herleef uit daardie hope stof en as?” 3 Tobija die Ammoniet het langs Sanballat gestaan en hy het gesê: “Laat hulle bou! Daardie klipmuur van hulle sal omval as ’n jakkals daarteen spring!” 4 Hoor dit, ons God! Ons word bespotlik gemaak! Laat dié smaad op hulle eie kop afkom, laat hulle gevangenes word in ’n land van ballingskap! 5 Moenie hulle oortreding vergewe nie, moenie dat hulle sonde ooit voor U uitgewis word nie! Hulle het die bouers beledig! 6 Ons het bly bou aan die muur. Die hele muur was al halfpad opgebou. Die mense se hart was in die werk. 7 Sanballat, Tobija, die Arabiere, die Ammoniete en die mense van Asdod was hewig ontsteld toe hulle hoor die herstel aan Jerusalem se mure vorder en die afgebreekte gedeeltes is byna klaar opgebou. 8 Hulle het saamgesweer om Jerusalem te kom aanval en verwarring te stig. 9 Ons het tot ons God gebid en dag en nag wagte teen hulle uitgesit. 10 Die Judeërs het begin kla: “Die draers se kragte gee in, die puin is te veel. Ons gaan dit nie regkry om die muur klaar te bou nie.” 11 Ons teenstanders het gedink: hulle sal niks weet of sien voor ons tussen hulle is en hulle doodmaak en die werk tot stilstand bring nie. 12 Ons is egter keer op keer gewaarsku deur Judeërs wat naby ons vyande gewoon het en van oral af na ons toe gekom het. 13 Ek het die volk, gewapen met swaarde, spiese en pyle en boë, familiegewys ingedeel en hulle stelling laat inneem agter die muur onderkant elke plek waar die muur nog nie hoog genoeg was nie. 14 Daarna, toe ek agterkom dit is nodig, het ek die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk toegespreek: “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise.” 15 Ons vyande het gehoor dat ons van hulle planne weet en dat God dit verydel het, en ons kon almal teruggaan muur toe, elkeen na sy werk toe. 16 Van daardie dag af was een helfte van my manne aan die werk en het die ander helfte die spiese, skilde, pyle en boë en harnasse gereed gehou. Die gesagvoerders het plek ingeneem agter elke familiegroep Judeërs 17 wat aan die muur gebou het. Dié wat boumateriaal moes aandra, het met een hand die werk gedoen en met die ander hand ’n wapen vasgehou. 18 Die bouers het elkeen sy swaard om die heupe vasgegord gehad. Die ramshoring-blaser het naby my gebly. 19 Ek het vir die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk gesê: “Die werk is groot en uitgestrek, en ons is oor die hele muur uitgesprei, elkeen ver van die naaste man af. 20 Waar julle ook al die ramshoring hoor blaas, daar moet julle by ons saamtrek. Ons God sal vir ons die stryd voer.” 21 Ons het met die werk aangegaan, die helfte van die manne met spiese in die hand, van dagbreek af tot die sterre uitgekom het. 22 Ek het dié tyd ook vir die volk gesê: “Elke man met sy handlanger moet in Jerusalem oornag, sodat hulle snags vir wagdiens en bedags vir die werk beskikbaar is.” 23 Nie ek of my medeamptenare of my dienaars of die wagte by my het kans gekry om ons klere uit te trek nie en selfs by die water het ons ons wapens gereed gehou
Esther 4:1–17 AFRIKAAN
1 Toe Mordegai hoor wat gebeur het, het hy sy klere geskeur en rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Hy het deur die stad geloop en hard en bitterlik gekerm. 2 So het hy tot by die poort van die paleis gegaan. Niemand kon met rouklere aan by die poort ingaan nie. 3 In al die provinsies waar die besluit en die proklamasie van die koning bekend geword het, was daar groot smart onder die Jode. Hulle het gevas en gehuil en gekerm, en baie het rouklere aangetrek en in die as gaan lê. 4 Toe koningin Ester se kamerpersoneel en haar paleisbeamptes haar van Mordegai kom vertel, was sy baie ontsteld. Sy het vir hom klere gestuur om aan te trek in die plek van sy rouklere, maar hy wou dit nie vat nie. 5 Ester roep toe vir Hatak, een van die koning se paleisbeamptes wat in haar diens was, en beveel hom om na Mordegai toe te gaan en uit te vind wat aangaan en waarom hy so maak. 6 Hatak het na Mordegai toe gegaan op die stadsplein voor die poort van die paleis. 7 Mordegai het hom alles vertel wat gebeur het, selfs van die presiese hoeveelheid silwer wat Haman onderneem het om aan die skatkis van die koning te lewer as hy die Jode mag doodmaak. 8 Hy het ook vir Hatak ’n afskrif gegee van die proklamasie wat in Susan uitgevaardig is en waarvolgens die Jode doodgemaak moes word. Hatak moes dit aan Ester wys, haar alles vertel en haar versoek om na die koning toe te gaan. Sy moes hom om genade smeek en vir haar volk intree. 9 Hatak is toe terug na Ester toe en het Mordegai se woorde aan haar oorgedra. 10 Sy het toe vir Hatak beveel om vir Mordegai te sê: 11 “Al die amptenare van die koning en die mense in die provinsies van die koning weet dat daar net een wet is vir enigeen, man of vrou, wat na die koning toe in die binneste voorhof gaan as hy nie ontbied is nie: hy word sonder meer doodgemaak. Die enigste uitsondering is dat die koning sy goue septer na so ’n persoon toe uitsteek; dan bly hy lewe. En dit is nou al dertig dae dat ek nie na die koning toe ontbied is nie.” 12 Die boodskap van Ester is aan Mordegai oorgedra, 13 en hy het haar geantwoord: “Moenie dink net jy van al die Jode sal vrykom omdat jy in die koning se paleis is nie. 14 As jy nóú swyg en daar kom van ’n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” 15 Ester het toe vir Mordegai laat weet: 16 “Gaan maak al die Jode wat in Susan is, bymekaar en vas ter wille van my. Julle moet drie dae, dag en nag, niks eet en drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal ook vas. Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.” 17 Mordegai is toe weg en het alles gedoen wat Ester hom beveel het
Job 2:1–10 AFRIKAAN
1 Toe die hemelwesens weer op ’n dag voor die Here kom staan, het die Satan ook tussen hulle voor die Here kom staan. 2 Toe vra die Here vir hom: “Waar kom jy vandaan?” En die Satan antwoord die Here: “Ek het die wêreld deurkruis.” 3 Die Here vra toe vir Satan: “En my dienaar Job, het jy hom nou gesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad. Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.” 4 Die Satan sê toe vir die Here: “Dit bewys nog niks. ’n Man sal mos alles gee wat hy het, as hy net kan bly lewe. 5 Maar raak nou net aan sy liggaam en kyk of hy U dan nie in u gesig vervloek nie.” 6 Toe sê die Here vir die Satan: “Goed, hy is in jou mag. Net sy lewe mag jy nie neem nie.” 7 Die Satan het van die Here af weggegaan en vir Job met pynlike swere getref, van sy kop tot sy tone. 8 Job het op ’n ashoop gaan sit en hy het ’n potskerf gevat en hom daarmee gekrap. 9 En sy vrou het vir hom gesê: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!” 10 Toe sê hy vir haar: “Jy praat nou soos ’n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” Onder alles het Job met geen woord gesondig nie
Job 13:1–19 AFRIKAAN
1 Ek het dit alles met my eie oë gesien en met my eie ore gehoor en ek het dit verstaan. 2 Wat julle weet, weet ek ook, ek staan nie vir julle terug nie. 3 Maar ek wil eintlik met die Almagtige praat, ek wil my saak aan God stel. 4 Julle stapel die een leuen op die ander, julle is kwaksalwers, julle almal. 5 As julle maar liewer net wou stilbly, sou dit vir julle tot wysheid gereken kon word. 6 “Luister na my kant van die saak, neem my argumente in ag: 7 Wil julle vir God intree met onreg en sy saak bepleit met leuens? 8 Wil julle vir Hom partydig wees? Wil julle God se saak verdedig? 9 As Hy julle sou ondersoek, sou dit vir julle goed verloop? Sou julle Hom kon bedrieg soos julle mense bedrieg? 10 Hy sal julle swaar straf as julle in die geheim partydig is. 11 Sy verhewe mag sal julle met skrik vervul, skrik vir Hom sal julle oorval. 12 Julle beroep op die voorgeslag is wind, julle verweer sê niks.” 13 “Bly liewer stil, ek wil praat, en laat dan kom wat wil. 14 Waarom waag ek my lewe en neem ek dit in my hand? 15 Al sou God my doodmaak, ek kan nie wag nie, ek moet my saak vir Hom stel. 16 Dit kan selfs my redding wees, want geen godlose durf voor Hom kom nie. 17 Luister goed na my woorde, neem ter harte wat ek te sê het: 18 Kyk, ek het my regsaak voorberei, ek weet dat ek reg het. 19 As iemand ’n saak teen my het, sou ek swyg en sterf.
Job 16:1–22 AFRIKAAN
1 Toe het Job weer gepraat: 2 “Hierdie soort argument het ek al baie gehoor. Julle is almal maar hopelose troosters. 3 Kom daar dan geen einde aan julle sinlose gepraat nie? Wat pla julle dat julle die laaste woord wil hê? 4 Ek sou ook soos julle kon praat as julle sou ly wat ek te ly het. Dan kon ek medelye met julle betoon en my kop meewarig oor julle skud. 5 Ek sou julle kon bemoedig met my woorde, maar niksseggende woorde sou ek terughou. 6 Maar my pyn sal nie ophou as ek praat nie, dit sal ook nie verdwyn as ek ophou praat nie. 7 Nou het God my afgetakel, Hy het my hele gesin uitgewis. 8 Hy het my beetgepak, en dít dien as getuienis teen my; my vervalle toestand staan op en getuig teen my. 9 God het my in sy toorn verskeur en vervolg, in sy woede het Hy my lewe bedreig, Hy, my Teëstander, deurboor my met sy oë. 10 Mense rek hulle monde oor my, hulle beledig my, hulle sak op my toe. 11 God het my oorgelewer aan slegte mense, Hy het my in die hande van goddeloses laat val. 12 Ek het rustig gelewe, toe versteur God my rus, Hy het my aan die nek beetgepak en my vergruis. Hy het van my ’n teiken gemaak: 13 sy pyle tref my hele liggaam, meedoënloos deurboor Hy my niere en my gal loop uit op die grond. 14 Wond op wond dien Hy my toe, soos ’n soldaat storm Hy op my af. 15 Ek het vir my ’n roukleed gemaak, my eer het in die stof verdwyn. 16 Ek het my oë rooi gehuil, daar is swart kringe onder my oë. 17 Tog is ek nie skuldig aan geweld nie en is my gebed opreg. 18 Moenie die onreg Teen my verberg nie, aarde, moenie dat my noodkrete tot rus kom nie. 19 Selfs nou nog het ek ’n getuie in die hemel, Hy wat vir my getuig, is daar bo. 20 My vriende het my bespotters geword, daarom pleit ek met trane by God 21 dat Hy uitspraak lewer in die saak tussen ’n mens en Hom soos in ’n saak tussen ’n man en sy vriend, 22 want my jare is min en gaan verby, en ek gaan na die plek toe waarvandaan niemand terugkom nie.
Job 19:21–29 AFRIKAAN
21 Kry my tog jammer, my vriende, kry my tog jammer! Die hand van God het my swaar getref. 22 Waarom vervolg ook julle my soos God dit doen? Kry julle nie genoeg nie? 23 Mag my woorde tog opgeskryf word, mag dit ingegraveer word op ’n monument 24 met ’n ysterpen en lood, vir altyd in ’n rots uitgekap. 25 Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer! 26 Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien. 27 Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie. Ek smag daarna met my hele lewe. 28 As julle dan sê julle wil my vervolg, die wortel van die kwaad by my opspoor, 29 moet júlle die swaard vrees, want in sy toorn straf God die sonde met die swaard. Dan sal julle weet dat daar ’n regter is.
Job 23:1–17 AFRIKAAN
1 Toe het Job weer gepraat: 2 “Ek kla nog steeds uit opstandigheid, ek kan nie ophou kla nie. 3 As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na sy woonplek toe gaan 4 en my saak voor Hom lê, my pleidooie aan Hom stel. 5 Ek sou van Hom antwoord probeer kry, probeer verstaan wat Hy vir my wil sê. 6 Hy sal tog nie met sy groot krag teen my ’n saak voer nie; Hy sal my dit nie aandoen nie, 7 want dit sou ’n opregte mens wees wat daar voor Hom pleit en ek sou vir altyd deur my Regter vrygespreek word. 8 Maar gaan ek na die ooste toe, Hy is nie daar nie, na die weste, ek kry Hom nie. 9 Sou Hy in die noorde aan die werk wees, ek vind Hom nie daar nie, sou Hy na die suide toe draai, ek sien Hom nie. 10 Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud. 11 Ek volg Hom waar Hy gaan, ek hou op sy pad en draai nie af nie. 12 Sy bevel verontagsaam ek nie, ek heg meer waarde aan sy woorde as aan my eie begeertes. 13 Hy bly dieselfde, wie kan Hom teenstaan? Wat Hy wil, doen Hy. 14 Wat Hy oor my besluit het, sal Hy doen, wat sy planne met my ook al is. 15 Daarom staan ek vreesbevange voor Hom, ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees. 16 God het my weerstand afgebreek, die Almagtige het my met angs vervul. 17 Maar in hierdie donkerte het ek nie stilgebly nie, in hierdie duisternis wat my oorval het.
Job 42:1–17 AFRIKAAN
1 Daarna het Job vir die Here gesê: 2 “Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. 3 Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie. 4 U het mos gesê: Luister terwyl Ek praat, Ek sal vra, antwoord jy My. 5 Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, 6 en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as.” 7 Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. 8 Vat sewe bulle en sewe ramme en gaan na my dienaar Job toe en offer dit as ’n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. 9 Elifas die Temaniet, Bildad die Suagiet en Sofar die Naämatiet het gedoen wat die Here gesê het, en die Here het Job se gebed verhoor. 10 Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het. 11 Al sy broers en susters en sy vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet. Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Elkeen het vir hom ’n stuk silwer en ’n goue ring gegee. 12 Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en ’n duisend donkies gekry, 13 en ook sewe seuns en drie dogters. 14 Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. 15 Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. 16 Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. 17 Job het toe gesterf. Hy was oud en het ’n vol lewe gehad
Psalm 2:1–12 AFRIKAAN
1 Waarom is daar onrus onder die volke, waarom smee die nasies planne— en dit tevergeefs? 2 Die konings van die aarde is in opstand, die leiers span saam teen die Here en teen sy gesalfde en sê: 3 “Kom ons maak ons vry en gooi hulle juk af!” 4 Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle. 5 Hy spreek hulle aan in sy toorn, in sy gramskap jaag Hy hulle op loop: 6 “Dit is Ek wat hom as my koning gesalf het op Sion, my heilige berg.” 7 Ek wil vertel wat die Here aangekondig het. Hy het vir my gesê: “Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader. 8 Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting. 9 Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter, hulle flenters slaan soos ’n kleipot.” 10 Wees dan nou verstandig, konings, wees gewaarsku, regeerders van die aarde! 11 Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig 12 en Hom onderdanig wees, sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie, want sy toorn ontvlam gou. Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek
Psalm 3:1–8 AFRIKAAN
2 Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my. 3 Daar is talle wat van my sê: “Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela 4 Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien. 5 As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela 6 As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. 7 Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie. 8 Kom tog, Here, help my, my God! U het nog altyd my vyande se mag verbreek, U het die aanval van die goddeloses afgeslaan. 9 Hulp kom net van die Here af. U laat dit goed gaan met u volk.Sel
Psalm 4:1–8 AFRIKAAN
2 O God wat aan my reg verskaf, antwoord my as ek roep. Toe ek in die nood was, het U my bevry. Wees my ook nou genadig en hoor my gebed! 3 Hoe lank gaan julle my eer nog skend, mense, gaan julle valsheid liefhê en voorkeur gee aan leuens? Sela 4 Besef tog dat die Here wonders gedoen het vir dié wat aan Hom getrou is. Die Here hoor as ek na Hom roep. 5 As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby! Sela 6 Julle moet die offers bring wat aan julle voorgeskryf is, en julle moet op die Here vertrou. 7 Daar is baie wat sê: “Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?” Wees ons tog weer goedgesind, Here, help ons! 8 U het my reeds groter vreugde laat belewe as wat daar is by mense wat koring en wyn in oorvloed het. 9 Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon
Psalm 5:1–12 AFRIKAAN
2 Luister tog na my woorde, Here, hoor hoe ek sug. 3 Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. 4 U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag. 5 U is nie ’n God wat onreg verdra nie, die kwaad het by U geen plek nie. 6 Hooghartiges durf nie voor U kom nie. U haat almal wat onreg doen, 7 U roei alle leuenaars uit. Die Here verafsku moordenaars en bedrieërs. 8 Maar ek, ek mag deur u groot liefde in u huis ingaan en in u heilige tempel buig met die eerbied wat aan U verskuldig is. 9 Omdat ek vyande het, Here, leer my tog wat reg is en help my om u wil te doen. 10 Niks wat hulle sê, is waar nie; al waaraan hulle dink, is my ondergang; hulle vlei my, maar hulle wil my in die graf laat beland. 11 Laat hulle daarvoor boet, o God, laat hulle deur hulle eie planne tot niet gaan. Dryf hulle weg oor hulle baie sondes, want hulle is opstandig teen U. 12 Maar laat almal wat by U skuil, bly wees, laat hulle altyd jubel. U beskerm dié wat u Naam liefhet, en hulle juig oor U. 13 U laat dit goed gaan met die regverdige, Here, u goedheid beskerm hom soos ’n skild
Psalm 6:1–10 AFRIKAAN
2 Moet my tog nie in u toorn straf nie, Here, en my in u gramskap tugtig nie. 3 Ontferm U oor my, Here, want ek kwyn weg, maak my gesond, Here, want my liggaam is uitgeteer. 4 Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee? 5 Neem my weer onder u sorg, Here, en red my lewe. Help my, want U is getrou. 6 Iemand wat dood is, kan tog nie u Naam bely nie. Kan iemand in die doderyk U prys? 7 Ek is uitgeput van verdriet, ek huil die hele nag deur, ek deurweek my bed met trane. 8 My oë het dof geword van verdriet, verswak deur wat my teëstanders my aandoen. 9 Gee pad van my af, julle almal wat onreg doen, want die Here het ag geslaan op my geroep om hulp, 10 die Here het geluister na my smeking, die Here het my gebed aangeneem. 11 Al my vyande sal beskaamd daarvan afkom, hulle sal verslae staan; in ’n oogwink sal hulle beskaamd moet padgee
Psalm 7:1–17 AFRIKAAN
2 By U soek ek beskerming, Here my God. Help my, red my van almal wat my vervolg, 3 sodat hulle my nie verskeur soos ’n leeu sy prooi nie, my nie uitmekaar skeur sonder hoop op redding nie. 4 As ek iets verkeerds gedoen het, Here my God, as daar onreg aan my hande kleef, 5 as ek ’n vriend van my kwaad aangedoen het, as ek ’n teëstander van my sommer goedsmoeds kaalgestroop het, 6 mag die vyand my dan agtervolg en inhaal, my in die grond in trap, my tot in die stof in verneder.Sela 7 Kom tog, Here, in u toorn, tree op teen die verwoede aanslag van my teëstanders. Kom my te hulp, U wat bepaal het dat reg sal geskied. 8 Laat al die volke rondom U kom staan; neem hoog bo hulle u plek in op u regterstoel! 9 U wat regspreek oor die volke, Here, bevind tog dat ek reg het, Here, dat ek onskuldig is. 10 Maak ’n end aan al die bose dade van die goddelose mense. Stel tog die onskuldige in die gelyk. U wat die mens deur en deur toets, U is die regverdige God. 11 God wat die opregtes help, is my beskermer. 12 God is ’n betroubare regter, ’n God wat altyd die skuldiges straf. 13 Hy maak sy swaard elke keer weer skerp, Hy span sy boog en lê aan. 14 Hy hou dodelike wapens gereed en maak vir Hom brandpyle. 15 Die skuldige is soos iemand wat swanger geraak het van onreg, swanger is van kwaad en leuens voortbring. 16 Hy grawe ’n diep gat en val self daarin. 17 Sy boosheid tref homself, en die geweld wat hy beplan het, kom op sy eie kop af. 18 Ek wil die Here prys omdat Hy reg laat geskied. Die Naam van die Here, die Allerhoogste, wil ek besing
Psalm 9:1–20 AFRIKAAN
2 Met my hele hart wil ek U prys, Here, wil ek van u magtige reddingsdade vertel. 3 Oor U wil ek my verbly en vrolik wees, u Naam wil ek besing, o Allerhoogste. 4 Toe U verskyn het, het my vyande gevlug, hulle het gestruikel en omgekom. 5 Toe U op die troon gaan sit het as betroubare regter, het U aan my reg laat geskied. 6 U het die nasies met vernietiging gedreig, die skuldiges laat omkom, hulle naam vir altyd uitgewis. 7 Dit is klaar met die vyand, daar bly net puinhope oor. U het hulle stede verwoes, niemand dink eers meer aan hulle nie. 8 Die Here is altyd op sy troon; op sy regterstoel is Hy steeds gereed vir die regspraak. 9 Hy lewer ’n regverdige uitspraak oor alle mense, Hy vel ’n billike vonnis oor die nasies. 10 Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ’n toevlug, ’n skuilplek in tye van nood. 11 Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie. 12 Sing tot eer van die Here wat op Sion woon, vertel die volke van sy dade! 13 Hy dink aan die onskuldiges en wreek hulle dood, Hy verontagsaam nie die geroep van dié wat in nood verkeer nie. 14 Wees my genadig, Here, aanskou die ellende wat my haters my aangedoen het, U wat my terugruk uit die poorte van die dood. 15 Dan kan ek van al u roemryke dade vertel, in die poorte van Sion kan ek juig oor die uitkoms wat U gegee het. 16 Die nasies het in die gat geval wat hulle gegrawe het, hulle voete is vasgevang in die net wat hulle gespan het. 17 So het die Here Hom bekend gemaak, Hy het reg laat geskied, en die skuldige is deur sy eie handewerk gevang.Higgajon Sela 18 Die doderyk is die bestemming van die skuldiges, van al die nasies wat aan God nie dink nie. 19 Waarlik, die behoeftiges word nie vir altyd vergeet nie, nie vir ewig sal die verwagting van dié wat in nood is, vrugteloos wees nie. 20 Gryp tog in, Here, sodat die mens hom nie verhef nie. Laat die nasies voor U teregstaan. 21 Vervul hulle so met vrees, Here, dat hulle erken dat hulle net mense is. Sel
Psalm 11:1–7 AFRIKAAN
1 Vir die koorleier. Van Dawid. Ek skuil by die Here. Hoe durf julle vir my sê: “Vlug na die berge toe soos ’n voël! 2 Kyk, die goddeloses span hulle boë, en hulle lê aan met die pyl op die snaar; hulle staan reg om uit die donker die opregtes van hart te tref. 3 As die fondamente ondermyn word, wat kan die regverdige daaraan doen?” 4 Die Here is in sy heilige tempel! Die Here is op sy troon in die hemel! Sy oë is oop, sy oë keur die mensekinders. 5 Die Here onderskei tussen regverdige en goddelose. Wie geweld liefhet, haat Hy. 6 Hy laat vuur en swael reën op die goddeloses, ’n skroeiende wind: dit is die beker wat hulle sal drink. 7 Die Here is regverdig. Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel, en Hy sal by hulle wees
Psalm 13:1–6 AFRIKAAN
2 Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? 3 Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers? 4 Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie, 5 anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my ondergang. 6 Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het
Psalm 16:1–11 AFRIKAAN
1 ’n Gedig van Dawid. Neem my in beskerming, o God; ek soek skuiling by U. 2 Ek het vir die Here gesê: “Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U. 3 Die afgode in die land, so aantreklik vir baie- met hulle wil ek niks te doen hê nie. 4 Mag elkeen wat ’n ander god vereer, baie smart beleef. Vir afgode sal ek nie bloedoffers uitgiet nie, hulle name sal ek nie op my lippe neem nie.” 5 Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 6 ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. 7 Ek sal die Here loof wat my tot die regte insig gebring het; selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer. 8 Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. 9 Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig. 10 U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. 11 U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is
Psalm 17:1–15 AFRIKAAN
1 ’n Gebed van Dawid. Luister tog, Here, na my regverdige saak, let op my hulpgeroep. Hoor tog die gebed wat ek in alle opregtheid bid. 2 U sal uitspraak lewer in my guns: u oë sien immers self wat reg is. 3 As U my sou toets, my selfs in my slaap sou ondersoek, my deeglik sou keur, sou U niks verkeerds vind nie. 4 Oor die doen en late van mense het ek niks verkeerds gesê nie: ek het my aan u bevel gehou. 5 Elke stap van my was vas op die koers wat U aangewys het. My voete het nie daarvan afgewyk nie. 6 Ek roep U aan, want U sal my antwoord, my God! Luister tog na my en hoor wat ek sê. 7 Toon u wonderlike trou, U wat almal help wat vir hulle vyande by U skuil. 8 Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels 9 vir die goddeloses wat my wil oorweldig, die doodsvyande wat my omsingel. 10 Sonder enige meegevoel, met monde wat aanmatigende dinge sê, omsingel hulle my 11 waar ek ook gaan. Hulle soek my ondergang. 12 Hulle is soos leeus, oorgehaal om te verskeur, soos jong leeus wat iets voorlê. 13 Kom tog, Here, staan hulle voor, dwing hulle op die knieë. Red my met u swaard uit die mag van die goddeloses, 14 met u eie hand, Here, van hierdie mense. Laat hulle ontydig omkom, sny hulle lewens af; laat hulle hulle vol eet aan die onheil wat U vir hulle gereed hou; laat daar oorgenoeg wees vir hulle kinders en laat daar nog oorbly vir die kindskinders. 15 Maar wat my betref, omdat die reg aan my kant is, sal ek weer voor U staan. As ek wakker word, sal ek my verbly in u teenwoordigheid
Psalm 18:1–24 AFRIKAAN
2 Hy het gesê: Ek het U baie lief, Here, my Sterkte. 3 Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting. 4 Onder bespotting roep ek na die Here, dan word ek van my vyande verlos. 5 Bande van die dood het my omsluit, strome van onheil het my verskrik. 6 Bande van die doderyk het my vasgetrek, strikke van die dood het my bedreig. 7 In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my. 8 Die aarde het geskud en gebewe, die fondamente van die berge het getril en geskud, want Hy was vertoorn. 9 Rook het uit sy neus getrek, vuur uit sy mond het alles verteer, gloeiende kole uit sy binneste. 10 Hy het die hemel afgebuig en afgekom, onder sy voete was duisternis. 11 Hy het op ’n gerub geklim en gevlieg; op die vleuels van die wind het Hy nadergesweef. 12 Hy het Hom in donkerte gehul, donker waters en wolkemassas was sy bedekking. 13 Uit die gloed voor Hom het wolke getrek, hael en weerligstrale. 14 Die Here het dit uit die hemel laat dreun, die Allerhoogste het sy stem laat hoor in hael en weerligstrale. 15 Hy het sy pyle afgeskiet en die vyand uitmekaar gejaag, hulle met ’n menigte weerligstrale op loop gejaag. 16 Die seebodem het sigbaar geword, die fondamente van die aarde is blootgelê deurdat U, Here, op hulle gebulder het met die orkaan van u toorn. 17 Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. 18 Hy het my gered van my vyand wat sterk was, van my haters toe hulle vir my te magtig was. 19 Die dag toe hulle my aangeval het, was my ondergang naby, maar die Here het my daarvan bewaar. 20 Hy het my in vryheid laat uitgaan, my gered omdat Hy my liefhet. 21 Die Here het aan my reg laat geskied, Hy het my onskuld aanvaar, 22 want ek het die wil van die Here gehoorsaam en my nie teenoor my God skuldig gemaak nie; 23 ek het my deur al sy bepalings laat lei en nie van sy voorskrifte afgewyk nie. 24 Ek was opreg voor Hom, ek was op my hoede teen enige ongeregtigheid. 25 Die Here het aan my reg laat geskied, want ek was onskuldig in sy oë.
Psalm 18:25–50 AFRIKAAN
26 U betoon U getrou teenoor die getroue, opreg teenoor die opregte, 27 rein teenoor die reine, maar U verwerp die huigelaar. 28 U red die verdrukte volk, U verneder die trotses. 29 U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my. 30 Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. 31 Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy. 32 Waarlik, wie anders as die Here is God? Ja, wie anders as ons God is ’n rots? 33 God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig. 34 Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan. 35 Hy leer my hande om oorlog te maak, my arms om selfs die stramste boog te span. 36 Die redding wat U gebring het, was vir my ’n beskerming, u regterhand het my ondersteun, deur u hulp het ek sterk geword. 37 U het my ruim vastrapplek gegee, my enkels het nie geswik nie. 38 Ek het my vyande agtervolg en ingehaal, ek het nie omgedraai voordat hulle uitgewis was nie. 39 Ja, ek het hulle verpletter, sodat hulle nie weer kon opstaan nie. Hulle het voor my voete gesneuwel. 40 U het my met krag omgord vir die stryd, U het my teëstanders voor my laat swig. 41 U het my vyande voor my laat vlug en ek kon my haters uitwis. 42 Hulle roep om hulp en daar is niemand wat help nie; hulle roep selfs na die Here, maar Hy antwoord hulle nie. 43 Ek maak hulle fyn soos stof in die wind, ek laat hulle wegspat soos modder in die strate, ja, ek vermorsel hulle. 44 U het my gered van opstandige mense, my as hoof van vreemde nasies aangestel. ’n Volk wat ek nie geken het nie, is my onderdane. 45 Wie ook al van my verneem, gehoorsaam my. Vreemde volke kruip voor my. 46 Hulle skrik en kom bewend uit hulle forte uit. 47 Die Here leef! Ek loof Hom wat my rots is. Ek prys my God wat my gered het. 48 Dit is God wat my die oorwinning gee, wat volke aan my onderwerp. 49 Hy red my van my vyande. Ja, U stel my buite bereik van my teëstanders, U bevry my van geweldenaars. 50 Daarvoor sal ek U loof voor die nasies, Here, tot eer van u Naam ’n lofpsalm sing! 51 Dit is Hy wat aan sy koning groot oorwinnings gee en trou aan sy gesalfde betoon, aan Dawid en sy nageslag vir altyd
Psalm 20:1–9 AFRIKAAN
2 Mag die Here u gebed verhoor op die dag van nood, mag die Naam van die God van Jakob u beskerm. 3 Mag Hy u te hulp kom uit die heiligdom, u bystaan uit Sion. 4 Mag Hy al u graanoffers onthou en u brandoffers aanneemlik vind.Sela 5 Mag Hy u gee wat u hart begeer en al u voornemens laat geluk. 6 Ons sal juig oor u oorwinning en in die Naam van ons God die vaandels ontplooi. Mag die Here alles gee wat u vra. 7 Dit weet ek: die Here sal aan sy gesalfde die oorwinning gee! Uit die heilige hemel verhoor die Here sy gebed; die Here gee deur sy groot mag aan hom die oorwinning. 8 Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar óns, ons vertrou op die Naam van die Here ons God. 9 Húlle sal struikel en val, maar óns sal regop en vas bly staan. 10 Here, gee tog aan die koning die oorwinning. Mag die Here ons gebed verhoor wanneer ons na Hom roep
Psalm 21:1–13 AFRIKAAN
2 Here, dit is oor die openbaring van u mag dat die koning so bly is, dit is oor die oorwinning wat U hom gegee het, dat hy so jubel en juig. 3 Die wens van sy hart het U vervul. Wat hy gevra het, het U hom nie geweier nie.Sela 4 U skenk hom voorspoed en geluk, U plaas ’n goue kroon op sy kop. 5 Lewe het hy van U gevra; U het hom dit gegee- ’n lang, lang lewe. 6 Omdat U uitkoms gegee het, is hy hoog in aansien, met roem en eer het U hom oorlaai. 7 U maak hom altyd voorspoedig, U skenk hom oorvloedige blydskap deur u nabyheid. 8 Die koning vertrou op die Here en deur die trou van die Allerhoogste struikel hy nie. 9 U hand sal al u vyande vind, u regterhand sal u haters tref. 10 Wanneer U verskyn, Here, sal U hulle verteer soos in ’n oond. In u toorn sal U hulle vernietig, en die vuur sal hulle verteer. 11 U sal hulle kinders van die aarde af verdelg en die mensheid verlos van hulle nageslag. 12 As hulle kwaad teen U beraam, bose planne uitdink, sal hulle niks uitrig nie. 13 Wanneer U met die boog na hulle mik, slaan hulle op die vlug. 14 Laat u mag seëvier, Here, dan sal ons u krag besing en daaroor roem
Psalm 22:1–31 AFRIKAAN
2 My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? 3 My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie. 4 U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink! 5 Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered. 6 Hulle het na U om hulp geroep en hulle is bevry; op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie. 7 Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie. Ek word deur die mense bespot en deur die volk verag. 8 Almal wat my sien, spot my, hulle steek vir my tong uit en knik met voldoening die kop en sê: 9 “Laat dit aan die Here oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry as Hy dan so baie van hom hou.” 10 U het my die eerste lewenslig laat sien, my veilig laat rus aan die bors van my moeder. 11 Van my geboorte af is ek onder u sorg, van die begin van my lewe af is U my God. 12 Moet tog nie so ver van my af weg bly nie, want die nood is naby en daar is niemand wat help nie. 13 ’n Wreedaardige klomp mense het my omsingel, soos beeste uit Basan staan hulle my toe. 14 Soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op my af. 15 Ek is soos uitgestorte water, al my bene het uitmekaar geval, my hart het soos was geword, dit smelt weg in my. 16 Ek is so min werd soos ’n potskerf, my tong kleef aan my verhemelte, U laat lê my asof ek dood is. 17 Soos honde omsingel hulle my, die bende misdadigers sak op my toe, hulle bind my hande en voete vas. 18 Al wat been in my is, kan ek tel; hulle kyk na my met leedvermaak. 19 Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel. 20 En U, Here- moet tog nie so ver bly nie, Bron van my krag, help my tog gou! 21 Red my van die swaard, my kosbare lewe uit die mag van die honde. 22 Red my uit die bek van die leeu en tussen die horings van die wilde beeste uit. U het my gebed verhoor! 23 Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente, U in die volle vergadering prys. 24 Julle wat die Here dien, prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob! Betoon Hom eerbied, nageslag van Israel! 25 Die nood van die hulpelose het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie, Hom daarvan nie teruggetrek nie, maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor. 26 My loflied in die volle vergadering kom van Hom af, my geloftes sal ek nakom voor die mense wat Hom dien. 27 By dié offermaaltyd sal die armes genoeg hê om te eet, en sal dié wat na die wil van die Here vra, Hom prys. Mag hulle lank en gelukkig lewe. 28 Mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer. Alle volke sal Hom as koning erken, 29 want die koningskap behoort aan die Here; Hy heers oor die volke. 30 Al die rykes van die wêreld sal ook aan dié maaltyd deelneem en Hom as koning erken, ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel. 31 Die nageslag sal Hom dien, en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag. 32 Dié sal dan aan die volk wat nog gebore moet word van hierdie verlossingsdaad getuig: die Here het dit gedoen
Psalm 23:1–6 AFRIKAAN
1 ’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. 2 Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. 3 Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. 4 Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. 5 U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. 6 U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae
Psalm 25:1–22 AFRIKAAN
1 Van Dawid. Tot U, Here, rig ek my, 2 my God, op U vertrou ek. Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie, laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie. 3 Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. 4 Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. 5 Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting. 6 Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het. 7 Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie. Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is. 8 Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, 9 Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad. 10 Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar. 11 Ter wille van u Naam, Here, vergewe my my sonde, want dit is groot. 12 As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies, 13 sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon. 14 Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. 15 My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou. 16 Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote. 17 Ek verkeer in die allergrootste nood; bevry my tog uit my ellende. 18 Kyk hoe sleg gaan dit met my en hoe swaar kry ek. Vergewe tog al my sondes. 19 Kyk hoe baie vyande het ek en hoe fel haat hulle my. 20 Beskerm my en red my, laat my nie beskaamd staan nie, want by U skuil ek. 21 Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou, want op U vertrou ek. 22 O God, red Israel uit al sy nood
Psalm 26:1–12 AFRIKAAN
1 Van Dawid. Laat reg aan my geskied, Here, want ek is onskuldig. Ek het op die Here vertrou en nie getwyfel nie. 2 Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur. 3 Ek laat my deur u liefde lei en ek lewe deur u trou. 4 Ek hou my nie op met bedrieërs nie en met agterbakse mense gaan ek nie om nie. 5 Ek vermy die geselskap van misdadigers en hou my nie op met goddeloses nie. 6 As ’n onskuldige, Here, was ek my hande en draai ek na u altaar toe 7 om my loflied te sing en van al u wonders te vertel. 8 Here, u woonplek, die tuiste van u heerlikheid, het ek lief. 9 Moet my tog nie saam met die sondaars, met die moordenaars laat omkom nie. 10 Daar is bedrog in hulle hande, hulle regterhande is vol omkoopgeld. 11 Maar ek is onskuldig. Red my en wees my genadig; 12 dan is my pad vorentoe gelyk en sal ek die Here prys in die samekoms van die gemeente
Psalm 27:1–14 AFRIKAAN
1 Van Dawid. Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees? 2 As misdadigers op my afstorm om my dood te maak, my teëstanders en my vyande, dan is dit juis húlle wat struikel en val. 3 Al sou ’n leër teen my stelling inneem, sal ek nie bang word nie. Selfs al sou die aanval op my begin, sal ek nog steeds vertroue hê. 4 Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel. 5 Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis, my veilig laat skuil in sy woonplek, my hoog op ’n rots laat staan; 6 ek sal in sy woonplek onder trompetgeklank my offers bring, ek sal ’n lied sing, ek sal sing tot die eer van die Here terwyl ek neerkyk op die vyande rondom my. 7 Luister tog na my, Here, as ek roep; wees my genadig en verhoor my gebed. 8 Ek onthou wat U gesê het: “Julle moet My kom dien!” Ek is hier om U te dien, Here. 9 Moet U tog nie vir my verberg nie, moet my tog nie wegstuur terwyl U toornig is nie, want U was nog altyd my hulp. Moet my tog nie verstoot en verlaat nie, want U alleen is die God wat my red. 10 Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem. 11 Leer my u wil, Here, en lei my op ’n gelyk pad sodat my vyande nie hulle sin kry nie. 12 Moet my tog nie oorgee aan die venyn van my teëstanders nie, want daar staan vals getuies teenoor my en hulle blaas geweld teen my aan. 13 As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie…! 14 Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here
Psalm 28:1–9 AFRIKAAN
1 Van Dawid. Ek roep na U, Here, my Rots, moet tog nie doof wees vir my nie. As U bly swyg, sal ek wees soos ’n sterwende. 2 Hoor my smeekstem as ek na U roep om hulp, as ek my hande in gebed uitsteek na die allerheiligste deel van u tempel. 3 Moet my tog nie uitroei saam met die goddeloses, die mense wat onreg doen nie. Hulle praat vriendelik met hulle bure, maar daar is kwaadwilligheid in hulle harte. 4 Vergeld hulle volgens hulle dade en volgens hulle skandelike gedrag. Vergeld hulle volgens die werk van hulle hande en laat hulle kry wat hulle verdien, 5 want hulle let nie op die dade van die Here en op die werk van sy hande nie. Daarom sal Hy hulle afbreek en nooit weer opbou nie. 6 Aan die Here kom die lof toe, want Hy het my smeekstem gehoor. 7 Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied. 8 Die Here is ’n sterkte vir sy volk, ’n veilige beskutting vir sy gesalfde. 9 Red u volk en seën dié wat aan U behoort; wees vir hulle ’n herder en sorg altyd vir hulle
Psalm 31:1–24 AFRIKAAN
2 By U, Here, skuil ek. Laat my tog nooit teleurgestel staan nie! Bevry my, want U is getrou. 3 Luister na my, red my tog gou. Wees vir my ’n rots om na toe te vlug, ’n bergvesting om my te red. 4 Ja, U is my rots en my bergvesting, ter wille van u Naam sal U my voorgaan en my lei. 5 Bevry my uit die vangnet wat hulle vir my gestel het, want U is my toevlug. 6 In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak. 7 Ek haat mense wat waarde heg aan die nikswerd afgode; my vertroue stel ek in die Here. 8 Ek wil jubel en juig oor u troue liefde: U was nie onverskillig teenoor my ellende nie; U het die bedreiging van my lewe raakgesien 9 en my nie aan die mag van die vyand oorgelewer nie; U het my ’n veilige staanplek gegee. 10 Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my. 11 My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry; deur my ellende word my krag geknak en teer my liggaam uit. 12 Ek is die spot van al my teëstanders, veral van my bure, ’n verskrikking vir al my bekendes. Dié wat my op straat sien, vlug vir my. 13 Ek is vergeet soos iemand wat lankal dood is, ek het geword soos ’n ding wat lê en vergaan. 14 Ek hoor dreigemente van baie; dit dreig van alle kante af. Baie span teen my saam en smee planne om my lewe te neem. 15 Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. 16 My tye is in u hand. Red my uit die hande van my vyande en vervolgers! 17 Verskyn tog tot my redding, red my deur u onfeilbare liefde. 18 Here, laat my nie teleurgestel staan in my verwagting as ek U aanroep nie. Laat die goddelose teleurgestel staan in hulle verwagting, laat hulle die stilte van die doderyk ingaan. 19 Bring die leuenaars tot swye, dié wat vol is van hulleself en in hoogmoed en veragting teen die regverdige praat. 20 Hoe groot is u goedheid: dit is altyd daar vir dié wat U dien, U bewys dit voor die oë van die mense aan dié wat by U skuil. 21 Deur u teenwoordigheid beskerm U hulle teen die sameswering van mense. U steek hulle weg vir dié wat vir hulle beskuldig. 22 Aan die Here kom die lof toe, want Hy het sy trou op wonderbaarlike wyse aan my betoon toe ek beleër was. 23 Ek het in my angs gedink: Dit is klaar met my, selfs U het my verwerp. Tog, U het geluister na my gesmeek toe ek na U om hulp geroep het. 24 Betuig julle liefde vir Hom, julle almal wat die guns van die Here geniet. Die Here beskerm dié wat aan Hom getrou is, maar dié wat teen Hom opstandig is, straf Hy swaar. 25 Wees dus sterk en hou goeie moed, julle almal wat julle vertroue in die Here stel
Psalm 32:1–11 AFRIKAAN
1 ’n Gedig van Dawid. Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word. 2 Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie. 3 Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het. 4 U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte.Sela 5 Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid;” en U het my skuld vergewe.Sela 6 Dit is waarom elke gelowige in ’n tyd van nood tot U bid; selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie. 7 U is vir my ’n skuilplek, U beskerm my teen aanvalle, U laat my oorwinningsliedere sing.Sela 8 Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou. 9 Moenie onverstandig wees nie, soos ’n perd of ’n muil wat met ’n stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei. 10 Die goddelose het baie smarte, maar wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde. 11 Verbly julle in die Here en juig, regverdiges, jubel, alle opregtes
Psalm 33:1–22 AFRIKAAN
1 Jubel in die Here, regverdiges, sing ’n loflied, opregtes! 2 Loof die Here met die lier, speel vir Hom op die harp! 3 Sing vir Hom ’n nuwe lied, speel met volle oorgawe, jubel dit uit! 4 Wat die Here sê, gebeur, alles wat Hy doen, staan vas. 5 Hy het geregtigheid en reg lief, die hele wêreld is vol van die Here se troue liefde. 6 Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame. 7 Hy het die seewater laat saamkom soos in ’n dam, die groot waters op een plek opgegaar. 8 Die hele aarde moet die Here vrees, al die bewoners van die wêreld moet vir Hom ontsag hê, 9 want Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar. 10 Die Here verydel die planne van die nasies, Hy laat hulle besluite op niks uitloop. 11 Maar die planne van die Here staan vir altyd vas, sy besluite van geslag tot geslag. 12 Dit gaan goed met die nasie wie se God die Here is, met die volk wat Hy vir Hom as sy eie gekies het. 13 Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. 14 Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon. 15 Dit is Hy wat hulle verstand gevorm het, wat al hulle werk deurgrond. 16 Dit is nie deur ’n groot leër dat ’n koning wen nie, en nie deur groot krag dat ’n held behoue uitkom nie. 17 Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie. 18 Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou 19 om hulle van die dood te red en hulle in die lewe te hou in hongersnood. 20 Ons vertrou op die Here: Hy is ons hulp en ons beskermer. 21 Ja, in Hom is ons hart bly, op sy heilige Naam vertrou ons. 22 Hou u liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U
Psalm 34:1–22 AFRIKAAN
2 Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees. 3 Ek sal die roem van die Here sing; die wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees. 4 Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys. 5 Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare. 6 Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie. 7 Ek is een van die ellendiges wat geroep het. Die Here het gehoor, uit al my benoudhede het Hy my gered. 8 Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle. 9 Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil. 10 Julle wat aan die Here behoort, dien Hom! Wie Hom dien, het geen gebrek nie. 11 Selfs leeus ly gebrek en kry honger, maar wie die Here se hulp vra, kom niks kort van al die goeie dinge nie. 12 Kom, kinders, luister na my! Ek wil julle leer hoe om die Here te dien. 13 As iemand die lewe liefhet en ’n lang lewe begeer om die goeie te geniet, 14 moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. 15 Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! 16 Die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep. 17 Maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen en vee selfs die herinnering aan hulle van die aarde af. 18 As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede. 19 Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses. 20 Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal. 21 Die Here sorg vir die hele liggaam van die regverdige: geen been word gebreek nie. 22 Die kwaad wat die goddelose doen, bewerk sy eie ondergang: vir sy vyandskap teen die regverdige sal hy boet. 23 Die Here maak sy dienaars vry. Wie by Hom skuil, sal nie as skuldige behandel word nie
Psalm 35:1–28 AFRIKAAN
1 Van Dawid. Behartig my saak teen dié wat my aankla, Here, tree op teen my vyande, 2 gryp die skilde en kom help my. 3 Vat die spies en keer my vervolgers. Laat ek U hoor sê: “Ek red jou!” 4 Laat hulle wat my lewe soek, die slegste daarvan afkom en beskaamd staan. Laat hulle wat my ondergang soek, op die vlug slaan, teleurgestel in hulle verwagting. 5 Laat die Engel van die Here hulle jaag soos kaf voor die wind. 6 Maak hulle pad donker en glibberig en laat die Engel van die Here hulle agtervolg, 7 want hulle het nie rede gehad om vir my ’n strik te stel en vir my ’n gat te grawe nie. 8 Laat hulle einde skielik kom! Laat hulle in hulle eie strik beland! Laat hulle self in die gat val wat hulle gegrawe het! 9 Maar ek sal juig in die Here, ek sal jubel oor die redding wat Hy bring. 10 My hele wese sê: “Here, wie is soos U wat die swakke bevry van dié wat sterker is, die swakke en die arme van dié wat hom beroof?” 11 Dit is kwaadwillige getuies wat teen my optree. Hulle beskuldig my van dinge waarvan ek niks weet nie. 12 Hulle vergeld my kwaad vir goed, hulle gebruik elke geleentheid om my by te kom. 13 En tog, toe húlle siek was, het ek getreur soos oor ’n sterfgeval: rouklere aangetrek en myself gekasty deur nie te eet nie. Ek het sonder ophou vir hulle gebid 14 soos vir ’n vriend of ’n broer. Ek het rondgeloop soos een wat oor sy moeder treur, krom en in die rou. 15 Maar nou dat ek in die moeilikheid is, is dit vir hulle lekker en span hulle saam teen my. Sonder dat ek weet waaroor, skeur hierdie skoorsoekers my uitmekaar en hulle kry nie end nie. 16 Nou dat ek struikel, lag hulle daaroor; nou kom dreig hulle my. 17 Hoe lank, Here, sal U dit duld? Red my kosbare lewe van die aanslag van hierdie mense wat my soos leeus bedreig. 18 Dan sal ek U in ’n volle vergadering dank en voor die hele gemeente prys. 19 Moenie dat hulle wat sonder rede my vyande is, hulle verlustig in my leed nie. Moenie dat dié wat my sonder aanleiding haat, hulle verlustig in my leed nie. 20 Hulle wil nie vrede hê nie, hulle kom met vals beskuldigings teen vredeliewende mense. 21 Hulle rek hulle monde teen my oop en sê: “Ja, ons het dit self gesien.” 22 Maar U het gesien dit is nie so nie, Here. Moet tog nie swyg nie. Moenie ver van my af bly nie, Here. 23 Tree tog vir my in, my God. Doen tog iets aan my saak, Here. 24 U is regverdig, Here my God, laat reg aan my geskied, sodat hulle hulle nie in my leed verlustig nie. 25 Moenie dat hulle vir hulleself sê: “Dis mos wat ons wou gehad het” nie. Moenie dat hulle sê: “Ons het hom vernietig” nie. 26 Laat almal wat bly is oor my ellende, teleurgestel word in hulle verwagting en self in die ellende beland. Laat oor hulle wat op my neersien, skande en smaad kom. 27 Maar dié wat wil hê ek moet vrygespreek word, laat hulle juig en bly wees, laat hulle altyd weer sê: “Die Here is groot. Hy sorg dat sy dienaar vrede het.” 28 My tong sal nie stil word oor u trou nie, dag vir dag sal ek U loof
Psalm 37:1–19 AFRIKAAN
1 Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, 2 want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. 3 Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. 4 Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. 5 Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. 6 Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag. 7 Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ’n skelm nie. 8 Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende. 9 Die skelms sal uitgeroei word, maar dié wat hulle vertroue in die Here stel, sal in besit bly van die land. 10 Nog ’n rukkie en daar sal geen goddelose meer wees nie; ’n mens sal hom soek waar hy was, maar hy sal nie daar wees nie. 11 Dié wat nou verdruk word, sal die land besit en hulle verlustig in hulle welvaart. 12 Die goddelose soek die ondergang van die regverdige en bedreig sy lewe. 13 Die Here lag vir die goddeloses, want Hy sien hulle dag kom. 14 Die goddeloses trek die swaard en span die boog om die hulpelose en die arme dood te maak, om dié wat die regte pad loop, te vermoor. 15 Die goddeloses se swaarde sal hulle eie harte tref en hulle boë sal stukkend gebreek word. 16 Die bietjie van die regverdige is beter as die rykdom van talle goddeloses, 17 want die mag van die goddeloses sal verbreek word, maar die Here sal die hulp wees van die regverdiges. 18 Die Here sorg vir die lewe van die opregtes, en wat hulle besit, sal hulle behou so lank hulle lewe. 19 In tyd van nood sal hulle nie verleë staan nie, in tyd van gebrek sal hulle genoeg hê.
Psalm 38:1–22 AFRIKAAN
2 Moet my tog nie in u toorn bly straf nie, Here, en my langer in u gramskap tugtig nie. 3 U pyle het my getref, u hand lê swaar op my. 4 Deur u toorn is daar nie meer ’n gesonde plek aan my liggaam nie, deur my sonde is daar nie meer ’n heel plek aan my lyf nie. 5 Ja, my ongeregtighede het my oorweldig soos ’n las wat vir my te swaar is. 6 My wonde stink en sweer, en dít deur my eie dwaasheid. 7 Ek is krom en inmekaar getrek, ek loop die hele dag en treur, 8 want my lyf brand van die koors en daar is nie meer ’n gesonde plek aan my liggaam nie. 9 Ek is gedaan en heeltemal platgeslaan, my hart jaag en ek brul van die pyn. 10 U weet waarna ek smag, Here, my gesmeek is vir U geen geheim nie. 11 My hart jaag, my krag het ingegee, ek kan nie eers meer sien nie. 12 My siekte hou my familie en my vriende ver van my af, en my bure kom nie naby my nie. 13 Dié wat my lewe soek, stel vir my strikke, dié wat daarop uit is om my kwaad aan te doen, praat al klaar van my ondergang; die hele dag deur dink hulle vals beskuldigings teen my uit. 14 Maar ek hou my doof, ek hoor niks, ek hou my stom, ek maak my mond nie oop nie. 15 Ek het geword soos ’n man wat niks hoor nie en wat niks het om te antwoord nie. 16 Ek vertrou op U, Here, U sal antwoord, Here my God. 17 Ek vra U: “Moenie dat hulle hulle verlustig in my leed en hulle groot hou as die lyding vir my te veel word nie.” 18 Ek kan dit byna nie meer uithou nie, ek is nooit sonder pyn nie. 19 Ek bely my ongeregtigheid, my sonde kwel my. 20 My vyande is vol lewenskrag en daar is so baie wat my sonder rede haat, 21 wat my kwaad vir goed vergeld en teen my is omdat ek die goeie najaag. 22 Moet my tog nie verlaat nie, Here, my God, moenie ver van my af bly nie! 23 Maak tog gou om my te help, Here, my Redder
Psalm 39:1–13 AFRIKAAN
2 Ek het gesê: “Ek wil sorgvuldig let op my lewe en nie sondig met wat ek sê nie. Ek wil nie ’n woord praat as ’n slegte mens my teëstaan nie.” 3 Ek was stom en sprakeloos, ek het geswyg, nie gepraat nie, maar my smart het al hoe groter geword. 4 Daar was ’n brandpyn in my, my smart het ’n vuur in my geword. Toe móés ek praat. 5 Maak tog aan my bekend wanneer my einde sal wees, Here, en hoeveel dae daar vir my oor is, sodat ek sal weet wanneer my lewe verby is. 6 Kyk, U het bepaal dat my dae min sal wees, in u oë is my lewensduur byna niks. Ag, alle mense is maar verganklik.Sela 7 Die mens leef soos in ’n droom en hy sloof hom af vir niks. Hy gaar op, maar weet nie wie dit sal kry nie. 8 Is daar nog hoop vir my, Here? U is my enigste hoop. 9 Red my van al my teëstanders, laat my nie die spot van dwase word nie. 10 Ek kla nie, ek maak my mond nie oop nie, want U het dit oor my gebring. 11 Neem tog weg die smart waarmee U my getref het. Die las wat U my opgelê het, laat my krag ingee. 12 As U ’n mens die straf oplê wat sy sonde verdien, verteer U hom soos ’n mot ’n kleed. Ag, alle mense is verganklik.Sela 13 Hoor tog my gebed, Here, luister na my hulpgeroep; moet tog nie koud staan teenoor my trane nie, want ek is net op u beskerming aangewese; U alleen sorg vir my, soos vir al my voorvaders. 14 Neem tog u straf van my weg, dat ek weer bly kan wees voordat ek heengaan en nie meer daar is nie
Psalm 40:1–17 AFRIKAAN
2 Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. 3 Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. 4 Hy het my ’n nuwe lied in die mond gelê, ’n loflied vir ons God. Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou! 5 Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel en hom nie wend tot duister magte en tot mense wat hulle met skyngode ophou nie. 6 Here my God, U het baie wonderlike dinge gedoen; U dink altyd aan ons; daar is niemand soos U nie. Ek sou daarvan wou vertel en daaroor praat, maar dit is te veel om op te noem. 7 Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê. 8 Daarom het ek gesê: “Hier het ek gekom soos dit in die boekrol vir my voorgeskrywe is. 9 Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.” 10 Met blydskap het ek aan die gemeente vertel U het my verlos. Ek het nie stilgebly nie, Here, U weet dit! 11 Dat U verlos, het ek nie vir myself gehou nie, ek het gepraat oor u trou en u hulp. Oor u goedheid en u trou het ek in die gemeente nie stilgebly nie. 12 Moet my tog nie uitsluit van u ontferming nie, Here, laat u liefde en trou my voortdurend bewaak, 13 want ramp op ramp het my oorval, my ongeregtighede het my ingehaal; ek weet nie meer waarheen nie. Hulle is meer as die hare op my kop; ek is moedeloos. 14 Here, red my tog asseblief! Here, kom my tog gou te hulp! 15 Laat dié wat my lewe wil neem, self in die ellende beland, teleurgestel in hulle verwagting; laat dié wat graag my ondergang wil sien, op die vlug slaan en beskaamd staan. 16 Laat dié wat my spot, verbysterd staan omdat hulle self in die ellende beland het. 17 Laat almal wat by U hulp soek, jubel en bly wees oor U, laat dié wat op u hulp staat maak, altyddeur sê: “Die Here is groot!” 18 Ek is hulpeloos en arm, maar die Here dink aan my. U is my hulp en my redder; my God, moet tog nie talm nie
Psalm 41:1–13 AFRIKAAN
2 Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke. Die Here sal hom red op die dag van nood, 3 die Here sal hom beskerm en in die lewe hou; die hele land sal praat oor hoe goed dit met hom gaan. U sal hom nie uitlewer aan die wraaksug van sy vyande nie. 4 Die Here sal hom bystaan in sy siekte. As hy siek is, sal U hom genees. 5 Ek het gesê: “Wees my genadig, Here! Maak my tog gesond; ek het teen U gesondig.” 6 My vyande wens my net die ergste toe: “Wanneer gaan hy dood en verdwyn sy naam?” 7 As iemand na my kom kyk, dink hy dis klaar met my. Hy kom kyk hoe sleg dit gaan en gaan vertel dit buite rond. 8 Almal wat my haat, staan en fluister oor my, hulle wens my net die ergste toe: 9 dis ’n dodelike siekte wat hom getref het, waar hy nou daar lê, sal hy nie weer opstaan nie! 10 Selfs my boesemvriend op wie ek vertrou het, wat altyd by my geëet het, het my in die rug gesteek. 11 Wees U my genadig, Here, en laat my hier opstaan, dat ek aan hulle kan doen wat hulle aan my gedoen het. 12 Dit weet ek: U het my lief, my vyand sal nie oor my triomfeer nie. 13 Ek is onskuldig, U hou my vas en laat my altyd by U bly. 14 Aan die Here, die God van Israel, kom die lof toe tot in die allerverste toekoms. Amen, ja, amen
Psalm 42:1–11 AFRIKAAN
2 Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. 3 Ek dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn? 4 Dag en nag is ek in trane, want sonder ophou sê hulle vir my: “En waar is jou God nou?” 5 As ek my lewe voor my laat verbygaan, dink ek daaraan hoe ek opgetrek het na die woonplek van God, voor ’n skare uit na sy huis toe geloop het met gejuig en lofsang— ’n skare wat feesvier. 6 Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper 7 en my God! Uit my vertwyfeling roep ek na U hier van die Jordaangebied, van Hermonberg, van die Kleinberg af 8 waar die waters teen mekaar raas en u waterstrome bruis. U het golf na golf oor my laat slaan. 9 Tog sal die Here weer op ’n dag sy trou laat blyk en sal ek selfs in die nag ’n lied vir Hom sing, ’n gebed tot die God van my lewe. 10 Ek wil vir God sê: “My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?” 11 Dit sny deur my hele wese as my teëstanders my spot en dag na dag vir my sê: “En waar is jou God nou?” 12 Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God
Psalm 43:1–5 AFRIKAAN
1 Laat tog reg aan my geskied, o God, behartig tog my saak teen ’n godlose bende, red my van vals en misdadige mense. 2 Net U is my skuiling, my God; waarom verstoot U my dan? Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand? 3 Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning! 4 Laat my ingaan na die altaar van God, die God oor wie ek wil jubel en juig, dat ek U kan loof met die lier, o God, my God! 5 Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God
Psalm 44:1–26 AFRIKAAN
2 Met ons eie ore het ons gehoor, o God, ons vaders het ons dit vertel, dat U in die ou dae, in die gryse verlede, ’n groot daad gedoen het. 3 U het nasies met u eie hand verdryf, maar u volk ’n vaste woonplek gegee. U het nasies se mag verbreek om aan u volk vryheid te gee. 4 Dit is nie met die swaard dat u volk die land in besit geneem het nie, nie deur hulle eie mag dat hulle die oorwinning behaal het nie, maar deur u krag, u mag en u teenwoordigheid, omdat U hulle liefgehad het. 5 U is my koning, o God; gee tog aan Jakob se nageslag die oorwinning. 6 Met u hulp sal ons ons teëstanders verslaan, in u Naam sal ons dié oorwin wat teen ons opstaan. 7 Op my boog vertrou ek nie en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie, 8 want dit is U wat ons die oorwinning oor ons teëstanders gegee het en ons vyande die aftog laat blaas het. 9 Ons het God die hele dag deur geprys en sy Naam altyddeur geloof.Sela 10 Tog het U ons nou verstoot en ons in die skande laat kom. U trek nie meer saam met ons leërs uit nie. 11 U laat ons vlug voor ons teëstanders; ons vyande plunder na hartelus; 12 U lewer ons uit: ons is soos slagskape. U verstrooi ons onder die nasies; 13 U gee u volk sommerso weg, vir niks; daar steek geen voordeel vir U in nie. 14 U stel ons bloot aan die veragting van ons bure, aan die spot en beskimping van almal rondom ons. 15 U maak ons tot ’n bespotting onder die nasies, ’n minagting onder die mense. 16 Ek gaan dag vir dag gebuk onder die skande, en die smaad is op my gesig te lees, 17 want ek hoor net die spottaal van die vyand en die godslastering van dié wat op wraak uit is. 18 Al hierdie dinge het oor ons gekom, hoewel ons U nie vergeet het nie en aan u verbond nie ontrou was nie. 19 Ons het nie afvallig geword nie en van u pad nie afgewyk nie. 20 Tog het U ons verwoes; ons land het ’n puinhoop geword; U het die donker oor ons laat toesak. 21 As ons die Naam van ons God nie aangeroep het nie en ’n vreemde god om hulp gevra het, 22 sou God dit dan nie kon vasstel nie? Hy ken immers die geheime van die hart. 23 Dit is oor U dat die dood ons gedurig tref, dat ons soos slagskape behandel word. 24 Kom ons te hulp! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Moet ons nie vir altyd verstoot nie! 25 Waarom draai U u rug vir ons? Waarom steur U U nie aan ons ellende en smaad nie? 26 Ons is tot in die stof verneder, ons is teen die grond. 27 Kom ons tog te hulp en bevry ons, dat so u troue liefde blyk
Psalm 46:1–11 AFRIKAAN
2 God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. 3 Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, 4 al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid.Sela 5 Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste. 6 God is daar; die stad sal nie wankel nie. God sal hom help nog voor die môre kom. 7 Nasies kan raas en koninkryke wankel, maar as God sy stem laat hoor, smelt die aarde weg. 8 Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting.Sela 9 Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring: 10 die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur. 11 Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. 12 Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting.Sel
Psalm 48:1–14 AFRIKAAN
2 Die Here is groot! Aan Hom kom al die lof toe hier in die stad van ons God, hier op sy heilige berg, 3 mooi, hoog geleë, en ’n vreugde vir die hele aarde, Sionsberg teen die noorde, die stad van die Groot Koning. 4 In hierdie goed versterkte stad het God Hom as beskermer geopenbaar. 5 Konings het bymekaargekom en as een mag opgetrek, 6 maar skaars het hulle die stad gesien of hulle het bang geword en verskrik op die vlug geslaan. 7 Angs het hulle daar beetgepak, vrees soos dié van ’n vrou wat ’n kind in die wêreld bring, 8 angs soos toe U met die oostewind die skepe van Tarsis verpletter het. 9 Soos ons daarvan gehoor het, het ons dit self ervaar hier in die stad van die Here, die Almagtige, in die stad van ons God, die stad wat Hy vir altyd vas laat staan.Sela 10 Hier in u tempel oordink ons u trou, o God. 11 Net soos u Naam, o God, so strek u lof oor die hele aarde. U mag het groot redding gebring. 12 Sionsberg moet bly wees, die stede van Juda moet oor u reddingsdade juig! 13 Gaan om Sion, trek reg rondom, tel sy torings, 14 bewonder sy mure, bekyk sy versterkings, sodat julle dit aan ’n volgende geslag kan vertel! 15 Dié God is ons God vir altyd; Hy sal ons altyd lei
Psalm 52:1–9 AFRIKAAN
3 Jy wat jou groot hou, jy spog verniet oor jou slegte dade! Onthou, God sorg altyd vir my. 4 Jy wil ander se ondergang bewerk, met jou vlymskerp tong pleeg jy bedrog. 5 Jy het die kwaad liewer as die goeie, en die leuen liewer as die waarheid.Sela 6 Jy saai graag verwarring met jou leuens! 7 Maar God sal jou vir altyd vernietig. Hy sal jou uitruk en wegsleep uit jou woonplek, Hy sal jou wegruk uit die land van die lewendes.Sela 8 As die regverdiges dit sien, sal hulle met ontsag vervul word en smalend van jou sê: 9 “Dis nou die man wat nie op God se krag wou steun nie, maar op sy eie rykdom vertrou het en hom sterk wou maak deur inhaligheid.” 10 Maar ek staan sterk soos ’n welige olyfboom; ek is in die huis van God en ek steun altyd daarop dat Hy vir my sorg. 11 Ek sal U altyd loof vir wat U gedoen het. Voor u dienaars sal ek u Naam prys, want U is goed
Psalm 54:1–7 AFRIKAAN
3 Red my deur u mag, o God, laat aan my reg geskied deur u krag. 4 Hoor my gebed, o God, luister na my woorde, 5 want vyande staan teen my op, geweldenaars soek my lewe, hulle hou geen rekening met God nie.Sela 6 Maar vir my help God altyd, die Here hou my lewe in stand. 7 Laat die onheil wat my teëstanders beplan, op hulleself neerkom. U is getrou: vernietig hulle. 8 Dan sal ek offers aan U bring, selfs meer as wat U vra, ek sal u Naam loof, Here, want U is goed, 9 U het my uit elke benoudheid gered en my oor my vyande laat triomfeer
Psalm 55:1–23 AFRIKAAN
2 Hoor my gebed, o God, moet tog nie onverskillig staan teenoor my smeking nie. 3 Luister na my gebed en antwoord my: my sorge gee my geen rus nie. Ek is hewig ontsteld 4 oor die dreigemente van my vyande en oor die druk van slegte mense op my. Hulle wil my met onreg breek; verwoed stook hulle vyandskap teen my. 5 My hart krimp inmekaar in my, doodsangs oorval my, 6 vrees en skrik oorweldig my, my hele liggaam bewe. 7 Ek het gedink: ag, as ek maar vlerke soos ’n duif gehad het, sou ek wegvlieg en ’n woonplek soek; 8 ek sou ver wegvlieg en in die woestyn gaan bly; Sela 9 ek sou haastig probeer wegkom van hierdie onstuimige wind, van hierdie storm af. 10 Dryf hulle uitmekaar, Here, maak hulle taal onverstaanbaar vir mekaar. Ek sien geweld en oproer in die stad; 11 dag en nag maal hulle rond op sy mure; daarbinne is onreg en onheil. 12 Daar heers wanorde in die stad, op sy pleine is daar net verdrukking en bedrog. 13 As dit nog my vyand was wat my smaad aangedoen het, sou ek dit kon verdra; as dit ’n teëstander was wat my wou verneder, sou ek hom kon probeer vermy. 14 Maar nou is dit jy, ’n man soos ek, my maat en my goeie vriend. 15 Ons was so nou aan mekaar verbonde; opgewonde het ons saam na die huis van God toe gegaan. 16 Mag die dood my vyande oorval! Mag hulle onverwags neerdaal na die doderyk, want in hulle huise en harte heers daar boosheid. 17 Maar ek roep na God, na die Here wat my sal red. 18 In die aand, in die môre en in die middag, heeldag kla en sug ek, en Hy hoor my roep. 19 Hy sal my lewe red en my die oorwinning gee, al is daar so baie teen wie ek moet veg. 20 God, wat van ewigheid af regeer, sal hoor en hulle verneder omdat hulle hulle nie bekeer nie en Hom nie dien nie. 21 My vyand het skaars ’n ooreenkoms gesluit of hy verbreek sy beloftes van trou. 22 Sy tong is gladder as botter, maar daar is oorlog in sy hart; sy woorde is so strelend soos olie, maar hulle is swaarde wat reg is om te steek. 23 Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie. 24 Maar daardie mense, o God, U sal hulle in die graf in laat neerdaal. Sulke moordenaars en bedrieërs sal in die fleur van hulle lewe sterf. Maar ek, op U vertrou ek
Psalm 56:1–13 AFRIKAAN
2 Wees my genadig, o God, want daar is mense wat my jaag, vyande wat my vervolg van die môre tot die aand. 3 Vroeg en laat jaag my teëstanders my, en ek het baie vyande, o Allerhoogste. 4 Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. 5 In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Wat kan ’n blote mens aan my doen? 6 Hulle vergal my lewe gedurig met beskuldigings teen my, al hulle bose planne is teen my gerig. 7 Hulle lê op die loer en hou my dop, hulle bly op my hakke, so gretig wag hulle op my dood. 8 Moenie dat hulle ongestraf bly vir hierdie vyandigheid nie! Laat u toorn hulle vernietig, o God! 9 My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken. 10 Die dag wanneer ek na U roep om hulp, val my vyande terug. Dít weet ek: God is aan my kant. 11 In God, wie se woord ek prys, in die Here, wie se woord ek prys, 12 in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Wat kan ’n mens aan my doen? 13 Ek moet my geloftes aan U nakom, o God, ek wil U met dankoffers betaal, 14 want U het my van die dood gered, my voet nie laat struikel nie, en met God by my kon ek my pad aanhou loop en die lewenslig bly sien
Psalm 57:1–11 AFRIKAAN
2 Wees my genadig, o God! Wees my genadig, want by U soek ek skuiling. Onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is. 3 Ek roep na God, die Allerhoogste, na God wat my sal help. 4 Hy sal uit die hemel antwoord en my red, Hy sal dié wat my jaag, die stryd laat verloor.Sela God sal antwoord in sy liefde en trou. 5 Ek is hier tussen leeus, tussen mense wat my wil verskeur. Hulle tande is spiese en pyle, hulle tonge is skerp swaarde. 6 Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel, u mag hoog bo die aarde. 7 Hulle het ’n strik vir my voete gespan, hulle wou my breek, hulle het ’n gat vir my gegrawe, maar self daarin geval.Sela 8 Ek voel weer veilig, o God! Ek voel weer veilig! Ek wil ’n lied sing, ja, ek wil sing. 9 Ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak! 10 Onder die volke wil ek U loof, Here, onder die nasies u lof besing, 11 want u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke! 12 Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel, hoog bo die aarde u mag
Psalm 59:1–17 AFRIKAAN
2 Red my van my vyande, my God, beskerm my teen my teëstanders, 3 red my van die mense wat onreg doen, bevry my van hierdie moordenaars! 4 Die geweldenaars lê my voor om my dood te maak, hulle wil my aanval. Maar ek het nie gesondig nie, ek het nie oortree nie, Here! 5 Ek is onskuldig en tog bestorm hulle my en val hulle my aan. Kom help my tog! Kyk wat doen hulle! 6 U is die Here God, die Almagtige, die God van Israel! Gryp tog in en straf al hierdie vyandige nasies! Moenie genade betoon aan sulke lae verraaiers nie.Sela 7 Hulle kom altyd in die aand terug, hulle grom soos honde en loop in die stad rond. 8 Die skuim staan om hulle bekke, en hulle wys hulle tande, want hulle dink niemand hoor hulle nie. 9 Maar U, Here, U lag hulle uit, U spot met al die nasies! 10 Ek wil my hoop op U gevestig hou, U, my Sterkte, want U is my veilige vesting! 11 My God sal my te hulp kom in sy trou, God sal my laat neersien op my teëstanders. 12 Moet hulle nie nou al doodmaak nie, sodat hulle straf nie ongemerk aan my volk verbygaan nie. Breek hulle stadig af deur u mag en laat hulle ondergaan, Here, ons Beskermer, 13 oor hulle woorde, die sonde uit hulle mond. Laat hulle gevang word deur hulle hoogmoed, deur die vervloekings wat hulle uitspreek, en die leuens wat hulle praat. 14 Vernietig hulle in u toorn, wis hulle heeltemal uit. Dan sal almal weet dat God oor sy volk Jakob en oor die hele aarde regeer.Sela 15 Hulle kom altyd in die aand terug, hulle grom soos honde en loop in die stad rond. 16 Hulle dwaal rond agter prooi aan en as hulle nie genoeg kry nie, tjank hulle. 17 Maar ék sal sing van u mag, elke môre sal ek jubel oor u trou, want U is vir my ’n veilige vesting, ’n skuilplek in tyd van nood. 18 Tot u eer wil ek sing, U, my Sterkte, want U is my veilige vesting, U is my troue God
Psalm 60:1–12 AFRIKAAN
3 U het ons verstoot, o God, ons uitmekaar geskeur. U was kwaad vir ons. Laat dit tog weer met ons goed gaan. 4 U het die land laat bewe en dit oopgekloof. Genees tog die wonde, want ons gaan tot niet. 5 U het ’n ramp oor u volk gebring, U het ons wyn laat drink wat ons laat steier het. 6 Trek tog u dienaars saam onder u vaandel dat hulle veilig kan wees teen die boog van die vyand.Sela 7 Red ons deur u groot mag, en help ons, sodat hulle vir wie U liefhet, gered kan word. 8 God het in sy heilige woning gesê: “As oorwinnaar sal Ek Sigem verdeel en die Sukkotlaagte uitdeel! 9 Aan My behoort Gilead, aan My behoort Manasse! Efraim is my vernaamste vesting, Juda my koninklike gebied. 10 Moab is tot my beskikking, Edom neem Ek in besit, oor Filistea juig Ek as oorwinnaar.” 11 Wie sal ons na Edom toe lei, ons bring na sy versterkte stad? 12 U het ons verstoot, o God, U trek nie saam met ons leërs uit nie, o God! 13 Help U ons tog teen die vyand, want die hulp van mense- dit is niks. 14 Met God aan ons kant sal ons oorwin, Hy self sal ons vyande vertrap
Psalm 61:1–8 AFRIKAAN
2 Hoor tog my hulpgeroep, o God, slaan tog ag op my gebed. 3 Ver uit die vreemde uit, in wanhoop, roep ek na U. Bring my op ’n rots waar ek veilig sal wees. 4 U is vir my ’n toevlug, ’n sterk vesting buite bereik van die vyand. 5 Laat my by U ’n blywende tuiste vind. Laat my skuil onder u vleuels.Sela 6 U, o God, hoor my geloftes, U vervul die wens van hulle wat u Naam eer. 7 Laat die koning lank lewe, laat sy lewensjare oor geslagte strek. 8 Mag hy sy lewe lank regeer voor God, mag u liefde en trou hom bewaar! 9 Dan sal ek u Naam altyd besing en dag na dag my geloftes betaal
Psalm 62:1–12 AFRIKAAN
2 Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. 3 Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan. 4 Hoe lank wil julle almal nog beskuldigings bly slinger en my probeer doodmaak, ’n man wat reeds is soos ’n muur wat wil omval, ’n klipmuur wat omgestoot word? 5 Hulle probeer my uitwerk; hulle skep behae in leuens; met die mond seën hulle, in die hart vervloek hulle.Sela 6 Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. 7 Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan. 8 God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug. 9 Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ’n toevlug.Sela 10 Mense is verganklik, mense is niks: op ’n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks. 11 Moenie op geweld vertrou nie; roof sal jou niks in die sak bring nie. As jou rykdom toeneem, moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie. 12 Een ding het ek God hoor sê, nee, twee: dat net God mag het 13 en ’n mens net op U, Here, kan vertrou, en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste
Psalm 63:1–11 AFRIKAAN
2 Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ’n dor en droë land, ’n land sonder water. 3 Ek wil by U in die heiligdom wees om daar u mag en grootheid te ondervind. 4 U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys. 5 Ek sal U my lewe lank loof, my hande ophef om u Naam te prys. 6 Soos elke keer wanneer ek u goeie gawes geniet, sal ek U altyd roem met jubelende mond. 7 As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek: 8 U is vir my ’n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels. 9 Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my. 10 Maar hierdie mense wat my ondergang soek, mag hulle wegsink in die dieptes van die aarde! 11 Mag hulle aan die swaard oorgegee word en aas vir die jakkalse word! 12 Laat die koning hom in God verbly, laat elkeen wat hom op God verlaat, Hom prys. Die mond van die vals mens word toegestop
Psalm 67:1–7 AFRIKAAN
2 Mag God ons genadig wees en ons seën, mag Hy tot ons redding verskyn,Sela 3 sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word, sy reddende krag onder alle nasies. 4 Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof! 5 Mag die nasies bly wees en jubel omdat U hulle regverdig regeer en hulle op die aarde lei.Sela 6 Mag die volke U loof, o God, mag al die volke U loof! 7 Die land het sy oes gelewer. God, ons God, het ons geseën. 8 God het ons geseën. Die mense op die hele aarde moet Hom eer
Psalm 69:1–36 AFRIKAAN
2 Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom. 3 Ek het weggesak in diep modder waarin ek nie kan staan nie. Ek het in diep waters beland waarin die stroom my meegesleur het. 4 Ek het my moeg geroep om hulp, my keel is hees geroep, selfs my oë het ingegee soos ek vir my God gewag het. 5 Dié wat my sonder rede haat, is meer as die hare op my kop. Dié wat my vir altyd wil stilmaak, is sterk. My vyande dwing my met vals beskuldigings om af te gee wat ek nie geroof het nie. 6 U weet hoe sondig ek is, o God, my verkeerde dade kan ek tog nie vir U wegsteek nie. 7 Here, almagtige God, moenie dat dié wat op U vertrou, deur my toedoen teleurgestel word nie. God van Israel, moenie dat dié wat by U hulp soek, deur my toedoen beskaam word nie. 8 Omdat ek op U vertrou, word ek beledig en verkleineer. 9 Ek het vreemd geword vir my broers, my familie wil my nie meer ken nie. 10 Omdat ek u huis liefhet, moet ek ly; die beledigings teen U het ook vir my getref. 11 Ek het gevas en gehuil en daarvoor net beledigings gekry. 12 Ek het rouklere aangetrek, maar hulle het met my gespot. 13 Die leeglêers in die stadspoort maak praatjies oor my, en dronklappe maak liedjies oor my. 14 My gebed is tot U gerig, Here, antwoord my tog gou, Here, antwoord my in u groot liefde, o God; u hulp staan vas. 15 Red my uit die modder, dat ek nie wegsak nie, laat my wegkom van my vyande af, weg uit die diep waters. 16 Moenie dat die stroom my meesleur en die diep water my insluk nie, en moenie dat hierdie put toegaan bokant my nie. 17 Antwoord my, Here, in u wonderlike liefde, verhoor my in u groot barmhartigheid! 18 Moet tog nie u dienaar alleen laat nie! Ek is in groot gevaar, antwoord my tog gou! 19 Kom red my lewe, bevry my van my vyande. 20 U weet hoe ek beledig en verkleineer is, hoe sleg ek daarvan afgekom het voor al my vyande. 21 Beledigings het my gebreek, ek is gedaan. Ek het gehoop op meegevoel, maar tevergeefs, op mense om my te troos, maar daar was nie een nie. 22 Toe ek honger was, het hulle my gif aangebied, toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink. 23 Laat hulle feeste hulle tot ’n val bring en hulle offermaaltye hulle ondergang wees. 24 Laat hulle stokblind word, laat hulle gebreklik word. 25 Laat u straf hulle tref en die vlam van u toorn hulle oorval. 26 Laat hulle blyplekke verwoes word sodat daar niemand oor is in hulle wonings nie, 27 want hulle vervolg hom wat swaar deur U getref is en verlustig hulle in die pyn van hom wat deur U deurboor is. 28 Reken ook dít by hulle skuld sodat hulle nie vrygespreek word nie! 29 Skrap hulle name uit die boek van die lewe dat dit nie saam met dié van die regverdiges opgeskryf staan nie! 30 Ek is ’n hulpelose mens, vol pyn, maar U, o God, sal my red en my beskerm. 31 Dan sal ek die Naam van God besing, Hom met ’n danklied prys. 32 So ’n offer is vir die Here verkiesliker as selfs ’n volmaakte offerdier. 33 Die verdruktes sal my lied hoor en bly wees, dié wat by God hulp soek, sal moed skep, 34 want die Here slaan ag op die armes, Hy vergeet nie sy mense wat gevangenes is nie. 35 Laat hemel en aarde Hom prys, die see met alles wat daarin wemel. 36 God sal Sion red en die stede van Juda herbou. Sy volk sal daarin woon en die land besit. 37 Die nasate van God se dienaars sal dit erf en dié wat sy Naam liefhet, sal daarin woon
Psalm 70:1–5 AFRIKAAN
2 Red my tog, o God, Here, kom my tog gou te hulp! 3 Laat dié wat my lewe wil neem, self in die ellende beland, teleurgestel in hulle verwagting. Laat dié wat graag my ondergang wil sien, op die vlug slaan en beskaamd staan. 4 Laat dié wat my spot, padgee omdat hulle self in die ellende beland het. 5 Laat almal wat by U hulp soek, jubel en bly wees oor U, laat dié wat op u hulp staat maak, altyddeur sê: God is groot! 6 Ek is hulpeloos en arm; kom tog gou na my toe, o God. U is my hulp en my redder, Here, moet tog nie talm nie
Psalm 71:1–24 AFRIKAAN
1 By U, Here, skuil ek, laat my tog nooit teleurgestel staan nie! 2 Red my en bevry my, want U is getrou. Luister tog na my en help my! 3 Wees vir my ’n rots om na toe te vlug, waar ek altyd die veiligheid mag vind wat U tot my redding beskik het, want U is my rots en my vesting. 4 My God, bevry my uit die hand van goddeloses, uit die greep van skurke en verdrukkers, 5 want U, Here, U is my hoop, op U, Here, het ek van jongs af vertrou. 6 U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm. U loof ek gedurigdeur. 7 Ek is vir baie ’n wonder, want U is my veilige toevlug. 8 Ek besing u lof en u roem gedurigdeur. 9 Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie, moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie. 10 My vyande sweer saam teen my, dié wat my lewe soek, smee ’n komplot teen my. 11 Hulle sê: “God het hom alleen gelaat! Agtervolg hom en gryp hom, want daar is niemand om hom te red nie!” 12 Moet tog nie ver van my af bly nie, o God, kom my tog gou te hulp, my God! 13 Laat dié wat my vals beskuldig, self in die ellende beland en vernietig word. Laat oor dié wat my ondergang soek, net skande en mislukking kom. 14 Ek, ek sal gedurigdeur bly hoop, ek sal U altyd weer loof. 15 Sonder ophou sal ek van u verlossingswerk, van u reddingsdade bly praat, want hulle is meer as wat ek kan tel. 16 Ek kom om u magtige dade te prys, Here my God, die verlossingswerk wat net U kan doen. 17 U het my van jongs af onderrig, o God, en ek getuig nou nog van u kragtige dade. 18 Nou dat ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen laat nie, o God, dat ek nog aan die geslagte wat kom, kan vertel van u werk en u mag. 19 U verlossingswerk, o God, is oneindig groot; groot is die dinge wat U gedoen het! Wie is soos U, o God? 20 U het talle benoude ervaringe oor my gebring, maar elke keer weer my lewe gered, my elke keer weer weggeruk uit die mag van die dood. 21 Herstel my tog in my eer, gee tog uitkoms! 22 Dan sal ek U met die harp loof vir u getrouheid, my God, saam met die lier sal ek sing tot u eer, Heilige van Israel. 23 Ek sal jubel as ek tot u eer sing, omdat U my gered het. 24 Ek sal die hele dag deur praat van u verlossingswerk, want dié wat my ondergang soek, staan teleurgestel in hulle verwagting; hulle beland self in die ellende
Psalm 73:1–28 AFRIKAAN
1 ’n Psalm van Asaf. God is vir Israel baie goed, vir dié wat rein van hart is. 2 Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, 3 want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien. 4 Hulle het geen kwellings nie, hulle is sterk en gesond, 5 hulle het nie sorge soos ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie. 6 Daarom hang die trots aan hulle soos ’n halssnoer en kleef geweld aan hulle soos ’n kleed. 7 In die weelde van hulle voorspoed matig hulle hulle enigiets aan; 8 smalend stook hulle kwaad, hooghartig dreig hulle met geweld. 9 Hulle laster teen die hemel en beledig links en regs op die aarde. 10 Tog hang die volk hulle aan en drink gretig hulle woorde in. 11 Hulle vra: “Hoe sal God dit uitvind? Hoe sal die Allerhoogste dit weet?” 12 Dit is hoe die goddelose mense is! So gaan hulle ongehinderd voort om rykdom op te hoop! 13 Dat ek die kwaad vermy het en met ’n eed my onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie, 14 want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe môre straf. 15 Maar as ek so sou aanhou praat, sou ek dié verloën wat aan U behoort. 16 Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik 17 totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is. 18 U laat hulle op gladde plekke loop, U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei. 19 In ’n oogwink word hulle iets afgrysliks, gaan hulle te gronde, tref ’n verskriklike einde hulle. 20 Net soos ’n droom wat ophou as ’n mens wakker word, so verdwyn hulle, Here, as U ingryp. 21 Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het, 22 was ek dom en sonder insig; soos ’n redelose dier het ek my teenoor U gedra. 23 Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. 24 U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. 25 Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. 26 Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd. 27 Dié wat ver van U af is, gaan verlore, U vernietig dié wat aan U ontrou is. 28 Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke bly vertel
Psalm 74:1–23 AFRIKAAN
1 ’n Gedig van Asaf. Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot? Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort? 2 Dink tog aan u gemeente wat U lank gelede u eiendom gemaak het, die volk wat U vir Uself as besitting verkry het, Sionsberg waarop U gewoon het! 3 Kom loop tog deur die plek wat so lank al in puin lê, die heiligdom wat die vyand so totaal verwoes het. 4 Die oorwinningskreet van u vyande het in die plek van samekoms weerklink, en hulle het hulle vaandel daar opgerig. 5 Dit het gelyk soos wanneer iemand met ’n byl bosse skoonkap. 6 Hulle het al die houtsneewerk met byl en koevoet stukkend geslaan. 7 Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek, die woonplek van u Naam tot op die grond afgebreek. 8 Hulle het vir hulleself gesê: “Ons sal alles vernietig.” En hulle het elke plek van samekoms in die land aan die brand gesteek. 9 U openbaar U nie meer aan ons nie, daar is geen profeet meer nie, niemand onder ons wat weet hoe lank dit nog gaan duur nie. 10 Hoe lank, o God, sal ons teëstanders ons nog verneder? Sal die vyand u Naam vir altyd bly belaster? 11 Waarom help U ons nie? Waarom lig U nie u hand op en vernietig die vyand nie? 12 God is van altyd af my koning, dit is Hy wat op die aarde redding bring. 13 Dit is U wat deur u mag die see onstuimig gemaak het, U wat die koppe van die monsters in die see vermorsel het. 14 U wat die koppe van die Leviatan verpletter het en hom vir die haaie gegee het, 15 U wat fontein en stroom laat uitbreek het, U wat standhoudende riviere laat opdroog het. 16 Dit is U aan wie dag en nag behoort, U wat aan die son en die maan hulle plek gegee het, 17 U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand. 18 Dink tog hieraan: die vyand spot met U, Here, ’n barbaarse volk belaster u Naam. 19 Moet tog nie dié wat deur U onderrig is, aan hierdie ondiere uitlewer nie, moet tog nie u verdrukte volk vir goed vergeet nie! 20 Dink tog aan u verbond, want selfs in die uithoeke van die land is daar verdrukking. 21 Moenie dat die verdrukte teleurgestel omdraai nie, red die hulpelose en die arme, laat hulle u Naam prys. 22 Kom tog, o God! Laat geld tog u reg. Dink tog daaraan hoe u eer dag vir dag deur barbare geskend word. 23 Moet dit tog nie ongemerk laat verbygaan nie: die geskreeu van u teëstanders, die aanhoudende rumoer van u vyande
Psalm 84:1–12 AFRIKAAN
2 Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige! 3 Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God. 4 Selfs ’n mossie het ’n nes en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my God! 5 Dit gaan goed met mense vir wie u huis ’n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie.Sela 6 Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan. 7 Vir hulle gaan daar fonteine oop wanneer hulle deur ’n dorre laagte trek en die vroeë reëns sy seëninge bring. 8 Keer op keer ontvang hulle nuwe krag totdat hulle voor God in Sion verskyn. 9 Here, almagtige God, hoor my gebed, luister tog, God van Jakob!Sela 10 Sien tog om na die koning, ons beskermer, o God; hou u gesalfde onder u sorg. 11 Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God. 12 Die Here God is ons krag en ons beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie. 13 Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou
Psalm 85:1–13 AFRIKAAN
2 U was goed vir u land, Here, U het aan die nageslag van Jakob ’n nuwe toekoms gegee; 3 U het u volk sy sonde nie toegereken nie, hom al sy skuld kwytgeskel.Sela 4 U het u woede laat bedaar, u gloeiende toorn laat afkoel. 5 Ontferm U weer oor ons, o God, ons Verlosser, moet tog nie langer op ons toornig wees nie! 6 Sal U dan altyd vir ons kwaad bly? Sal U dan u toorn van geslag tot geslag laat voortduur? 7 Wil U nie weer die lewe vir ons nuut maak sodat u volk hulle vreugde in U kan vind nie? 8 Laat ons u troue liefde belewe, skenk ons u reddende hulp, Here. 9 Ek wil luister na wat God die Here sê, want sy woord bring vrede vir sy volk, vir dié wat Hom getrou dien. Hulle moet net nie weer afdwaal nie. 10 Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien: Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar. 11 Liefde en trou sal mekaar ontmoet, geregtigheid en vrede sal mekaar omhels; 12 trou sal uit die aarde uit opspruit, geregtigheid sal uit die hemel uit afkom. 13 Die Here sal voorspoed skenk en ons land sal sy oes gee. 14 Die geregtigheid sal Hom vooruitgaan en ’n pad maak vir sy koms
Psalm 86:1–17 AFRIKAAN
1 ’n Gebed van Dawid. Luister tog na my, Here, verhoor my gebed, want ek is hulpeloos en arm. 2 Beskerm my, want ek is u troue dienaar, red my, want U is my God, op U vertrou ek. 3 Wees my genadig, Here, ek roep die hele dag deur na U. 4 Maak my bly, Here, ek hunker na U. 5 U is goed, Here, U vergewe altyd weer, U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp. 6 Luister na my gebed, Here, gee tog ag op my smeekgebed. 7 Op die dag van my nood roep ek na U, U sal my gebed verhoor. 8 Daar is geen god soos U nie, Here, niks kan met u werk vergelyk word nie. 9 U het al die nasies gemaak; hulle sal voor U kom buig, Here, en aan u Naam die eer gee, 10 want U is groot en doen magtige dade, U alleen is God. 11 Leer my u pad, Here, ek wil wandel in u waarheid; leer my U met toewyding dien. 12 Met my hele hart sal ek U prys, Here my God, u Naam altyd eer, 13 want u liefde vir my was groot: uit die dieptes van die dood het U my gered. 14 Dit is hovaardige mense wat my aanval, o God, ’n bende geweldenaars wat my wil doodmaak, mense wat met U nie rekening hou nie. 15 U, Here, is ’n barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 16 Sien my, u dienaar van my geboorte af, in genade aan, gee U my tog krag en red my. 17 Maak my ’n voorbeeld van u goedheid, sodat dié wat my haat, verleë sal moet toesien dat U, Here, my help en vir my uitkoms gee
Psalm 89:1–18 AFRIKAAN
2 Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade, sy trou verkondig aan komende geslagte. 3 Ek sê: “U liefde en u trou wankel nooit, dit hou vir altyd stand in hemel en op aarde.” 4 U het gesê: “Ek het ’n verbond gesluit met my uitverkorene, Ek het ’n eed gesweer vir my dienaar Dawid: 5 Ek sal vir jou ’n nageslag verseker vir altyd en jou troon in elke geslag laat standhou.”Sela 6 Die hemel loof u wondermag, Here, die hemelinge loof u trou. 7 Wie in die hemel kan met die Here vergelyk word? Wie onder die hemelwesens is soos die Here? 8 Hy is God, vir Hom het die hemelse vergadering ’n heilige ontsag. Hy is magtig, gevrees onder almal rondom Hom. 9 Here, almagtige God, wie is soos U? U krag is groot, Here, u trou is oral! 10 U heers oor die onstuimige see: as sy golwe opstaan, laat U hulle bedaar. 11 U het die monster Rahab verbrysel, hy is verslaan. Deur u groot mag het U u vyande uitmekaargejaag. 12 Aan U behoort die hemel, aan U behoort ook die aarde, die wêreld en alles daarin. U het alles gemaak. 13 Die noorde en die suide, U het dit geskep; Tabor en Hermonberg roem u Naam. 14 U het ’n magtige arm, sterk is u hand, kragtig u regterhand. 15 U troon is gebou op geregtigheid en reg, liefde en trou staan in u diens. 16 Dit gaan goed met die volk wat kan jubel tot u eer, wat in u lig lewe, Here. 17 Hulle besing u Naam die hele dag, hulle prys u reddingsdade; 18 U is die krag waarin hulle roem. Dit is ons sterkte: dat ons u guns geniet. 19 Ons koning behoort aan die Here, ja, ons beskermer behoort aan die Heilige van Israel.
Psalm 91:1–16 AFRIKAAN
1 Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, 2 hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.” 3 Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou en jou bewaar van dodelike siekte. 4 Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. 5 Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, 6 vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie. 7 Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie. 8 Met jou eie oë sal jy sien hoe die goddelose gestraf word. 9 Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, 10 sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie. 11 Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. 12 Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie. 13 Jy sal oor leeus en adders loop, leeus en slange sal jy dood trap. 14 “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm. 15 Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel. 16 ’n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly.
Psalm 92:1–15 AFRIKAAN
2 Dit is goed om die Here te loof, om u Naam te besing, Allerhoogste, 3 om elke môre van u liefde te getuig, en elke aand van u trou, 4 om dit te doen met snaarinstrumente, met harp en lier. 5 U groot dade, Here, het my baie bly gemaak, ek wil juig oor wat U gedoen het. 6 Groots is alles wat U doen, Here, ondeurgrondelik u gedagtes. 7 Wie dit nie besef nie, is ’n dom mens, wie dit nie insien nie, is sonder verstand. 8 Al is die goddelose voorspoedig, al floreer almal wat onreg doen, hulle sal vir goed uitgewis word. 9 U regeer vir ewig, Here, 10 en dit staan vas: u vyande sal uitgedelg word, Here, almal wat onreg doen, sal vernietig word. 11 Maar vir my gee U krag soos dié van ’n buffel, U laat my ’n oorwinningsfees vier. 12 Ek kyk op my teëstanders neer, ek luister sonder vrees na die mense wat niks ontsien nie, wat in opstand teen my is. 13 Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon. 14 Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God. 15 Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees. 16 So sal blyk dat die Here regverdig is, dat daar by Hom geen onreg is nie. Hy is my rots
Psalm 94:1–23 AFRIKAAN
1 Here, God wat onreg straf, U wat onreg straf, verskyn tog! 2 Kom, Regter van die aarde, reken af met die mense wat hulle teen U verhef. 3 Hoe lank, Here, hoe lank sal die goddeloses hulle nog verlustig in die leed van ander mense? 4 Hulle kook oor van vermetelheid; almal wat onreg doen, spog daarmee. 5 Hulle vertrap u volk, Here, hulle verdruk die volk wat aan U behoort; 6 hulle vermoor weduwees en vreemdelinge, hulle maak weeskinders dood 7 en dink die Here sien dit nie, die God van Jakob merk dit nie. 8 Gebruik tog julle verstand, julle wat so dom optree onder die volk. Julle dwase, wanneer wil julle dan verstandig word? 9 Sou Hy wat vir ons ore gemaak het, self nie kan hoor nie? Sou Hy wat vir ons oë gemaak het, nie kan sien nie? 10 Sou Hy wat die nasies opvoed, nie ook straf nie? Sou Hy wat die mensdom onderrig, self niks weet nie? 11 Die Here ken die gedagtes van die mens, Hy weet dit beteken niks. 12 Dit gaan goed met die mens wat deur U opgevoed word, Here, vir wie U onderrig in u woord 13 en vir wie U rus gee na tye van teëspoed. Maar vir die goddelose word die graf reeds gegrawe. 14 Die Here verstoot nie sy volk nie, die volk wat aan Hom behoort, laat Hy nie in die steek nie. 15 Die regspraak sal weer regverdig wees, alle opregtes sal hulle daaraan kan hou. 16 Wie staan by my teen dié wat my leed aandoen? Wie help my teen mense wat my veronreg? 17 As die Here my nie gehelp het nie, was die stilte van die graf seker al my tuiste! 18 Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. 19 Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring. 20 U duld geen korrupsie in die regspraak nie, geen mens wat, teen u gebod in, ellende veroorsaak nie. 21 Hulle span saam teen die regverdige, hulle veroordeel onskuldige mense tot die dood. 22 Maar vir my is die Here ’n veilige vesting. My God is die rots waar ek kan skuil. 23 Hy sal hulle laat boet vir hulle dade, Hy sal hulle verdelg oor hulle boosheid. Die Here ons God sal hulle verdelg
Psalm 102:1–28 AFRIKAAN
2 Here, luister tog na my gebed, hoor tog my geroep om hulp! 3 Moet U tog nie van my afsydig hou nou dat ek in die nood is nie. Luister tog na my wanneer ek U aanroep, verhoor tog gou my gebed, 4 want vir my verdwyn die dae soos rook. My liggaam brand soos vuur, 5 ek is verskroei en uitgedroog soos gras, ek het alle eetlus verloor. 6 Ek het net vel en been geword van al die pyn. 7 Ek voel so verlate soos ’n pelikaan in ’n woestyn, soos ’n uil tussen murasies. 8 As ek wakker word, voel ek soos ’n eensame voël op ’n huis se dak. 9 Die dae deur verneder my vyande my. Dié wat my so verkleineer, gebruik my naam as ’n vloekwoord. 10 As is my daaglikse brood; wat ek drink, is met my trane gemeng, 11 want u toorn en u gramskap het my getref, U het my verwerp en weggegooi. 12 Soos ’n skaduwee wat lank word, is my lewe naby sy einde, ek is soos verdroogde gras. 13 U, Here, U heers vir altyd, U is daar van geslag tot geslag. 14 U sal ingryp en U oor Sion ontferm, want die bestemde tyd het aangebreek, die tyd om hom genadig te wees. 15 Ons, u dienaars, het elke klip van Sion lief, ons is bewoë oor sy puin. 16 Die nasies sal die Here vrees en al die konings van die aarde sy mag, 17 want die Here gaan Sion weer opbou wanneer Hy in sy mag verskyn. 18 Hy luister na die gebed van dié wat alles verloor het, Hy sal hulle gebed nie verag nie. 19 Laat dit opgeteken word vir die geslag wat kom, sodat die nuut geskape volk die Here kan loof. 20 Hy het uit sy heilige woning na onder gekyk en uit die hemel gesien wat op die aarde gebeur, 21 die gekerm van die gevangenes gehoor en dié wat naby die dood was, bevry. 22 Hulle sal die Naam van die Here in Sion besing en sy lof in Jerusalem 23 wanneer die volke en die koninkryke bymekaarkom om die Here te dien. 24 Hy het my krag gebreek toe ek nog jonk was, Hy het my lewe verkort. 25 Ek sê: “My God, moet my nie in die fleur van my lewe wegneem nie! U is daar deur die geslagte heen. 26 In die voortyd al het U die aarde gevestig en die hemele met u eie hande gemaak. 27 Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly. Soos ’n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan, soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn. 28 Maar U bly dieselfde, u jare het geen einde nie.” 29 Ons nageslag sal die land bly bewoon, ons nakomelinge sal veilig voor U woon
Psalm 106:1–23 AFRIKAAN
1 Prys die Here! Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! 2 Wie kan die magtige dade van die Here onder woorde bring? Wie kan sy lof ten volle verkondig? 3 Dit gaan goed met mense wat die reg handhaaf, wat by elke geleentheid geregtigheid doen. 4 Dink aan my, Here, in u liefde vir u volk, sluit my ook in by u redding, 5 dat ek die voorspoed van u uitverkorenes mag aanskou en mag deel in die blydskap van u volk, my mag verheug saam met dié wat aan U behoort. 6 Ons het gesondig, net soos ons voorvaders, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig. 7 Ons voorvaders het in Egipte nie ag geslaan op u magtige dade nie, hulle het nie gedink aan al u dade van trou nie, hulle het teen U in verset gekom by die Rietsee. 8 Maar Hy het hulle gered ter wille van die eer van sy Naam en om sy mag bekend te maak. 9 Hy het die Rietsee aangespreek en dit het opgedroog, Hy het sy volk oor die seebodem laat trek soos oor droë grond. 10 So het Hy hulle gered uit die hand van hulle haters, hulle bevry uit die mag van die vyand. 11 Die waters het hulle teëstanders verswelg, nie één het oorgebly nie. 12 Tóé het sy volk sy beloftes geglo en sy lof besing. 13 Maar hulle het gou vergeet wat Hy gedoen het en nie op sy leiding gewag nie. 14 Hulle het skaamteloos meer kos geëis in die woestyn, daar in die barre wêreld het hulle die geduld van God beproef. 15 Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar hulle van siekte laat wegteer. 16 Langs die trekpad het hulle hulle in afguns teen Moses verset en teen Aäron wat aan die Here gewy was. 17 Toe het die aarde geskeur en vir Datan verslind, dit het die bende van Abiram verswelg. 18 ’n Vuur het hulle hele bende verteer, die goddelose het in die vlamme omgekom. 19 By Horeb het hulle ’n kalf gemaak, voor ’n god van metaal gekniel. 20 Hulle het die magtige teenwoordigheid van God verruil vir die beeld van ’n bees wat gras vreet. 21 So het hulle vir God, hulle redder, vergeet, Hy wat groot dinge in Egipte gedoen het, 22 wonderdade in die land van Gam, magtige dade by die Rietsee. 23 Die Here wou hulle verdelg, maar Moses, sy uitverkorene, het by Hom vir hulle in die bres getree om sy gramskap af te keer, sodat Hy hulle nie vernietig het nie.
Psalm 108:1–13 AFRIKAAN
2 Ek voel weer veilig, o God, ek wil ’n lied sing, ja, ek wil sing, 3 ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak! 4 Onder die volke wil ek U loof, Here, onder die nasies u lof besing, 5 want u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke. 6 Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel, hoog bo die aarde u mag. 7 Verlos ons deur u groot mag, en help ons, sodat hulle vir wie U liefhet, gered kan word. 8 God het in sy heilige woning gesê: “As oorwinnaar sal Ek Sigem verdeel en die Sukkotlaagte uitdeel! 9 Aan My behoort Gilead, aan My behoort Manasse! Efraim is my vernaamste vesting, Juda my koninklke gebied. 10 Moab is tot my beskikking, Edom neem Ek in besit, oor Filistea juig Ek as oorwinnaar.” 11 Wie sal ons na Edom toe lei, ons bring na sy goed beskermde stad? 12 U het ons verstoot, o God, U trek nie saam met ons leërs uit nie, o God! 13 Help U ons tog teen die vyand, want die hulp van mense—dit is niks. 14 Met God aan ons kant sal ons oorwin, Hy self sal ons vyande vertrap
Psalm 112:1–10 AFRIKAAN
1 Prys die Here! Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien, wat al sy vreugde vind in die gebooie van die Here. 2 Sy nageslag is ’n sterk krag in die land, die geslag van die opregte word geseën: 3 daar is oorvloed en rykdom in sy huis. Wat hy doen, is reg en blywend: 4 hy laat sy lig in die donker uitstraal vir die opregtes, hy is genadig, barmhartig en regverdig. 5 Dit is ’n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen en in al sy sake reg optree. 6 Die regverdige sal nooit wankel nie, hy sal altyd onthou word. 7 Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Here. 8 Hy voel hom veilig, hy is nie bevrees nie: hy sal die neerlaag van sy vyande aanskou. 9 Hy gee mildelik vir die armes. Wat hy doen, is reg en blywend. Hy geniet hoë aansien. 10 Die goddelose sien dit en raak ontsteld, hy kners op sy tande van magteloosheid. Van die begeertes van die goddelose kom daar niks
Psalm 115:1–18 AFRIKAAN
1 Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys. 2 Waarom sou die heidene kan sê: “Waar is hulle God nou?” 3 En dit terwyl ons God in die hemel is! Alles wat Hy wil, doen Hy. 4 Wat húlle het, is afgode, van silwer en goud, die werk van mensehande. 5 ’n Mond het hulle, maar praat kan hulle nie, oë het hulle, maar sien kan hulle nie; 6 ore het hulle, maar hoor kan hulle nie; ’n neus het hulle, maar ruik kan hulle nie. 7 Hulle hande, daarmee kan hulle nie voel nie, hulle voete, daarmee kan hulle nie loop nie. Daar kom geen geluid uit hulle keel nie. 8 Wie hulle maak en op hulle vertrou, sal net soos hulle word. 9 Israel, vertrou op die Here! Hy help en beskerm jou. 10 Huis van Aäron, vertrou op die Here! Hy help en beskerm jou. 11 Julle wat die Here dien, vertrou op die Here! Hy help en beskerm julle. 12 Die Here dink aan ons: Hy seën, Hy seën die huis van Israel, Hy seën die huis van Aäron, 13 Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot. 14 Mag die Here julle talryk maak, julle én julle kinders. 15 Mag die Here julle seën, Hy wat hemel en aarde gemaak het. 16 Die hemel is net vir die Here, maar die aarde het Hy aan die mense gegee. 17 Nie die dooies prys die Here nie, nie dié wat die graf in is nie, 18 maar óns, ons prys die Here, nou en vir altyd! Prys die Here
Psalm 116:1–19 AFRIKAAN
1 Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede. 2 Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het. 3 Bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp, ek het benoud en bekommerd geword. 4 Toe het ek die Naam van die Here aangeroep: “Here, red my tog!” 5 Die Here is genadig en regverdig, ons God ontferm Hom oor ons. 6 Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos, maar Hy het my gered. 7 Ek moet nou tot rus kom, die Here het goed aan my gedoen: 8 U het my van die dood gered, U het ’n einde gemaak aan my trane, U het gesorg dat ek nie weer struikel nie. 9 Ek kon voor die Here bly wandel in die land van die lewendes. 10 Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my 11 en toe ek in my vertwyfeling besef het: ek kan op geen mens staat maak nie. 12 Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my? 13 Met ’n drankoffer sal ek van sy redding getuig en die Naam van die Here aanroep. 14 My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk. 15 Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie. 16 Ek is u dienaar, Here, van my geboorte af is ek al u dienaar: U het my vry gemaak. 17 Ek wil U loof met ’n dankoffer, ek wil die Naam van die Here aanroep. 18 My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk, 19 in die voorhowe van die huis van die Here, binne-in jou, Jerusalem! Prys die Here
Psalm 118:1–29 AFRIKAAN
1 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! 2 Israel moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 3 Die huis van Aäron moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 4 Dié wat die Here dien, moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.” 5 In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry. 6 Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ’n mens aan my doen? 7 Die Here is by my, Hy help my: ek sal neerkyk op dié wat my haat. 8 Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou. 9 Om by die Here te skuil, is beter as om op hoë mense te vertrou. 10 Nasies het van alle kante af op my afgestorm. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan. 11 Hulle het my omsingel, my van alle kante bestorm. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan. 12 Hulle het soos bye om my gepak, maar hulle het verdwyn soos doringtakke in ’n vuur. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan. 13 My vyande wou my platloop en my ondergang bewerk, maar die Here het my gehelp. 14 Die Here is my krag en my beskerming. Dit is Hy wat my gered het! Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars: “Die Here doen kragtige dade, 16 die Here triomfeer, die Here doen kragtige dade!” 17 Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig. 18 Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee nie. 19 Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof. 20 Dit is die poort na die Here toe; regverdiges mag daardeur ingaan. 21 Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor en my gered het. 22 Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. 23 Dit is deur die Here gedoen en is ’n wonder in ons oë! 24 Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. 25 Red tog, Here, gee tog voorspoed, Here! 26 Prys hom wat in die Naam van die Here kom! Ons seën julle uit die huis van die Here. 27 Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke! Gaan tot by die horings van die altaar. 28 U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing. 29 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie
Psalm 119:41–48 AFRIKAAN
41 Bewys aan my u troue liefde, Here, red my volgens u belofte. 42 Dan sal ek die wat my vals beskuldig, kan antwoord, want ek vertrou op u woord. 43 Weerhou my tog van alles wat onwaar is. In u bepalings stel ek my vertroue. 44 Ek wil u wet my hele lewe lank onderhou. 45 My lewe sal veilig wees, want ek vra steeds wat u bevele is. 46 Selfs voor die hoogste gesag sal ek u verordeninge met vrymoedigheid aanhaal. 47 In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig. 48 Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek al my hoop vestig. U voorskrifte sal my bybly.
Psalm 119:73–80 AFRIKAAN
73 Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm; gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan. 74 Dié wat U dien, is bly as hulle my sien, want ek vertrou op u woord. 75 Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is. Dat U my laat swaarkry, is ’n teken van u trou. 76 Gee tog vir my uitkoms deur u troue liefde, soos U my beloof het. 77 Ontferm U oor my, dat ek kan lewe, want ek verlustig my in u wet. 78 Laat die hovaardige mense die slegste daarvan afkom, want hulle het my vals beskuldig; u bevele bly my altyd by. 79 Laat dié wat U dien en u verordeninge ken, aan my kant wees. 80 Laat my volledig by u voorskrifte bly, sodat ek nooit raad-op sal wees nie.
Psalm 119:145–152 AFRIKAAN
145 Ek roep na U met my hele hart, verhoor tog my gebed, Here, ek wil u voorskrifte nakom. 146 Ek roep na U, red my, ek wil u verordeninge gehoorsaam. 147 In die oggendskemer al roep ek om hulp en stel ek my vertroue in u woord. 148 Die hele nag lê ek wakker en oorpeins ek u woord. 149 Handel volgens u liefde, Here, luister tog na my. Laat u bepalings geld, hou my in die lewe. 150 Dié wat my met soveel lis vervolg, kom steeds nader, maar van u wet af bly hulle ver. 151 U is by my, Here, alles wat U gebied het, staan vas. 152 Van lankal af weet ek van u verordeninge dat U hulle altyd vas laat staan.
Psalm 121:1–8 AFRIKAAN
1 ’n Pelgrimslied. Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? 2 My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. 3 Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie. 4 Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. 5 Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. 6 Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. 7 Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. 8 Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd
Psalm 124:1–8 AFRIKAAN
1 ’n Pelgrimslied. Van Dawid. As die Here ons nie gehelp het nie, dit moet Israel bely, 2 as die Here ons nie gehelp het toe mense ons aangeval het nie, 3 dan het hulle ons lewendig verslind toe hulle woede teen ons ontvlam het; 4 dan het die waters ons weggespoel en die vloed ons oorweldig; 5 dan het die skuimende waters ons oorweldig. 6 Aan die Here kom die lof toe: Hy het nie toegelaat dat ons hulle prooi word nie. 7 Ons is bevry soos ’n voël uit die wip van ’n voëlvanger; die wip het gebreek en ons was vry! 8 Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het
Psalm 125:1–5 AFRIKAAN
1 ’n Pelgrimslied. Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan. 2 Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd. 3 Oor die grondgebied van die regverdiges sal ’n goddelose nie die mag kry nie, sodat die regverdiges nie in misdaad verval nie. 4 Here, doen goed aan dié wat goed is, die opregtes van hart! 5 Maar dié wat die verkeerde pad loop, mag die Here hulle vernietig saam met dié wat onreg doen. Mag daar vir Israel vrede wees
Psalm 130:1–8 AFRIKAAN
1 ’n Pelgrimslied. Uit die dieptes roep ek na U, Here, 2 luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep. 3 As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan? 4 Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien. 5 Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. 6 Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. 7 Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker. 8 Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes
Psalm 138:1–8 AFRIKAAN
1 Van Dawid. Ek wil U met my hele hart loof. Laat die gode maar hoor; dit is tot u eer dat ek sing. 2 Ek wil na u heilige tempel toe buig en u Naam roem om u liefde en trou, want U het u Naam en u woord bo alles gestel. 3 Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee. 4 Al die konings van die aarde sal U loof, Here, wanneer hulle u woord hoor, 5 hulle sal sing oor wat die Here gedoen het, want die mag van die Here is groot. 6 Ja, al is die Here hoog verhewe, Hy gee om vir die nederige, maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige. 7 As die nood my oorval, hou U my in die lewe teen die woede van my vyande in: U strek u hand uit, u regterhand red my. 8 Die Here sal vir my alles goed laat afloop. Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie
Psalm 140:1–13 AFRIKAAN
2 Red my van mense wat sleg is, Here, beskerm my teen mense wat geweld pleeg, 3 wat slegte dinge bedink en elke dag vyandskap aanblaas. 4 Hulle tonge is so giftig soos slange, hulle woorde so venynig soos adders. Sela 5 Hou my uit die mag van die goddeloses, Here, beskerm my teen mense wat geweld wil pleeg, wat planne maak om my uit die pad te kry. 6 Hovaardige mense stel vir my strikke, hulle span toue om my te vang, hulle stel ’n valstrik op my pad.Sela 7 Ek sê vir die Here: U is my God! Here, luister tog na my smeekgebed. 8 O Here my God aan wie ek behoort, my kragtige Redder, U beskerm my wanneer die goddeloses my aanval. 9 Moet tog nie dat hulle hulle sin kry nie, Here, moet tog nie dat hulle planne slaag nie. Sela 10 Dié wat my van alle kante bedreig, verhef hulle teen U; laat hulle dreigemente hulleself tref. 11 Laat gloeiende kole op hulle val, gooi hulle in modderputte dat hulle nie weer daar uitkom nie. 12 Laat daar geen skindertong in die land wees nie, laat onheil dié wat geweld pleeg, elke keer weer tref! 13 Ek weet, die Here behartig die regsaak van die hulpelose, Hy sorg vir die reg van die arme. 14 Die regverdiges sal u Naam loof, die opregtes sal by U woon
Psalm 142:1–7 AFRIKAAN
2 Ek roep na die Here om hulp, ek smeek die Here om genade, 3 ek stort my klag voor Hom uit en vertel Hom van my nood. 4 Ek het alle moed verloor, U weet wat ek moes deurmaak. Op die pad waar ek loop, het hulle vir my ’n strik gestel. 5 Ek soek hulp, maar niemand wil help nie, daar is vir my geen vlugkans nie en niemand gee vir my om nie. 6 Ek roep na U om hulp, Here, ek sê: “U is my toevlug, buiten U het ek geen deel in die land van die lewendes nie! 7 Luister tog na my hulpgeroep, want ek is magteloos. Red my van my vervolgers, want hulle is te sterk vir my. 8 Bevry my uit my gevangenskap, dat ek u Naam kan loof. Die regverdiges sal dankbaar om my kom staan wanneer U aan my goed doen.
Psalm 143:1–12 AFRIKAAN
1 ’n Psalm van Dawid. Hoor my gebed, Here, luister tog na my smeking. U is getrou en regverdig, antwoord my tog! 2 Moet tog nie ’n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie! 3 ’n Vyand vervolg my, hy trap my in die grond, hy hou my gevange in die donker. Ek is soos iemand wat lankal dood is. 4 Ek het alle moed verloor, ek is verslae. 5 Ek dink aan die verre verlede, ek peins oor alles wat U gedoen het en oor die werk van u hande dink ek na. 6 Ek strek my hande uit in gebed na U toe, ek is voor U soos ’n uitgedorde land.Sela 7 Antwoord my tog gou, Here, ek is heeltemal gedaan. Moet tog nie van my af wegkyk dat ek word soos dié wat sterwe nie. 8 Laat my elke môre u liefde ondervind, want in u stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig. 9 Red my van my vyande, Here, want by U skuil ek. 10 Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op ’n gelyk pad lei. 11 Ter wille van u Naam, Here, laat my lewe. U is regverdig, red my uit die nood. 12 Vernietig in u trou my vyande, laat al my teëstanders omkom, want ek is u dienaar
Psalm 144:1–15 AFRIKAAN
1 Van Dawid. Geloof sy die Here, Hy is my rots. Hy leer my hande om oorlog te maak, my vingers om te veg. 2 U is my krag en my skuilplek, my veilige vesting en my redder, my beskermer by wie ek skuil, wat my volk aan my onderdanig maak. 3 Here, wat is ’n mens dat U hom sou wil ken, ’n mensekind dat U aan hom sou dink? 4 ’n Mens, hoe verganklik is hy tog: sy dae gaan soos ’n skaduwee verby. 5 Buig u hemele, Here, en daal neer, raak die berge aan dat hulle rook! 6 Laat die weerligstrale blits en jaag die vyande uitmekaar, stuur u pyle en jaag hulle op loop! 7 Strek u hand van bo af uit, bevry my, red my uit die geweldige waters, uit die mag van vreemdelinge 8 wie se woorde en dade leuens en bedrog is. 9 Ek wil tot u eer ’n nuwe lied sing, o God, tot u eer wil ek sing met begeleiding van die lier, 10 U wat aan konings die oorwinning skenk, wat u dienaar Dawid red. 11 Red my van die swaard wat my bedreig, bevry my uit die mag van vreemdelinge wie se woorde en dade leuens en bedrog is. 12 Mag ons seuns wees soos plante wat hoog groei in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare, uitgebeitel soos vir ’n paleis. 13 Mag ons skure vol wees en oorloop van kant tot kant. Mag ons kleinvee in hulle duisende aanteel, in hulle tienduisende vermenigvuldig op ons weivelde. 14 Mag ons beestrop ’n groot kalweroes lewer. Mag ons nooit oorval en weggevoer word nie, mag daar geen klaagkreet op ons pleine gehoor word nie. 15 Gelukkig is die volk met wie dit so gaan. Dit gaan goed met die volk wie se God die Here is
Psalm 146:1–10 AFRIKAAN
1 Prys die Here! Ek wil die Here prys. 2 Ek wil die Here prys so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is. 3 Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ’n mens nie; hy kan jou nie red nie. 4 Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen. 5 Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God. 6 Die Here het die hemel en die aarde gemaak, die see en alles daarin. Hy bly vir altyd getrou, 7 Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan dié wat honger ly. Die Here bevry die gevangenes, 8 die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die Here het die regverdiges lief. 9 Hy beskerm vreemdelinge en help weeskinders en weduwees, maar Hy versper die pad vir die goddeloses. 10 Die Here regeer vir altyd Sion, jou God regeer van geslag tot geslag. Prys die Here
Proverbs 3:1–12 AFRIKAAN
1 My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie, hou vas aan wat ek jou voorskryf, 2 want dit sal vir jou ’n lang lewe verseker, dit sal maak dat jy ’n vol lewe het. 3 Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie; leef daarmee saam, maak dit ’n deel van jou lewe. 4 So sal jy guns verwerf en byval vind by God en mens. 5 Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. 6 Ken hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. 7 Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is: 8 dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam. 9 Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, 10 dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn. 11 My seun, aanvaar die straf wat van die Here kom en moet jou nie teen sy teregwysing verset nie, 12 want die Here straf die mens wat Hy liefhet net soos ’n vader doen met sy seun.
Proverbs 11:28 AFRIKAAN
28 Wie op sy rykdom staatmaak, kom tot ’n val; wie reg doen, floreer soos groen blare aan ’n boom.
Proverbs 16:3 AFRIKAAN
3 Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk.
Proverbs 16:20 AFRIKAAN
20 Wie ag gee op die woorde van die Here, sal voorspoed geniet; wie op die Here vertrou, met hom gaan dit goed.
Proverbs 18:10 AFRIKAAN
10 Die Naam van die Here is ’n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling.
Proverbs 18:11 AFRIKAAN
11 Die ryk man sien sy besittings as sy vestingstad, as ’n hoë muur wat hom beskerm.
Proverbs 21:22 AFRIKAAN
22 ’n Wyse man kan selfs ’n stad vol dapper verdedigers oorwin en die vesting waarop hulle vertrou, laat val.
Proverbs 22:17–21 AFRIKAAN
17 Luister goed, luister wat die wyse mense sê; probeer verstaan wat ek jou wil leer uit wat ek weet, 18 want dit is lekker as jy dit ingeneem het en enige tyd kan weergee. 19 Ek onderrig juis vir jóú vandag sodat jy op die Here kan vertrou. 20 Ek skryf vir jou belangrike voorskrifte neer om jou leiding te gee en die nodige kennis, 21 sodat jy die waarheid sal herken, die woorde waarop jy kan vertrou, en ’n betroubare verslag kan gee as iemand jou stuur.
Proverbs 24:19–20 AFRIKAAN
19 Moet jou nie ontstel oor skelms, jou kwel oor goddelose mense nie, 20 want ’n slegte mens het nie ’n toekoms nie; die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof.
Proverbs 25:19 AFRIKAAN
19 ’n Seer tand, ’n voet wat meegee, so is dit om in gevaar staat te maak op ’n onbetroubare mens.
Proverbs 28:25 AFRIKAAN
25 ’n Gierige mens veroorsaak rusie; een wat op die Here vertrou, is voorspoedig.
Proverbs 28:26 AFRIKAAN
26 Wie op homself vertrou, is ’n dwaas; wie hom deur wysheid laat lei, is veilig.
Proverbs 29:25 AFRIKAAN
25 As jy vir mense bang is, kan jy in ’n strik beland, maar as jy jou vertroue in die Here stel, is jy veilig.
Ecclesiastes 11:1–8 AFRIKAAN
1 Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug. 2 Hou jou besittings op sewe, selfs ag plekke, want jy weet nie watter teëspoed oor die land kan kom nie. 3 As die wolke vol water is, reën hulle leeg op die aarde; of ’n boom nou suid of noord val, dit bly lê waar dit geval het. 4 Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie. 5 Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van ’n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles. 6 Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie watter van die twee sal ’n oes lewer nie en of altwee ewe goed sal wees nie. 7 Die lig is aangenaam, dit is goed vir die oë om die son te sien. 8 As ’n mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees. Maar jy moet onthou dat die donker dae van die dood wat kom, ook baie is. Alles kom tot niks.
Isaiah 7:1–9 AFRIKAAN
1 In die tyd toe Agas, seun van Jotam en kleinseun van Ussia, koning van Juda was, het die Aramese koning Resin en die Israelitiese koning Peka seun van Remalja ’n veldtog teen Jerusalem onderneem. Die veldtog het egter op niks uitgeloop nie. 2 Die berig dat die Arameërs reeds in die Israelitiese gebied in Efraim kamp opgeslaan het, het vir Agas, die koning uit die geslag van Dawid, in Jerusalem bereik, en hy en sy volk het baie bang geword. Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind. 3 Die Here het toe vir Jesaja gesê: Vat jou seun Sear-Jasub saam en gaan ontmoet vir Agas op die pad na die Bleikveld toe by die punt van die kanaal uit die boonste dam. 4 Sê vir hom: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net. Moenie bang wees vir die dreigemente van Resin en sy Arameërs en van Peka seun van Remalja nie. 5 Die Arameërs en die Efraimiete onder leiding van die seun van Remalja beplan jou ondergang. 6 Hulle het vir mekaar gesê: Kom ons val Juda aan en oorrompel hom. Dan verdeel ons die land onder ons en ons maak die seun van Tabeal koning van Juda. 7 Maar so sê Ek, die Here jou God: Dit sal nie plaasvind nie, dit sal nie gebeur nie, 8 want dit is maar net Damaskus wat die hoofstad van Aram is en net Resin wat die koning van Damaskus is. Efraim sal binne vyf en sestig jaar so verwoes word dat hy geen volk meer sal wees nie, 9 want dit is maar net Samaria wat die hoofstad van Efraim is en net Peka seun van Remalja wat koning van Samaria is. Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.
Isaiah 8:11–22 AFRIKAAN
11 In sy groot mag het die Here my gewaarsku om nie die voorbeeld van hierdie volk te volg nie. Hy het gesê: 12 Julle moenie alles ’n sameswering noem wat hierdie volk ’n sameswering noem nie. Julle moenie bang wees en skrik vir die dinge waarvoor hulle bang is nie. 13 Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hóm moet julle bang wees. 14 Hý sal vir julle ’n veilige beskutting wees, maar vir die twee koninkryke Juda en Israel sal Hy ’n klip wees waarteen ’n mens jou stamp, ’n rots waaroor jy struikel. Vir die inwoners van Jerusalem sal Hy ’n vangnet en ’n strik wees. 15 Baie van hulle sal struikel en val, verstrik en gevang word; hulle sal verpletter word. 16 Bly eers stil oor my prediking, laat my volgelinge vir hulleself hou wat ek hulle geleer het. 17 Ek vertrou op die Here wat Hom vir die nageslag van Jakob verberg, op Hóm hoop ek. 18 Hier is ek en die kinders wat die Here vir my gegee het. Ons is in Israel lewende getuies van die Here die Almagtige wat op Sionsberg woon. 19 Mense sê julle moet mediums en spiritiste raadpleeg wat fluister en mompel, maar moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie? Waarom sou ’n mens dooies in belang van lewendes raadpleeg? 20 Terug na die wet en die getuienis van die Here! Wie nie volgens hierdie woord praat nie, is sonder toekoms! 21 Bedruk en honger sal hy deur die land trek. Wanneer die hongersnood hom tref, sal hy kwaad word en sal hy sy koning en sy God vervloek. Hy sal boontoe 22 en ondertoe kyk, maar hy sal niks anders sien as benoudheid en donkerte nie, die volslae duisternis en donkerte waarin hulle gedryf is
Isaiah 10:20–34 AFRIKAAN
20 In dié tyd sal dié wat in Israel, in Jakob oorgebly het en ontkom het, nie meer hulle vertroue stel in Assirië deur wie hulle vertrap is nie, maar hulle sal net op die Here, die Heilige van Israel, vertrou. 21 Daar sal ’n oorblyfsel terugkom na die magtige God toe, die oorblyfsel van Jakob. 22 Al sou jou mense, Israel, so baie wees soos die sand van die see, net ’n oorblyfsel sal na die land toe terugkom. Maar die verdelging staan vas, die vergelding kom aan soos ’n vloed: 23 Die Here ons God, die Almagtige, het vas besluit om die hele land te verdelg. 24 Daarom, so sê die Here ons God, die Almagtige: My volk wat op Sion woon, moenie bang wees vir die Assiriërs nie, vir dié wat vir julle vertrap het en slawe gemaak het van julle, soos Egipte gedoen het. 25 My toorn teen julle sal nog net ’n kort rukkie duur, dan sal dit die Assiriërs uitroei. 26 Die Here die Almagtige sal hulle met ’n sweep slaan, soos vir Midian by die Orebrots; Hy sal sy stok oor die water uitsteek en die Assiriërs tref soos Hy met die Egiptenaars gedoen het. 27 In dié tyd sal Hy die las verwyder wat hulle op julle skouers gelê het, en ook hulle juk van julle nek af; die juk sal heeltemal van julle af afgeruk word. 28 Die Assiriërs oorval Aja; hulle trek deur Migron; in Mikmas bêre hulle hulle voorrade. 29 Hulle trek oor die pas en sê: “Ons wil vannag in Geba kamp opslaan.” Die inwoners van Rama bewe, dié van Gibea van Saul slaan op die vlug. 30 Skreeu, mense van Gallim! Luister, inwoners van Lajesa! Arme Anatot! 31 Die inwoners van Madmena vlug, dié van Gebim soek skuiling! 32 Nog vandag sal die Assiriërs in Nob kamp opslaan, en daarvandaan sal hulle beduie in die rigting van die Sionsberg, die heuwel waarop Jerusalem lê. 33 Maar dan sal die Here ons God, die Almagtige, die takke van die bos, Assirië, met geweld afkap. Die hoë bome sal afgekap word, die grotes sal val. 34 Die Here sal die digte takke van die bos met ’n byl afkap; die Libanon sal val voor die magtige God
Isaiah 12:1–6 AFRIKAAN
1 Op daardie dag sal jy sê: “Ek loof U, Here! U was kwaad vir my, maar U is nou nie meer kwaad nie en U het vir my uitkoms gegee. 2 God is my redder; Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder.” 3 Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding. 4 Op dié dag sal julle uitroep: “Loof die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend en verkondig dat sy Naam groot is. 5 Sing tot die eer van die Here, want Hy het groot dinge gedoen, maak dit aan die hele wêreld bekend. 6 Jubel en juig, inwoners van Sion, want groot is die Heilige van Israel en Hy is by julle!
Isaiah 20:1–6 AFRIKAAN
1 Op ’n keer het koning Sargon van Assirië die hoof van sy leër na die Filistynse stad Asdod toe gestuur. Hy het teen dié stad oorlog gemaak en dit verower. 2 In daardie tyd het die Here vir Jesaja seun van Amos gesê: Trek jou klere uit en ook jou skoene. Jesaja het dit gedoen: hy het sonder klere en sonder skoene rondgeloop. 3 Toe Asdod ingeneem is, het die Here gesê: Soos my dienaar Jesaja drie jaar lank sonder klere en sonder skoene rondgeloop het as ’n lewende getuie teen Egipte en teen Kus, 4 so sal die koning van Assirië die krygsgevangenes uit Egipte en die ballinge uit Kus, oud en jonk, sonder klere en sonder skoene, kaal, in ballingskap wegvoer. Dit sal vir Egipte ’n skande wees. 5 Hulle wat op Kus vertrou het en oor Egipte grootgepraat het, sal teleurgestel staan en bedroë daarvan afkom. 6 Daardie dag sal die inwoners van die kuslande sê: “Kyk wat het gebeur met die mense op wie ons vertrou het, na wie toe ons gehardloop het om ons teen die koning van Assirië te help en ons uit sy mag te red. Hoe sal ons nou vrykom?
Isaiah 25:1–12 AFRIKAAN
1 Here, U is my God! Ek wil U prys en u Naam loof! U het wonders gedoen; dinge wat U lankal besluit het, het U volgens plan uitgevoer. 2 U het die groot stad verander in puinhope, die vestingstad in ruïnes. Die vesting van die vyand is nie meer ’n stad nie, dit sal nooit herbou word nie. 3 Die sterk nasie sal voor U buig, in die stad van die trotse volk sal hulle U dien, 4 want U is ’n toevlug vir die armes, ’n toevlug vir die behoeftiges in hulle nood, ’n skuilplek teen die stortbuie, ’n skaduwee teen die hitte. Die geweld van die wrede volk is soos ’n winterstorm, 5 soos sonsteek in ’n dor land. U het die rumoer van die vyand laat ophou, die oorwinningsliedere van die trotse volk laat verdwyn soos hitte verdwyn onder die skaduwee van ’n wolk. 6 Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ’n feesmaal gereed maak vir al die volke, ’n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn. 7 Op hierdie berg sal Hy die doek verwyder, die doek wat oor al die volke gegooi was, waarmee al die nasies toegemaak was. 8 Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig, en die trane op almal se gesigte afvee. Oor die hele aarde sal Hy die smaad verwyder wat sy volk aangedoen is. Die Here het dit gesê. 9 Wanneer dit gebeur, sal elkeen sê: Kyk daar, dit is ons God, ons het op Hom vertrou, Hy het ons gered. Dit is die Here! Ons het op Hom vertrou. Laat ons bly wees en juig omdat Hy ons gered het. 10 Die mag van die Here sal op hierdie berg geopenbaar word: Hy sal Moab aan die voet daarvan vertrap soos stoppels op ’n mishoop vertrap word. 11 Moab sal sy hande in die mishoop uitsteek soos ’n swemmer wat probeer weg swem, maar God sal hulle in hulle trots verneder al probeer hulle om hulleself te red. 12 Hy sal Moab se vestings, hulle hoë mure, laat omval, Hy sal hulle plat op die grond neergooi
Isaiah 26:1–19 AFRIKAAN
1 Daar kom ’n dag wanneer hierdie lied in Juda gesing sal word: Ons het ’n sterk stad, God beskerm ons met mure, met ’n vesting. 2 Maak oop die poorte dat die nasie wat gered is, kan ingaan, die nasie wat aan God gehoorsaam is 3 en wat op Hom vertrou. Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel. 4 Vertrou altyd op die Here, want die Here God is ’n veilige toevlug. 5 Hy bring dié wat in hoë vestings woon, af grond toe, Hy gooi hulle hoë stadsmure om, Hy maak dit gelyk met die grond en laat lê dit in die stof. 6 Hulle sal onder die voete vertrap word, onder die voete van onderdruktes; die armes sal op hulle trap. 7 Die pad van die regverdige is reguit, U maak sy pad gelyk. 8 Ook wanneer U straf, Here, vertrou ons op U. Ons wil u Naam eer en U aanroep. 9 In die nag smag ek na U, in die môre vra ek na u wil. Wanneer U die aarde straf, leer sy inwoners wat geregtigheid is. 10 Daar word goed gedoen aan die goddeloses, maar hulle leer nie wat geregtigheid is nie, hulle verdraai die reg en erken nie die mag van die Here nie. 11 U staan gereed om hulle te straf, Here, maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Laat hulle ondervind dat U vir u volk opkom: laat die pogings van hierdie teëstanders van U misluk, laat vuur hulle verteer. 12 U regeer in vrede oor ons, Here, U doen alles vir ons. 13 Behalwe U, Here ons God, het ander konings oor ons geregeer, maar ons wil net ú Naam onthou. 14 Hulle is nou dood en sal nie weer lewe nie, hulle gees sal nie weer opstaan nie. U het hulle gestraf en uitgewis, U maak dat niemand meer aan hulle dink nie. 15 Here, U het u volk meer laat word, U het hulle meer laat word en hulle landsgrense uitgebrei. So het U u mag getoon. 16 Here, in hulle nood het hulle hulle toevlug tot U geneem, toe U hulle met swaarkry gestraf het, het hulle U aangeroep. 17 Soos ’n swanger vrou wat inmekaar krimp en skreeu oor haar geboortepyne wanneer sy ’n kind in die wêreld wil bring, so, Here, is ons in u teenwoordigheid. 18 Ons was swanger, ons het inmekaar gekrimp van pyn, maar ons het niks in die wêreld gebring nie: ons het nie ’n redder vir die land gegee nie, en daar is nie inwoners vir die wêreld gebore nie. 19 Dié uit u volk wat gesterf het, sal weer lewe, Here, hulle sal opstaan. Word wakker en juig, julle wat in die doderyk is! Soos die dou lewe gee, gee u krag lewe, Here, die aarde sal hulle wat lankal gesterf het, lewend teruggee.
Isaiah 28:1–15 AFRIKAAN
1 Ellende wag vir Samaria, die kroon, die trots van die dronkaards van Efraim, die roem van die drankverslaafdes, die krans van verwelkte blomme, dié stad hoog bokant die vrugbare vallei. 2 Die Here het iemand tot sy beskikking wat sterk en magtig is en wat dié kroon grond toe sal bring soos ’n haelstorm, soos ’n vernietigende stormwind, soos stortreëns uit ’n wolkbreuk. 3 Dié kroon, die trots van die dronkaards van Efraim, sal met die voete vertrap word, 4 dié krans van verwelkte blomme waaroor hulle roem, die stad hoog bokant die vrugbare vallei is soos ’n ryp voorvy: wie hom sien, pluk hom en kyk skaars na hom voor hy hom wegsluk. 5 Daardie dag sal die Here die Almagtige die kroon wees, die krans waaroor dié sal roem wat van sy volk oor is. 6 Hy sal aan dié wat reg moet spreek, ’n sin vir reg gee, Hy sal krag gee aan dié wat die aanval moet afslaan by die stadspoorte. 7 Maar ook die priesters en profete hier in Jerusalem slinger en waggel van dronkenskap; hulle slinger, hulle is beneweld, hulle waggel van die wyn en die drank; die profete slinger wanneer hulle gesigte moet uitlê, die priesters loop twee rye spore wanneer hulle regsbeslissings moet maak. 8 Al die tafels is vol braaksel, daar is nie ’n plek wat nie bemors is nie. 9 Hulle sê: “Vir wie wil Jesaja leer, vir wie wil hy die boodskap uitlê wat hy sou gehoor het? Ons is nie kinders wat pas gespeen is, wat nounet van hulle ma’s se borste af weggevat is nie! 10 Wat ons van hom hoor, is ’n bietjie brabbeltaal hier en ’n bietjie brabbeltaal daar!” 11 Hy sál in die vervolg met dié volk praat met stotterende woorde, in ’n vreemde taal. 12 Hy het vir hulle gesê: Die rus moet hier wees, gee hier vir die vermoeide rus, hier is die plek vir vrede! Maar hulle wou nie luister nie. 13 Die woord van die Here tot hulle sal nou wees ’n bietjie brabbeltaal hier en ’n bietjie brabbeltaal daar, sodat hulle sal struikel waar hulle ook gaan, verstrik sal raak, gevang en vernietig sal word. 14 Hoor die woord van die Here, julle ligsinniges wat regeer oor hierdie volk in Jerusalem! 15 Julle sê: “Ons het ’n ooreenkoms met die dood, ons het ’n verstandhouding met die doderyk; wanneer die vloed aangestroom kom, sal hy ons nie tref nie. Ons het die leuen ons skuilplek gemaak, ons kruip veilig weg agter die valsheid!”
Isaiah 28:16–22 AFRIKAAN
16 So sê die Here my God: Ek gaan in Sion ’n klip neersit, ’n uitgesoekte klip, ’n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie. 17 Ek maak geregtigheid die maatstaf, regverdigheid die toets. Die hael sal julle skuilplek van leuens uitwis, die water sal julle wegkruipplek wegspoel. 18 Julle ooreenkoms met die dood word opgehef, julle verstandhouding met die doderyk sal nie bly staan nie. Wanneer die vloed aangestroom kom, sal julle in hom ondergaan. 19 Hy sal julle meesleur elke keer as hy kom, en hy sal dag vir dag kom, dag en nag. Dan sal dit louter verskrikking wees om die boodskap uit te lê wat ontvang is. 20 Die bed sal te kort wees om reguit op te lê, die kombers te smal om jou daarmee toe te maak. 21 Soos by Perasimberg sal die Here Hom gereed maak, soos in die laagte by Gibeon sal Hy Hom in sy toorn voorberei om te doen wat Hy wil doen, om die taak te verrig waartoe Hy besluit het, en dit is iets vreemds wat Hy wil doen, dit is ’n uitsonderlike taak. 22 Staak julle ligsinnigheid sodat die bande nie nog stywer om julle getrek word nie! Ek het by die Here my God, die Almagtige, gehoor dat dit by Hom vasstaan: Hy gaan die hele land verwoes
Isaiah 30:1–7 AFRIKAAN
1 Ellende wag vir die rebelse mense wat planne uitvoer wat nie van My af kom nie, sê die Here, dié wat verdrae sluit wat nie volgens my wil is nie en so sonde op sonde stapel. 2 Hulle gaan af na Egipte toe sonder om My te raadpleeg, hulle gaan soek steun by die mag van die farao, hulle wil beskerming by Egipte hê, 3 maar hulle sal teleurgestel staan met die farao se mag en al, die beskerming deur Egipte sal hulle niks baat nie. 4 Die leiers van Juda is al in Soan, sy boodskappers het al in Ganes aangekom, 5 maar hulle sal almal teleurgestel word deur dié volk wat nie kan help nie, wat nie hulp en bystand kan verleen nie maar wat skande en vernedering bring. 6 ’n Uitspraak van die Here oor die diere in die Suidland: Die gesante van Juda bring hulle ryk geskenke, hulle skatte, op die rûe van hulle donkies en hulle kamele; hulle bring dit deur ’n gebied vol gevaar en angs waar leeus en slange boer en waar drake rondvlieg, hulle bring dit na ’n volk toe wat nie kan help nie. 7 Egipte is niks, sy hulp beteken niks! Ek noem hom Rahab, die een wat niks kan doen nie
Isaiah 30:8–17 AFRIKAAN
8 Gaan skryf dit nou op waar Juda by is, teken dit aan dat dit altyd teen hulle kan getuig in die dae wat kom. 9 Hulle is ’n weerbarstige volk, hulle is mense wat lieg en wat weier om te luister na wat die Here wil. 10 Hulle sê vir die sieners: “Moenie gesigte sien nie!” Hulle sê vir dié wat gesigte sien: “Moenie gesigte sien oor wat ons moet doen nie, vlei ons liewer, sien liewer dinge wat ons mislei! 11 Gee pad voor ons, moenie voor ons kom staan nie; laat die Heilige van Israel uit ons teenwoordigheid verdwyn!” 12 So sê die Heilige van Israel: Julle het my waarskuwing verwerp, julle het julle vertroue gestel in geweld en bedrog en daarop gesteun. 13 Daarom word hierdie sonde vir julle ’n hoë stuk muur wat oorhang en dreig om te val en dan skielik, onverwags inmekaarstort 14 en in stukke spat soos ’n groot kleipot wat meedoënloos fyn geslaan word sodat daar onder al sy skerwe nie een oor is om mee kole uit ’n vuurmaakplek te krap of water uit ’n opgaarput te skep nie. 15 So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie; 16 julle het gesê: “Nee, ons sal op perde wegjaag, ons sal vinnige perde ry.” Dan sál julle vlug, maar julle agtervolgers sal vinniger wees. 17 Duisend van julle sal vlug as één julle bedreig, en as vyf julle bedreig, sal julle aanhou vlug totdat die paar wat van julle oorbly, soos ’n eensame vlagpaal op ’n berg, soos ’n enkele vaandel op ’n heuwel sal wees.
Isaiah 30:18–26 AFRIKAAN
18 Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy hom oor julle ontferm: Die Here is ’n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou. 19 Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor. 20 Die Here het jou honger en dors laat ly, maar Hy wou jou leer, en Hy sal Hom nou nie meer afsydig hou van jou nie; jy sal self sien dat Hy die Een is wat jou leer. 21 Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” 22 Dan sal jy besef dat jou afgode, jou beelde wat jy met silwer en goud oorgetrek het, onrein goed is, en jy sal hulle weggooi soos ’n mens ’n smerige lap weggooi; jy sal sê: “Weg met hulle!” 23 Dan sal die Here reën gee op die saad wat jy in die land gesaai het, en sal jou grond kos vir jou lewer wat ryk en voedsaam sal wees. Jou kleinvee sal wei in uitgestrekte grasveld. 24 Die beeste en die donkies waarmee jy die grond bewerk, sal kragvoer kry om te vreet wat met graaf en gaffel gemeng is. 25 Dié dag wanneer die vyand by die duisend sal sneuwel en wanneer die torings omval, sal daar op elke hoë berg, elke hoë heuwel, spruite vol water wees. 26 Dié dag wanneer die Here die wonde van sy volk verbind en die seerplekke genees waar Hy hulle geslaan het, sal die maan so helder skyn as die son en die son sewe maal so helder as die lig van sewe dae saam
Isaiah 31:1–3 AFRIKAAN
1 Ellende wag vir dié wat by Egipte hulp gaan vra; hulle verlaat hulle op perde, hulle is vol vertroue as daar baie strydwaens is, as hulle oor ’n menigte ruiters kan beskik; maar op die Heilige van Israel vertrou hulle nie, na die wil van die Here vra hulle nie. 2 Hý is die Een wat wysheid het; daarom het Hy ’n ramp laat losbreek en het Hy nie afgesien van wat Hy gesê het nie: Hy tree op teen die volk wat altyd verkeerd doen én teen die volk wat hulp verleen aan dié wat onreg doen. 3 Die Egiptenaars is mense, hulle is nie gode nie, en hulle perde is maar net perde, nie bonatuurlike wesens nie. As die Here sy hand uitsteek, val die helper én die een wat gehelp word en gaan hulle saam onder
Isaiah 32:16–20 AFRIKAAN
16 Maar in woestyn en in vrugteboord sal reg geskied en reg gedoen word. 17 Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet. 18 My volk sal in rustige velde woon, in veilige wonings, op plekke waar daar rus is en geen sorge nie. 19 Al slaan hael die bosse weg, al word die stad met die grond gelyk gemaak, 20 met julle sal dit goed gaan: julle sal saai langs baie waters, julle sal julle beeste en julle donkies vry laat loop
Isaiah 33:1–9 AFRIKAAN
1 Ellende wag vir jou , jy wat verwoes het en self nie verwoes is nie, jy wat ontrou was hoewel niemand aan jou ontrou was nie. Wanneer jy klaar verwoes het, sal jy verwoes word. Wanneer daar ’n end kom aan jou ontrou, sal ander ontrou wees aan jou. 2 Wees ons genadig, Here, ons vestig ons hoop op U. Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding in tyd van nood. 3 Wanneer U u stem laat hoor, vlug volke, wanneer U te voorskyn kom, spat nasies uitmekaar. 4 Wat julle vir julleself gebuit het, sal weggeraap word asof sprinkane daarop toegesak het; mense sal soos ’n swerm sprinkane daarop afstorm. 5 Die Here is hoog verhewe, Hy woon in die hoogte; Hy sal sorg dat daar in Sion reg geskied en reg gedoen word. 6 Hy is die Een op wie jy jou lewe lank kan vertrou. Die kosbare besitting wat werklik kan help, is wysheid en kennis; die rykdom waarop Sion hom kan verlaat, is die diens van die Here. 7 Die inwoners van Jerusalem roep om hulp daarbuite, dié wat die boodskap bring dat daar vrede is, huil onbedaarlik. 8 Die paaie lê verlate, niemand kom met die pad verby nie. Die verdrag is verbreek, stede is met minagting behandel, geen mens is ontsien nie. 9 Die land treur, hy is verdor; die Libanon het verwelk, hy is vol insekte; die Saron lyk soos ’n woestynvlakte; op Basan en Karmel staan die bome kaal
Isaiah 33:17–24 AFRIKAAN
17 Jou eie oë sal ’n koning sien in al sy prag en ’n land wat wyd lê. 18 Jy sal terugdink aan die vrees wat jy gehad het: “Waar is die een wat ons goed moes opskryf, waar is die een wat dit moes afweeg, waar is die een wat moes opskryf watter torings afgebreek moes word?” 19 Jy sal daardie vermetele mense nie weer sien nie, daardie volk met sy onverstaanbare, moeilike taal wat jy nie begryp nie. 20 Kyk na Sion, die stad waar ons ons feeste vier: jou eie oë sal Jerusalem sien, ’n veilige woonplek waar jou tent nie versit hoef te word nie, sy tentpenne nooit uitgetrek hoef te word nie, sy toue nooit meer breek nie. 21 Daar sal die Here vir ons die magtige God wees, daar waar die strome, die riviere, breed sal vloei sonder dat die vyand se roeibote daarop vaar, die oorlogskepe daar verbykom. 22 Die Here is ons Regter, die Here is ons Leidsman, die Here is ons Koning, Hy sal ons red. 23 Die toue van die vyand se skepe hang slap, hulle hou nie die maste regop nie, en die seile kan nie gespan word nie. Daar word buit in oorvloed verdeel, selfs lammes vat wat hulle wil. 24 Niemand in die stad sal meer sê: “Ek is siek” nie; die sonde van die volk wat in Sion woon, is vergewe
Isaiah 35:1–10 AFRIKAAN
1 Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille; 2 hy sal in volle bloei staan, hy sal juig en sing, hy sal die prag van die Libanon hê, die skoonheid van Karmel en Saron. Israel sal die mag van die Here sien, die koninklike mag van ons God. 3 Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, 4 sê vir dié wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier, Hy kom om wraak te neem, om julle vyande te straf; God kom julle red!” 5 Blindes sal kan sien, dowes sal kan hoor, 6 lammes sal kan rondspring soos takbokke, stommes sal kan sing. Strome water sal uit die woestyn uit bars; daar sal riviere loop in die droë wêreld. 7 Die verskroeide aarde sal ’n moeras word, dorsland waterryke wêreld. Waar daar nou net vir jakkalse lêplekke is, sal gras en riet en biesies groei. 8 Daar sal ’n grootpad deur die woestyn loop en dit sal bekend staan as die gewyde pad. Onrein mense sal nie daarop loop nie, dit sal net wees vir mense wat reg lewe; dwase sal nie meer op die pad kom nie. 9 Daar sal nie leeus op die pad wees nie, daar sal nie roofdiere op loop nie, hulle sal glad nie daar kom nie. Net die mense wat deur die Here gered is, sal die pad gebruik. 10 Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer, hulle sal juigend in Sion aankom, hulle sal altyd straal van blydskap, hulle sal vol vreugde en blydskap wees; ellende en smart sal verdwyn
Isaiah 36:1–22 AFRIKAAN
1 In die veertiende regeringsjaar van koning Hiskia het koning Sanherib van Assirië al die vestingstede in Juda aangeval en verower. 2 Daarna het die koning van Assirië sy hoofadjudant met ’n groot leër uit Lakis na koning Hiskia toe in Jerusalem gestuur. Hulle het posisie ingeneem langs die kanaal van die boonste dam, langs die pad na die Bleikveld toe. 3 Die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf het toe na die hoofadjudant van Assirië toe gegaan. 4 Toe sê hy vir hulle: “Sê vir Hiskia: So sê die groot koning, die koning van Assirië: Waarop berus hierdie vertroue van jou? 5 Jy dink woorde alleen is genoeg vir strategie en militêre mag. Op wie vertrou jy dat jy in opstand is teen my? 6 Jy vertrou op Egipte, op ’n versplinterde riet wat jou in die hand steek en jou seermaak as jy op hom leun. Dit is wat die farao, die koning van Egipte, beteken vir almal wat op hom vertrou. 7 “En as jy vir my wil sê julle vertrou op die Here julle God, dit is mos Hy wie se hoogtes en altare Hiskia laat verwoes het toe hy vir Juda en Jerusalem gesê het: ‘Julle moet net by die altaar in Jerusalem aanbid.’ 8 “Wil jy ’n ooreenkoms aangaan met my koning, die koning van Assirië? Ek gee jou twee duisend perde: sal jy die ruiters vir hulle kan voorsien? 9 Hoe sal jy weerstand kan bied teen één goewerneur, één van my koning se onbelangrikste amptenare? En dan vertrou jy op Egipte vir strydwaens en perde! 10 “Buitendien, ek het nie sonder die Here opgetrek teen hierdie land om dit te verwoes nie; die Here het vir my gesê: Trek op teen daardie land en verwoes dit.” 11 Toe sê Eljakim, Sebna en Joag vir die hoofadjudant: “Praat tog asseblief Aramees met ons, ons verstaan dit, maar moenie Judees met ons praat dat die manskappe op die muur dit kan verstaan nie.” 12 Maar die hoofadjudant antwoord: “Dink julle my koning het my net na julle koning en na julle toe gestuur om dié dinge te sê, en nie ook na die manne wat op die muur sit nie? Hulle sal hulle eie ontlasting moet eet en hulle eie urine moet drink, net soos julle!” 13 Toe gaan staan die hoofadjudant en skree hard in Judees: “Luister wat sê die groot koning, die koning van Assirië! 14 So sê die koning: Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie red nie. 15 “En moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie. Hiskia sê: ‘Die Here sal ons sekerlik red; dié stad sal nie oorgegee word in die mag van die koning van Assirië nie.’16 Moenie na Hiskia luister nie, want so sê die koning van Assirië: ‘Maak vrede met my en kom uit na my toe, dan sal elkeen die vrugte van sy eie wingerdstok en van sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink 17 tot ek kom en julle wegvat na ’n land toe net soos julle land. Dit is ’n land met koring en wyn, ’n land met kos en wingerde.’18 Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy sê: ‘Die Here sal ons red.’ Kon die gode van die ander nasies hulle lande red uit die mag van die koning van Assirië? 19 “Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim? Kon hulle Samaria bevry uit my mag? 20 Wie van al die gode van die ander lande kon sy land red uit my mag? Dan sal die Here mos nie Jerusalem kan red uit my mag nie!” 21 Die manskappe het stilgebly en nie geantwoord nie, want die koning het hulle beveel om nie te antwoord nie. 22 Die paleisbestuurder Eljakim seun van Gilkija, die staatsekretaris Sebna, en die hoof uitvoerende beampte Joag seun van Asaf het hulle klere geskeur en is terug na Hiskia toe om hom te vertel wat die hoofadjudant gesê het
Isaiah 37:1–7 AFRIKAAN
1 Toe koning Hiskia dit hoor, het hy ook sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en is na die huis van die Here toe. 2 Daarna stuur hy die paleisbestuurder Eljakim, die staatsekretaris Sebna en die leiers van die priesters, almal in rouklere, na die profeet Jesaja seun van Amos toe. 3 Hulle het vir Jesaja gesê: “So sê Hiskia: Dit is ’n dag van rou. Ons is in die moeilikheid en ons is verneder. Ons is soos vrouens wat in die kraam is maar nie die krag daarvoor het nie. 4 Miskien sal die Here u God let op die woorde van die hoofadjudant wat deur die Assiriese koning gestuur is om die lewende God te smaad, en miskien sal die Here u God hulle straf oor wat Hy moes aanhoor. Bid tog vir die klompie van ons wat nog oor is.” 5 Toe koning Hiskia se amptenare by Jesaja kom, 6 sê hy vir hulle: “Julle moet vir julle koning sê: So sê die Here: Moenie bang wees oor wat jy gehoor het, hoe die amptenare van die koning van Assirië My gelaster het nie. 7 Ek gaan hom onrustig maak sodat hy na sy land toe terug sal gaan wanneer hy ’n berig daarvandaan kry. Ek sal hom in sy eie land laat doodmaak.”
Isaiah 37:8–20 AFRIKAAN
8 Toe die hoofadjudant hoor dat die koning van Assirië weg is van Lakis af, het hy teruggegaan. Hy het die koning aangetref waar hy met ’n aanval op Libna besig was. 9 Daar het die koning berig gekry dat koning Tirhaka van Kus op pad is om hom aan te val. Toe die koning van Assirië dit hoor, het hy gesante na Hiskia toe gestuur met die boodskap: 10 “Sê vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met sy versekering dat Jerusalem nie in my mag oorgegee sal word nie. 11 Jy het mos gehoor hoe die konings van Assirië die een land na die ander verwoes het. Sal jý dan vrykom? 12 Kon die gode van die nasies wat deur my voorgangers uitgedelg is, hulle red: Gosan, Haran, Resef, die mense van Eden in Telassar? 13 Waar is die konings van Hamat en Arpad, die konings van Sefarwajim, Hena en Awwa?” 14 Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe in die teenwoordigheid van die Here oopgesprei. 15 Toe het hy tot die Here gebid: 16 “Here, Almagtige, God van Israel, U wat oor die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde U het die hemel en die aarde gemaak. 17 Hoor tog, Here, luister, kyk tog, Here, let tog op! “Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap gesmaad! 18 Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes 19 en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig. 20 Here ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat net U, Here, God is.”
Isaiah 40:1–31 AFRIKAAN
1 Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê. 2 Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes. 3 Iemand roep: “Maak vir die Here ’n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ’n grootpad vir ons God! 4 Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet ’n gelykte word en elke koppie ’n vlakte. 5 Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê.” 6 Iemand sê: “Roep!” En ek vra: “Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ’n veldblom: 7 gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai.” Dit is so, die volk is soos gras. 8 Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig. 9 Klim op ’n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: “Julle God is hier!” 10 Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer. Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het, dié wat aan Hom behoort, is by Hom. 11 Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie. 12 Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met ’n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met ’n skaal die berge en die heuwels geweeg? 13 Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees? 14 Vir wie raadpleeg Hy dat dié Hom tot insig sou bring en Hom sou leer wat om te doen? Wie leer Hom en onderrig Hom dat Hy met insig kan optree? 15 Die nasies is vir Hom soos ’n druppel aan ’n emmer, soos ’n stoffie op ’n skaal. As Hy die eilande op ’n skaal sit, is hulle soos stofdeeltjies. 16 Al die hout op die Libanon is nie genoeg vir vuur op die altaar nie en al die wild nie genoeg vir ’n offer aan die Here nie. 17 Al die nasies is soos niks teenoor Hom, hulle is vir Hom minder as niks, asof hulle nie bestaan nie. 18 Met wie kan julle God dan vergelyk? met watter beeld kan julle Hom gelykstel? 19 ’n Beeld word deur ’n ambagsman gegiet en deur ’n smid met goud oorgetrek en met silwerkettinkies versier. 20 Wie te arm is vir so ’n offer aan sy god, kies hout wat nie vrot nie en soek vir hom ’n bedrewe ambagsman om vir hom ’n beeld te maak wat nie omval nie! 21 Weet julle dan nie, het julle nie gehoor nie, is dit nie van die begin af aan julle bekend gemaak nie, het julle nie ’n begrip van hoe die aarde ontstaan het nie? 22 God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane. Hy span die hemel oop soos ’n tentdoek, oop soos ’n tent vir die mense om onder te woon. 23 Hy maak die vername mense tot niks, die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie. 24 Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars het hulle wortelgeskiet, of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die stormwind vat hulle weg soos stoppels. 25 Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige. 26 Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep? Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal, dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het. Met sy groot krag, sy groot mag, sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie. 27 Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby”? 28 Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. 29 Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. 30 Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, 31 maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie
Isaiah 41:1–20 AFRIKAAN
1 Bly stil en luister na My, eilande, maak julle gereed, volke, staan nader en stel julle saak, laat ons die saak uitmaak. 2 Wie is dit wat hom uit die ooste laat opstaan het vir wie elke voetstap oorwinning bring? Wie gee nasies aan hom oor, onderwerp konings aan hom? Sy swaard en sy pyl en boog laat hulle verdwyn soos stof voor die wind, soos dwarrelende stoppels. 3 Hy agtervolg hulle en trek ongehinderd voort, sy voete raak nie eens grond nie. 4 Wie het dit bewerkstellig, dit gedoen? Wie het die verloop van dinge van die begin af bepaal? Dit is Ek, die Here! Ek is die eerste, en wanneer die laaste dinge gebeur, sal Ek nog die Here wees. 5 Die eilande het gesien wat gebeur en het bang geword, die hele aarde het gebewe. Die mense kom bymekaar, 6 hulle help mekaar en praat mekaar moed in. 7 Die ambagsman praat die goudsmid moed in, die een wat die metaal uitklop, praat hom wat dit aanmekaar smee, moed in. Hulle sê: “Die smeewerk is goed!” Dan slaan hulle die beeld met spykers vas dat hy nie omval nie! 8 Maar jy, my dienaar, Israel, Jakob vir wie Ek uitverkies het, afstammeling van Abraham vir wie Ek liefhet, 9 jy, vir wie Ek van die uiteindes van die aarde af gegryp het, van sy uithoeke af geroep het, vir jou het ek gesê: Jy is my dienaar, Ek het jou uitverkies, Ek het jou nie verwerp nie. 10 Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. 11 Almal wat teen jou te kere gaan, sal teleurgesteld staan en die aftog blaas. Jou teëparty sal soos niks word, hulle sal omkom. 12 Jy sal dié soek wat teen jou veg, maar hulle sal nêrens te vinde wees nie; dié wat teen jou oorlog maak, sal word soos niks, soos iets wat nie bestaan nie. 13 Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ek help jou. 14 Moenie bang wees nie, al is jy niks meer as ’n wurm nie, Jakob, al is jy klein, Israel. Ék help jou, sê die Here jou Verlosser, die Heilige van Israel. 15 Ék maak jou ’n skerp dorsslee, ’n nuwe met baie tande; jy sal berge dors en fynmaal, jy sal van rante kaf maak. 16 Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegwaai, die stormwind sal hulle verstrooi; dan sal jy jubel in die Here, jy sal roem in die Heilige van Israel. 17 Die hulpeloses en die armes soek water, maar daar is nie; hulle versmag van dors. Maar Ek, die Here, sal hulle gebede verhoor, Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie. 18 Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring, en in die laagtes fonteine laat uitborrel. Ek sal woestyngebied in rietvlei verander, dor land in fonteinwêreld. 19 Ek sal in die woestyn seders laat groei, doringbome, mirte en olyfbome. Ek sal in die barre wêreld sipresse laat groei saam met platane en denne. 20 Dan sal die mense sien en erken, almal sal begryp en insien dat die Here dit gedoen het, dat die Heilige van Israel dit geskep het
Isaiah 43:1–21 AFRIKAAN
1 Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. 2 As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, 3 want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. 4 Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. 5 Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek bring jou kinders van die ooste af, Ek maak hulle bymekaar van die weste af, 6 Ek sê vir die noorde: Gee! vir die suide: Moet hulle nie terughou nie! Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af, 7 elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het. 8 Laat my volk hierheen kom, die volk wat blind is, al het hulle oë, wat doof is, al het hulle ore. 9 Laat al die nasies bymekaarkom. Al die volke moet teenwoordig wees. Watter afgod kan hierdie dinge so aankondig? Wie kon vooraf sê wat gebeur het? Laat hulle hulle getuies bring dat dié hulle saak bewys, en dié wat luister, kan sê: Dit is waar. 10 Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is. Voor My was daar geen god nie, en na My sal daar ook nie een wees nie, 11 Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. 12 Ék het die redding aangekondig Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ’n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God. 13 Ook hierná is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie. 14 So sê die Here, julle Verlosser, die Heilige van Israel: Om julle ontwil stuur Ek iemand teen Babel en laat Ek al sy inwoners, die Galdeërs, vlug met dieselfde skepe waarop hulle hulle vroeër beroem het. 15 Ek is die Here, julle heilige God, die Skepper van Israel, julle Koning. 16 So sê die Here, Hy wat ’n pad gemaak het deur die see, ’n deurgang deur die magtige waters, 17 Hy wat strydwaens en perde laat optrek het, ’n leër op volle sterkte na sy ondergang toe. Hulle kon nie weer opstaan nie, dit was klaar met hulle, hulle is soos ’n lamppit uitgedoof. 18 Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. 19 Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ’n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. 20 Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise, omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk, se dors te les. 21 Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig
Isaiah 49:14–26 AFRIKAAN
14 Sion sê: “Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet.” 15 Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. 16 Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor my. 17 Jou kinders kom binnekort, en dié wat jou verwoes en verniel het, sal uit jou uit padgee. 18 Kyk rondom jou en sien wat gebeur, al jou kinders kom bymekaar en hulle kom na jou toe. So seker as Ek lewe, sê die Here, jy sal oor hulle so bly wees soos ’n vrou oor halssnoere, soos ’n bruid oor haar juwele. 19 Jy is nou nog net puinhoop en ruïne, ’n verwoeste plek, maar jy sal te klein word vir al jou inwoners, en dié wat jou afgebreek het, sal verdwyn. 20 Kinders wat jy nou nie het nie, sal nog in jou ore kom kerm en sê: “Dié plek is te klein vir ons! Maak vir ons plek om in te woon!” 21 Dan sal jy dink: wie het hierdie kinders vir my in die wêreld gebring? Ek was kinderloos en onvrugbaar, ’n balling, ’n verstoteling. Wie het hierdie kinders grootgemaak? Ek het alleen oorgebly. Waar kom hulle vandaan? 22 So sê die Here God: Ek sal my hand uitstrek na die nasies toe, onder die volke sal Ek my vaandel opsteek. Dan sal hulle jou seuns op die arm na jou toe bring, en jou dogters sal op die skouer aangedra word. 23 Konings sal jou kinders oppas, koninginne sal hulle pleegmoeders wees. Hulle sal diep voor jou buig en die stof van jou skoene aflek. Dan sal jy besef dat Ek die Here is; wie op My vertrou, word nie teleurgestel nie. 24 Kan ’n soldaat se buit afgeneem word? Sal ’n gevangene sommer vrygelaat word as hy onder bewaking van ’n betroubare persoon is? 25 So sê die Here: ’n Soldaat se gevangene kan ontset word, selfs ’n man met baie mag se buit kan afgeneem word. Ek is ’n vyand van jou vyand en Ek sal jou kinders red. 26 Ek sal jou verdrukkers hulle eie vleis laat eet, hulle sal van hulle eie bloed so dronk word soos van wyn. Dan sal al wat leef, besef dat Ek die Here is, jou Redder en jou Verlosser, die magtige God van Jakob
Isaiah 50:1–11 AFRIKAAN
1 So sê die Here: Waar is die skeibrief wat Ek vir jou moeder gegee het toe Ek van haar geskei het? Of aan wie het Ek geld geskuld dat Ek julle daarvoor aan hom gegee het? Nee, dit is oor julle sondes dat julle verkoop is, oor julle oortredings dat Ek van julle geskei het. 2 Waarom was daar niemand toe Ek gekom het nie? Waarom het niemand geantwoord toe Ek geroep het nie? Is Ek nie in staat om te verlos nie, het Ek nie die krag om te red nie? Wanneer Ek die see aanspreek, droog hy op. Ek laat riviere opdroog: die visse stink, daar is nie water nie, hulle vrek sonder water. 3 Ek maak die hemel donker, Ek trek vir hom rouklere aan. 4 Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat. Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ’n leerling moet luister. 5 Die Here my God het my geleer om te luister: ek was nie teen Hom opstandig nie, ek was nie ontrou aan Hom nie. 6 Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie. 7 Die Here my God help my, ek sal nie teleurgestel staan nie; ek sal my nie ontstel nie, ek weet ek sal nie in verleentheid kom nie. 8 Hy wat my onskuldig sal verklaar, is naby; wie wil ’n aanklag teen my inbring? Laat ons elkeen sy saak stel. Wie wil my aankla? Laat hom vorentoe kom. 9 Die Here my God help my; wie sal my dan skuldig verklaar? Dit is verby met almal wat my beskuldig, soos met ’n lap wat deur motte gevreet word. 10 Wie van julle dien die Here en luister na sy dienaar? Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op die Here vertrou, moet op sy God steun. 11 Maar julle wat vure aansteek, wat brandpyle gereed maak, julle sal in julle eie vuur brand, deur julle eie brandpyle sal julle doodbrand. Dit is my mag wat dit oor julle bring, julle sal beland in die plek waar die pyn nooit ophou nie
Isaiah 57:1–13 AFRIKAAN
1 Die regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; dié wat aan die verbond getrou is, sterf sonder dat iemand begryp dat dit deur die boosheid in die wêreld is dat die regverdiges sterf. 2 Dié wat die reguit pad loop, kom waar daar vrede is, hulle rus in die graf. 3 Maar kom julle nader hierheen, kinders van ’n towerheks, julle wat gebore is uit owerspel en hoerery! 4 Met wie wil julle spot? Teen wie wil julle grootpraat, vir wie wil julle tong uitsteek? Julle is niks anders as ’n klomp rebelle nie, ’n broeisel leuenaars! 5 Julle dien die afgode met julle wellus onder die groot bome, onder elke groen boom. Julle offer julle kinders in die laagtes en onder die oorhangende rotse. 6 Julle verkies die afgodsbeelde in die laagte, daar soek julle julle deel. Vir hulle bring julle drankoffers en offer julle graanoffers. Moet Ek My hiervoor oor julle ontferm? 7 Op die hoë berge het jy ’n plek ingerig vir jou onsedelikheid en daarheen opgeklim om offers te bring. 8 Agter jou deure en aan jou kosyne het jy beeldjies opgehang. In jou ontrou aan My het jy jou kaal uitgetrek, op jou bed geklim en vir jou minnaars plek gemaak. Jy het jou verbind aan dié saam met wie jy graag geslaap het. Jy het hulle naaktheid geniet. 9 Jy het na Molek toe gegaan met olie en met baie wierook; jy het jou boodskappers na ver plekke toe gestuur, selfs tot by die doderyk! 10 Jou soekery het jou moeg gemaak; tog het jy nie gesê: “Dit is sinloos!” nie. Jou wellus het jou aanhou oorweldig, daarom het jy nie opgehou nie. 11 Vir wie was jy so bang en bevrees dat jy vals geword het? Jy dink nie meer aan My nie, jy steur jou nie meer aan My nie. Ek het lank geswyg toe jy My nie meer gedien het nie, 12 maar nou sal Ek jou skynheiligheid aan die kaak stel, alles wat jy gedoen het, en jou gode sal jou nie kan help nie. 13 As jy om hulp roep, moet jou spul gode jou kom red, maar ’n wind waai hulle almal weg, ’n yl luggie vat hulle weg. Maar wie by My skuil, sal die land besit en my heilige berg as eiendom ontvang
Isaiah 59:1–8 AFRIKAAN
1 Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. 2 Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie. 3 Julle hande is met bloed bevlek, julle vingers met onreg. Julle praat net leuens, julle bedink net onreg. 4 Niemand stel sy saak eerlik nie, geen uitspraak is betroubaar nie. Almal vertrou op leë woorde, wat hulle sê, is nie waar nie, hulle is swanger van kwaad, hulle bring onreg voort. 5 Hulle broei slangeiers uit, hulle weef spinnerakke. Wie van daardie eiers eet, sterf; as dit oopgebreek word, kom daar slange uit. 6 Hulle spinnedrade deug nie vir klere nie, hulle kan hulle nie toemaak met wat hulle gemaak het nie; hulle dade is misdade, hulle pleeg net geweld. 7 Hulle is daarop uit om kwaad te doen, hulle aarsel nie om onskuldige bloed te vergiet nie. Hulle planne is bose planne: oral waar hulle gaan, is daar verwoesting en ondergang. 8 Hulle ken nie so iets soos ’n pad van vrede nie, waar hulle loop, is daar geen reg nie; hulle loop krom paaie, wie hulle volg, sal nie vrede ken nie.
Isaiah 63:15–64:12 AFRIKAAN
15 Kyk uit die hemel uit af, sien ons tog raak uit u heilige en verhewe woning. Waar is u brandende liefde, u magtige dade? Is U nie meer oor ons bewoë nie? Ontferm U U nie meer oor ons nie? 16 U is tog ons vader. Abraham weet niks van ons nie en Israel is nie van ons bewus nie; U, Here, is ons vader, van ouds af is u Naam: Ons Verlosser. 17 Waarom het U ons laat afdwaal van u paaie af, Here? Waarom het U ons hardkoppig gemaak sodat ons U nie gedien het nie? Wees tog weer soos vroeër ter wille van u dienaars, ter wille van die volk wat aan U behoort. 18 ’n Kort rukkie kon u gewyde volk u tempel gebruik, maar ons vyande het dit verwoes. 19 Ons het geword soos dié oor wie U nie van ouds af geregeer het nie, oor wie u Naam nie uitgeroep is nie. 1 As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom sodat die berge voor U skud! 2 Kom af soos ’n vuur wat fynhoutjies laat brand, soos ’n vuur wat water laat kook. Laat u Naam só aan u vyande bekend word, laat die nasies só voor U bewe. 3 Toe U wonders gedoen het, wonders wat ons nie verwag het nie, toe U destyds afgekom het, het die berge voor U geskud. 4 Van ouds af het niemand so iets gehoor nie, het niemand so iets verneem nie, het geen oog ’n god gesien wat vir dié wat op hom vertrou, doen wat U doen nie. 5 U kom dié te hulp wat met blydskap doen wat reg is, dié wat onthou hoe U wil hê hulle moet lewe. U was kwaad vir ons, want ons het gesondig. Ons het so lank daarmee aangehou, hoe kan ons dan nog gered word? 6 Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons beste dade is soos vuil klere; ons is almal soos verdroogde blare, ons word deur ons sondes weggewaai soos deur ’n wind. 7 Daar is niemand wat tot U om hulp roep nie, niemand wat sy krag in U soek nie. U het ons aan onsself oorgelaat, U laat ons wegkwyn deur ons sondes. 8 U is ons vader, Here, ons is klei en U het ons gevorm, ons is almal die werk van u hande. 9 Moet tog nie aanhou kwaad wees vir ons nie, Here, moenie ons sonde vir altyd teen ons hou nie, onthou tog ons is almal u volk. 10 U heilige stad het ’n woestyn geword: Sion het ’n woestyn geword, Jerusalem is onbewoonbaar. 11 Ons heilige en pragtige tempel waar ons voorouers U geloof het, is deur vuur verwoes, alles wat vir ons dierbaar was, lê in puin. 12 Raak hierdie dinge U dan nie, Here? Gaan U nie ingryp nie? Gaan U aanhou om ons te laat ly
Jeremiah 2:1–13 AFRIKAAN
1 Die woord van die Here het tot my gekom: 2 Gaan roep hierdie woorde uit sodat elkeen in Jerusalem dit kan hoor. So sê die Here: Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug; hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het, toe jy My die woestyn in gevolg het, in ’n wêreld waar niks geplant word nie. 3 Israel was toe aan die Here gewy soos die eerste vrugte van die oes. Niemand wat hierdie vrugte geëet het, het ongestraf gebly nie, rampe het hom getref, sê die Here. 4 Hoor die woord van die Here, mense van Jakob, al julle stamme van Israel! 5 So sê die Here: Waarin het Ek gefaal dat julle voorvaders van My af weggedraai het, dat hulle nikswerd afgode gedien het en so self niks geword het? 6 Hulle het nie gevra: “Waar is die Here wat ons uit Egipteland laat optrek het?” nie. Hy het ons deur die woestyn gelei, deur ’n droë wêreld vol slote, deur ’n dor land vol doodsgevaar, deur ’n land waardeur niemand trek en waarin geen mens woon nie. 7 Ek het julle in ’n vrugbare land gebring om die vrugte daarvan en die goeie dinge daarin te geniet, maar toe julle in my land gekom het, het julle dit verontreinig; die land wat my eiendom is, is deur julle besoedel. 8 Die priesters het nie gevra: “Waar is die Here?” nie, dié wat my wil moes bekend maak, het My nie erken nie. Die regeerders het hulle teen My verset, die profete het in die naam van Baäl opgetree en gode gedien wat nie kan help nie. 9 Daarom kla Ek jou weer aan, sê die Here, en ook jou nakomelinge kla Ek aan. 10 Gaan na die Kittiëreilande toe en kyk ’n bietjie, stuur boodskappers na Kedar toe en dink goed na: Het daar al ooit so iets gebeur, 11 dat ’n nasie sy gode verruil het, selfs al was hulle geen gode nie? Maar my volk het My, hulle magtige God, verruil vir gode wat nie kan help nie. 12 Selfs die hemel moet daaroor skrik en beef en sidder! sê die Here. 13 My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.
Jeremiah 2:14–25 AFRIKAAN
14 Het Israel ’n slaaf geword of is hy ’n slaaf gebore? Waarom is hy dan buitgemaak? 15 Waarom brul en grom die leeus so teen hom? Waarom is sy land verwoes en lê sy stede in puin, sonder inwoners? 16 Die manne van Memfis en Tagpanges sal jou kop inmekaarslaan. 17 Jy het jou dit self aangedoen omdat jy My, die Here jou God, verlaat het toe Ek jou op jou pad gelei het. 18 Wat wil jy bereik deur na Egipte toe te gaan en water uit die Nyl te gaan drink? Wat wil jy bereik deur na Assirië toe te gaan en water uit die Eufraat te gaan drink? 19 Die kwaad wat jy gedoen het, sal jou straf word; omdat jy van My af weggedraai het, sal jy daaronder ly. Jy sal agterkom hoe rampspoedig dit is, jy sal proe hoe bitter dit is om My, die Here jou God, te verlaat, om geen eerbied meer vir My te hê nie, sê die Here God, die Almagtige. 20 Jy het my gesag lankal verwerp, jou van My losgemaak, geweier om My te dien; jy het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom aan tempelprostitusie deelgeneem en so die afgode gedien. 21 Toe Ek jou geplant het, was jy ’n goeie wingerdstok opreg gekweek, maar hoe het jy nie verander in onkruid, in ’n wilde wingerdstok nie! 22 Al sou jy jou was met loog, of met hoe baie seep, Ek sal nog die vlekke van jou sonde sien, sê die Here my God. 23 Hoe kan jy dan sê: “Ek het my nie verontreinig nie, ek het nie die Baäls gedien nie”? Kyk hoe het jy jou gedra in die Hinnomdal. Besef tog wat jy gedoen het! Jy was soos ’n kameelkoei wat bul soek, wat kruis en dwars hardloop, 24 soos ’n wildedonkie wat tuis is in die woestyn. Jy was soos ’n bronstige kameelkoei wat die wind opsnuif, wat onkeerbaar is in haar hittigheid. Die bulle wat haar soek, hoef hulle nie moeg te hardloop agter haar aan nie; wanneer sy wil paar, kry hulle haar maklik. 25 Moenie jou skoene stukkend loop agter die afgode aan nie, jou keel laat droog word van die dors nie! Maar jy sê: “Ek sal nie daarmee ophou nie! Ek het die vreemde gode lief, ek wil hulle dien.”
Jeremiah 2:26–37 AFRIKAAN
26 Soos ’n dief in die skande kom wanneer hy betrap word, so sal die Israeliete in die skande kom: hulle, hulle konings, hulle amptenare, hulle priesters en hulle profete. 27 Dit is hulle wat vir ’n stuk hout sê: “My Vader,” en vir ’n klip: “U het my in die wêreld gebring.” Na My toe het hulle hulle rug gedraai in plaas van hulle gesig. Dit is net wanneer ’n ramp hulle tref dat hulle sê: “Kom red ons tog!” 28 Waar is jou gode wat jy vir jou gemaak het? Laat hulle jou kom red wanneer ’n ramp jou tref, as hulle kan! Soveel stede as wat jy het, Juda, net soveel gode het jy. 29 Waarom twis julle met My? Julle het almal teen My in opstand gekom, sê die Here. 30 Tevergeefs het Ek julle kinders gestraf, hulle het nie ’n les daaruit geleer nie. Soos leeus wat alles verskeur, het julle julle profete doodgemaak. 31 Slaan ag op die woord van die Here, my volk! Was Ek dan vir Israel soos ’n woestyn of soos ’n stikdonker land? Waarom het my volk dan gesê: “Ons rebelleer, ons wil U nie meer dien nie”? 32 Vergeet ’n meisie haar juwele of ’n bruid haar trourok? Tog het my volk My jare gelede al vergeet. 33 Hoe geoefen is jy in die kuns om minnaars te soek; jy het al so gewoond geraak aan die kwaad! 34 Die some van jou klere is vol bloed, die bloed van arm en onskuldige mense, nie dié van mense wat jy op inbraak betrap het nie. En ten spyte van dit alles 35 sê jy: “Ek is onskuldig; die Here is nie toornig op my nie.” Maar Ek gáán jou straf omdat jy gesê het: “Ek het nie gesondig nie.” 36 Hoe laag het jy gedaal deur jou wispelturigheid! Egipte sal jou net so in die steek laat as wat Assirië jou in die steek gelaat het. 37 Jy sal daarvandaan terugkom sonder dat jy jou sin gekry het, want Ek het almal verwerp op wie jy vertrou het; by hulle sal jy geen hulp kry nie
Jeremiah 3:6–4:4 AFRIKAAN
6 Dit was tydens die regering van koning Josia. Die Here het vir my gesê: Het jy gesien wat die ontroue Israel gedoen het? Sy het op elke hoë berg en onder elke groen boom gaan ontug pleeg! 7 Ek het gedink: Nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My toe terugkom, maar sy het nie teruggekom nie. En haar ontroue suster Juda het dit alles aanskou. 8 Toe Ek die trouelose Israel oor al haar ontrou verstoot en die skeibrief aan haar gegee het, het Ek gesien dat haar ontroue suster Juda nie afgeskrik is nie. Ook sy het gaan ontug pleeg. 9 Dit was vir Israel niks om haarself en die land te verontreinig nie, sy het owerspel gepleeg met afgodsbeelde van klip en hout. 10 En asof dit nie genoeg was nie, het haar ontroue suster Juda na My toe teruggekom, maar nie met volle oorgawe nie; dit was vals, sê die Here. 11 Toe het die Here vir my gesê: Die trouelose Israel is minder skuldig as die ontroue Juda. 12 Gaan roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Trouelose Israel, kom terug, sê die Here. Ek sal nie langer vir julle kwaad wees nie, want Ek is getrou, sê die Here, Ek bly nie vir altyd kwaad nie. 13 Erken net jou skuld, dat jy teen die Here jou God in opstand gekom het deur onder elke groen boom vreemde gode te gaan dien en so aan My ongehoorsaam te wees, sê die Here. 14 Kom terug, kinders wat afgedwaal het, sê die Here. Ek maak julle my eiendom. Ek sal julle vat, een uit ’n stad en twee uit ’n familie, en julle na Sion toe bring. 15 Ek sal vir julle herders gee na my hart, en hulle sal julle verstandig en met insig lei. 16 Wanneer julle vrugbaar is en baie word in die land, in daardie dae, sê die Here, sal niemand meer uitroep: “Die verbondsark van die Here!” nie; dit sal nie meer in iemand se gedagte opkom nie, niemand sal dit eers meer noem of dit mis nie en niemand sal ’n nuwe maak nie. 17 In daardie tyd sal hulle Jerusalem noem: “Die troon van die Here”, en al die nasies sal in Jerusalem bymekaarkom om die Naam van die Here te eer. Hulle sal nie hardkoppig bly nie. 18 In daardie dae sal Juda by Israel aansluit en hulle sal saam uit die noordelike landstreek kom na die land wat Ek as besitting aan hulle voorvaders gegee het. 19 Ek het gesê: Hoe graag wil Ek jou ’n seun van My maak en aan jou ’n lieflike land gee, ’n besitting liefliker as enigiets wat enige nasie het. Ek het gesê: Noem My “Vader”, en moet nooit weer van My af wegdraai nie. 20 Maar soos ’n vrou wat ontrou is aan haar man, so was julle, Israel, ontrou aan My, sê die Here. 21 Hoor hoe smeek en huil die Israeliete op die heuweltoppe, want hulle het die verkeerde pad geloop, hulle het die Here hulle God vergeet. 22 Kom terug, kinders wat afgedwaal het, Ek wil ’n einde maak aan julle afdwaling. Kyk, ons kom na U toe, want U is die Here ons God! 23 Die lawaai op die heuwels, op die berge, lewer niks op nie. Die redding van Israel kom net van die Here ons God af. 24 Van vroeg af al het die skandegod Baäl die vrug van ons voorvaders se arbeid verteer, hulle kleinvee en hulle grootvee, ook hulle seuns en hulle dogters. 25 Ons wil in die aarde insink oor die skande, ons wil wegkruip van skaamte, want ons het teen die Here ons God gesondig, ons en ons voorvaders, van ons jeug af tot vandag toe. Ons was ongehoorsaam aan die Here ons God. 1 As jy jou wil bekeer, Israel, moet jy jou tot My bekeer, sê die Here. As jy jou afskuwelike afgode voor My wegvat, moet jy nie meer dwaal nie. 2 Wanneer jy ’n eed aflê en sê: “So seker as die Here leef,” moet dit in waarheid wees, moet jy reg laat geskied en reg doen. Dan sal die nasies hulle seën van die Here verwag en in Hom roem. 3 So sê die Here vir die mense van Juda en Jerusalem: Ploeg vir julle ’n braakland en moenie in die dorings saai nie. 4 Wy julle aan die diens van die Here, en verwyder alle ontrou uit julle harte, mense van Juda, inwoners van Jerusalem, sodat my toorn oor julle bose dade nie losbreek soos ’n vuur en bly brand sonder dat dit geblus word nie
Jeremiah 5:1–31 AFRIKAAN
1 Loop op en af in die strate van Jerusalem, kyk rond en let op; gaan soek op sy pleine of julle daar iemand kry wat reg doen, wat die waarheid soek. Dan sal Ek Jerusalem se sonde vergewe. 2 Selfs al lê hulle ’n eed af in die Naam van die Here, bly dit ’n vals eed. 3 En dit terwyl U waarheid eis, Here! U het hulle geslaan, maar hulle het hulle nie aan U gesteur nie; U het hulle hard geslaan, maar hulle het hulle nie laat leer nie, hulle koppe was harder as klip, hulle het geweier om hulle te bekeer. 4 Ek het eers gedink: dis maar die gewone mense wat so dwaas optree, want hulle ken nie die wil van die Here nie, hulle weet nie wat hulle God van hulle verwag nie; 5 ek sal na die leiers toe gaan en met hulle praat, want hulle ken die wil van die Here, hulle weet wat hulle God van hulle verwag. Maar ook hulle het almal in opstand gekom, die gesag van God verwerp. 6 Daarom sal leeus uit die bos hulle kom doodmaak, wolwe uit die woestyn hulle kom verskeur, en luiperds by hulle stede op die loer lê om elkeen wat uit die stad uitgaan, te vang. Hulle oortredings is baie, hulle het gedurig afgedwaal. 7 Waarom sou Ek jou vergewe? Jou inwoners het My verlaat, hulle sweer trou aan afgode. Ek het hulle trou laat sweer aan My, maar tog pleeg hulle egbreuk en drom hulle saam in bordele. 8 Soos bronstige hingste het hulle geword, hulle runnik elkeen agter sy naaste se vrou aan. 9 Sal Ek hulle dan nie hieroor straf nie? vra die Here. Sou Ek My nie wreek op ’n nasie soos hierdie nie? 10 Klim op sy terrasse en kap die wingerde uit, maar moenie alles vernietig nie; sny af die ranke, want hulle is nie die Here s’n nie. 11 Die mense van Israel en die mense van Juda was ontrou aan My, sê die Here. 12 Hulle het Hom geminag, hulle het gesê: “Hy sal dit nie doen nie, daar sal geen kwaad oor ons kom nie en ons sal nie oorlog of hongersnood beleef nie. 13 Wat die profete sê, is wind, dit is nie die woord van die Here nie. Mag wat hulle sê, oor hulleself kom!” 14 Die Here, die almagtige God, het vir my gesê: Omdat hulle dit gesê het, maak Ek my woorde in jou mond ’n vuur en hierdie volk hout, sodat die vuur hulle verteer. 15 Kyk, mense van Israel, Ek laat ’n nasie uit ’n ver land teen julle optrek, sê die Here, ’n nasie wat lankal bestaan, van die ou tyd af, ’n nasie wie se taal julle nie ken nie, wie se woorde julle nie verstaan nie. 16 Hulle is dodelike boogskutters, almal dapper vegters. 17 Hulle sal jou oeste en jou kos verteer, jou seuns en jou dogters om die lewe bring, jou kleinvee en jou beeste slag en jou wingerdstokke en jou vyebome vernietig, jou vestingstede waarop jy jou vertroue vestig, met die swaard inneem. 18 Maar ook in daardie dae, sê die Here, sal Ek nie ’n einde aan julle maak nie. 19 As julle vra: “Waarom het die Here ons God al hierdie dinge aan ons gedoen?” moet jy hulle antwoord: Net soos julle My, die Here, verlaat het en vreemde gode in julle eie land gedien het, so sal julle in ’n land wat nie aan julle behoort nie, vreemdes dien. 20 Vertel dit aan die mense van Jakob, maak dit aan Juda bekend. Sê vir hulle: 21 Luister hierna, dwase volk wat nie verstaan nie, wat oë het maar nie sien nie, ore maar nie hoor nie. 22 Het julle nie ontsag vir My nie, vra die Here, is julle nie bang vir My nie, vir My wat die sand as grens vir die see gestel het, ’n blywende grens wat dit nie kan oorsteek nie? Die see kan bruis, maar dit kan nie verder gaan nie, sy golwe kan dreun, maar hulle kom nie by die sand verby nie. 23 Maar hierdie volk is rebels en opstandig, hulle het in opstand gekom, My verlaat. 24 Hulle het nie vir hulleself gesê: “Ons moet die Here ons God dien wat ons die groot reëns gee, die vroeë en die laat reëns, elkeen op die regte tyd, wat vir ons gesorg het met oeste op die regte tyd” nie. 25 Julle oortredings het dit laat verander, julle sondes het die voorspoed van julle weerhou. 26 Daar is goddelose mense onder my volk: soos voëlvangers stel hulle strikke en wippe om mense mee te vang. 27 Soos ’n voëlvanger ’n hok vol voëls maak, het hulle hulle huise volgemaak met bedrog; dit is waarom hulle magtig en ryk is, 28 vet en blink. Hulle boosheid ken geen perke nie, hulle laat die reg nie seëvier nie, hulle verydel die reg van die weeskind en behartig nie die regsaak van die armes nie. 29 Sal Ek hulle nie hieroor straf nie? vra die Here. Sou Ek My nie wreek op ’n nasie soos hierdie nie? 30 Iets vreesliks en afskuweliks het in die land gebeur: 31 die profete tree vals op, die priesters regeer met hulle eie gesag, en my volk hou daarvan! Maar wat sal julle doen as die einde kom
Jeremiah 7:1–27 AFRIKAAN
1 Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: 2 Gaan staan in die poort van die huis van die Here en roep daar hierdie woorde uit: Al julle Judeërs wat by hierdie poorte ingaan om die Here te dien, hoor die woord van die Here! 3 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Maak julle lewe en julle dade reg, dat Ek julle kan laat bly in hierdie land. 4 Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!” 5 Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is, 6 moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie, moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie land nie en moenie ander gode dien nie. Dit sal onheil oor julle bring. 7 As julle aan My gehoorsaam is, sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in hierdie land wat Ek vir altyd aan julle voorvaders gegee het. 8 Julle vertrou op leuens wat julle niks gaan baat nie. 9 Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê, wierookoffers vir Baäl bring, ander gode dien vir wie julle glad nie ken nie, 10 en My dan ook nog in hierdie tempel wat na my Naam genoem is, kom dien en sê: “Ons is veilig” nie! En dan gaan julle maar voort met al hierdie gruwelike dinge! 11 Het hierdie huis wat na my Naam genoem is, vir julle ’n rowerspelonk geword? Ek het gesien wat julle doen, sê die Here. 12 Gaan na Silo toe, na die plek waar Ek voorheen my Naam laat woon het, gaan kyk wat Ek aan hom gedoen het oor die sonde van my volk Israel. 13 Julle het al hierdie dinge gedoen, sê die Here. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie; Ek het julle geroep, maar julle het nie geantwoord nie. 14 Daarom gaan Ek met hierdie huis wat na my Naam genoem is, en waarin julle julle vertroue stel, en met hierdie land wat Ek aan julle en aan julle voorvaders gegee het, net so maak soos Ek met Silo gemaak het. 15 Ek sal julle verwerp soos Ek julle broers, die hele nageslag van Efraim, verwerp het. 16 Jy moenie vir hierdie volk bid nie. Moet My nie ter wille van hulle smeek en by My vir hulle voorspraak probeer doen nie. Ek sal nie na jou luister nie. 17 Sien jy nie wat doen hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem nie? 18 Kinders maak hout bymekaar, die mans steek vure aan en die vrouens knie deeg om koeke te bak vir die koningin van die hemel. Hulle bring ook drankoffers aan ander gode om My seer te maak. 19 Is dit vir My wat hulle seermaak? vra die Here. Nee, hulle maak hulleself seer en hulle bring skande oor hulleself. 20 Daarom, sê die Here my God, laat Ek my gloeiende toorn oor hierdie land kom, oor mens en dier, oor die bome in die veld en die opbrengs van die land. My toorn sal bly brand en nie tot bedaring gebring kan word nie. 21 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Bring nog meer brandoffers saam met julle offers en eet die vleis. 22 Toe Ek julle voorvaders uit Egipte laat trek het, het Ek hulle nie beveel om vir My brandoffers en ander offers te bring nie. 23 Maar wat Ek hulle beveel het, is: Julle moet My gehoorsaam. Dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Maar julle moet leef soos Ek julle beveel sodat dit met julle goed kan gaan. 24 Maar hulle het nie geluister nie en hulle aan My nie gesteur nie. Hulle was hardkoppig en moedswillig, hulle het hulle eie kop gevolg, sodat hulle versleg het in plaas van te verbeter. 25 Vandat julle voorvaders uit Egipte getrek het tot vandag toe, het Ek vroeg en laat my dienaars die profete na julle toe gestuur. 26 Maar die volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie, hulle het hardkoppig gebly en meer kwaad as hulle voorvaders gedoen. 27 Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie; al roep jy hulle, sal hulle jou nie antwoord nie.
Jeremiah 10:17–25 AFRIKAAN
17 Jy wat beleër word, hou jou besittings gereed, 18 want, so sê die Here, Ek gaan die inwoners dié keer uit die land uit verdryf. Die nood wat Ek oor hulle gaan bring, sal niemand vryspring nie. 19 Dan sal elkeen roep: “Groot is my ellende, pynlik my wonde! Ek kan net sê: Dit is my lyding, dit sal ek moet dra.” 20 My tent is verwoes, sy toue afgeruk; my seuns het my verlaat, hulle is nie meer daar nie, daar is niemand om my tent weer op te slaan, om my tentseile te span nie. 21 Die herders het dwaas geword, hulle het nie na die wil van die Here gevra nie; daarom was hulle nie voorspoedig nie en is hulle hele kudde verstrooi. 22 Hoor! Daar kom ’n boodskapper, en ’n groot gedruis uit ’n land in die noorde! Hulle gaan die stede van Juda puinhope maak, lêplekke van jakkalse. 23 Ek weet, Here, die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie. 24 Here, straf ons soos ons verdien, maar nie in toorn nie, dat U ons nie tot niet maak nie. 25 Wees toornig op die nasies deur wie U nie erken word nie, oor die volke deur wie U nie aangeroep word nie, want hulle het vir Jakob verteer, hulle het hom verteer en vernietig en sy blyplek verwoes
Jeremiah 13:15–27 AFRIKAAN
15 Luister, gee aandag! Moenie so hoogmoedig wees nie: die Here het gepraat! 16 Eer die Here julle God voordat dit donker word, voordat julle julle in die skemer vasloop teen die berge. Julle sal wag op lig, maar Hy sal duisternis bring, Hy sal dit stikdonker laat word. 17 Maar as julle nie luister nie, sal Ek in stilte huil oor julle hoogmoed, Ek sal huil en huil, trane stort omdat my kudde as ballinge weggevoer word. 18 Sê vir die koning en vir die koningin-moeder: Klim van die troon af, want julle sal nie meer julle sierlike krone dra nie. 19 Die stede in die Suidland is beleër, niemand kan hulle ontset nie; die hele Juda word in ballingskap weggevoer. Hulle moet almal weg. 20 Kyk op, Jerusalem, kyk hoe kom hulle van die noorde af! Waar is die kudde wat aan jou toevertrou is, die kleinvee wat jou trots was? 21 Wat sal jy sê as Ek mense oor jou aanstel wat jy geleer het, as mense wat jy as bondgenote beskou het, oor jou regeer? Sal dit nie vir jou net so pynlik wees soos vir ’n vrou wat ’n kind in die wêreld bring nie? 22 Jy vra jou af: “Waarom het dit my oorgekom?” Jy word kaal uitgetrek en verkrag oor jou baie oortredings. 23 Kan ’n Kussiet sy vel verander of ’n luiperd sy vlekke? Sou julle kon doen wat goed is, julle wat so gewoond is aan die kwaad? 24 Ek sal julle verstrooi soos kaf wat verbywaai in die woestynwind. 25 Dit is jou lot, jou deel wat Ek vir jou afgemeet het, sê die Here, vir jou wat My vergeet het, wat op leuens vertrou het. 26 Ook Ek sal jou kaal uittrek, sodat jou skandelike naaktheid bekend word, 27 jou owerspel, jou wellus, jou skandelike hoerery. Op die heuwels, in die oop veld het Ek jou afskuwelike dade gesien, ellende wag vir jou, Jerusalem, as jy jou nie reinig nie! Hoe lank gaan dit nog so bly
Jeremiah 14:19–22 AFRIKAAN
19 Het U Juda dan heeltemal verwerp? Walg U vir Sion? Waarom het U ons getref sonder dat iemand ons genees? Waarom wag ons dat alles regkom, maar dit gaan nie goed nie, wag ons op ’n tyd van verbetering, maar daar is net rede tot skrik? 20 Ons erken dat ons opstandig was, Here, ons het teen U gesondig. Ons bely ook die skuld van ons voorvaders. 21 Ter wille van u Naam, Here, moet ons tog nie verwerp nie. Moenie dat die plek waar u magtige teenwoordigheid regeer, verag word nie. Dink aan u verbond met ons, moet dit tog nie prysgee nie! 22 Is daar onder die nikswerd gode van die nasies een wat laat reën, wat die hemel sy reën kan laat gee? Is dit nie U wat dit doen nie, Here ons God? Ons vertrou op U, want dit is U wat al hierdie dinge doen
Jeremiah 17:1–13 AFRIKAAN
1 Die sonde van Juda is ingegraveer met ’n ysterpen, ingegrif met ’n diamantpunt op hulle harte en op die horings van hulle altare. 2 Selfs hulle nageslag onthou nog die altare van hulle voorvaders en die gewyde pale by die groen bome en op die hoë heuwels. 3 My berg in die veld, Ek laat ander jou rykdom, jou skatte vat omdat jy dwarsoor jou land hoogtes gebou en gesondig het. 4 Jy sal deur jou eie toedoen die grond moet laat lê wat Ek jou gegee het. Ek sal jou vir jou vyande laat werk in ’n land waarvan jy nie weet nie. In my toorn sal daar ’n vuur teen julle losbreek, en dit sal aanhou brand. 5 So sê die Here: Daar rus ’n vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai; 6 hy is soos ’n kaal bossie in droë wêreld wat nooit water kry nie; ’n bossie wat in ’n klipwoestyn staan, in ’n brak wêreld waar niemand woon nie. 7 Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ’n veilige vesting is; 8 so iemand is soos ’n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ’n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie. 9 Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? 10 Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, Ek laat die mens kry wat hy verdien, wat hom toekom vir wat hy doen. 11 ’n Fisant wat broei op eiers wat hy nie gelê het nie, dit is die mens wat op oneerlike wyse ryk word. Hy sal sy rykdom moet agterlaat in die fleur van sy lewe, sy uiteinde is dié van ’n dwaas. 12 ’n Magtige troon, van die begin af verhewe, dit is die plek waar ons heiligdom staan! 13 Here, Hoop van Israel, wie van U af weggaan, kom bedroë daarvan af; wie van U af wegdraai, is vir die dood opgeskryf, want hulle verlaat die Here, die bron van die lewe
Jeremiah 17:14–18 AFRIKAAN
14 Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees! Bevry Ú my, dan sal ek vry wees! Dit is vir U wat ek wil loof. 15 Die mense vra vir my: “Waar is die woord van die Here? Laat dit tog kom!” 16 Maar omdat ek nie wou ophou om ’n herder te wees wat in u diens staan nie, het ek nie die onheilsdag nadergewens nie. U weet wat ek gesê het, dit is aan U bekend. 17 Moet tog nie vir my ’n verskrikking word nie, want U is my toevlug op die dag van rampe. 18 Laat dié wat my vervolg, bedroë daarvan afkom, nie ek nie! Laat hulle vreesbevange word, nie ek nie! Bring die dag van rampe oor hulle, straf hulle met ’n dubbele straf
Jeremiah 20:7–18 AFRIKAAN
7 U het my mislei, Here, en ek het my laat mislei. U was te sterk vir my, U het gewen. Ek word heeldag uitgelag, almal spot met my. 8 Elke keer as ek my mond oopmaak, moet ek skree, moet ek roep: “Daar is geweld, daar is verdrukking!” Om die woord van die Here te moet aankondig, beteken vir my net vernedering en bespotting heeldag deur. 9 En wanneer ek dink ek sal my aan Hom nie steur nie en nie meer in sy Naam praat nie, dan word dit in my soos ’n vuur wat brand en waarvan ek nie kan loskom nie. Ek is moeg van weerstand bied daarteen, ek kan nie meer nie. 10 Ek hoor almal fluister: “Angs van alle kante! Sê dit! Kom ons sê vir die koning wat Jeremia sê!” Selfs my vriende wag dat ek tot ’n val kom! Hulle sê: “Miskien loop hy in die val, en dan kan ons hom bykom en ons op hom wreek.” 11 Maar U is by my, Here, en U is magtig en sterk: dit is dié wat my vervolg, wat sal val; hulle sal nie wen nie. Hulle sal teleurgestel staan, want hulle sal nie in hulle doel slaag nie. Die skande van hulle neerlaag sal nooit vergeet word nie. 12 Here, Almagtige, u oordeel is reg, U sien raak wat diep in ’n mens is. Laat my sien hoe U my vyande straf want ek gee my saak in u hande. 13 Sing tot eer van die Here, loof Hom! Hy red die arme uit die mag van slegte mense. 14 Vervloek is die dag waarop ek gebore is, die dag waarop my ma my in die wêreld gebring het; mag dié dag altyd sonder seën wees. 15 Vervloek is die man wat vir my pa die berig gebring het: “Jy het ’n seun,” ’n berig wat hom baie bly gemaak het. 16 Mag dit met daardie man gaan soos met die stede wat so genadeloos deur die Here verwoes is, mag daardie man angskrete hoor in die môre, oorlogskrete op die helder middag, 17 omdat hy my nie doodgemaak het voor ek gebore is sodat my ma my graf kon gewees het en sy nooit in kraam kon kom nie. 18 Waarom is ek gebore net om ellende en pyn te beleef en my lewe lank verneder te word
Jeremiah 29:1–32 AFRIKAAN
1 Dit is ’n afskrif van die brief wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het na die leiers van die ballinge wat nog oor was, en na die priesters en die profete en die hele volk wat deur Nebukadnesar uit Jerusalem na Babel toe weggevoer is. 2 Jeremia het die brief gestuur nadat koning Jojagin en die koninginmoeder, die paleispersoneel en die amptenare van Juda en Jerusalem, die ambagsmanne en die bouers uit Jerusalem weg is. 3 Jeremia het die brief gestuur met Elasa seun van Safan en met Gemarja seun van Gilkija wat deur koning Sedekia van Juda na koning Nebukadnesar van Babel toe gestuur is. 4 So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het: 5 Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, 6 trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. 7 Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange. 8 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Moenie dat die profete en waarsêers daar by julle julle mislei nie. Moenie ag slaan op daardie drome wat julle so graag droom nie. 9 Daardie mense tree sonder opdrag op as profete in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here. 10 So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring. 11 Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! 12 Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en ek sal julle gebede verhoor. 13 Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. 14 Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit. Ek sal julle bymekaarmaak tussen al die nasies uit en van al die plekke af waarheen Ek julle verstrooi het, sê die Here, en Ek sal julle terugbring na die plek toe waarvandaan Ek julle in ballingskap weggevoer het. 15 Julle sou kon sê: “Nee, die Here het vir ons profete in Babel gegee,” 16 maar so sê die Here oor die koning wat nou op die troon van Dawid sit en oor die hele volk wat in hierdie stad woon, julle volksgenote wat nie saam met julle in ballingskap weggevoer is nie, 17 ja, so sê die Here die Almagtige: Ek laat oorlog, hongersnood en pes onder hulle los en Ek maak hulle soos oopgebarste vye wat so sleg is dat ’n mens dit nie kan eet nie. 18 Ek sal die volk agtervolg met oorlog en met hongersnood en met pes. Ek maak hulle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik: onder al die nasies waaronder Ek hulle sal verstrooi, sal hulle naam gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, wil beledig of wil verneder. 19 Hulle het nie na my waarskuwings geluister toe Ek my dienaars die profete vroeg en laat na hulle toe gestuur het nie, sê die Here. Julle ballinge het ook nie geluister nie, sê die Here. 20 Hoor die woord van die Here, al julle ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel toe weggestuur het! 21 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel, vir Agab seun van Kolaja en vir Sedekia seun van Maäseja wat sonder opdrag in my Naam as julle profete optree: Ek sal hulle oorgee in die mag van koning Nebukadnesar van Babel, en hy sal hulle voor julle oë om die lewe bring. 22 En hulle name sal as ’n vervloeking gebruik word deur al die Joodse ballinge in Babel, wat sal sê: “Mag die Here jou maak soos Sedekia en soos Agab vir wie die koning van Babel verbrand het.” 23 Hulle het ’n afskuwelike ding in Israel gedoen: hulle het gehoereer met hulle bure se vrouens en ook vals in my Naam gepraat terwyl Ek hulle nie ’n opdrag gegee het nie. Ek weet dit, Ek is getuie daarvan, sê die Here. 24 Vir Semaja die Negelamiet moet jy sê: 25 So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Jy het op eie houtjie na die hele volk in Jerusalem briewe gestuur en ook na die priester Sefanja seun van Maäseja en na al die ander priesters toe en geskryf: 26 “Die Here het jou as priester aangestel in die plek van die priester Jojada sodat jy kan toesig hou oor die huis van die Here. Jy moet elke malle wat as profeet optree, in die blok en in die nekyster sit. 27 Waarom het jy nie nou vir Jeremia die man uit Anatot wat vir julle as profeet optree, tereggewys nie? 28 Daarom het hy die boodskap hier na ons toe in Babel gestuur: die ballingskap sal nog lank aanhou. Bou huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan.” 29 Maar die priester Sefanja het hierdie brief vir die profeet Jeremia voorgelees, 30 en toe het die woord van die Here tot Jeremia gekom: 31 Stuur hierdie boodskap na al die ballinge toe. So sê die Here vir Semaja die Negelamiet: Omdat Semaja vir julle as profeet opgetree het hoewel Ek hom nie gestuur het nie, en hy julle op ’n leuen laat staatmaak het, 32 daarom, so sê die Here, sal Ek vir Semaja die Negelamiet straf en ook sy nageslag. Hy sal geen familielid onder hierdie volk oorhê nie en hy sal nie deel in die goeie wat Ek vir my volk sal doen nie, sê die Here. Hy het opstand teen My gepreek
Jeremiah 39:11–18 AFRIKAAN
11 Koning Nebukadnesar van Babel het vir Nebusaradan die hoof van die lyfwag beveel: 12 “Vang vir Jeremia, kyk goed na hom, moet hom nie kwaad aandoen nie en doen vir hom wat hy vir jou sê.” 13 Nebusaradan die hoof van die lyfwag het toe vir Nebusasban die hoofamptenaar, en vir Nergal-Sareser die hoof van die strydwamag, en al die offisiere van die koning van Babel gestuur 14 en hulle het vir Jeremia uit die binneplaas van die paleiswag gebring en hom aan Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, oorhandig om hom huis toe te vat. Jeremia het daar tussen die volk gewoon. 15 Die woord van die Here het tot Jeremia gekom terwyl hy nog ’n gevangene was in die binneplaas van die paleiswag: 16 Gaan sê vir die Kussiet Ebed-Melek: So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Wat Ek oor hierdie stad bring, is tot sy ondergang, nie tot sy redding nie. En jy sal dit sien as dit gebeur. 17 Maar daardie dag sal Ek jou red, sê die Here, en jy sal nie uitgelewer word aan die mense vir wie jy bang is nie. 18 Ek sal jou laat ontkom, jy sal nie in die oorlog sneuwel nie. Omdat jy op My vertrou het, sal jy ontsnap, al sal jy net met jou lewe daarvan afkom, sê die Here
Jeremiah 42:1–22 AFRIKAAN
1 Al die leëraanvoerders, Joganan seun van Kareag, Asarja seun van Hosaja, al die mense, klein en groot, het na die profeet Jeremia toe gekom 2 en vir hom gevra: “Doen tog asseblief wat ons vra, bid vir ons tot die Here jou God, vir ons almal wat oorgebly het. Soos jy ons hier sien, is ons die klompie wat oor is uit baie. 3 Bid tog dat die Here jou God aan ons bekend maak waarheen ons moet gaan en wat ons moet doen.” 4 Die profeet Jeremia het vir hulle gesê: “Ek het gehoor. Ek sal tot die Here julle God bid soos julle gevra het. Ek sal alles wat die Here vir julle wil sê, aan julle oordra. Ek sal niks vir julle wegsteek nie.” 5 Hulle sê toe vir Jeremia: “Die Here self sal die betroubare en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie alles doen wat die Here jou God jou opdra om vir ons te sê nie. 6 Of dit nou goed of sleg vir ons is, ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God na wie toe ons jou stuur, sodat dit met ons goed sal gaan. Ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God.” 7 Tien dae later het die woord van die Here tot Jeremia gekom. 8 Hy het Joganan seun van Kareag, al die leëraanvoerders by hom en al die ander mense, klein en groot, geroep 9 en vir hulle gesê: So sê die Here die God van Israel na wie toe julle my gestuur het om julle versoek aan Hom voor te lê: 10 As julle in hierdie land bly, sal Ek julle bou en julle nie plat slaan nie, julle vestig en julle nie afbreek nie. Ek sal die ramp wat Ek oor julle gebring het, nie verder voer nie. 11 Moenie so bang wees vir die koning van Babel nie, moenie vir hom bang wees nie, sê die Here, want Ek is by julle om julle te red en julle uit sy mag te bevry. 12 Ek sal julle genadig wees, en daarom sal hy julle genadig wees en julle na julle land toe laat teruggaan. 13 Maar as julle die Here julle God nie wil gehoorsaam nie, as julle sê julle wil nie in hierdie land bly nie, 14 as julle sê: “Nee, ons wil Egipte toe waar ons nie oorlog sal sien nie, nie die ramshoring sal hoor blaas om te gaan veg nie en nie honger sal ly nie, ons wil daar gaan bly”, 15 hoor dan die woord van die Here, julle wat van Juda oor is! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: As julle vas besluit het om Egipte toe te gaan en julle gaan woon daar, 16 sal die oorlog waarvoor julle bang is, julle daar in Egipte inhaal, en die hongersnood wat julle vrees, sal julle daarheen volg, en julle sal daar sterf. 17 Ja, almal wat vasbeslote is om na Egipte toe te gaan en daar te woon, sal sterf deur oorlog, deur hongersnood en deur pes. Nie een van hulle sal vrykom en die rampe ontsnap wat Ek oor hulle sal bring nie. 18 Ja, so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Soos my toorn en my gramskap uitgestort is oor die inwoners van Jerusalem, so sal my toorn oor julle uitgestort word as julle na Egipte toe gaan. Julle name sal gebruik word wanneer mense ander wil vervloek, wil bang maak, iets slegs wil toewens of wil verneder, en julle sal hierdie plek nooit weer sien nie. 19 Die Here het vir julle gesê, julle wat van Juda oor is: Moenie na Egipte toe gaan nie! Toe sê Jeremia vir hulle: “Weet vir seker, ek waarsku julle vandag, 20 julle maak ’n fout! Julle lewe is op die spel. Julle het my na die Here julle God toe gestuur en gevra: ‘Bid vir ons tot die Here ons God, sê vir ons alles wat die Here ons God sê, ons sal dit doen.’21 Maar noudat ek vandag vir julle gesê het wat Hy sê, is julle ongehoorsaam aan die Here julle God, aan alles wat Hy my opgedra het om vir julle te sê. 22 Weet nou verseker dat julle deur oorlog, deur hongersnood en deur pes sal sterf op die plek waar julle so graag wil gaan woon.
Jeremiah 46:13–26 AFRIKAAN
13 ’n Woord wat deur die Here aan die profeet Jeremia oorgedra is toe koning Nebukadnesar van Babel gekom het om Egipte aan te val. 14 Julle moet dit in Egipte bekend maak, julle moet dit laat hoor in Migdol, julle moet dit laat hoor in Memfis en Tagpanges, julle moet sê: Staan gereed, maak jou reg, want die swaard verteer reeds rondom jou! 15 Hoe is dit dan dat jou aanvoerders afgemaai word? Hulle bly nie staan nie, die Here stoot hulle om. 16 Hulle bly struikel, hulle val oor mekaar, en hulle sê: “Staan op, kom ons gaan terug na ons mense toe, na die land toe waar ons gebore is, weg van die swaard af wat so wild te kere gaan!” 17 Hulle skree: “Daar is die farao, die koning van Egipte, die grootprater wat sy kanse verspeel het!” 18 So seker as Ek leef, sê die Koning wie se Naam die Here die Almagtige is: Daar kom iemand wat so magtig is soos Tabor onder die berge, soos Karmel aan die see. 19 Pak julle bondels vir die ballingskap, inwoners van Egipte! Memfis gaan ’n verlate stad word, verwoes en sonder inwoners. 20 Egipte is ’n pragtige jong vers, maar daar kom ’n blindevlieg uit die noorde. 21 Die huurtroepe in Egipte is soos vetgemaakte kalwers, maar hulle sal almal omdraai en vlug, hulle sal nie bly staan nie, want die dag kom wanneer ’n ramp hulle tref, die tyd wanneer daar met hulle afgereken sal word. 22 Egipte sal sis soos ’n slang en padgee wanneer die vyand se leërmag aankom, wanneer hulle soos houtkappers met byle na Egipte toe aankom. 23 Hulle gaan sy bos afkap, sê die Here, al is die bos hoe dig. Die leër van die vyand is groter as ’n sprinkaanswerm, die soldate kan nie getel word nie. 24 Daar wag ’n neerlaag vir Egipte, hy word oorgegee in die mag van die volk uit die noorde. 25 Die Here die Almagtige, die God van Israel, het gesê: Ek gaan afreken met Amon die god van No, met die farao, met Egipte en met sy gode en sy konings, en met almal wat op hom steun. 26 Ek gee hom oor in die mag van dié wat hom wil vernietig, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel en sy onderhoriges. Maar daarna sal Egipte weer bewoon word soos vroeër tye, sê die Here
Jeremiah 48:1–11 AFRIKAAN
1 Oor Moab. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: ellende wag vir Nebo, want hy word verwoes; Kirjatajim word verneder en ingeneem, die vestingstad word verneder en platgeslaan. 2 Die roem van Moab word nie meer besing nie; sy ondergang word in Gesbon beplan: “Kom ons roei daardie nasie uit!” Ook aan Madmen word ’n einde gemaak! Die swaard is agter jou aan! 3 Van Goronajim af klink smartkrete oor die groot verwoesting en ondergang. 4 Moab word uitmekaargeskeur; smartkrete weerklink in sy dorpies. 5 Sy mense klim huil-huil die opdraand na Lugit toe uit; benoude smartkrete oor die ondergang van Moab weerklink op die pad af na Goronajim toe. 6 Vlug! Probeer wegkom, word liewer soos ’n kaal bossie in die woestyn! 7 Omdat jy jou vertroue gestel het in wat jy self gedoen en vergaar het, word jy ook ’n gevangene en word Kemos in ballingskap weggevoer saam met sy priesters en sy amptenare. 8 Die verwoester pak elke stad, nie een kom vry nie. Die Jordaanvallei gaan tot niet, die hoogvlakte word verwoes, want die Here het gepraat. 9 Laat Moab vlug, want die land lê in puin. Sy stede lê verlate, sonder inwoners. 10 Daar rus ’n vloek op elkeen wat traag is om die werk te doen wat die Here hom gegee het, op elkeen wat sy swaard nie vrylik bloed laat vergiet nie. 11 Moab sit van sy jeug af rustig, so ongestoord soos wyn op sy afsaksel, wyn wat nie van een kruik in ’n ander oorgegooi is nie. Hy is nooit in ballingskap weggevoer nie; sy smaak het dieselfde gebly, sy geur het nie verander nie.
Jeremiah 48:12–33 AFRIKAAN
12 Maar daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek mense stuur wat wyn uitgooi, en hulle sal Moab uitgooi, hulle sal sy kruike leegmaak, sy wynkanne stukkend slaan. 13 Moab sal by Kemos nie hulp kry nie, net so min as wat Israel hulp gekry het by Bet-El op wie hy vertrou het. 14 Hoe kan julle nog sê: “Ons is soldate, ons is manne wat reg is vir oorlog?” 15 Die verwoester is al op pad na Moab se stede toe, en die keur van Moab se jongmanne is op pad na hulle dood toe. Dit is wat die Koning sê, sy Naam is die Here die Almagtige: 16 Die ramp wat Moab gaan tref, is naby, sy ongeluk kom vinnig nader. 17 Julle almal rondom hom, julle almal wat hom by die naam ken, kan maar met meegevoel die koppe skud en sê: “Hoe het dié magtige ryk, dié glansryke heerskappy, tot ’n val gekom!” 18 Klim maar af van jou ereplek af en gaan sit op die dorre aarde, inwoner van Dibon, want die verwoester van Moab is al op pad na jou toe; hy gaan jou vestingstede in puin lê. 19 Gaan staan op die uitkyk langs die pad, inwoner van Aroër, ondervra elke man en vrou wat vlug, wat probeer ontkom, vra: “Wat het gebeur?” 20 Moab is verslaan, hy is angsbevange. Huil, skreeu, gaan vertel by die Arnon dat Moab verwoes is! 21 Die straf het gekom na die land met die hoogvlakte toe, na Golon, na Jahas, na Mefaät toe, 22 na Dibon, na Nebo, na Bet-Diblatajim toe, 23 na Kirjatajim, na Bet-Gamul, na Bet-Meon toe, 24 na Kerijot, na Bosra, na al die stede in Moab toe, ver en naby. 25 Die heerskappy van Moab is vernietig, sy mag is gebreek, sê die Here. 26 Moab het hom groot gehou teen die Here; maak hom dronk, laat hom aanhou braak, laat hom ook ’n spot word! 27 Jy het mos vir Israel gespot, Moab; het Israel hom dan met diewe opgehou dat jy met voldoening jou kop moes knik elke keer as jy oor hom gepraat het? 28 Vlug uit die stede! Gaan woon teen die kranse, inwoners van Moab! Word soos duiwe wat nes maak bo teen die rante van ’n put. 29 Ons het gehoor van Moab se vermetelheid, sy opperste hoogmoed, sy verwaandheid, sy vermetelheid en sy trots, sy selfvoldaanheid. 30 Ek ken sy hovaardigheid, sê die Here; sy grootpratery bring niks, al wat hy doen, kom tot niks. 31 Daarom huil Ek oor Moab, kla Ek oor die hele Moab, en kerm die mense oor die manne van Kir-Geres. 32 Meer as oor Jaser huil Ek oor jou, wingerd van Sibma; jou ranke reik tot aan die see, hulle strek tot by Jaser. Die verwoester sak toe op jou vrugte en jou druiwe. 33 Vreugde en gejuig het verdwyn uit die vrugteboorde en uit Moab; Ek het die wyn laat wegraak uit die parskuipe; die vreugde om druiwe uit te trap is daar nie meer nie, daar is geen oesvreugde meer nie.
Jeremiah 49:1–6 AFRIKAAN
1 Oor die Ammoniete. So sê die Here: Het Israel dan nie seuns nie, het hy niemand wat sy vyand verdryf nie? Waarom het Milkom die gebied van Gad in besit geneem en woon sý mense in Gad se stede? 2 Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek oorlog aankondig teen Rabba, die Ammonietestad. Hy sal ’n verlate ruïneheuwel word en sy buitedorpe sal afgebrand word. Dan sal Israel dié verdryf wat hom verdryf het, sê die Here. 3 Huil, Gesbon, jy is verwoes, ’n puinhoop, roep om hulp, vroue van Rabba, trek rouklere aan en treur, hardloop heen en weer tussen die landmure, want Milkom word in ballingskap weggevoer saam met sy priesters en sy amptenare. 4 Wat beroem jy jou op valleie, weerspannige volk, op jou waterryke vallei? Jy vertrou op jou rykdom en jy sê: “Wie sal my bykom?” 5 Ek bring angs oor jou vir almal rondom jou, sê die Here God, die Almagtige. Julle sal uitmekaargejaag word, en niemand sal die vlugtelinge bymekaarmaak nie. 6 Maar Ek sal tóg later die lot van die Ammoniete verander, sê die Here
Jeremiah 49:7–22 AFRIKAAN
7 Oor Edom. So sê die Here die Almagtige: Is daar geen wysheid meer in Teman nie? Het die manne met insig nie meer raad nie? Het hulle wysheid verdwyn? 8 Draai om, vlug! Kruip diep weg, inwoners van Dedan! Ek bring ’n ramp oor Esau, die tyd vir sy straf is daar. 9 As ander jou wingerd kom afoes, sal hulle niks vir jou laat oorbly nie. As daar diewe in die nag kom, steel hulle tot hulle genoeg het. 10 Ek het Esau kaalgestroop, Ek het sy skuilplekke oopgemaak, sodat niemand daar kan wegkruip nie. Sy nageslag is uitgeroei, en ook sy broers en sy bure; daar is niemand oor nie. 11 Laat maar jou weeskinders agter, Ek sal hulle in die lewe hou; en laat jou weduwees op My vertrou. 12 Ja, so sê die Here: As selfs dié wat dit nie verdien nie, die oordeelsbeker moet drink, kan jý ongestraf bly? Jy sal nie ongestraf bly nie; drink sal jy die beker drink. 13 Ek lê ’n eed af by Myself, sê die Here, dat Bosra ’n verlate plek sal word, ’n spot, ’n uitgedorde stuk grond, ’n voorbeeld wat in verwensings aangehaal word, en dat al sy buitedorpe vir altyd in puin sal lê. 14 Ek het ’n boodskap ontvang, en dit kom van die Here af. Daar is ’n boodskapper onder die nasies rondgestuur om te sê: Kom bymekaar, trek teen Edom op, maak oorlog teen hom! 15 Edom, Ek maak jou ’n klein volkie onder die volke, een wat nie deur mense gereken word nie. 16 Die vrees wat ander vir jou het en jou vermetelheid het jou mislei. Jy woon teen die kranse, jy klou vas aan die hoë bergtoppe, maar al bou jy jou nes daar in die hoogte soos ’n aasvoël, Ek sal jou daar afhaal, sê die Here. 17 Edom sal ’n verlate plek word; elkeen wat daar verbykom, sal sy asem intrek en van verbasing fluit oor die slag wat vir Edom getref het. 18 Soos Sodom en Gomorra en die buurdorpe verwoes is, sê die Here, so sal niemand in Edom woon nie; geen mens sal daar wil bly nie. 19 Soos ’n leeu uit die digte Jordaanbos toeslaan op ’n weiveld aan ’n standhoudende stroom, so sal Ek vir Edom eensklaps verjaag uit sy land, en Ek sal vir dié taak aanwys wie Ek verkies. Wie is soos Ek, wie kan My tot verantwoording roep? Wie is die regeerder wat teen My kan standhou? 20 Hoor wat die Here besluit het, wat sy beslissing oor Edom is, wat Hy Hom voorgeneem het oor die inwoners van Teman: hulle sal weggesleep word deur hulle eie jongmanne, Edom se woonplek sal deur hulle eie toedoen verwoes word. 21 Die aarde sal skud van die dreun van Edom se val, die geroep om hulp sal gehoor word tot by die Rietsee. 22 Die vyand sal soos ’n aasvoël opvlieg en afsak en oor Bosra sweef, en daardie dag sal Edom se soldate so bang wees soos vrouens wat vasgekeer is
Lamentations 3:22–42 AFRIKAAN
22 deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, 23 dit is elke môre nuut. U trou is groot. 24 Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. 25 Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; 26 dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; 27 dit is goed vir ’n mens om sy las in sy jeug te dra. 28 Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, 29 laat hy hom diep verootmoedig —miskien is daar hoop— 30 laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind. 31 Die Here verstoot ’n mens nie vir altyd nie; 32 as Hy beproewing oor ’n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: 33 dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring. 34 Dat al die gevangenes in die land mishandel word, 35 dat iemand se reg vertrap word voor die Allerhoogste, 36 dat ’n mens in ’n regsaak veronreg word— die Here sien dit raak! 37 Wie kan iets beplan, en dit gebeur, as die Here nie die bevel gee nie? 38 Is dit nie op bevel van die Allerhoogste dat die kwaad sowel as die goeie te voorskyn kom nie? 39 Wat kla ’n mens oor sy lewe? Hy moet liewer sy sonde oorwin. 40 Laat ons ons doen en late deeglik ondersoek en ons tot die Here bekeer, 41 laat ons met ons hele hart ons hande na God in die hemel uitsteek en bely: 42 “Ons het sonde gedoen en was opstandig; U het nie vergewe nie.”
Ezekiel 16:15–30 AFRIKAAN
15 “Maar toe verlaat jy jou op jou skoonheid, jy gebruik jou beroemdheid om ’n slet te word en jy stel jouself vrylik tot beskikking van enigiemand wat verbykom, jy word syne. 16 Jy het van jou klere gevat en vir jou veelkleurige hoogtes gemaak en daar jou afgodery bedryf, iets heeltemal ongehoords. 17 Jy het jou juwele gevat, van my goud en my silwer wat Ek vir jou gegee het, en vir jou mansbeelde gemaak en met hulle jou afgodery bedryf. 18 Jy het jou veelkleurige rok gevat en dit vir hulle aangetrek, jy het my olie en my wierook voor hulle neergesit. 19 Ek het jou gevoed met fynmeel, olie en heuning, maar jy het die kos wat Ek vir jou gegee het, voor hulle neergesit as offers met ’n aangename geur. Ja, dit is wat gebeur het, sê die Here my God. 20 Jy het jou seuns en jou dogters wat jy vir My in die wêreld gebring het, gevat en hulle vir die afgode as offermaaltye aangebied. Was jou ontrou nie genoeg nie, 21 dat jy ook nog my kinders moes slag en hulle vir die afgode moes laat verbrand? 22 Met al dié afskuwelike dade van jou, met jou ontrou het jy nie onthou van jou jeug toe jy kaal en sonder klere in jou bloed gelê en spartel het nie. 23 “Ellende, ellende wag vir jou,” sê die Here my God. “Nadat jy so sleg geword het, 24 het jy boonop op elke oop plek vir jou ’n offerbult gebou, vir jou ’n hoogte ingerig. 25 By elke kruispad het jy vir jou ’n hoogte ingerig en van jou skoonheid iets afskuweliks gemaak. Jy het gretig gelê en wag vir elkeen wat verbykom; jy het aanmekaar bly hoereer. 26 Jy het gehoereer met jou goedbedeelde bure, die Egiptenaars, jy het aanmekaar bly hoereer en My bly uittart. 27 Ek het my hand teen jou uitgesteek en jou regte ingekort en jou oorgelaat aan die willekeur van jou vyande, die Filistyne. Selfs hulle het hulle geskaam oor jou skandelike gedrag. 28 Toe het jy met die Assiriërs gehoereer, want jy was nog nie bevredig nie; jy het met hulle gehoereer, maar ook toe is jy nie bevredig nie. 29 Jy het aanmekaar bly hoereer met die Galdese handelaars, maar ook dit het jou lus nie bevredig nie. 30 Jou koors was hoog toe jy dit alles gedoen het,” sê die Here my God. “Jy het jou gedra soos ’n skaamtelose hoer.
Ezekiel 17:1–21 AFRIKAAN
1 Die woord van die Here het tot my gekom: 2 “Mens, jy moet vir Israel ’n fabel, ’n gelykenis, vertel. 3 Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God: Die groot arend met die groot vlerke, die lang vlerkpenne en die digte, bont vere het na die Libanon toe gekom en die top van die seder weggevat. 4 Hy het die boonste takkie afgepluk, dit na die land van die handelaars toe gebring en dit daar in die stad van die smouse gaan neersit. 5 Daarna het hy ’n steggie uit Israel gevat en dit in die grond gesit waar daar baie water was en waar dit kon floreer. 6 Die steggie het gegroei en ’n wingerdstok geword wat welig was maar laag op die grond moes bly met sy blare na die arend toe gedraai en sy wortels onder hom. Dit het ’n wingerdstok geword, ranke gemaak en lote uitgeskiet. 7 Daar kom toe nog ’n groot arend met groot vlerke en baie vere, en die wingerdstok draai sy wortels na dié arend toe en stuur sy ranke in dié se rigting sodat die arend vir hom nog meer water kan gee as wat daar was op die plek waar hy geplant was. 8 Hy was geplant in goeie grond, by baie water; hy kon ranke maak en druiwe dra, hy kon ’n pragtige wingerdstok geword het. 9 “Jy moet sê: So sê die Here my God: Sal dit goed gaan met die wingerdstok? Gaan die eerste arend dan nie sy wortels uittrek en sy vrugte vernietig sodat al sy druiwe verdroog wat aan die ryp word was nie? Daar is nie groot mag en baie mense nodig om hom met wortels en al uit te trek nie. 10 Hy is geplant, maar sal hy goed groei? Sal hy nie heeltemal verdor wanneer die oostewind hom tref nie? Hy sal verdroog op die plek waar hy gegroei het.” 11 Die woord van die Here het tot my gekom: 12 “Jy moet vir hierdie weerbarstige volk vra: Weet julle nie wat dit beteken nie? “Jy moet sê: Die koning van Babel het na Jerusalem toe gekom, die koning en die amptenare van die stad gevat en na hom toe in Babel gebring. 13 Daarna het hy iemand uit die koninklike geslag gevat, met hom ’n ooreenkoms gemaak en hom ’n eed van trou laat sweer. Die koning van Babel het die vooraanstaande mense uit die land weggevat 14 sodat die koninkryk swak sou wees en nie in opstand sou kom nie en sodat daar aan die ooreenkoms gehou sou word en dit sou bly bestaan. 15 Maar die nuwe koning van Jerusalem het in opstand gekom teen die koning van Babel en gesante na Egipte toe gestuur om perde en baie manskappe te vra. Maar sal hy slaag met sy onderneming? Sal hy vrykom as hy so iets doen? Sal hy vrykom as hy die ooreenkoms verbreek? 16 “So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “hy sal binne-in Babel sterf, in die stad van die koning wat hom koning gemaak het. Hy het sy eed van getrouheid aan daardie koning geminag en die ooreenkoms met hom verbreek. 17 Die farao sal nie in die geveg help met ’n groot leërmag, met baie manskappe nie. Inteendeel, daar sal ’n beleëringswal teen Jerusalem opgegooi word en beleëringswerke gebou word met die doel om baie mense uit te roei. 18 Die koning het sy eed van getrouheid geminag en die ooreenkoms verbreek. Hy het ’n plegtige onderneming gemaak en toe tog al hierdie dinge gedoen: hy kan nie vrykom nie.” 19 So sê die Here my God: “So seker as Ek leef, Ek laat hom die gevolge dra daarvan dat hy die eed van getrouheid aan My geminag en die verbond met My verbreek het. 20 Ek gooi my vangnet oor hom, hy word gevang in my net, en Ek bring hom na Babel toe waar Ek hom sal laat boet vir sy ontrou aan My. 21 Al sy soldate wat saam met hom sal probeer vlug, sal met die swaard doodgemaak word, en dié wat oorbly, sal in alle windrigtings verstrooi word. Dan sal hulle besef dat dit Ek, die Here, is wat gepraat het.”
Ezekiel 29:1–16 AFRIKAAN
1 Op die twaalfde van die tiende maand, in die tiende jaar, het die woord van die Here tot my gekom: 2 “Mens, draai jou gesig na die farao, die koning van Egipte toe en tree op as profeet teen hom en teen die hele Egipte. 3 Jy moet praat, jy moet sê: So sê die Here my God: Ek gaan teen jou optree, farao, koning van Egipte, groot krokodil wat rustig in jou rivier lê en sê: ‘Dis my rivier, ek het hom gemaak!’ 4 Ek gaan hake in jou kakebene slaan en jou rivier se visse aan jou skubbe laat vassit, Ek gaan jou optrek uit jou rivier uit saam met al jou rivier se visse wat aan jou skubbe vassit. 5 Ek gaan jou weggooi in die woestyn, jou en jou rivier se visse. Jy sal in die oop veld val en jou stukke sal nie versamel word nie, nie bymekaargesoek word nie. Ek laat die roofdiere en die voëls jou opvreet. 6 Al die inwoners van Egipte sal besef dat Ek die Here is. Jy was ’n stuk riet waarop Israel wou leun, 7 maar toe hy jou in die hand vat, breek jy en kloof sy skouer oop; toe hy op jou wou leun, knak jy en laat jy hom steier. 8 “Daarom,” so sê die Here my God, “gaan Ek oorlog oor jou bring en mens en dier uit jou uitroei. 9 Egipte gaan verlate en in puin lê. Hy het gesê: ‘Dis my rivier, ek het hom gemaak’, maar hy sal besef dat Ek die Here is. 10 “Ek gaan optree teen jou en jou rivier: Ek gaan Egipte ’n verlate puinhoop maak, van Migdol af tot by Sewene en tot aan die grens van Kus. 11 Geen mens of dier sal ’n voet daar sit nie, en daar sal veertig jaar lank niemand woon nie. 12 Ek gaan Egipte ’n verlate land tussen verlate lande maak, en sy stede sal veertig jaar lank verlate lê tussen stede wat in puin lê. Ek gaan die Egiptenaars uitmekaarjaag onder ander nasies in, hulle oor ander lande verstrooi. 13 “Maar,” so sê die Here my God, “na veertig jaar sal Ek die Egiptenaars bymekaarmaak onder die volke uit waarheen Ek hulle verjaag het. 14 Ek sal die lot van Egipte verander en hulle terugbring na Patros toe, die land van hulle herkoms. Daar sal hulle ’n klein koninkrykie wees. 15 Egipte sal kleiner as ander koninkryke wees en hom nooit weer bo ander nasies verhef nie. Ek sal hom so swak maak dat hy nie weer oor ander nasies sal heers nie. 16 Hy sal nie meer die mag wees waarop Israel vertrou nie, hy sal aanhou herinner aan die sonde wat Israel gedoen het deur hom na Egipte te wend om hulp. Dan sal hulle besef dat Ek die Here God is.
Ezekiel 33:12–20 AFRIKAAN
12 “Mens, jy moet vir die mense van jou volk sê: Die goeie dade van ’n goeie mens sal hom nie red die dag as hy teen My in opstand kom nie, en die slegte dade van ’n goddelose sal nie teen hom tel die dag as hy hom van sy slegte dade bekeer nie. Die goeie mens sal nie deur sy goeie dade bly lewe die dag as hy sondig nie. 13 Wanneer Ek vir ’n goeie mens sê hy sal die lewe behou, en hy vertrou op sy goeie dade en hy pleeg onreg, sal al sy goeie dade nie in sy guns tel nie; hy sal sterf omdat hy onreg gepleeg het. 14 En wanneer Ek vir ’n goddelose sê hy sal sekerlik sterwe, en hy bekeer hom van sy sonde en hy laat reg geskied en doen reg, 15 hy gee die goed terug wat hy as waarborg vir skuld gevat het, hy betaal terug wat hy geroof het, hy lewe volgens die voorskrifte wat lewe gee en hy pleeg nie onreg nie, sal hy lewe, hy sal nie sterwe nie. 16 Al die sonde wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy laat nou reg geskied en hy doen reg, en daarom sal hy in die lewe bly. 17 “Die mense van jou volk sê: ‘Die Here tree nie reg op nie,’ maar dit is hulle wat nie reg optree nie. 18 Wanneer ’n goeie mens sy goeie dade laat vaar en onreg pleeg, sterf hy oor die onreg. 19 Wanneer ’n goddelose afsien van sy slegte dade en reg laat geskied en reg doen, bly hy daaroor in die lewe. 20 Julle sê: ‘Die Here tree nie reg op nie,’ Israel? Ek sal elke mens onder julle oordeel volgens sy doen en late.
Ezekiel 33:23–29 AFRIKAAN
23 Die woord van die Here het tot my gekom: 24 “Mens, dié wat daar tussen die puinhope in Israel woon, sê: ‘Abraham was net een mens, en hy het die land as besitting ontvang. Ons is baie; dié land is aan ons gegee as ’n besitting!’25 Sê vir hulle: So sê die Here my God: Julle het aan heidense offermaaltye deelgeneem, julle het by julle afgode hulp gesoek, julle het bloed vergiet, en julle wil die land as besitting hê? 26 Julle staan met die swaard in die hand, julle doen afskuwelike dinge, julle onteer mekaar se vrouens, en julle wil die land as besitting hê? 27 “Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God: So seker as Ek leef, wie daar tussen die puinhope is, sal afgemaai word met die swaard; wie in die veld is, sal kos word vir die roofdiere; wie in die berge en grotte skuil, sal aan pes doodgaan. 28 Ek maak die land ’n verlate, verwoeste plek; Ek maak ’n einde aan die mag waarop hulle hulle beroem. Die berge van Israel sal verlate wees; niemand sal daar kom nie. 29 Wanneer Ek die land ’n verlate, verwoeste plek maak oor al die afskuwelike dinge wat hulle gedoen het, sal hulle besef dat Ek die Here is.
Daniel 3:8–18 AFRIKAAN
8 Dit was toe dat sekere Galdeërs die Jode gaan verkla het. 9 Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Mag die koning baie lank lewe! 10 U het ’n bevel uitgevaardig dat enigiemand wat die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ’n ander blaas- of musiekinstrument, voor die goue beeld moet buig en dit moet aanbid. 11 Wie nie buig en die beeld aanbid nie, moet in ’n brandende oond gegooi word. 12 Maar, U Majesteit, nou is daar Jode, Sadrag, Mesag en Abednego, vir wie u in beheer van die administrasie van die provinsie Babel geplaas het, wat hulle nie steur aan u bevel nie. Hulle dien nie u god nie, hulle aanbid nie die goue beeld wat u laat oprig het nie.” 13 Toe het Nebukadnesar woedend geword en vir Sadrag, Mesag en Abednego laat kom. Dié manne is voor die koning gebring, 14 en Nebukadnesar het vir hulle gesê: “Is dit waar, Sadrag, Mesag en Abednego, dat julle my god nie dien nie, die goue beeld wat ek laat oprig het, nie aanbid nie? 15 Nou kyk, dit sal in orde wees as julle bereid is om te buig en die beeld te aanbid sodra julle die geluid hoor van trompet, fluit, siter, lier, harp, ’n ander blaas- of musiekinstrument. Maar as julle hom nie aanbid nie, sal julle dadelik in ’n brandende oond gegooi word, en watter god sal julle uit my mag kan red?” 16 Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. 17 Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. 18 Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”
Daniel 3:26–30 AFRIKAAN
26 Toe het Nebukadnesar na die bek van die brandende oond toe gekom en geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van die allerhoogste God, kom uit hierheen!” En Sadrag, Mesag en Abednego het uit die oond uitgekom. 27 Toe die goewerneurs-generaal, die goewerneurs, die administrateurs en die raadgewers van die koning nader kom, sien hulle aan die manne dat die vuur niks aan hulle liggame kon doen nie, dat hulle hare op hulle koppe nie eens geskroei was nie en dat hulle klere niks makeer nie; jy kon nie eens ruik dat hulle in die vuur was nie. 28 Toe sê Nebukadnesar: “Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid. 29 Daarom vaardig ek ’n bevel uit dat enige persoon, van watter volk, nasie of taalgroep hy ook is, wat met minagting praat oor die God van Sadrag, Mesag en Abednego, in stukke gekap moet word en dat sy huis ’n puinhoop gemaak moet word. Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie.” 30 Die koning het toe gesorg dat dit voorspoedig gaan met Sadrag, Mesag en Abednego in die provinsie Babel
Daniel 6:10–17 AFRIKAAN
11 Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank. 12 Daniël se vyande het in sy huis ingestorm en hom daar gekry waar hy sy God aanbid en Hom om genade smeek. 13 Toe gaan hulle na die koning toe en hou die koninklike dekreet aan hom voor. “U het tog mos ’n dekreet uitgevaardig dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid, behalwe vir u, U Majesteit, in ’n leeukuil gegooi moet word.” Die koning het geantwoord: “Ja, en dit staan vas. Dit is ’n onherroeplike wet, ’n wet van Mediërs en Perse.” 14 Toe sê hulle vir die koning: “Maar Daniël, een van die Joodse ballinge, steur hom nie aan u bevel en aan die dekreet wat u uitgevaardig het nie, U Majesteit! Hy bid nog drie maal per dag tot sy God.” 15 Toe die koning dit hoor, het hy baie sleg gevoel. Hy het ’n plan probeer maak om Daniël te red, en toe die son ondergaan, het hy nog steeds geprobeer. 16 Toe storm Daniël se vyande weer by die koning in en sê vir hom: “U Majesteit besef seker dat volgens die reg van die Mediërs en Perse geen dekreet of wet wat deur die koning uitgevaardig is, verander mag word nie.” 17 Die koning moes toe die bevel gee, en Daniël is gebring en in ’n leeukuil gegooi. Die koning het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.” 18 Daar is ’n klip gebring en op die opening van die leeukuil gesit. Die koning het die opening verseël met sy seëlring en met dié van sy hoofamptenare sodat daar niks aan Daniël se lot verander sou kon word nie.
Daniel 6:18–23 AFRIKAAN
19 Die koning is na sy paleis toe en het ’n slaaplose nag deurgebring; hy het niks geëet nie en het niks gedoen om die tyd te probeer verdryf nie. 20 Die volgende môre vroeg toe dit lig word, het hy opgestaan en is hy haastig na die leeukuil toe. 21 Toe hy naby die leeukuil kom, het hy angstig na Daniël geroep en vir hom gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?” 22 Toe antwoord Daniël: “Mag die koning baie lank lewe! 23 My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit.” 24 Die koning was baie bly en het beveel dat Daniël uit die leeukuil gehaal moes word. Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het.
Amos 6:1–14 AFRIKAAN
1 Ellende wag vir dié wat so rustig in Sion woon, dié wat hulle so veilig voel op Samariaberg, dié vername mense van die voorste nasie op wie die koningshuis van Israel hom verlaat! 2 Gaan kyk in Kalne, gaan daarvandaan na die groot Hamat toe, gaan af na die Filistynse stad Gat toe! Is julle beter as daardie koninkryke? Is hulle grondgebied groter as julle s’n? 3 Julle maak of die dag van rampe ver is, maar julle bring juis die dag nader dat geweld julle sal regeer. 4 Julle lê op julle beddens wat met ivoor ingelê is, julle strek julle uit op julle rusbanke, julle eet lammers uit die kleinveetrop en kalwers uit die stal, 5 julle maak liedjies vir die harp, julle dink hulle vir musiekinstrumente uit soos Dawid, 6 julle drink wyn uit offerkomme en salf julle met uitsoekolie, maar oor die vernietiging van Josef bekommer julle julle nie. 7 Daarom sal julle nou weggevoer word op die voorpunt van die ballinge. Die tyd is verby dat julle uitgelate lê en feesvier. 8 Die Here my God het ’n eed afgelê by Homself, die Here die almagtige God sê: Ek verafsku die hooghartigheid van Jakob, Ek het ’n weersin in sy mooi huise! Daarom gee Ek die stad en al wat daarin is, oor in die mag van ’n vyand. 9 As daar tien man in een huis oorgebly het, sal hulle sterwe. 10 As ’n familielid of iemand wat die bene moet verbrand, hulle uit die huis kom dra, sal hy vir die een wat dalk nog agter in die huis is, vra: “Is daar nog iemand by jou?” en as dié sê: “Nee!” sal die familielid sê: “Bly stil! Ons moet nie eens die Here se Naam noem nie!” 11 Wanneer die Here die bevel gee, word die huise platgeslaan, in puin gelê, groot en klein. 12 Perde kan tog nie op ’n klipplaat galop nie! ’n Mens ploeg tog nie die see met osse nie! Hoe maak julle dan van die reg iets wat giftig is, van regspraak ’n bitter saak? 13 Julle verheug julle oor Lo-Dabar, julle sê: “Dit is tog deur ons eie krag dat ons Karnajim vir ons teruggevat het!” 14 Maar Ek gaan nou ’n nasie teen julle laat optrek, Israel, sê die Here die almagtige God, en dié nasie sal hardvogtig oor julle heers van Lebo-Hamat af tot by die stroombedding in die Jordaanvallei
Jonah 1:17–2:10 AFRIKAAN
17 Toe stuur die Here ’n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag. 1 Toe bid Jona daar binne-in die vis tot die Here sy God. 2 Jona het gesê: “In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U, Here, het my gehoor. 3 U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan. 4 Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou. 5 Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai. 6 Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered. 7 Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel. 8 Dié wat op nuttelose afgode vertrou, verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon. 9 Terwyl ek ’n loflied sing, wil ek aan U ’n offer bring; wat ek beloof het, sal ek doen. Hulp kom net van die Here af.” 10 Toe beveel die Here die vis, en hy het vir Jona op die vasteland uitgespoeg
Jonah 3:5–10 AFRIKAAN
5 Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het ’n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek. 6 Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op ’n ashoop gaan sit. 7 Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. 8 Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. 9 Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.” 10 Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie
Micah 6:1–8 AFRIKAAN
1 Hoor wat die Here sê: Maak klaar, roep die berge as getuie, laat die heuwels hoor wat jy te sê het. 2 Berge, vaste fondamente van die aarde, julle moet luister na die saak wat die Here het. Die Here het ’n saak teen sy volk, Hy het Israel aangekla. 3 My volk, wat het Ek jou aangedoen? Hoe het Ek jou moeg gemaak? Antwoord My! 4 Ek het jou uit Egipte gebring, Ek het jou uit die plek van slawerny gered, Ek het vir Moses gestuur om jou te lei, ook vir Aäron en Mirjam. 5 My volk, dink aan die planne van koning Balak van Moab, en wat Bileam seun van Beor hom geantwoord het. Dink aan alles tussen Sittim en Gilgal, en weet dat die Here julle die oorwinning laat behaal het. 6 Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel? Moet ek met offers na Hom toe gaan, met jaaroud kalwers? 7 Sal die Here duisende ramme aanvaar saam met tien duisende offers van olie? Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde, hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding? 8 Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
Micah 7:1–7 AFRIKAAN
1 Ellende wag vir my, ek het geword soos ’n land wat afgeoes is, soos die natrossies in die wingerd. Daar is niks om te eet nie, en ek wou graag voorvye gehad het. 2 Daar is nie meer ’n gelowige in die land nie, onder die mense kry jy nie ’n opregte nie, almal stel strikke om moord te pleeg, hulle maak met vangnette jag op hulle broers. 3 Al wat die regeerder vra, is dat hulle goed moet sondig; die regter vra omkoopgeld, die vername praat net oor wat hy begeer. Hulle verdraai alles. 4 Die beste onder hulle is soos ’n gifplant, die opregte erger as ’n doringheining. Die dag van jou straf kom, wees op die uitkyk daarvoor! Hulle sal binnekort in verwarring raak. 5 Moenie ’n maat vertrou nie, moenie op ’n vriend staatmaak nie, pasop wat jy sê vir die vrou langs wie jy lê. 6 Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ’n Man se huismense het sy vyande geword. 7 Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.
Micah 7:8–13 AFRIKAAN
8 Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand, al het ek tot ’n val gekom, ek sal weer opstaan, al sit ek in die donker, die Here is my lig. 9 Ek sal aanvaar dat die Here my straf in sy toorn, want ek het teen Hom gesondig. Wanneer Hy my saak verhoor en oor my uitspraak lewer, sal Hy weer lig bring in my lewe, sal ek ondervind dat Hy die oorwinning gee. 10 My vyand sal dit sien, hy sal deur skaamte oorval word, hy wat vir my vra: “Waar is die Here jou God?” Ek sal op my vyand neersien, hy sal plat getrap word soos modder op die straat. 11 Die dag wanneer jou mure herbou word, dié dag sal jy nie onder die vyand se wet staan nie. 12 Dié dag sal hulle na jou toe kom van Assirië af tot by die vestingstede, van die vestingstad af tot by die Eufraat, van die een see af tot by die ander en van die een berg af tot by die ander. 13 Die aarde sal verwoes wees oor sy inwoners, oor alles wat hulle gedoen het.
Micah 7:14–20 AFRIKAAN
14 Pas jou volk op met jou kierie, die kleinvee wat aan jou behoort, wat alleen wei in die Karmelbos. Hulle sal in Basan en Gilead wei soos lank gelede. 15 Ek sal jou wonders laat sien soos in die tyd toe jy uit Egipte getrek het. 16 Die nasies sal dit sien en teleurgestel staan, al was hulle ook hoe sterk. Hulle sal stilbly, hulle sal hulle doof hou. 17 Hulle sal stof eet soos die slange wat op die grond seil, hulle sal bewe en uit hulle wegkruipplekke uitkom na die Here ons God toe. Hulle sal skrik en vir U bang wees. 18 Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. 19 Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. 20 U sal getrou wees teenoor Jakob, liefde betoon aan Abraham, soos U in die voortyd aan ons voorvaders met ’n eed beloof het
Nahum 1:2–15 AFRIKAAN
2 Die Here is ’n God wat baie begaan is oor sy volk, ’n God wat Hom wreek. Die Here wreek Hom in sy gloeiende toorn, die Here wreek Hom op sy teëstanders, sy toorn ontvlam teen sy vyande. 3 Die Here is lankmoedig, maar sy krag is groot: Hy laat geen skuldige ongestraf nie. Hy kom in rukwind en storm, wolke is die stof onder sy voete. 4 Hy spreek die see aan en laat dit droog word, Hy laat al die riviere opdroog. Basan en Karmel verdor, die groenigheid op die Libanon verwelk. 5 Berge bewe voor Hom, heuwels wankel; die aarde, die wêreld en almal wat daarin woon, deins terug wanneer Hy verskyn. 6 Wie kan bly staan voor sy woede? Wie kan sy gloeiende toorn weerstaan? Sy gramskap breek deur soos ’n veldbrand. Rotse word voor Hom uit uitmekaar gebreek. 7 Die Here is goed, Hy is ’n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil. 8 Maar met ’n vloed wat alles meesleur, vee Hy die plek weg waar Nineve lê, jaag Hy sy vyande die duisternis in. 9 Wat julle ook al teen die Here bedink, Hy maak dit tot niet. Daar sal nie weer verdrukking wees nie. 10 Al is julle inmekaargevleg soos dorings, en al is julle deurweek van drank, julle sal soos kurkdroë stoppels verbrand word. 11 Daar het een uit jou gekom, Nineve, wat kwaad bedink teen die Here, planne wat nie sal slaag nie. 12 So sê die Here: Al is hulle hoe sterk, hoe baie, hulle sal afgemaai word en tot niet gaan. Ek het jou verneder, my volk, maar Ek sal jou nie weer verneder nie. 13 Ek breek nou die juk wat op jou is, Ek vernietig die bande wat jou bind. 14 Maar oor jou, Nineve, beveel die Here: “Jou naam sal nie meer genoem word nie!” Ek vernietig die beelde in jou tempels, Ek grawe jou graf, want dit is klaar met jou. 15 Kyk daar, oor die berge kom ’n boodskapper aangehardloop wat goeie nuus aankondig: Vier jou feeste, Juda, betaal jou geloftes! Die verdrukker sal nie weer deur jou land trek nie, hy is verslaan, vernietig
Habakkuk 2:2–4 AFRIKAAN
2 Die Here het toe vir my gesê: Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees. 3 Die openbaring geld vir ’n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie. 4 Dit is die boodskap: Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly
Habakkuk 2:5–20 AFRIKAAN
5 ’n Hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei, sal nie in sy doel slaag nie, al is hy so gulsig soos die doderyk, so onversadigbaar soos die dood, al versamel hy al die nasies rondom hom, al maak hy gevangenes van al die volke. 6 Dieselfde volke sal spotliedjies oor hom sing en met minagting na hom verwys. Hulle sal sê: Ellende wag vir hom wat hom verryk met goed wat nie syne is nie, wat vir hom al meer goed inpalm wat verpand is. Hoe lank sal dit nog voortduur? 7 Die tyd kom vinnig nader dat jy self in die skuld sal wees, dat skuldeisers vir wie jy sidder, skielik voor jou sal staan en jou sal kaalstroop. 8 Jy het baie nasies geplunder, maar nou sal dié wat oorgebly het, jou plunder, want jy het baie bloed vergiet, geweld gepleeg in baie lande, teen stede en teen hulle inwoners. 9 Ellende wag vir hom wat hom ten koste van ander wou verryk en daardeur ’n ramp oor sy familie gebring het, hy wat vir hom ’n hoë nes wou bou juis om ’n ramp vry te spring. 10 Met jou geknoei het jy jou familie se ondergang bewerk; jy wou baie volke uitroei, maar daarmee het jy ’n einde aan jou eie lewe gemaak. 11 Selfs die klippe in die mure skreeu oor wat jy gedoen het, en die balke skreeu saam. 12 Ellende wag vir hom wat ’n stad bou met moord, wat ’n dorp aanlê met onreg. 13 Dit is die Here die Almagtige wat dit beskik het dat dít waarvoor volke gewerk het in vlamme opgegaan het, dat volke hulle tevergeefs afgesloof het. 14 Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word. 15 Ellende wag vir hom wat, toe hy vir ’n ander drank gegee het, dit met gif gemeng het en hom dronk gemaak het om na sy kaal geslagsdele te kan kyk. 16 Jy sal self met skande in plaas van met eer oorlaai word, jy sal self dronk word en jou ontbloot! Die Here sal jou die oordeelsbeker wat in sy hand is, gee om te drink, en jou eer sal in skande verander word. 17 Jou geweld teen die Libanon sal jouself tref, jou mishandeling van die diere op die Libanon sal jouself vernietig. Jy het baie bloed vergiet, jy het geweld gepleeg teen baie lande, teen stede met hulle inwoners. 18 Wat is die nut van ’n afgod? Dit is maar net iets wat deur ’n mens gemaak is, ’n beeld waarvan net bedrog te wagte kan wees. Wat baat dit die maker om op sy maaksel te vertrou as hy ’n afgod gemaak het wat nie eens kan praat nie? 19 Ellende wag vir hom wat vir ’n stuk hout sê: “Word wakker!” of vir ’n dooie stuk klip: “Staan op!” Kan ’n afgod jou iets leer? Al is hy met goud of silwer oorgetrek, is daar geen lewe in hom nie. 20 Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees
Habakkuk 3:17–19 AFRIKAAN
17 Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, 18 nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. 19 Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Vir die koorleier. Met snarespel.
Zephaniah 3:1–7 AFRIKAAN
1 Ellende wag vir Jerusalem, die opstandige, besoedelde stad waarin daar soveel verdrukking is. 2 Hy is ongehoorsaam en wil hom nie laat teregwys nie, hy vertrou nie op die Here nie en dien nie sy God nie. 3 Die amptenare in die stad is brullende leeus; sy regters is wolwe wat snags aas soek en tot die môre toe nie genoeg kry om aan te knaag nie; 4 sy profete is roekelose, trouelose mense; sy priesters ontwy wat gewyd is en doen die wet van die Here geweld aan. 5 In dié stad is die Here die regverdige, net Hy doen nie onreg nie. Hy gee môre vir môre sy beslissing; sy beslissing bly nie een dag uit nie en tog ken dié wat onreg doen, geen skaamte nie. 6 Ek het nasies uitgeroei, hulle vestings is vernietig. Ek het hulle paaie verlate gemaak, sonder iemand wat daar loop. Hulle stede is verwoes, daar is niemand nie, nie een inwoner nie. 7 Ek het gedink Jerusalem sal nou vir My ontsag hê en hom laat teregwys, sodat sy woonplek nie vernietig word en al my straf hom tref nie. Maar hy het gretig bly sondig met alles wat hy doen.
Zephaniah 3:8–13 AFRIKAAN
8 Daarom, wag vir My in vrees, sê die Here, wag vir die dag wanneer Ek opstaan en my buit kom vat. Ek het besluit om nasies bymekaar te maak, koninkryke saam te roep en op hulle my gramskap uit te stort, die volle gloed van my toorn: die hele aarde sal verteer word in die vuur van my woede. 9 Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien. 10 Van anderkant die riviere van Kus af sal dié wat My vereer, my verstrooide volk, vir My geskenke bring. 11 Daardie dag sal jy nie meer rede hê om jou te skaam dat jy opstandig teen My was met alles wat jy gedoen het nie, want Ek gaan uit jou uithaal dié wat hulle so verheug het in jou hovaardigheid; jy sal nie meer vol hoogmoed wees daar op my heilige berg nie. 12 Ek sal in jou laat oorbly net dié wat nederig en ootmoedig is en vertrou op die Naam van die Here. 13 Dié wat van Israel oorgebly het, sal nie onreg doen nie en nie lieg nie; daar sal uit hulle mond nie valsheid kom nie. Hulle sal ’n kudde wees wat wei en gaan lê en rus sonder dat iemand hulle skrikmaak
Zechariah 8:1–23 AFRIKAAN
1 Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom. 2 So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Sion, Ek het woedend geword vir sy vyande, so begaan is Ek oor hom. 3 So sê die Here: Ek gaan na Sion toe terugkom, Ek gaan in Jerusalem woon. Jerusalem sal genoem word Stad van Trou, Berg van die Here die Almagtige, Heilige Berg. 4 So sê die Here die Almagtige: Daar sal weer bejaarde mans en vrouens, ryp in jare, op die pleine van Jerusalem sit, elkeen met ’n kierie in die hand. 5 Die pleine in die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel. 6 So sê die Here die Almagtige: As dit vir die oorblyfsel van hierdie volk vandag onmoontlik lyk, moet dit dan ook vir My onmoontlik lyk? Die Here die Almagtige het dit gesê. 7 So sê die Here die Almagtige: Ek gaan my volk red uit die land in die ooste, uit die land waar die son opkom. 8 Ek gaan hulle bring, en hulle gaan in Jerusalem woon. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees, in trou en in geregtigheid. 9 So sê die Here die Almagtige: Skep moed! Julle het gehoor wat die profete destyds gesê het toe die fondamente van die tempel van die Here die Almagtige gelê is sodat dit herbou kan word. 10 Voor daardie tyd was daar nie geld om mense of diere te huur nie, en die toestand was so gevaarlik dat niemand veilig kon beweeg nie. Ek het al die mense mekaar se vyande gemaak. 11 Maar nou is my houding teenoor die oorblyfsel van hierdie volk anders as toe, sê die Here die Almagtige. 12 Daar sal nou voorspoed wees: die wingerdstok sal sy druiwe dra, die land sal sy oes lewer, die hemel sal sy vog lewer, en Ek sal dit alles aan die oorblyfsel van hierdie volk gee. 13 Julle name, Juda en Israel, is onder die nasies gebruik in vervloekings, maar Ek het julle gered, en nou sal julle name gebruik word in seënwense. Moenie bang wees nie, skep moed! 14 So sê die Here die Almagtige: Omdat julle voorvaders my toorn laat ontvlam het, het Ek besluit om julle kwaad aan te doen, en Ek het nie die straf herroep nie, sê die Here die Almagtige. 15 Maar nou is my bedoeling anders: Ek wil goed doen aan Jerusalem en Juda. Moenie bang wees nie! 16 Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees. 17 Moenie bose planne teen mekaar bedink nie, moenie vals ede bly aflê nie. Ek haat sulke dinge, sê die Here. 18 Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom. 19 So sê die Here die Almagtige: Elke vasdag, of dit nou val in die vierde of die vyfde, die sewende of die tiende maand, sal vir Juda ’n dag van vrolikheid word, ’n dag van vreugde. Dié dae sal feestelike byeenkomste word, maar dan moet julle bly by die waarheid en sorg dat daar vrede onder julle is. 20 So sê die Here die Almagtige: Volke sal kom, inwoners van baie stede. 21 Die inwoners van een stad sal na dié van die volgende toe gaan en elkeen sal sê: “Kom ons gaan raadpleeg die Here, ons gaan vra na die wil van die Here die Almagtige. Ek gaan ook!” 22 Baie volke sal kom, groot nasies, om in Jerusalem na die wil van die Here die Almagtige te vra, om Hom te raadpleeg. 23 So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.
Zechariah 9:11–17 AFRIKAAN
11 Wat jou betref, my verbond met jou is met offerbloed beseël. Daarom sal Ek jou gevangenes laat red uit hulle gevangenskap. 12 Kom terug na die vestingstad toe, gevangenes wat nou hoop het! Ek verseker jou vandag: Ek gee jou twee maal soveel as wat jy gehad het. 13 Ek gebruik Juda as my boog, Efraim as my pyl, jou inwoners, Sion, as my swaard teen jou inwoners, Griekeland. Ek hanteer my volk soos ’n vegter sy swaard hanteer. 14 Die Here sal bokant sy volk verskyn, sy pyl sal soos weerlig uitskiet. Die Here God sal die ramshoring blaas, Hy sal kom in die storms uit die suide. 15 Die Here die Almagtige sal sy volk beskerm. Die klippe uit sy slingervel sal dood en verwoesting saai, hulle sal vol bloed word, hulle sal gons soos wyn bruis, hulle sal so vol bloed word soos die kom wat by offers gebruik word, soos die hoeke van die altaar. 16 Die Here hulle God sal daardie dag sy volk, sy kudde, red. Hulle sal in sy land vonkel soos die edelstene in ’n kroon. 17 Hoe voorspoedig, hoe mooi sal die land nie wees nie! Die koring en die wyn sal maak dat die jongmans en die meisies gesond en sterk sal wees
Malachi 3:8–12 AFRIKAAN
8 Sal ’n mens werklik vir God beroof? Tog beroof julle My. Julle vra: “Waarvan beroof ons U?” Van tiendes en offergawes. 9 Daar rus alreeds ’n vloek op julle en tog bly julle My beroof; die hele nasie doen dit. 10 Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie. 11 Ek sal die sprinkane keer dat hulle nie die oes op julle land vernietig nie, en dat julle wingerde nie sonder vrugte is nie, sê die Here die Almagtige. 12 Dan sal al die nasies julle as gelukkige mense beskou; julle sal in ’n begeerlike land woon, sê die Here die Almagtige
Matthew 1:18–25 AFRIKAAN
18 Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. 19 Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. 20 Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21 Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” 22 Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: 23 “Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. 24 Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. 25 Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem
Matthew 2:1–12 AFRIKAAN
1 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2 en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.” 3 Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4 Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5 Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ’n profeet geskrywe: 6 En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ’n leier voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.” 7 Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8 Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.” 9 Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10 Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11 Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12 En omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land toe teruggegaan
Matthew 2:13–15 AFRIKAAN
13 Nadat hulle vertrek het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.” 14 Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek 15 en daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat die Here deur ’n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”
Matthew 6:19–34 AFRIKAAN
19 “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. 20 Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. 21 Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” 22 “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. 23 Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” 24 “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” 25 “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26 Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27 Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28 En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. 29 Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 30 As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? 31 “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. 32 Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. 34 “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.
Matthew 7:7–11 AFRIKAAN
7 “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, 8 want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. 9 “Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, 10 of ’n slang as hy vis vra? 11 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?
Matthew 8:1–4 AFRIKAAN
1 Jesus het afgekom van die berg af, en ’n groot menigte mense het saam met Hom gegaan. 2 ’n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.” 3 Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” En sy melaatsheid was onmiddellik weg. 4 Jesus sê toe vir hom: “Jy moet dit vir niemand vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offer wat Moses voorgeskryf het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.
Matthew 8:5–13 AFRIKAAN
5 Nadat Jesus in Kapernaum aangekom het, het ’n offisier by Hom hulp kom vra 6 en gesê: “Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.” 7 En Jesus antwoord hom: “Ek sal hom kom gesond maak.” 8 Maar die offisier sê: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf sal gesond word. 9 Ek is ook ’n mens wat onder gesag staan en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir ’n ander: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” 10 Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor, en Hy sê vir die mense wat agter Hom aan gekom het: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so ’n groot geloof teëgekom nie. 11 Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. 12 Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners.” 13 Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.” En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword
Matthew 8:23–27 AFRIKAAN
23 Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. 24 Skielik het daar ’n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap. 25 Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!” 26 Hy sê vir hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?” Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword. 27 Die mense het hulle verwonder en gesê: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?
Matthew 9:1–8 AFRIKAAN
1 Jesus het toe in die skuit geklim, die see oorgesteek en in sy eie dorp aangekom. 2 Daar het hulle ’n verlamde man wat bedlêend was, na Hom toe gebring. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe.” 3 Party van die skrifgeleerdes het by hulleself gesê: “Hy praat godslasterlik.” 4 Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en Hy sê vir hulle: “Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte? 5 Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? 6 Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.” Hy sê toe vir die verlamde man: “Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” 7 Hy het opgestaan en huis toe gegaan; 8 en toe die menigte mense dit sien, het hulle God, wat sulke mag aan mense gee, met eerbiedige vrees geprys
Matthew 9:18–26 AFRIKAAN
18 Jesus was nog besig om dit vir die mense te sê toe daar ’n raadslid van die sinagoge voor Hom kom kniel en sê: “My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê u hand op haar en sy sal weer lewe.” 19 Jesus het opgestaan, en Hy en sy dissipels het saam met die man gegaan. 20 ’n Vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak. 21 Sy het vir haarself gesê: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” 22 Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.” Van daardie oomblik af was die vrou gesond. 23 Daarna het Jesus by die huis van die raadslid gekom. Toe Hy die fluitspelers sien en die klomp mense wat te kere gaan, 24 sê Hy: “Gaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.” Maar hulle het Hom uitgelag. 25 Nadat die mense uitgejaag was, het Hy in die huis ingegaan, die dogtertjie se hand gevat en sy is uit die dood opgewek. 26 Berigte hieroor het deur daardie hele omgewing versprei
Matthew 9:27–31 AFRIKAAN
27 Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg. Hulle het aanhoudend geskreeu: “Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!” 28 Jesus het in die huis ingegaan, en die blindes het daar na Hom toe gekom. Hy vra toe vir hulle: “Glo julle dat Ek dit kan doen?” “Ja, Here,” antwoord hulle Hom. 29 Toe raak Hy aan hulle oë en sê: “Wat julle glo, sal gebeur.” 30 Hulle kon toe sien, maar Jesus het hulle baie streng beveel: “Hiervan moet niemand hoor nie.” 31 Maar toe hulle daar weg is, het hulle in daardie hele omgewing van Hom vertel
Matthew 13:1–23 AFRIKAAN
1 Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. 2 ’n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in ’n skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê: 3 “’n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ’n deel van die saad op die pad geval, en 4 die voëls het gekom en dit opgepik. 5 ’n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. 6 Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7 ’n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik. 8 Die ander saad het in goeie grond geval en ’n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig. 9 “Wie ore het, moet luister!” 10 Die dissipels het vir Jesus kom vra: “Hoekom gebruik U gelykenisse as U met die mense praat?” 11 Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12 Wie het, vir hom sal nog meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 13 Om hierdie rede praat Ek met hulle in gelykenisse: omdat hulle kyk maar nie sien nie, en hoor maar nie luister en verstaan nie. 14 In hulle geval word die profesie van Jesaja vervul wat sê: ‘Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie. 15 Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie.’ 16 “Maar julle oë is bevoorreg dat hulle sien, en julle ore dat hulle hoor. 17 Dit verseker Ek julle: Baie profete en gelowiges wou graag sien wat julle sien, maar het dit nie gesien nie, en wou graag hoor wat julle hoor, maar het dit nie gehoor nie.” 18 “Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken: 19 Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is. Dit is hy by wie daar op die pad gesaai is. 20 Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. 21 Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig. 22 Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 23 Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ’n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.
Matthew 14:22–33 AFRIKAAN
22 Net daarna het Jesus sy dissipels in die skuit laat klim om solank voor Hom uit te vaar na die oorkant toe terwyl Hy nog eers die mense huis toe laat gaan. 23 Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen. 24 Die skuit was reeds ’n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor. 25 Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom. 26 Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis ’n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu. 27 Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê. “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” 28 Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” 29 “Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. 30 Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!” 31 Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” 32 Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. 33 Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.
Matthew 14:34–36 AFRIKAAN
34 Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. 35 Net toe die mense van daardie plek agterkom wie Hy is, het hulle boodskappers deur daardie hele omgewing gestuur, en die mense het almal wat ongesteld was, na Hom toe gebring. 36 Hulle het Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword
Matthew 15:21–28 AFRIKAAN
21 Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 22 ’n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van ’n bose gees, en dit gaan sleg.” 23 Maar Hy het haar niks geantwoord nie. Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.” 24 Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.” 25 Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!” 26 Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” 27 “Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.” 28 “Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Van daardie oomblik af was die dogter gesond
Matthew 16:5–12 AFRIKAAN
5 Die dissipels het na die oorkantste oewer toe gegaan, maar vergeet om brood saam te neem. 6 Jesus het vir hulle gesê: “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.” 7 Hulle het toe met mekaar daaroor gepraat en gesê: “Dit is omdat ons nie brood saamgebring het nie.” 8 Jesus het geweet wat hulle praat, en Hy sê vir hulle: “Kleingelowiges! Hoekom praat julle met mekaar daaroor dat julle nie brood het nie? 9 Verstaan julle nog nie en onthou julle nie die vyf brode vir die vyf duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? 10 En die sewe brode vir die vier duisend en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie? 11 Hoe is dit dan dat julle nie verstaan dat Ek nie met julle oor brood gepraat het nie? Ek het gesê: Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.” 12 Toe het hulle verstaan dat Hy nie bedoel het dat hulle vir gewone suurdeeg op hulle hoede moet wees nie maar vir die leer van die Fariseërs en die Sadduseërs
Matthew 16:13–17 AFRIKAAN
13 Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” 14 Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” 15 “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” 16 Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” 17 “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ’n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.
Matthew 17:14–21 AFRIKAAN
14 Toe hulle weer by die mense kom, het ’n man voor Hom kom kniel 15 en gesê: “Here, ontferm U tog oor my seun, want hy is geestelik versteurd en hy ly verskriklik. Hy val dikwels in die vuur en dikwels in die water. 16 Ek het hom al na u dissipels toe gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie.” 17 “Ongelowige en ontaarde geslag,” het Jesus gesê, “hoe lank moet Ek nog saam met julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier vir My!” 18 Jesus het die bose gees skerp aangespreek, en die bose gees het van die seun af weggegaan. Van daardie oomblik af het die seun gesond geword. 19 Die dissipels het toe alleen na Jesus toe gekom en gevra: “Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?” 20 “Omdat julle geloof te klein is,” sê Hy vir hulle. “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”21
Matthew 20:29–34 AFRIKAAN
29 Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het ’n groot menigte Jesus gevolg. 30 Twee blinde mans wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus verbykom. Toe roep hulle uit: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” 31 Die mense het met hulle geraas en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het al hoe harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” 32 Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” 33 Hulle sê toe vir Hom: “Here, dat ons oë oopgaan.” 34 Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg
Matthew 21:18–22 AFRIKAAN
18 Vroeg die môre op pad terug stad toe het Jesus honger gekry. 19 Toe Hy ’n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry nie. Hy sê toe vir die boom: “Jy sal in der ewigheid nooit weer vrugte dra nie.” En die vyeboom het dadelik verdroog. 20 Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en het hulle gevra: “Hoe het die vyeboom dan so skielik verdroog?” 21 Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur. 22 As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.
Matthew 21:28–32 AFRIKAAN
28 “Wat sê julle hiervan? Daar was ’n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’29 ‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan. 30 Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. 31 Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?” Hulle sê: “Die eerste.” Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. 32 Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie.
Mark 1:14–15 AFRIKAAN
14 Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15 Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.
Mark 1:40–45 AFRIKAAN
40 Daar kom toe ’n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.” 41 Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!” 42 Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn en hy het gesond geword. 43 Jesus het hom dadelik weggestuur, nadat Hy hom ernstig aangespreek 44 en vir hom gesê het: “Moet vir niemand iets hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offers vir jou reiniging wat Moses voorgeskrywe het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.” 45 Hy het egter gegaan en dit wyd en syd begin verkondig en dit oral geloop en vertel. Daarom kon Jesus nie meer openlik in ’n dorp kom nie en het Hy gewoonlik buite in die oop veld gebly. Tog het die mense van alle kante af na Hom toe gekom
Mark 2:1–12 AFRIKAAN
1 Toe Jesus ná ’n paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis is. 2 Baie mense het daar saamgedrom, sodat daar selfs by die deur nie meer plek was nie. Hy was besig om met hulle oor sy boodskap te praat. 3 Daar kom toe mense wat ’n verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra. 4 Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle ’n opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak. 5 Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!” 6 Maar sommige van die skrifgeleerdes het daar gesit en hulle afgevra: 7 “Waarom sê hy so? Hy praat mos godslasterlik! Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?” 8 Jesus het dadelik geweet dat hulle by hulleself so redeneer. Hy sê toe vir hulle: “Wat redeneer julle by julleself hieroor? 9 Wat is makliker? Om vir die verlamde man te sê: ‘Jou sondes word vergewe’, of om te sê: ‘Staan op, vat jou draagbaar en loop’? 10 Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op die aarde sondes te vergewe.” Hy sê toe vir die verlamde man: 11 “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” 12 Hy het opgestaan, dadelik sy draagbaar gevat en voor die oë van almal uitgestap. Hieroor was hulle almal verbaas en het hulle God geprys en gesê: “So iets het ons nog nooit gesien nie!
Mark 4:35–41 AFRIKAAN
35 Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.” 36 Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. 37 Skielik het daar ’n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. 38 Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” 39 Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!” Die wind het gaan lê en daar het ’n groot stilte gekom. 40 Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” 41 Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaa
Mark 5:25–34 AFRIKAAN
25 Daar was ook ’n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26 Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger. 27 Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28 want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29 En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30 Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?” 31 Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?” 32 Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33 Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34 Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”
Mark 5:35–43 AFRIKAAN
35 Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?” 36 Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!” 37 Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. 38 Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. 39 Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.” 40 Hulle het Hom uitgelag. Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. 41 Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op! 42 Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. 43 Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee
Mark 6:53–56 AFRIKAAN
53 Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. 54 Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Hom dadelik herken 55 en in daardie hele landstreek rondgegaan en dié wat ongesteld was, op draagbare begin aandra na waar hulle gehoor het dat Hy is. 56 Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword
Mark 7:24–30 AFRIKAAN
24 Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in ’n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie. 25 ’n Vrou wie se dogtertjie van ’n onrein gees besete was, het gou van Hom te hore gekom. Sy het gekom en voor sy voete neergeval. 26 Hierdie vrou was ’n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe. 27 Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.” 28 Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.” 29 Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.” 30 Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die bose gees was al klaar uit haar uit
Mark 9:14–29 AFRIKAAN
14 Toe hulle weer by die ander dissipels kom, sien hulle ’n groot menigte mense daar rondom hulle en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer. 15 Die hele menigte was verras toe hulle Jesus skielik sien, en het nader gehardloop om Hom te verwelkom. 16 Hy het vir die skrifgeleerdes gevra: “Waaroor redeneer julle met my dissipels?” 17 Een van die mense het Hom geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring omdat hy van ’n gees besete is wat hom stom maak. 18 En elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom op die grond neer. Dan kry hy skuim om die mond en hy kners op sy tande, en sy spiere trek saam. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te drywe, en hulle kon nie.” 19 Jesus sê toe vir hulle: “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier na My toe.” 20 Hulle het die seun na Hom toe gebring. Net toe die gees vir Jesus sien, het hy die seun geweldige stuiptrekkings laat kry. Hy het op die grond neergeslaan en rondgerol, met skuim om die mond. 21 Jesus het vir die pa gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?” 22 “Van kleins af,” antwoord hy, “en baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.” 23 “‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.” 24 “Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.” 25 Toe Jesus sien dat ’n menigte mense aangestroom kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie!” 26 Die gees het hom laat skreeu en hewige stuiptrekkings laat kry en toe uit hom uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, sodat baie mense gesê het: “Hy is dood.” 27 Jesus het hom egter aan die hand gevat en opgehelp, en hy het opgestaan. 28 Nadat Jesus huis toe gegaan het, toe hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?” 29 Hy het vir hulle gesê: “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.
Mark 10:13–16 AFRIKAAN
13 Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. 14 Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 15 Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” 16 Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën
Mark 10:46–52 AFRIKAAN
46 Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en ’n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar ’n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad. 47 Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” 48 Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” 49 Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.” Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.” 50 Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. 51 Jesus vra vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” “Rabboeni,” sê die blinde man vir Hom, “dat ek kan sien.” 52 Jesus sê daarop vir hom: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.” Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan
Mark 11:20–24 AFRIKAAN
20 Toe hulle die volgende môre vroeg by die vyeboom verbygaan, sien hulle dat hy tot in sy wortels verdroog is. 21 Gedagtig aan wat Jesus gesê het, sê Petrus vir Hom: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.” 22 Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê! 23 Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. 24 Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.
Mark 16:9–18 AFRIKAAN
9 Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het. 10 Sy het dit vir sy dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het. 11 Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie. 12 Daarna het Jesus met ’n ander voorkoms aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland toe. 13 Hulle het dit vir die ander dissipels gaan vertel, maar dié het selfs vir húlle ook nie geglo nie. 14 Later het Jesus aan die elftal self verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart omdat hulle dié wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. 15 Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. 16 Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word. 17 Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; 18 met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”
Luke 1:34–38 AFRIKAAN
34 Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ’n man gehad het nie?” 35 Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36 Kyk, ’n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ’n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37 Niks is vir God onmoontlik nie.” 38 Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan
Luke 1:39–56 AFRIKAAN
39 Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na ’n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. 40 Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. 41 Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul 42 en het hard uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! 43 Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom? 44 Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg. 45 Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” 46 En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here, 47 ek juig oor God, my Verlosser, 48 omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, 49 omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam! 50 Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer. 51 Kragtige dade het Hy met sy arm verrig: hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag; 52 maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog; 53 behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur. 54 Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming 55 soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.” 56 Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe
Luke 2:25–35 AFRIKAAN
25 Daar het destyds ’n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon 26 en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. 27 Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom, 28 het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê: 29 “Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, 30 omdat my oë u verlossing gesien het 31 wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke: 32 ’n lig tot verligting van die nasies en tot eer van u volk Israel.” 33 Sy vader en moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom gesê is. 34 Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ’n val en ’n opstanding van baie in Israel en tot ’n teken wat weerspreek sal word. 35 So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan.”
Luke 5:1–11 AFRIKAAN
1 Op ’n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor, 2 sien Hy twee skuite aan die kant van die meer lê. Die vissers het uitgeklim en was besig om die nette uit te spoel. 3 Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit ’n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer. 4 Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.” 5 “Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” 6 En toe hulle dit doen, het hulle so ’n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur. 7 Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het. 8 Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is ’n sondige mens.” 9 Hy en almal wat saam met hom was, was stom verbaas oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. 10 Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Toe sê Jesus vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” 11 En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword
Luke 5:16–26 AFRIKAAN
16 Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid. 17 Op een van dié dae, terwyl Jesus besig was om die mense te leer, het daar ook Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses gesit wat van oral af uit die dorpe van Galilea en Judea en selfs uit Jerusalem gekom het. En die Here het vir Jesus die krag gegee om mense gesond te maak. 18 Onverwags kom daar mense met ’n verlamde man op ’n draagbaar aan, en hulle probeer om hom die huis in te bring en voor Jesus neer te sit. 19 Toe hulle vanweë die gedrang nie kans sien om hom in te bring nie, klim hulle op die dak en laat hom met draagbaar en al deur ’n opening tussen die dakteëls afsak tussen die mense in en vlak voor Jesus. 20 Toe Hy hulle geloof sien, sê Hy: “Mens, jou sondes is jou vergewe.” 21 Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het hulle begin afvra: “Wie is hy dat hy so godslasterlik praat? Wie anders kan sondes vergewe as net God alleen?” 22 Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk en vir hulle gesê: “Wat redeneer julle by julleself? 23 Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? 24 Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.” Toe sê Hy vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” 25 Onmiddellik het hy voor hulle oë opgestaan, die draagbaar waarop hy gelê het, gevat en terwyl hy God prys, huis toe gegaan. 26 Almal het verbaas gestaan en God geprys en vol eerbiedige vrees gesê: “Vandag het ons ongelooflike dinge gesien.
Luke 7:1–10 AFRIKAAN
1 Nadat Jesus die gehoor klaar toegespreek het, het Hy na Kapernaum toe gegaan. 2 ’n Offisier daar het ’n slaaf gehad wat vir hom baie werd was, en die slaaf was siek en het op sterwe gelê. 3 Die offisier het van Jesus gehoor, en stuur toe ’n paar familiehoofde van die Jode na Hom toe om te vra dat Hy moet kom om sy slaaf gesond te maak. 4 Toe hulle by Jesus kom, het hulle ernstig by Hom daarop aangedring en gesê: “Hy is dit werd dat U dit vir hom doen, 5 want hy het ons volk lief en het op eie koste die sinagoge vir ons gebou.” 6 Jesus het toe saam met hulle gegaan. Toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die offisier ’n paar van sy vriende om vir Hom te sê: “Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. 7 Daarom het ek my ook nie waardig geag om self na U toe te gaan nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf is gesond. 8 Ek is self ’n man wat onder gesag gestel is en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir ’n ander: ‘Kom!’ en hy kom. Vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” 9 Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor. Hy draai toe om na die mense wat agter Hom aangekom het en sê: “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so ’n groot geloof teëgekom nie.” 10 En toe die mense wat gestuur was, weer by die huis kom, kry hulle die slaaf daar heeltemal gesond
Luke 7:40–50 AFRIKAAN
40 Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.” “Meneer, sê dit maar!” antwoord hy. 41 Jesus sê toe. “Twee mense was in die skuld by ’n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. 42 Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskel. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?” 43 Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskel het.” “Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus, 44 en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom—en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. 45 ’n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. 46 My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. 47 Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.” 48 En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.” 49 Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?” 50 Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.
Luke 8:4–15 AFRIKAAN
4 Uit die verskillende dorpe het aanhoudend mense na Jesus toe gestroom, en toe ’n groot menigte saamgekom het, het Hy vir hulle ’n gelykenis vertel: 5 “’n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Met die saai het ’n deel op die pad geval, en dit is vertrap en die voëls het dit opgepik. 6 ’n Ander deel het op ’n klipbank geval, en nadat dit opgekom het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie. 7 Nog ’n ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het daarmee saamgegroei en dit laat verstik. 8 Daar was ook ’n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en ’n honderdvoudige oes gelewer.” Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!” 9 Sy dissipels het Hom gevra wat die betekenis van hierdie gelykenis is. 10 Hy het geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van God te ken, maar vir die ander bly dit by gelykenisse sodat hulle kyk sonder om te sien en hoor sonder om te verstaan.” 11 “Die betekenis van die gelykenis is dit: Die saad is die woord van God. 12 Dié wat op die pad val, dui op mense wat die woord hoor, maar dan kom die duiwel en neem dit uit hulle harte weg sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie. 13 Dié wat op die klipbank val, dui op hulle wat die woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar dit skiet nie wortel nie. Hulle geloof hou net ’n tydjie. Die oomblik dat dit op die proef gestel word, gee hulle moed op. 14 Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie. 15 Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met ’n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.
Luke 8:22–25 AFRIKAAN
22 Op ’n dag het Jesus en sy dissipels in ’n skuit geklim en Hy het vir hulle gesê: 23 “Kom ons gaan na die oorkant van die meer toe.” Hulle vaar toe weg, en terwyl hulle seil, raak Jesus aan die slaap. ’n Hewige stormwind het op die meer losgebars en die skuit het vol water begin word sodat hulle in lewensgevaar was. 24 Hulle gaan toe na Jesus toe en maak Hom wakker met die uitroep: “Meneer, Meneer, ons vergaan!” Toe staan Hy op en bestraf die wind en die golwe. 25 Hulle het bedaar, en daar het stilte gekom. Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?” Maar hulle was verskrik en verbaas en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog? Hy gee bevele aan wind en water, en hulle is aan Hom gehoorsaam!
Luke 8:41–48 AFRIKAAN
41 Skielik kom daar ’n man aan. Dit was Jaïrus, ’n raadslid van die sinagoge. Hy het op sy knieë voor Jesus se voete geval en Hom gesmeek om na sy huis toe te kom, 42 want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud. Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom. 43 Onder hulle was ’n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie. 44 Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe: 45 “Wie het My aangeraak?`” Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: “Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.” 46 Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.” 47 Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. 48 Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!”
Luke 8:49–56 AFRIKAAN
49 Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: “U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.” 50 Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: “Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.” 51 Toe Jesus by die huis kom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes en Jakobus, en die kind se pa en ma. 52 Die mense daar het almal gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Jesus sê: “Moenie huil nie, want sy is nie dood nie, sy slaap net.” 53 Hulle het Hom uitgelag, want hulle was seker dat sy dood is. 54 Maar Jesus het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op!” 55 Haar lewe het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan. Toe gee Jesus opdrag dat hulle vir haar iets te ete moet gee. 56 Haar ouers was stom van verbasing, en Jesus het hulle verbied om vir iemand te vertel wat gebeur het
Luke 9:37–42 AFRIKAAN
37 Die volgende dag, toe hulle die berg afkom, het ’n groot klomp mense Jesus tegemoet gekom. 38 Meteens roep daar ’n man uit die skare: “Meneer, ek smeek U, kyk bietjie na my seun. Hy is my enigste kind. 39 ’n Gees pak hom onverwags beet, dan gaan hy skielik aan die skreeu en hy kry stuiptrekkings en ook skuim om die mond. Die gees hou aan om hom te verniel en laat hom nie maklik weer los nie. 40 Ek het u dissipels gesmeek om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.” 41 Toe antwoord Jesus: “Ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.” 42 Terwyl die seun nog aankom, gooi die bose gees hom op die grond neer en laat hom hewige stuiptrekkings kry. Maar Jesus het die onrein gees skerp aangespreek, die kind gesond gemaak en hom aan sy pa teruggegee.
Luke 11:11–13 AFRIKAAN
11 Is daar ’n pa onder julle wat as sy seun vir hom ’n vis vra, vir hom ’n slang sal gee in plaas van die vis? 12 Of as hy ’n eier vra, vir hom ’n skerpioen sal gee? 13 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.
Luke 12:1–12 AFRIKAAN
1 Die mense het intussen by die duisende saamgedrom en mekaar vertrap. Toe het Jesus begin praat en Hom in die eerste plek tot sy dissipels gerig: “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is hulle huigelary. 2 Daar is niks bedek wat nie onthul sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. 3 Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die daglig gehoor word; en wat julle agter geslote deure vir iemand in die oor gefluister het, sal van die dakke af uitgebasuin word.” 4 “Aan julle, my vriende, sê Ek: Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. 5 Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, ná die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hóm moet julle vrees. 6 “Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. 7 Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” 8 “Ek sê vir julle: Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook openlik uitspreek voor die engele van God. 9 Maar hy wat My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word. 10 “Elkeen wat teen die Seun van die mens iets sê, kan vergewe word; maar hy wat teen die Heilige Gees laster, kan nie vergewe word nie. 11 “Wanneer hulle julle voor sinagoges en owerhede en gesagvoerders bring, moet julle julle nie bekommer oor hoe of waarmee julle julle gaan verdedig of wat julle gaan sê nie, 12 want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat gesê moet word.
Luke 12:13–21 AFRIKAAN
13 Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: “Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel.” 14 Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?” 15 Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” 16 Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: “’n Ryk man se grond het goed gedra. 17 Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. 18 Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. 19 Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’20 Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’21 So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.
Luke 12:22–34 AFRIKAAN
22 Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. 23 Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. 24 Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls. 25 Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? 26 As julle nie eens so ’n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge? 27 “Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 28 As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges! 29 Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. 30 Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ’n Vader wat weet dat julle dit nodig het. 31 Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee. 32 “Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee. 33 “Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ’n beurs aan wat nie leeg raak nie, ’n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. 34 Waar julle skat, is daar sal julle hart ook wees.
Luke 17:1–10 AFRIKAAN
1 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. 2 So ’n mens kan eerder met ’n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies ’n struikelblok word. 3 Wees dus self op julle hoede. “As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. 4 Selfs as hy sewe maal op ’n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.” 5 Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.” 6 Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam. 7 “Sê nou een van julle het ’n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’? 8 Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’9 ’n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe? 10 So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.
Luke 17:11–19 AFRIKAAN
11 Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan. 12 Net toe Hy ’n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op ’n afstand staan 13 en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!” 14 Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.” Op pad daarheen het hulle gesond geword. 15 En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. 16 Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ’n Samaritaan. 17 Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan? 18 Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ’n Jood is nie?” 19 En vir hom sê Hy: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.
Luke 18:1–8 AFRIKAAN
1 Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. 2 Hy het gesê: “In ’n sekere stad was daar ’n regter wat geen eerbied vir God of agting vir ’n mens gehad het nie. 3 En in dieselfde stad het ’n weduwee gewoon wat hom herhaaldelik kom vra het: ‘Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.’4 ’n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan ’n mens steur ek my nie, 5 maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog.” 6 Toe sê die Here: “Hoor wat sê die onregverdige regter. 7 Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? 8 Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?
Luke 18:9–14 AFRIKAAN
9 Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10 “Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n tollenaar. 11 Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12 Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’ 13 “Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ 14 “Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.
Luke 18:15–17 AFRIKAAN
15 Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas. 16 Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 17 Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.
Luke 18:35–43 AFRIKAAN
35 Jesus het naby Jerigo gekom. Toe ’n blinde man wat daar langs die pad sit en bedel, 36 die groot menigte mense hoor verbyloop, vra hy wat aan die gang is. 37 Hulle vertel hom toe: “Jesus van Nasaret gaan hier verby.” 38 Toe roep hy uit: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!” 39 Die mense wat voor geloop het, het hom beveel om stil te bly, maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!” 40 Jesus gaan toe staan en gee bevel dat hy na Hom toe gebring moet word. Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom: 41 “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” En hy antwoord: “Here, dat ek kan sien.” 42 Jesus sê vir hom: “Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered.” 43 En onmiddellik kon hy sien, en hy het Jesus gevolg en God geprys. Ook al die mense wat dit gesien het, het aan God die eer gegee
Luke 22:31–34 AFRIKAAN
31 “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. 32 Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” 33 Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.” 34 Maar Hy antwoord: “Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.
Luke 23:26–49 AFRIKAAN
26 Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle ’n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra. 27 ’n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. 28 Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders, 29 want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit ’n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’ 30 “Dan sal hulle vir die berge sê: ‘Val op ons!’ en vir die heuwels: ‘Bedek ons!’ 31 As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?” 32 Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word. 33 Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. 34 Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Hulle het sy klere verdeel deur te loot. 35 Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.” 36 Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied 37 en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.” 38 Daar was ook ’n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.” 39 Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” 40 Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41 In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42 Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” 43 Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” 44 Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; 45 die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. 46 Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas. 47 Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.” 48 Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. 49 Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ’n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien
Luke 24:13–32 AFRIKAAN
13 Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na ’n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. 14 Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. 15 Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, 16 maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. 17 Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?” Met somber gesigte gaan hulle staan, 18 en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?” 19 Hy vra vir hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, ’n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; 20 en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. 21 Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. 22 En nou het ’n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23 en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ’n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24 Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.” 25 Toe sê Hy vir hulle: “Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? 26 Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?” 27 Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê. 28 Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. 29 Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. 30 Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31 Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. 32 Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”
John 1:6–8 AFRIKAAN
6 Daar was ’n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7 Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8 Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.
John 1:12–13 AFRIKAAN
12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.
John 1:35–42 AFRIKAAN
35 Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. 36 Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!” 37 Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. 38 Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi”—dit beteken leermeester—“waar gaan U tuis?” 39 Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly. 40 Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. 41 Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus. 42 Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus
John 1:43–51 AFRIKAAN
43 Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!” 44 Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus. 45 Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.” 46 Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord. 47 Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is ’n ware Israeliet, ’n man in wie daar geen bedrog is nie.” 48 Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?” “Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.” 49 Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!” 50 Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.” 51 Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.
John 2:1–10 AFRIKAAN
1 Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. 2 Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi. 3 Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.” 4 Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.” 5 Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.” 6 Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. 7 Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.” Hulle het dit tot bo toe volgemaak. 8 Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.” Hulle het dit gedoen. 9 Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom 10 en sê vir hom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”
John 2:11–12 AFRIKAAN
11 Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom. 12 Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie
John 2:13–25 AFRIKAAN
13 Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. 14 Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. 15 Toe het Hy met toutjies ’n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer. 16 Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie.” 17 Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.” 18 Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?” 19 Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.” 20 Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?” 21 Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. 22 Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo. 23 Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. 24 Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. 25 Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ’n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is
John 3:1–21 AFRIKAAN
1 Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. 2 Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.” 3 Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” 4 Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” 5 Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6 Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7 Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8 Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.” 9 Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?” 10 En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? 11 Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. 12 Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? 13 Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. 14 Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, 15 sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. 16 “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17 God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18 Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19 En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20 Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21 Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.
John 3:22–36 AFRIKAAN
22 Hierna het Jesus en sy dissipels na die platteland van Judea toe gegaan. Hulle het ’n rukkie daar gebly en mense gedoop. 23 Johannes was ook besig om te doop, by Enon naby Salim, waar daar baie water was. Die mense het na hom toe gekom en is deur hom gedoop. 24 Johannes was nog nie in die tronk gesit nie. 25 Daar het toe tussen Johannes se volgelinge en ’n Jood ’n woordewisseling ontstaan oor die reiniging. 26 Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: “Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.” 27 Johannes het hulle geantwoord: “Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. 28 Julle is self my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Christus nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’29 Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul. 30 Hy moet meer word en ek minder. 31 “Hy wat van bo af kom, is bo almal; hy wat van die aarde is, hoort by die aarde en praat die taal van die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. 32 Wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy, en tog aanvaar niemand sy getuienis nie. 33 Wie sy getuienis aanvaar het, het daardeur bevestig dat God geloofwaardig is. 34 God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking. 35 Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee. 36 Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.
John 4:39–42 AFRIKAAN
39 Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40 Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. 41 Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; 42 en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.
John 4:46–54 AFRIKAAN
46 Jesus het toe weer na Kana in Galilea toe gegaan, waar Hy die water wyn gemaak het. In Kapernaum was daar ’n sekere regeringsamptenaar wie se seun siek was. 47 Toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het, het hy na Hom toe gegaan en Hom gevra om te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê. 48 Jesus sê toe vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.” 49 En toe sê die amptenaar vir Hom: “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.” 50 Maar Jesus sê vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan. 51 Toe hy nog op pad was, het sy werksmense hom al tegemoet gegaan en vertel dat sy kind lewe. 52 Hy vra hulle toe presies wanneer hy begin beter word het, en hulle antwoord hom: “Gistermiddag een-uur het die koors hom verlaat.” 53 Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom. 54 Dit was die tweede wonderteken wat Jesus gedoen het nadat Hy weer uit Judea na Galilea toe gekom het
John 5:22–30 AFRIKAAN
22 Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat. 23 Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie. 24 “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. 25 Ek verseker julle: Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. 26 Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê. 27 Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. 28 Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ’n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29 en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.” 30 “Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.”
John 5:37–38 AFRIKAAN
37 En die Vader wat My gestuur het, het ook oor My getuienis afgelê. Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy gestalte ook nie gesien nie. 38 En sy woord lewe nie werklik in julle nie, omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie.
John 5:39–47 AFRIKAAN
39 Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. 40 Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie. 41 “Ek is nie gesteld op die eer wat mense bewys nie, 42 maar Ek ken julle en Ek weet dat julle nie liefde vir God in julle het nie. 43 Ek het in die Naam van my Vader gekom, en tog aanvaar julle My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar. 44 Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie? 45 Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, op wie julle julle hoop gevestig het, wat vir julle aankla. 46 As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe. 47 Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?
John 6:1–14 AFRIKAAN
1 Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word. 2 ’n Groot klomp mense het agter Hom aan gekom omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het. 3 Jesus het toe teen die berg opgegaan en met sy dissipels daar gaan sit. 4 Die paasfees van die Jode was naby. 5 Toe Jesus rondkyk en sien dat ’n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?” 6 Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen. 7 Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle ’n stukkie brood te laat kry nie.” 8 ’n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: 9 “Hier is ’n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” 10 Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend. 11 Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê. 12 Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.” 13 Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het. 14 Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”
John 6:22–40 AFRIKAAN
22 Die mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag 23 kom daar toe ander skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here daarvoor gedank het. 24 Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus. 25 En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?” 26 Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. 27 Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.” 28 Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?” 29 En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.” 30 Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen? 31 Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.” 32 Jesus het hulle geantwoord: “Dit verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. 33 Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.” 34 Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.” 35 Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. 36 Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie. 37 “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. 38 Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39 En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 40 Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.
John 6:41–59 AFRIKAAN
41 Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” 42 Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?” 43 Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie. 44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 45 By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. 46 Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien. 47 “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48 Ek is die brood wat lewe gee. 49 Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50 Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ’n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51 Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.” 52 Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?” 53 Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. 54 Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 55 My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. 56 Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57 Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. 58 Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.” 59 Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het
John 6:60–66 AFRIKAAN
60 Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?” 61 Jesus het vanself geweet dat sy dissipels hieroor mor, en Hy sê vir hulle: “Skrik dit julle af? 62 Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was? 63 Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe. 64 Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai. 65 Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.” 66 Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie.
John 6:67–71 AFRIKAAN
67 Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?” 68 Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. 69 En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.” 70 Jesus het daarop vir hulle gesê: “Het Ek nie self julle twaalf uitgekies nie? En een van julle is ’n duiwel!” 71 Hy het Judas die seun van Simon Iskariot bedoel, want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was
John 7:25–31 AFRIKAAN
25 Intussen het party van die inwoners van Jerusalem gesê: “Is dit nie die man vir wie hulle wil doodmaak nie? 26 En hier praat hy nou in die openbaar, en hulle sê niks teen hom nie. Het die lede van die Joodse Raad miskien werklik tot die oortuiging gekom dat hy die Christus is? 27 Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, sal niemand weet waar Hý vandaan kom nie.” 28 Terwyl Jesus die mense in die tempel leer, het Hy uitgeroep: “Ja, julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. En tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar dit is die ware God wat My gestuur het, en vir Hom ken julle nie. 29 Ek ken Hom, omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.” 30 Hulle wou Hom toe gevange neem, en tog het niemand dit gedoen nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie. 31 Maar baie van die mense het tot geloof in Hom gekom en het gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?
John 7:37–39 AFRIKAAN
37 Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! 38 Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” 39 Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie
John 8:12–30 AFRIKAAN
12 Op ’n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” 13 Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Jy getuig oor jouself; jou getuienis is dus nie geldig nie.” 14 Daarop sê Jesus vir hulle: “Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. 15 Julle oordeel oor iemand volgens sy uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. 16 En as Ek oor iemand oordeel, is my oordeel reg, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. 17 In julle wet staan daar geskrywe dat die getuienis van twee persone geldig is. 18 Nou ja, oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het.” 19 Toe vra hulle vir Hom: “En waar is die vader van jou?” Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.” 20 Hierdie dinge het Hy gesê in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het. Hy was toe besig om die mense in die tempel te leer. En tog het niemand Hom gevange geneem nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie. 21 Verder het Jesus vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar julle sal in julle sonde sterwe. Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.” 22 Die Jode het toe gesê: “Gaan hy dalk selfmoord pleeg, dat hy sê: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie?” 23 Toe sê Hy vir hulle: “Julle is van hier onder; Ek is van daar bo. Julle behoort tot hierdie wêreld; Ek behoort nie tot hierdie wêreld nie. 24 Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe.” 25 Hulle vra Hom toe: “Wie is jy?” Jesus het hulle geantwoord: “Waarom praat Ek eintlik nog met julle? 26 Ek kan baie dinge oor julle sê en ’n oordeel oor julle uitspreek; maar Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê Ek vir die wêreld.” 27 Hulle het nie begryp dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie. 28 Daarna sê Jesus vir hulle: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar net verkondig wat die Vader My geleer het. 29 Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil.” 30 Terwyl Hy hierdie dinge gesê het, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom
John 8:31–38 AFRIKAAN
31 Toe sê Jesus vir die Jode wat in Hom glo: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; 32 en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” 33 Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie. Hoe kan jy sê: ‘Julle sal vry word’?” 34 Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is ’n slaaf van die sonde. 35 ’n Slaaf bly nie vir altyd by ’n huisgesin nie; ’n seun bly vir altyd. 36 Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees. 37 Ek weet julle is die nageslag van Abraham. Maar julle wil My doodmaak omdat my woorde nie ingang by julle vind nie. 38 Ek praat oor wat Ek by my Vader gesien het; en julle doen wat julle by julle vader gehoor het.”
John 9:24–41 AFRIKAAN
24 Die Jode het toe die tweede keer die man wat blind was, geroep en vir hom gesê: “Praat die waarheid voor God; ons weet mos hierdie man is ’n sondaar.” 25 Daarop het hy gesê: “Of hy ’n sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.” 26 Hulle sê toe vir hom: “Wat het hy met jou gemaak? Hoe het hy jou oë genees?” 27 “Ek het julle mos al vertel, en julle het nie geluister nie,” antwoord hy. “Hoekom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook dissipels van hom word nie?” 28 Toe skel hulle hom uit en sê: “Jý is ’n dissipel van hom. Óns is dissipels van Moses. 29 Ons weet dat God met Moses gepraat het; maar hierdie man—ons weet nie waar hy vandaan kom nie.” 30 “Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. 31 Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. 32 Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. 33 As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.” 34 Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?” En hulle het hom uitgeban. 35 Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?” 36 Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?” 37 Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.” 38 Die man sê toe: “Ek glo, Here!” En hy het Hom aanbid. 39 Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ’n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.” 40 Party Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is mos nie blind nie!” 41 Jesus antwoord hulle: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.
John 10:22–42 AFRIKAAN
22 Dit was daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. 23 Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop. 24 Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.” 25 Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is. 26 Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. 27 My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. 28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30 Ek en die Vader is een.” 31 Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig, 32 maar Jesus sê vir hulle: “Op gesag van die Vader het Ek julle talle goeie dade laat sien. Oor watter een daarvan wil julle My stenig?” 33 “Dis nie oor ’n goeie daad dat ons jou wil stenig nie,” antwoord die Jode Hom, “maar oor godslastering, omdat jy, wat ’n gewone mens is, jou as God voordoen.” 34 Daarop sê Jesus vir hulle: “Staan daar nie in julle wet geskrywe: ‘Ek het gesê: Julle is gode’ nie? 35 God noem hulle tot wie sy woord gekom het, dus ‘gode’, en wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie. 36 Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’? 37 As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie. 38 Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.” 39 Hulle wou Hom toe weer gevange neem, maar Hy het hulle ontglip. 40 Hy het teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes vroeër gedoop het, en daar gebly. 41 Baie mense het na Hom toe gekom. Hulle het gesê: “Johannes het wel geen wonderteken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, is waar.” 42 Baie mense het daar tot geloof in Hom gekom
John 11:1–16 AFRIKAAN
1 ’n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het. 2 Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was. 3 Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.” 4 Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” 5 Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. 6 Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. 7 Eers daarna het Hy vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.” 8 Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?” 9 Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf uur in ’n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. 10 Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie.” 11 Hierna het Hy vir hulle gesê: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” 12 Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” 13 Jesus het van Lasarus se dood gepraat, maar hulle het gedink Hy praat van die gewone slaap. 14 Toe sê Jesus vir hulle reguit: “Lasarus is dood, 15 en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.” 16 Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.
John 11:17–27 AFRIKAAN
17 Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was. 18 Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer; 19 en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos. 20 Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. 21 Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. 22 Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.” 23 Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.” 24 Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.” 25 Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” 27 “Ja, Here,” sê sy vir Hom, “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”
John 11:28–37 AFRIKAAN
28 Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.” 29 Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. 30 Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het. 31 Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil. 32 Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.” 33 Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. 34 Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.” 35 Jesus het gehuil. 36 Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!” 37 Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”
John 11:38–44 AFRIKAAN
38 Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was ’n rotsgraf, en daar was ’n klip voor die ingang gerol. 39 Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” 40 Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?” 41 Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42 Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” 43 Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ’n harde stem: “Lasarus, kom uit!” 44 Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ’n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.
John 11:45–57 AFRIKAAN
45 Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom. 46 Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. 47 Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens. 48 As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.” 49 Een van hulle, ’n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: “Julle verstaan niks, 50 en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.” 51 Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe. 52 En Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring. 53 Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak. 54 Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na ’n dorp met die naam Efraim. Daar het Hy met sy dissipels ’n rukkie gebly. 55 Die paasfees van die Jode was naby. Baie mense het voor die paasfees van die platteland af na Jerusalem toe gegaan om hulle te reinig. 56 Hulle het daar na Jesus gesoek en waar hulle in die tempel gestaan het, vir mekaar gesê: “Hoe dink julle? Hy sal seker nie fees toe kom nie, of hoe?” 57 Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe al klaar opdrag gegee dat as iemand weet waar Hy is, hy dit moet aangee sodat hulle Hom gevange kan neem
John 12:1–11 AFRIKAAN
1 Ses dae voor die paasfees het Jesus na Betanië toe gekom, waar Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het. 2 Daar het hulle vir Jesus ’n ete gegee. Marta het bedien, en Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. 3 Toe het Maria ’n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie. 4 Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: 5 “Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?” 6 Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy ’n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat. 7 Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis. 8 Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.” 9 Baie van die Jode het verneem dat Jesus daar is en het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus nie, maar ook om vir Lasarus te sien wat Hy uit die dood opgewek het. 10 Die priesterhoofde het toe besluit om ook vir Lasarus dood te maak, 11 omdat baie van die Jode deur hom na Jesus toe oorgeloop en in Hom geglo het
John 12:27–36 AFRIKAAN
27 “Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. 28 Vader, verheerlik u Naam!” Toe het daar ’n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” 29 Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ’n donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.” 30 Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. 31 Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32 En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.” 33 Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe. 34 Die mense sê toe vir Hom: “Ons het uit die Skrif geleer dat die Christus vir ewig gaan bly. Hoe sê u nou dat die Seun van die mens verhoog moet word? En hierdie Seun van die mens, wie is hy?” 35 Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net ’n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. 36 Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.” Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou
John 12:37–43 AFRIKAAN
37 Alhoewel Jesus so baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie. 38 So moes die woorde van die profeet Jesaja vervul word: “Here, wie het geglo wat ons gehoor het? En aan wie is die mag van die Here geopenbaar?” 39 Waarom hulle nie kon glo nie, sê Jesaja ook elders: 40 “God het hulle oë blind gemaak en hulle verstand laat afstomp sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer en Ek hulle gesond maak nie.” 41 Jesaja het dit gesê omdat hy die heerlikheid van die Here gesien en oor Hom gepraat het. 42 Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie; 43 want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God.
John 12:44–50 AFRIKAAN
44 Toe het Jesus uitgeroep: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het. 45 En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. 46 Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. 47 En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red. 48 Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel. 49 Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat. 50 En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe beteken. Wat Ek sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het.
John 13:1–20 AFRIKAAN
1 Voor die viering van die paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad. 2 Jesus en sy dissipels was aan tafel. Die duiwel het toe al klaar vir Judas seun van Simon Iskariot op die gedagte gebring om Jesus te verraai. 3 Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. 4 Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ’n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. 5 Daarna het Hy water in ’n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het. 6 Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: “Here, gaan Ú mý voete was?” 7 En Jesus antwoord hom: “Wat Ek doen, begryp jy nie noú nie, maar later sal jy dit verstaan.” 8 Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!” Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” 9 Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.” 10 En Jesus sê vir hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.” 11 Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.” 12 Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat ek vir julle gedoen het? 13 Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. 14 As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. 15 Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. 16 Dít verseker Ek julle: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ’n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. 17 Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.” 18 “Ek praat nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het. Maar die Skrif moet vervul word: ‘Hy wat van my brood eet, het My in die rug gesteek.’ 19 Ek sê dit nou al vir julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur, julle kan glo dat Ek is wat Ek is. 20 Dit verseker Ek julle: Wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.”
John 14:1–4 AFRIKAAN
1 “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2 In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3 En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4 En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”
John 14:8–21 AFRIKAAN
8 Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” 9 En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? 10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11 Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self. 12 “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13 Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14 As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” 15 “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16 Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17 naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18 “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19 Nog net ’n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20 Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle. 21 “Wie my opdragte het en dit uitvoer—dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”
John 14:22–31 AFRIKAAN
22 Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?” 23 Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24 Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het. 25 “Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26 en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. 27 “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. 28 Julle het gehoor dat ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29 En nou sê Ek dit vir julle voordat dit gebeur, sodat julle kan glo wanneer dit gebeur. 30 Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêrel is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, 31 maar die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het. “Staan op, laat ons hiervandaan weggaan.
John 15:1–11 AFRIKAAN
1 “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2 Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3 Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4 Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. 5 “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6 As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7 As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8 My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” 9 “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. 10 As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly. 11 “Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.
John 16:16–33 AFRIKAAN
16 “Nog ’n klein rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer ’n klein rukkie, dan sal julle My weer sien.” 17 Party van sy dissipels het toe vir mekaar gevra: “Wat beteken dit dat Hy vir ons sê: ‘Nog ’n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer ’n klein rukkie, dan sal julle My weer sien’ en: ‘Ek gaan na die Vader toe’? 18 Hierdie ‘klein rukkie’ waarvan Hy praat, wat beteken dit? Ons weet nie wat Hy bedoel nie,” het hulle gesê. 19 Jesus het gemerk dat hulle dit vir Hom wou vra, en Hy sê toe vir hulle: “Praat julle met mekaar daaroor dat Ek gesê het: Nog ’n klein rukkie, dan sien julle My nie; en weer ’n klein rukkie, dan sal julle My weer sien? 20 Dít verseker Ek julle: Julle sal huil en treur, maar die wêreld sal bly wees. Julle sal bedroef word, maar julle droefheid sal in blydskap verander. 21 ’n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar ’n mens in die wêreld gekom het. 22 Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie. 23 Daardie dag sal julle nie meer vrae aan My stel nie. “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. 24 Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” 25 “Dit het Ek deur beeldspraak vir julle gesê. Daar kom ’n tyd wanneer Ek nie meer deur beeldspraak met julle sal praat nie maar julle reguit van die Vader sal vertel. 26 Van daardie dag af sal julle in my Naam bid en hoef Ek nie julle voorspraak by die Vader te wees nie, 27 want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. 28 Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld. Nou verlaat Ek weer die wêreld en Ek gaan na die Vader toe.” 29 Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U reguit en gebruik nie beeldspraak nie. 30 Nou weet ons dat U alles weet, en niemand hoef U verder uit te vra nie. Ons glo nou dat U van God gekom het.” 31 Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle nou? 32 Kyk, daar kom ’n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. 33 Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.
John 17:6–19 AFRIKAAN
6 “Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. 7 Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; 8 want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het. 9 “Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 10 Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. 11 Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe. “Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees. 12 Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word. 13 “Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. 14 Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 15 Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. 16 Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 17 Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. 18 Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; 19 en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.”
John 17:20–26 AFRIKAAN
20 “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. 21 Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22 Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet. 24 “Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het. 25 “Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. 26 Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.
John 19:17–37 AFRIKAAN
17 Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18 Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. 19 Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20 Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21 Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.” 22 Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.” 23 Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24 Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.” Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.” Dit is wat die soldate gedoen het. 25 By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26 Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” 27 Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem. 28 Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” 29 Daar het ’n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30 Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas. 31 Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ’n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32 Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33 Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34 Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom. 35 Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36 Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” 37 En verder sê die Skrif op ’n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”
John 20:1–10 AFRIKAAN
1 Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2 Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.” 3 Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4 Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5 Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6 Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7 ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8 Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo. 9 Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie. 10 Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan
John 20:26–29 AFRIKAAN
26 Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!” 27 Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” 28 En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” 29 Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”
John 20:30–31 AFRIKAAN
30 Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31 Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê
Acts 2:14–39 AFRIKAAN
14 Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15 Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16 Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het: 17 Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. 18 Ja, op my dienaars en my dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree. 19 Ek sal tekens bo in die lug en wonders onder op die aarde gee: bloed en vuur en rookwolke. 20 Die son sal pikdonker word en die maan bloedrooi voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. 21 So sal dit dan wees: elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. 22 “Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. 23 God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. 24 Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. 25 Van Hom sê Dawid: Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie. 26 Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe, 27 want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie. 28 U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul. 29 “Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. 30 Maar hy was ’n profeet en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. 31 Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê: Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie. 32 God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. 33 Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor. 34 Dawid het nie na die hemel toe opgevaar nie, en tog sê hy: Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand 35 totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het. 36 Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” 37 By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” 38 Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39 Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.”
Acts 2:40–47 AFRIKAAN
40 Met nog baie ander woorde het Petrus getuig en hulle aangespoor: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit.” 41 Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. 42 Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. 43 Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44 Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45 Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46 Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47 en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg
Acts 3:11–26 AFRIKAAN
11 Die man het vir Petrus en Johannes bly volg, en die mense wat almal uiters verbaas was, het na hulle toe gestroom in die Pilaargang van Salomo, soos dit genoem is. 12 Toe Petrus dit sien, het hy hulle toegespreek: “Israeliete, hoekom is julle hieroor verbaas? Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid gemaak het dat hierdie man loop? 13 Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, Goddelike eer gegee—aan Hom vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word. 14 Hy was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle ’n moordenaar begenadig moet word. 15 So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies. 16 Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal. 17 “Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het. 18 Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur. 19 Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis. 20 En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. 21 Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê. 22 Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle ’n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê. 23 Elkeen wat nie hierdie Profeet gehoorsaam nie, moet van die volk afgesny word.’ 24 En al die profete van Samuel af en daarna, almal wat opgetree het, het ook aangekondig wat in hierdie tyd gebeur. 25 Die dinge waarvan die profete gepraat het, is vir julle bedoel, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het. Hy het vir Abraham gesê: ‘Jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot ’n seën wees.’ 26 Daarom het God sy Dienaar na die wêreld toe laat kom en Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ’n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.
Acts 4:1–4 AFRIKAAN
1 Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs op Petrus-hulle afstorm. 2 Die priesters en die ander was onthuts omdat die apostels die mense geleer het en verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding ’n werklikheid geword het. 3 Hulle het Petrus en Johannes gevange geneem, en hulle, omdat dit al laat was, in die tronk gesit tot die volgende môre. 4 Tog het baie van die mense wat hulle prediking gehoor het, gelowig geword; en die getal gelowiges het aangegroei tot omtrent vyf duisend.
Acts 5:12–16 AFRIKAAN
12 Deur die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. En al die gelowiges het gereeld saamgekom in die Pilaargang van Salomo, 13 maar van die ander mense het niemand dit gewaag om by hulle aan te sluit nie al het die volk hulle hoog geag. 14 Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg. 15 Die mense het selfs siekes op straat uitgedra en hulle daar op draagbare en beddens neergesit sodat, as Petrus daar verbygaan, al is dit maar net sy skaduwee op party van hulle kon val. 16 Daar het ook baie mense van die dorp in die omgewing van Jerusalem af gekom en siekes gebring en mense wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak
Acts 6:1–7 AFRIKAAN
1 In daardie tyd, toe die gelowiges nog steeds meer geword het, het daar teen die Hebreeussprekendes klagtes gekom van die Griekssprekendes dat hulle weduwees in die daaglikse versorging afgeskeep word. 2 Die twaalf apostels roep toe al die gelowiges bymekaar en sê vir hulle: “Dit is nie reg dat ons die verkondiging van die woord van God verwaarloos om die versorging te kan behartig nie. 3 Nou, broers, soek sewe mans onder julle uit wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het, sodat ons hulle vir hierdie taak kan aanstel. 4 Ons sal dan al ons aandag aan gebed en die bediening van die woord bly gee.” 5 Die voorstel het by al die gelowiges byval gevind, en hulle het Stefanus gekies, ’n man met ’n vaste geloof en vol van die Heilige Gees, en verder Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas, en Nikolaus wat van Antiogië afkomstig was en vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het. 6 Die gelowiges het hulle voor die apostels gebring, en dié het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê. 7 Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs ’n groot aantal priesters het gelowig geword
Acts 8:9–13 AFRIKAAN
9 In dieselfde stad was daar ’n man met die naam Simon, wat die inwoners van Samaria met sy toorkunste verstom het. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, 10 en almal, klein en groot, het hom aangehang. Hulle het gesê: “Hy is wat ons ‘Die Groot Krag van God’ noem.” 11 Hy het ’n aanhang onder hulle gekry omdat hy hulle oor ’n lang tydperk met sy toorkunste verstom het. 12 Maar toe Filippus die evangelie van die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus aan hulle verkondig het, het hulle gelowig geword, en mans sowel as vrouens is gedoop. 13 Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het.
Acts 8:26–40 AFRIKAAN
26 ’n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop.” Dit is ’n stil pad. 27 Filippus het toe klaargemaak en gegaan. ’n Ontmande Etiopiër wat ’n hoë pos beklee het aan die hof van die kandake, soos die koningin van Etiopië genoem is, en wat haar geldsake beheer het, het na Jerusalem toe gekom om te aanbid. 28 Hy was nou op pad terug en het op sy wa gesit en lees uit die profeet Jesaja. 29 Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa.” 30 Filippus het daarheen gehardloop en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra toe vir hom: “Verstaan u wat u lees?” 31 Die Etiopiër antwoord: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?” Hy het Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit. 32 Die Skrifgedeelte wat hy gelees het, was dit: “Soos ’n skaap is Hy gelei om geslag te word; en soos ’n lam wat stil is as hy geskeer word, het Hy nie sy mond oopgemaak nie. 33 In sy vernedering het daar nie reg aan Hom geskied nie. Wie sal van sy nageslag kan vertel? Sy lewe op aarde word beëindig.” 34 Die amptenaar vra toe vir Filippus: “Sê vir my, asseblief, van wie praat die profeet hier, van homself of van iemand anders?” 35 Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig. 36 Onderweg kom hulle toe by water aan, en die amptenaar sê: “Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?” 38 Toe het hy die wa laat stilhou. Filippus en die hofdienaar het albei in die water in gegaan, en Filippus het hom gedoop. 39 Toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem. Die amptenaar het hom nie meer gesien nie en het sy reis met blydskap voortgesit. 40 Filippus is later in Asdod aangetref. Hy het daarvandaan deur al die dorpe gegaan totdat hy in Sesarea gekom het, en oral het hy die evangelie verkondig
Acts 9:36–43 AFRIKAAN
36 In Joppe was daar ’n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. 37 Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in ’n bokamer neergelê. 38 Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.” 39 Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. 40 Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. 41 Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. 42 Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom. 43 Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by ’n sekere Simon, ’n leerlooier
Acts 10:34–43 AFRIKAAN
34 Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35 maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36 Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37 Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38 Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom. 39 “En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40 Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41 nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42 Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43 Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.
Acts 11:1–18 AFRIKAAN
1 Die apostels en die ander gelowiges in Judea het gehoor dat mense wat nie Jode is nie, ook die woord van God aangeneem het. 2 Toe Petrus dan in Jerusalem kom, het die Joodse gelowiges hom verwyt: 3 “Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet.” 4 Petrus het toe vir hulle alles mooi uiteengesit: 5 “Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in geesvervoering ’n gesig gesien het,” het hy gesê. “Ek het iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, uit die hemel sien afkom, en dit het tot by my gekom. 6 Toe ek goed daarna kyk, sien ek daarin viervoetige diere van die aarde, wilde en kruipende diere, en wilde voëls. 7 Ek het toe ’n stem gehoor wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet.’8 Maar ek het geantwoord: ‘Nooit nie, Here! Ek het nog nooit my mond aan iets gesit wat onrein of onheilig is nie.’9 ’n Tweede keer het ek die stem uit die hemel gehoor: ‘Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.’10 Dit het drie keer gebeur, en daarna is alles weer in die hemel opgetrek. 11 “Terselfdertyd het daar drie mans wat van Sesarea af na my toe gestuur is, by die huis aangekom waar ons tuis was. 12 Die Gees het vir my gesê dat ek nie moet aarsel om saam met hulle te gaan nie. Ek en hierdie ses broers is toe saam met hulle, en ons het in Kornelius se huis ingegaan. 13 Hy het vir ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het, wat vir hom gesê het: ‘Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon daar haal wat ook Petrus genoem word. 14 Hy het ’n boodskap vir jou waardeur jy gered sal word, jy en jou hele huisgesin.’ 15 “Skaars het ek begin praat, of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin. 16 Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ 17 Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?” 18 Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.
Acts 11:19–26 AFRIKAAN
19 Deur die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan het, is die gelowiges uitmekaar gejaag. Party van hulle het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan, maar hulle het die woord aan niemand anders as net aan Jode verkondig nie. 20 Onder die vlugtelinge was daar sekere mense wat van Siprus en Sirene afkomstig was en wat in Antiogië gekom en daar ook aan die Griekssprekendes die evangelie dat Jesus die Here is, verkondig het. 21 Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het. 22 Die berig hieroor het die gemeente in Jerusalem bereik, en hulle het vir Barnabas na Antiogië toe gestuur. 23 Toe hy daar kom, was hy bly om te sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het, en hy het hulle almal aangespoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly. 24 Barnabas was ’n goeie man, vol van die Heilige Gees en met ’n vaste geloof. ’n Aansienlike groep mense is tot geloof in die Here gebring, 25 en Barnabas is na Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek. 26 Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het ’n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.
Acts 13:4–12 AFRIKAAN
4 So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees uitgestuur. Hulle het na Seleukië toe gegaan en daarvandaan na Siprus toe oorgevaar 5 en in Salamis aangekom. Daar het hulle die woord van God in die Joodse sinagoges verkondig. Hulle het Johannes by hulle gehad om hulle te help. 6 Daarna het hulle die hele eiland deurgegaan tot by Pafos, waar hulle ’n Joodse towenaar met die naam Barjesus teëgekom het, wat voorgegee het dat hy ’n profeet is. 7 Hy was by die goewerneur, Sergius Paulus, wat ’n verstandige man was. Die goewerneur het vir Barnabas en Saulus laat roep, want hy wou graag die woord van God hoor. 8 Die towenaar, Elimas, soos hy in Grieks genoem is, het hulle egter teëgestaan omdat hy wou verhoed dat die goewerneur in Jesus glo. 9 Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom skerp aangekyk 10 en gesê: “Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedrieër! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan! 11 Die Here gaan jou nou straf. Jy sal blind word en die son ’n tyd lank nie sien nie.” Onmiddellik het alles vir hom vaag en donker geword, en hy het rondgetas na iemand om hom aan die hand te lei. 12 Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword
Acts 13:13–41 AFRIKAAN
13 Paulus en sy reisgenote het met ’n skip van Pafos af vertrek en by Perge in Pamfilië aangekom. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem toe teruggegaan. 14 Maar hulle het die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië gekom. Op die sabbatdag het hulle na die sinagoge toe gegaan en daar gaan sit. 15 Ná die voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: “Broers, as julle vir die volk ’n woord van bemoediging het, praat maar.” 16 Paulus het opgestaan, met ’n handbeweging aandag gevra en gesê: “Israeliete en godvresendes, luister! 17 Die God van hierdie volk Israel het ons voorvaders uitgekies en hulle ’n groot volk gemaak toe hulle as vreemdelinge in Egipte gewoon het. Hy het hulle deur sy groot mag daarvandaan uitgelei 18 en hulle in die woestyn ongeveer veertig jaar lank geduldig verdra. 19 Daarna het Hy sewe nasies in die land Kanaän uitgewis en hulle land aan die Israeliete gegee. 20 Dit alles het omtrent vier honderd en vyftig jaar lank geduur. “Daarna het Hy rigters oor die land laat regeer tot die tyd van die profeet Samuel. 21 Toe die Israeliete daarna ’n koning wou hê, het God vir Saul, seun van Kis uit die stam Benjamin, aan hulle gegee. Hy het veertig jaar lank geregeer. 22 Nadat God hom van sy amp onthef het, het Hy Dawid as koning oor hulle aangestel. Van hom het God gesê: ‘Ek het in Dawid seun van Isai ’n man na my hart gevind. Hy sal al my opdragte uitvoer.’23 Uit hierdie man se nageslag het God, volgens sy belofte, Jesus as Verlosser vir Israel laat voortkom. 24 Voor Jesus se koms het Johannes die hele Israel opgeroep om hulle te bekeer en te laat doop. 25 En toe hy aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie. Maar kyk, Hy kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy skoene los te maak nie.’ 26 “Broers, nakomelinge van Abraham, en julle, godvresendes, aan ons het God hierdie boodskap van die verlossing gestuur. 27 Die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het vir Jesus nie erken nie. Deur Hom te veroordeel het hulle die uitsprake van die profete, wat elke sabbatdag voorgelees word, in vervulling laat gaan. 28 En alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon kry nie, het hulle tog vir Pilatus gevra om Jesus om die lewe te bring. 29 Nadat hulle aan Jesus alles gedoen het wat van Hom in die Skrif geskrywe staan, is Hy van die kruis afgehaal en begrawe. 30 Maar God het Hom uit die dood opgewek. 31 Hy het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea af na Jerusalem toe gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk. 32 “En nou verkondig ons aan julle die goeie boodskap dat God die belofte aan die voorvaders 33 vir ons, hulle nageslag, vervul het deur Jesus uit die dood te laat opstaan. So staan daar dan ook in die tweede psalm geskrywe: Jy is my Seun, vandag het Ek aan jou die lewe gegee. 34 God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit vergaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: Ek sal vir julle die heilige en betroubare beloftes vervul wat Ek aan Dawid toegesê het. 35 Daarom sê God ook op ’n ander plek: U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie. 36 En volgens die besluit van God het Dawid tog gesterwe nadat hy die mense van sy tyd gedien het. Hy is by sy voorvaders begrawe, en sy liggaam het vergaan. 37 Maar Jesus se liggaam het nie vergaan nie; God het Hom uit die dood opgewek. 38 “Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes. Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie. 40 Pas dan op dat wat die profete gesê het, nie met julle gebeur nie: 41 Kyk, julle verag God! Julle sal verstom staan en te gronde gaan, want in julle tyd doen Ek iets wat julle beslis nie sal glo as iemand dit vir julle vertel nie!”
Acts 13:42–52 AFRIKAAN
42 Terwyl hulle die sinagoge verlaat, het die mense vir Paulus en Barnabas gevra om hulle die volgende sabbatdag meer van hierdie dinge te vertel. 43 Nadat die sinagoge uit was, het baie van die Jode en van die mense wat vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou. 44 Die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van die Here te hoor. 45 Toe die Jode die groot opkoms sien, is hulle met afguns vervul en het hulle telkens Paulus se woorde teëgespreek en hom beledig. 46 Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie, 47 want so lui die Here se opdrag aan ons: Ek het U gegee as ’n lig vir die nasies, sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.” 48 Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. 49 Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei. 50 Maar die Jode het vooraanstaande godvresende vroue en toonaangewende burgers van die stad teen Paulus en Barnabas opgesweep. Hulle is vervolg en uit die streek verdrywe. 51 Hulle het toe as gebaar teen die stad die stof van hulle voete afgeskud en na Ikonium toe gegaan. 52 Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees
Acts 14:1–7 AFRIKAAN
1 In Ikonium het Paulus en Barnabas op dieselfde manier opgetree. Hulle het weer na die Joodse sinagoge toe gegaan en daar gepreek, met die gevolg dat ’n groot aantal Jode en Grieke gelowig geword het. 2 Maar die Jode wat nie die boodskap wou aanneem nie, het die gemoedere van die heidene opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits. 3 Ten spyte hiervan het die apostels ’n geruime tyd in die stad gebly en in vertroue op die Here onbevrees gespreek. Die Here het ook die boodskap van sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen. 4 Die inwoners van die stad was verdeeld, party vir die Jode en party vir die apostels. 5 Die heidene en die Jode saam met hulle leiers het egter oproerig begin word en wou hulle aanrand en stenig. 6 Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en omgewing gevlug. Dit was twee stede in Likaonië. 7 Daar het hulle toe die evangelie verkondig
Acts 14:8–18 AFRIKAAN
8 In Listra was daar ’n man met gebreklike voete. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie. 9 Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word. 10 Toe roep hy na hom: “Staan regop, op jou voete!” Die man het opgespring en hy kon loop. 11 Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe afgekom!” 12 Hulle het Barnabas Zeus genoem en vir Paulus Hermes, omdat hy die woordvoerder was. 13 Die priester van die Zeustempel, net buitekant die stad, het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy wou saam met die mense offers aan die apostels gaan bring. 14 Toe die apostels, Barnabas en Paulus, daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die mense ingespring en geskreeu: 15 “Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. 16 Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, 17 maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.” 18 Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels nouliks voorkom dat die mense aan hulle offers bring.
Acts 14:21–28 AFRIKAAN
21 Paulus en Barnabas het die evangelie ook in Derbe verkondig, en baie mense het daar gelowig geword. Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië toe teruggegaan. 22 Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” het hulle gesê. 23 In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het. 24 Die apostels het verder deur Pisidië na Pamfilië toe gegaan. 25 Daar het hulle in Perge die woord verkondig en daarna na Attalië toe vertrek. 26 Daarvandaan is hulle met ’n skip terug na Antiogië toe, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle nou voltooi het. 27 By hulle aankoms het hulle die gemeente bymekaargeroep en vir hulle vertel wat God alles deur hulle gedoen het en dat Hy vir die heidene die deur van die geloof oopgemaak het. 28 Die apostels het ’n geruime tyd daar by die gelowiges deurgebring
Acts 15:6–21 AFRIKAAN
6 Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie vraagstuk te bespreek. 7 Na ’n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my lankal uit julle geledere gekies het om die evangelie aan die heidennasies te verkondig sodat hulle kan glo. 8 En God, wat die harte ken, het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons. 9 Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig. 10 Waarom wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur op die nek van die gelowiges uit die heidennasies ’n juk te lê wat ons voorvaders nie in staat was om te dra nie en ons ook nie? 11 Nee! Ons, en ook hierdie gelowiges, glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word.” 12 Daarna het al die mense stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister. Hulle het vertel van die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidennasies gedoen het. 13 Toe hulle klaar was, sê Jakobus: “Broers, luister na my! 14 Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom ’n volk uit hulle te versamel. 15 Die profete sê dieselfde. Daar staan geskrywe: 16 Daarna sal Ek terugkom, en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal sy bouvalle herstel en dit weer regmaak, 17 sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen. 18 “Dit is van ouds af bekend. 19 Daarom meen ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie. 20 Maar ons moet vir hulle skrywe om nie vleis te eet wat aan ’n afgod geoffer is nie, want dit is onrein; dat hulle onsedelikheid moet vermy, geen dier wat verwurg is, moet eet nie, en ook nie bloed nie. 21 Hierdie voorskrifte van Moses word immers van ouds af in elke stad aan die mense voorgehou. Elke sabbatdag word dit in die sinagoges voorgelees.
Acts 16:25–34 AFRIKAAN
25 Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. 26 Skielik kom daar ’n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. 27 Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. 28 Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.” 29 Toe het die bewaarder ’n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. 30 Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” 31 Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” 32 Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. 33 Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. 34 Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.
Acts 17:10–15 AFRIKAAN
10 Sodra dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Joodse sinagoge toe gegaan. 11 Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê. 12 Baie van die Jode het gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, mans sowel as vooraanstaande vroue. 13 Toe die Jode in Tessalonika egter hoor dat Paulus die woord van God ook in Berea verkondig, het hulle ook dáár oproer gaan stook en die mense opgesweep. 14 Die gelowiges het dadelik vir Paulus na die kus toe laat wegbring, maar Silas en Timoteus het daar agtergebly. 15 Die mense wat vir Paulus begelei het, het hom tot by Atene gebring en toe teruggegaan met die opdrag van Paulus aan Silas en Timoteus om so gou as moontlik na hom toe te kom
Acts 17:22–34 AFRIKAAN
22 Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. 23 Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook ’n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan ’n onbekende god.’ “Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. 24 God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25 Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26 Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27 God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28 want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’ 29 Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding. 30 “God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, 31 want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.” 32 Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.” 33 So het Paulus van hulle af weggegaan. 34 ’n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ’n lid van die Areopagus, en ’n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle
Acts 18:1–17 AFRIKAAN
1 Hierna het Paulus Atene verlaat en na Korinte toe gegaan. 2 Daar het hy vir Akwila, ’n Jood wat in Pontus gebore is, ontmoet. Hy het kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, uit Italië daar aangekom, nadat keiser Claudius beveel het dat al die Jode Rome moet verlaat. Paulus het hulle gaan opsoek, 3 en omdat hulle net soos hy tentmakers van beroep was, het hy by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk. 4 Maar elke sabbatdag het hy in die sinagoge met die mense geredeneer en Jode en Grieke probeer oortuig. 5 Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af gekom het, het Paulus al sy tyd bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Christus is. 6 Maar toe hulle hulle aanhou verset en hom beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld. Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie. Van nou af gaan werk ek onder mense wat nie Jode is nie.” 7 Toe het hy die sinagoge verlaat en na die huis toe gegaan van ’n godvresende man met die naam Titius Justus. Sy huis was net langs die sinagoge. 8 Krispus, die hoof van die sinagoge, en sy hele huisgesin het tot geloof in die Here gekom. Ook baie ander mense in Korinte wat die boodskap gehoor het, het gelowig geword en is gedoop. 9 Een nag het die Here in ’n gesig vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, 10 want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.” 11 Paulus het ’n jaar en ses maande lank daar gebly en die mense onderrig in die woord van God. 12 Nadat Gallio goewerneur van Agaje geword het, het die Jode egter soos een man teen Paulus in opstand gekom en hom voor die hof gebring. 13 “Hierdie man,” het hulle gesê, “probeer die mense oorhaal om God op ’n manier te vereer wat in styd is met ons wet.” 14 Paulus wou praat, maar toe sê Gallio vir die Jode: “As dit oor ’n onreg of ’n ernstige misdaad gegaan het, was dit my plig om geduldig na julle Jode te luister. 15 Maar aangesien dit ’n geredekawel is oor woorde en name en julle eie wet, moet julle self daaroor beslis. In sulke sake wil ek nie regter wees nie.” 16 Daarna het hy hulle uit die hof uitgejaag. 17 Hulle het toe almal vir Sostenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom net daar voor die regbank aangerand. Gallio het hom egter niks daaraan gesteur nie
Acts 18:24–28 AFRIKAAN
24 Intussen het daar ’n Jood met die naam Apollos, wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was ’n begaafde spreker met ’n deeglike kennis van die Skrif. 25 Hy het in die leer van die Here onderrig ontvang en het met groot geesdrif gepraat en aan ander noukeurig alles oor Jesus geleer; maar die doop waarvan hy geweet het, was net dié van Johannes. 26 Hy het met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom huis toe geneem en vir hom die leer van God nog duideliker gemaak. 27 Toe Apollos na Agaje toe wou gaan, het die gelowiges hom aangemoedig en vir hom ’n brief saamgegee aan die gelowiges daar om te versoek dat hulle hom vriendelik moet ontvang. Daar aangekom, was hy tot groot hulp vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het, 28 want hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en uit die Skrif bewys dat Jesus die Christus is
Acts 19:1–10 AFRIKAAN
1 Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binneland gereis en in Efese gekom. Daar het hy ’n groepie gelowiges gekry 2 vir wie hy gevra het: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” “Ons het nog nie eens gehoor of die Heilige Gees al gekom het nie,” het hulle geantwoord. 3 “Watter soort doop het julle dan ontvang?” vra hy toe. “Die doop van Johannes,” antwoord hulle. 4 Daarop sê Paulus: “Johannes het die mense gedoop as hulle hulle bekeer het. Maar hy het vir die volk gesê dat hulle in die Een moet glo wat ná hom kom, dit is in Jesus.” 5 Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop. 6 Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het geprofeteer. 7 Hulle was altesaam omtrent twaalf. 8 Paulus het drie maande lank met vrymoedigheid in die sinagoge geredeneer oor die koninkryk van God en die mense daarvan probeer oortuig. 9 Maar party was koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook in die openbaar die leer van die Here belaglik probeer maak. Toe het Paulus hulle verlaat en die gelowiges afsonderlik geneem en daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou. 10 Dit het twee jaar lank so aangehou, sodat al die inwoners van die provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die woord van die Here gehoor het
Acts 20:17–38 AFRIKAAN
17 Van Milete af het Paulus ’n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te laat roep. 18 Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Julle weet hoe ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, onder julle geleef het; 19 hoe ek die Here in alle nederigheid gedien het te midde van droefheid weens die vervolginge wat ek deur die komplotte van die Jode moes verduur. 20 Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie, toe ek by julle in die openbaar gepreek en julle in julle huis onderrig het. 21 Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo. 22 “En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie. 23 Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag. 24 Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig. 25 “Ek het onder julle almal rondgegaan en die koninkryk van God verkondig, maar nou weet ek dat julle my nie weer sal sien nie. 26 Daarom verklaar ek vandag dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie, 27 want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie. 28 Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. 29 Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. 30 Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei. 31 Wees waaksaam. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baiekeer met trane. 32 Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het. 33 “Ek het niemand se geld of klere begeer nie. 34 Julle weet self dat ek vir myself en vir die mense wat saam met my was, gesorg het deur met hierdie twee hande van my te werk. 35 Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.” 36 Nadat Paulus dit gesê het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid. 37 Almal het baie gehuil en hom omhels en gesoen. 38 Hulle was veral hartseer omdat hy gesê het dat hulle hom nie weer sou sien nie. Daarna is hulle saam met hom na die skip toe
Acts 21:15–25 AFRIKAAN
15 Na ’n paar dae het ons ons voorbereidings afgehandel en na Jerusalem toe vertrek. 16 Party van die gelowiges het van Sesarea af saam met ons gegaan. Hulle het ons by Mnason gebring, wat oorspronklik van Siprus afkomstig was en wat van vroeg af reeds ’n gelowige was. By hom sou ons tuis gaan. 17 By ons aankoms in Jerusalem het die broers ons hartlik ontvang. 18 Die volgende dag het ons saam met Paulus na Jakobus toe gegaan. Al die ouderlinge was daar teenwoordig. 19 Paulus het hulle gegroet en in besonderhede vertel wat God deur sy diens onder die heidene gedoen het. 20 Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys en vir Paulus gesê: “Jy sien, broer, hier is duisende Jode wat gelowig geword het, maar almal onderhou die wet van Moses nog stiptelik. 21 Hulle het gehoor dat jy al die Jode wat onder die heidene woon, leer om van die wet van Moses af te sien. Jy sou hulle geleer het om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die Joodse gebruike te onderhou nie. 22 “Wat moet ons nou doen? Hulle sal beslis te hore kom dat jy hier is. 23 Maak nou soos ons vir jou sê. Hier by ons is daar vier mans wat ’n gelofte afgelê het. 24 Neem hulle saam met jou vir die reinigingshandeling en betaal die koste daarvan, sodat hulle hulle hare kan laat afsny. Dan sal almal weet dat nie een van die gerugte wat oor jou versprei word, waar is nie, maar dat jy self die wet onderhou. 25 Ons het tog al vir die gelowiges wat vroeër heidene was, laat weet van ons besluit dat hulle nie vleis wat aan ’n afgod geoffer is, en bloed en ’n dier wat verwurg is, moet eet nie, en dat hulle onsedelikheid moet vermy.”
Acts 24:10–21 AFRIKAAN
10 Op ’n teken van die goewerneur het Paulus begin praat: “Ek weet dat u al jare lank hierdie mense se regter is. Daarom verdedig ek my saak voor u met vertroue. 11 “U kan self vasstel dat ek maar sowat twaalf dae gelede in Jerusalem aangekom het om daar te aanbid. 12 Niemand het my in die tempel of in die sinagoges of êrens in die stad gekry dat ek met iemand gestry of die skare tot oproer aangehits het nie. 13 Die beskuldigings wat hulle nou teen my inbring, kan hulle ook nie vir u bewys nie. 14 “Dit erken ek wel voor u: Ek dien die God van my voorvaders volgens die leer van Christus wat hulle ’n dwaalrigting noem. Ek glo nog steeds alles wat in die wet en die profete geskrywe staan. 15 Ek het my hoop op God gestel, en net soos hulle verwag ek dat alle mense, goeies en slegtes, uit die dood sal opstaan. 16 Daarom doen ek ook my uiterste bes om altyd ’n skoon gewete voor God en die mense te hê. 17 “Na baie jare het ek teruggekom om my mense met ’n geldelike bydrae te help en om aan God te offer. 18 Toe ek met die offers besig was, het hulle my in die tempel gekry. Ek was klaar met die reinigingshandeling, en daar was nie ’n skare of ’n gedrang om my nie. 19 Daar was net ’n paar Jode van die provinsie Asië. Dit is eintlik hulle wat hier voor u moes gewees het om my aan te kla, as hulle iets teen my kan inbring. 20 Of laat hierdie mense dan nou sê aan watter misdaad ek in my verhoor voor die Joodse Raad skuldig bevind is. 21 Al wat ek daar vir hulle gesê het, was: Ek staan vandag hier voor julle tereg omdat ek aan die opstanding van die dooies glo.”
Acts 24:22–27 AFRIKAAN
22 Hier het Feliks, wat die besonderhede in verband met die leer van Christus taamlik goed geken het, die verhoor onderbreek. “Wanneer Lisias, die kommandant, kom, sal ek julle saak afhandel,” het hy gesê. 23 Hy het die kaptein beveel om Paulus nog aan te hou, maar om hom minder streng te behandel en sy mense ook toe te laat om vir hom te sorg. 24 Na ’n paar dae het Feliks en sy Joodse vrou, Drusilla, vir Paulus laat haal om meer van hom te hoor oor die geloof in Christus Jesus. 25 Paulus het met hom gepraat oor ’n lewe in gehoorsaamheid aan God, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel. Dit het Feliks laat bang word, en hy het gesê: “Dit is nou genoeg! Gaan maar terug, en as ek tyd het, sal ek jou weer laat roep.” 26 Hy het die hele tyd ook gehoop Paulus sou hom omkoopgeld aanbied om los te kom. Daarom het hy hom so dikwels moontlik laat haal om met hom te praat. 27 Twee jaar later is Feliks deur Porcius Festus opgevolg. En omdat Feliks die Jode ’n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat
Acts 26:12–18 AFRIKAAN
12 “Terwyl ek hieroor na Damaskus toe op reis was, met volmag en in opdrag van die priesterhoofde, 13 het ek, U Majesteit, helder oordag langs die pad ’n lig gesien wat uit die hemel gekom het. Dit was helderder as die son en dit het op my en my reisgenote geskyn. 14 Ons het almal op die grond neergeval, en ek het ’n stem in Hebreeus vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jou net seer deur jou te verset.’ 15 ‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. ‘Ek is Jesus,’ sê die Here. ‘Dit is vir My wat jy vervolg. 16 Maar staan op, staan regop. Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. 17 Ek sal jou beskerm teen die volk Israel en teen die heidennasies na wie toe Ek jou stuur. 18 Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van die Satan tot God kan bekeer. Deur in My te glo, sal hulle sondes vergewe word en sal hulle deel word van die volk van God.’
Acts 27:13–38 AFRIKAAN
13 ’n Ligte bries het uit die suide begin waai, en die manne het gedink dat hulle hulle plan sou kon uitvoer. Die anker is gelig, en hulle het so na moontlik aan die kus van Kreta gevaar. 14 Maar dit was nie lank nie toe waai daar ’n stormwind van die land af, die Noordoos, genoem die Eurakilon. 15 Die wind het die skip meegesleur. Omdat dit onmoontlik was om die skip se boeg wind op te hou, het ons dit opgegee en wind af gedrywe. 16 Ons het ’n bietjie beskutting gevind toe ons onderkant die eilandjie Kauda langs kom. Daar kon ons darem met moeite die bootjie van die skip in veiligheid bring. 17 Nadat die matrose die bootjie opgehaal het, het hulle as noodmaatreël ’n paar toue styf onder om die skip vasgemaak. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis verpletter sou word, het hulle die dryfanker laat sak en die skip sommerso laat drywe. 18 Omdat ons baie swaar gekry het in die storm, het hulle die volgende dag die skip se vrag oorboord begin gooi. 19 Die dag daarna het hulle eiehandig ook die skip se toerusting in die see gegooi. 20 Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word. 21 Nadat hulle ’n lang tyd nie meer geëet het nie, het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade vrygespring het. 22 Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan. 23 Verlede nag het daar ’n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien. 24 Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.’25 Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het. 26 Dit is so bestem dat ons êrens op ’n eiland moet strand.” 27 Die veertiende nag dat ons so op die Adriatiese See rondgeslinger is, teen middernag, het die matrose vermoed dat ons naby land kom. 28 Hulle het ’n dieplood uitgegooi en ’n diepte van ses en dertig meter gekry. ’n Bietjie verder het hulle weer die dieplood uitgegooi, en toe was dit sewe en twintig meter. 29 Hulle was bang die skip loop op die rotse en het toe vier ankers by die agterstewe van die skip uitgegooi en gewens dit moet dag word. 30 Die matrose wou wegkom van die skip af en het die bootjie in die see neergelaat onder die voorwendsel dat hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak. 31 Paulus sê toe vir die offisier en sy soldate: “As hierdie matrose nie aan boord bly nie, kan julle nie gered word nie.” 32 Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom in die see laat val. 33 Net toe dit begin lig word, het Paulus almal aangespoor om te eet: “Vandag is dit al veertien dae dat julle in spanning wag sonder om iets te eet. 34 Daarom raai ek julle aan om nou te eet. Julle het dit nodig om gered te word. Niemand van julle sal ’n haar van sy kop verloor nie.” 35 Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem, God in die teenwoordigheid van almal gedank, dit gebreek en begin eet. 36 Hulle het almal moed geskep en self ook begin eet. 37 Ons was altesaam twee honderd ses en sewentig mense aan boord. 38 Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die vrag koring in die see gegooi en so die skip nog ligter gemaak
Acts 28:17–31 AFRIKAAN
17 Drie dae later het hy die Joodse leiers na hom toe uitgenooi. Toe hulle bymekaargekom het, het hy vir hulle gesê: “Broers, ek het niks teen ons volk of teen die gebruike van ons voorvaders gedoen nie, en tog is ek in Jerusalem gevange geneem en aan die Romeine uitgelewer. 18 Hulle het my verhoor en wou my loslaat omdat daar geen rede was om my ter dood te veroordeel nie. 19 Maar omdat die Jode daarteen beswaar gemaak het, is ek gedwing om my op die keiser te beroep. Dit beteken egter nie dat ek ’n aanklag teen my volk gaan inbring nie. 20 Dit is dan die rede waarom ek u laat roep het om u te ontmoet en met u te praat. Ek is in hierdie boeie ter wille van Hom vir wie Israel verwag.” 21 Toe sê hulle vir hom: “Ons het geen briewe oor u van Judea af gekry nie, en nie een van ons broers het berig oor u gebring of iets kwaads van u gesê nie. 22 Ons wil graag hoor wat u dink, want al wat ons weet, is dat daar oral teenstand teen hierdie rigting is.” 23 Hulle het toe ’n datum met hom afgespreek, en op daardie dag het daar nog meer mense na die plek toe gekom waar hy gebly het. Van vroeg die môre tot laat die aand het Paulus die koninkryk van God vir hulle verduidelik en hulle uit die wet van Moses en uit die profete probeer oortuig van Jesus. 24 Deur sy uiteensetting het daar party oortuig geraak, maar ander wou nie glo nie. 25 Hulle was dit nie met mekaar eens nie en het weggegaan, maar Paulus het nog eers dít vir hulle gesê: “Hoe waar is dit tog wat die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja vir julle voorvaders gesê het! 26 Hy het gesê: Gaan na hierdie volk toe en sê vir hulle: Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie; en kyk en kyk en tog niks sien nie. 27 Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak, sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor en met hulle verstand verstaan en hulle bekeer en Ek hulle gesond maak nie. 28 Julle moet nou goed verstaan dat God se boodskap van redding na die heidennasies toe gestuur word. Húlle sal luister.” 29 30 Paulus het ’n volle twee jaar lank in die huis gebly wat hy gehuur het, en hy het almal ontvang wat hom kom besoek het. 31 Hy het die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering
Romans 1:1–7 AFRIKAAN
1 Van Paulus, ’n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. 2 Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, 3 en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; 4 op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here. 5 Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring. 6 Julle is hierby inbegrepe; ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort. 7 Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus
Romans 1:8–15 AFRIKAAN
8 Allereers dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, want in die hele wêreld praat die mense oor julle geloof. 9 God, wat ek met hart en siel dien deur die evangelie van sy Seun te verkondig, is my getuie dat ek gedurig in my gebede aan julle dink. 10 Elke keer as ek bid, vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie. 11 Ek sien baie daarna uit om julle te besoek, want ek wil ’n geestelike gawe aan julle oordra om julle te versterk. 12 Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s’n en julle deur myne. 13 Broers, ek wil hê julle moet weet dat, hoewel ek tot nog toe verhinder is, ek my dikwels voorgeneem het om julle te besoek om ook by julle, net soos by die ander heidennasies, mense vir Christus te wen. 14 Ek staan onder ’n verpligting teenoor Grieke en nie-Grieke, teenoor ontwikkeldes en ongeleerdes, 15 en vandaar my begeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig.
Romans 1:16–17 AFRIKAAN
16 Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. 17 In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”
Romans 3:1–8 AFRIKAAN
1 Het dit dan enige voordeel om ’n Jood te wees, en het die besnydenis enige nut? 2 Ja, baie, in allerlei opsigte. Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het. 3 Maar wat nou as sommige nie getrou gebly het nie? Sal hulle ontrou die trou van God laat ophou? 4 Beslis nie. Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ’n leuenaar, soos daar geskrywe staan: “U is regverdig wanneer U uitspraak doen en U wen U saak wanneer U aangekla word.” 5 Ons verkeerde dade laat dus blyk dat God regverdig is. Wat sal ons daarvan sê? Ek redeneer soos mense gewoonlik redeneer. Is God dan nie onregverdig as Hy ons straf nie? 6 Beslis nie. Hoe sou God anders oor die wêreld kan oordeel? 7 Maar as my leuenagtigheid die betroubaarheid van God duideliker aan die lig gebring het en so dien tot eer van God, waarom word ek dan nog as sondaar veroordeel? 8 Beteken dit dat ons sê: Laat ons die verkeerde doen sodat die goeie daaruit kan voortkom? Daar is mense wat ons dit wel lasterlik in die mond lê, maar hulle kry die oordeel wat hulle verdien
Romans 3:21–26 AFRIKAAN
21 Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22 maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23 Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24 maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. 25 Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.
Romans 3:27–31 AFRIKAAN
27 Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof. 28 Ons betoog is tog dat ’n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie. 29 Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook van die heidennasies, 30 want daar is net een God. Hy sal die besnedenes deur die geloof en die onbesnedenes deur dieselfde geloof vryspreek. 31 Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom
Romans 4:1–4 AFRIKAAN
1 Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? 2 As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy ’n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 3 Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” 4 ’n Arbeider se loon word nie vir hom as ’n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom.
Romans 4:5–8 AFRIKAAN
5 Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof. 6 So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om: 7 “Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word. 8 Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie.”
Romans 4:9–12 AFRIKAAN
9 Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Ons sê weer: “Deurdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek. 10 Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was? Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was. 11 Hy het die besnydenis as ’n teken ontvang. Dit is ’n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo. 12 Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was
Romans 4:13–25 AFRIKAAN
13 Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. 14 As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. 15 Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie ’n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. 16 Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, 17 soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. 18 Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” 19 Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. 20 Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. 21 Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. 22 Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek. 23 Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, 24 maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. 25 Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word
Romans 5:1–5 AFRIKAAN
1 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2 Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3 Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4 en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5 en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.
Romans 6:1–14 AFRIKAAN
1 Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? 2 Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? 3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4 Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. 5 Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 6 Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. 7 Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. 8 Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. 9 Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. 10 Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. 11 Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. 12 Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13 Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14 Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade
Romans 9:30–33 AFRIKAAN
30 Wat is nou ons gevolgtrekking? Dít: heidene het nie God se vryspraak gesoek nie, maar dit wel gekry—die vryspraak deur die geloof. 31 Israel, daarenteen, het ’n wet gesoek waardeur hulle God se vryspraak sou kon kry, maar by so ’n wet het hulle nie uitgekom nie. 32 Waarom kon hulle nie die vryspraak kry nie? Omdat hulle nie op die geloof wou bou nie, maar op hulle eie prestasies. Hulle het oor die struikelblok gestruikel 33 waarvan daar geskrywe staan: “Kyk, Ek sit in Sion ’n klip neer waaroor ’n mens struikel, ’n rots waarteen jy jou stamp, maar wie in Hom glo, sal nie teleurgestel word nie.”
Romans 10:1–13 AFRIKAAN
1 Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, 2 want ek kan van hulle getuig dat hulle vol ywer vir God is, maar sonder die regte insig. 3 Hulle het hulle nie gesteur aan die manier waarop God mense vryspreek nie. Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry. 4 Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word. 5 Moses skryf naamlik van die vryspraak op grond van wetsonderhouding dat die mens wat doen wat die wet beveel, daardeur sal lewe. 6 Maar van die vryspraak deur die geloof sê hy: “Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim?’ nie,” dit is, om Christus af te bring, 7 “Of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?’ nie,” dit is, om Christus uit die dood terug te bring. 8 Nee, die Skrif sê: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: 9 As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10 Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11 Die Skrif sê tog: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.” 12 “Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13 want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Romans 10:14–21 AFRIKAAN
14 Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15 En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” 16 Die Israeliete het egter nie almal aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja sê immers: “Here, wie het die prediking geglo wat ons gehoor het?” 17 Die geloof kom dus deur die prediking wat ’n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus. 18 Maar ’n mens sou kon vra: Het die Israeliete dan nie die prediking gehoor nie? Alte seker het hulle gehoor! Die Skrif sê: “Hulle prediking het oor die hele wêreld weerklink, hulle woorde tot by die uithoeke van die aarde.” 19 Of ’n ander vraag: Het Israel dit dan nie verstaan nie? In die eerste plek wys ek op wat God deur Moses sê: “Ek gaan julle jaloers maak op mense wat nie ’n volk is nie, en julle kwaad maak oor ’n volk wat nie julle kennis het nie.” 20 En Jesaja gaan selfs verder. Daar sê God: “Ek het My laat vind deur mense wat My nie gesoek het nie, Ek het verskyn aan mense wat nie na My gevra het nie.” 21 Maar van Israel sê Hy: “Dag vir dag het Ek my hande uitgesteek na ’n ongehoorsame en weerspannige volk.”
Romans 11:11–36 AFRIKAAN
11 ’n Ander vraag is: Het Israel se struikeling hulle finale val beteken? Beslis nie! Maar deur hulle val het die redding na die heidennasies toe gekom om die Jode jaloers te maak. 12 As hulle val ’n verryking vir die wêreld beteken het en hulle klein oorblyfseltjie ’n verryking vir die heidennasies, hoeveel te meer sal dit dan nie tot seën wees as die Jode se volle getal gelowig sou word nie! 13 En nou praat ek met julle, gelowiges uit die heidennasies. As apostel vir die heidennasies is ek trots op my werk en strewe ek daarna 14 om op een of ander manier my eie mense jaloers te maak en sommige van hulle te red. 15 As hulle verwerping vir die wêreld versoening beteken het, wat sal hulle aanneming dan nie beteken nie? Niks minder nie as lewe uit die dood! 16 As die eerste stuk deeg aan God gewy is, dan is ook die res van die deeg aan Hom gewy. En as die wortel van die boom aan God gewy is, dan is ook die takke aan Hom gewy. 17 Party van die takke is uitgekap en jy, ’n wilde olyf, is tussen die ander takke op die mak olyf geënt. So het jy deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel. 18 Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie: dit is nie jy wat die wortel dra nie, die wortel dra jou. 19 Jy sal wel sê: “Takke is uitgekap sodat ék daar geënt kon word.” 20 Dis waar. Hulle is uitgekap omdat hulle nie geglo het nie; jy is daar geënt omdat jy glo. Moenie daaroor hoogmoedig wees nie; hou rekening met God; 21 want as Hy die natuurlike takke nie ontsien het nie, sal Hy jou dalk ook nie ontsien nie. 22 Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word. 23 En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal hulle ook geënt word, want God is in staat om hulle terug te ent. 24 As God jou uit die wilde olyf, waar jy van nature hoort, kon uitkap en teen jou natuur in op die mak olyf kon ent, hoeveel te meer sal Hy die mak takke op hulle ou boom ent. 25 Ons staan hier voor ’n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ’n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; 26 en op hierdie manier sal die hele Israel gered word. So staan daar geskrywe: “Uit Sion sal die Redder kom, en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder. 27 En hierdie verbond sal Ek met hulle sluit wanneer Ek hulle sondes wegneem.” 28 Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande van God, en dit kom julle ten goede, maar kragtens die uitverkiesing is hulle geliefdes om die aartsvaders se ontwil. 29 As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. 30 Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. 31 Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind. 32 God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm. 33 O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! 34 “Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? 35 Wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” 36 Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen
Romans 12:3–8 AFRIKAAN
3 Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. 4 Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. 5 Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. 6 Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. 7 As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. 8 As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid
Romans 13:11–14 AFRIKAAN
11 En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. 12 Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13 Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14 Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie
Romans 14:1–13 AFRIKAAN
1 Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil. 2 Een glo ’n mens mag alles eet; ’n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. 3 Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem. 4 Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg. 5 Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ’n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. 6 Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God. 7 Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. 8 As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. 9 Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes. 10 Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, 11 want daar staan geskrywe: “So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.” 12 Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee. 13 Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot ’n val kan bring nie.
Romans 14:14–23 AFRIKAAN
14 Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek en is ek daarvan oortuig dat niks vanself onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou—vir hom is dit dan onrein. 15 As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie. 16 Moenie dat die goeie wat julle het, ’n slegte naam kry nie. 17 Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. 18 Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense. 19 Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder. 20 Moenie oor kos afbreuk doen aan die werk van God nie. Alle kos is rein, maar dit is verkeerd om deur wat jy eet, aanstoot te gee. 21 Dit is goed as ’n mens nie vleis eet of wyn drink of enigiets doen wat jou broer laat struikel nie. 22 Laat jou oortuiging hieroor ’n saak tussen jou en God wees. Gelukkig is die man wat hom nie hoef te verwyt oor wat hy hom veroorloof nie. 23 As iemand egter twyfel en tog eet, is hy klaar veroordeel omdat hy dit nie uit geloofsoortuiging doen nie. En enigiets wat ’n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde
Romans 15:7–13 AFRIKAAN
7 Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. 8 Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode ’n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. 9 Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan: “Daarom sal ek U loof voor die nasies, en tot eer van u Naam sal ek ’n lofpsalm sing.” 10 En elders lui dit: “Verbly julle, ander nasies, saam met sy volk.” 11 En: “Prys die Here, alle nasies! Loof Hom, alle volke!” 12 En Jesaja sê ook: “Isai sal ’n nakomeling hê, en Hy sal opstaan om die nasies te regeer; op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.” 13 Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees
Romans 15:22–33 AFRIKAAN
22 Dit is dan ook die rede waarom ek baie keer verhinder is om na julle toe te kom. 23 Maar nou is daar vir my in hierdie streke nie meer ’n nuwe arbeidsveld nie, en ek koester al baie jare die begeerte om julle te besoek 24 as ek na Spanje toe gaan. Ek hoop om julle dan op my deurreis te sien; trouens, ek sou graag ook eers ’n tydjie by julle wou deurbring en dan met julle hulp verder na Spanje toe reis. 25 Maar nou is ek eers op pad Jerusalem toe met geldelike hulp vir die gelowiges daar. 26 Die gemeentes in Masedonië en Agaje het dit naamlik goedgedink om iets by te dra vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem. 27 Hulle het self so besluit, en hulle is dit buitendien ook verskuldig, want as die gelowiges uit die Jode hulle geestelike rykdom met die heidennasies gedeel het, is die gelowiges uit die heidene dit aan die gelowiges uit die Jode verskuldig om hulle met stoflike hulp by te staan. 28 As ek daarmee klaar is en die volle bedrag wat ingesamel is, veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje toe reis. 29 Ek weet dat as ek na julle toe kom, dit met die volle seën van Christus sal wees. 30 Ek versoek julle dan dringend, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus en op grond van die liefde wat van die Heilige Gees kom: Stry saam met my deur vir my te bid 31 dat God my veilig mag hou tussen al die ongelowiges in Judea en dat my hulp aan Jerusalem aanvaarbaar mag wees vir die gelowiges daar. 32 En as dit die wil van God is, sal ek vol blydskap na julle toe kom om ’n tydjie by julle te rus. 33 God wat vrede gee, sal by julle almal wees! Amen
Romans 16:25–27 AFRIKAAN
25 God is magtig om julle te laat vasstaan ooreenkomstig die evangelie van Jesus Christus wat ek verkondig, en ooreenkomstig die openbaring van die geheimenis. Eeue lank het dit geheim gebly, 26 maar nou is dit geopenbaar. Aan die hand van die geskrifte van die profete en in opdrag van die ewige God is dit aan alle nasies bekend gemaak sodat hulle in God kan glo en aan Hom gehoorsaam kan wees. 27 Aan Hom, die enigste en alwyse God, behoort die heerlikheid deur Jesus Christus tot in ewigheid! Amen
1 Corinthians 1:18–25 AFRIKAAN
18 Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 19 Daar staan tog geskrywe: “Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig, en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.” 20 Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? 21 Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22 Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24 maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25 Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.
1 Corinthians 2:1–5 AFRIKAAN
1 Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie. 2 Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde. 3 Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom. 4 Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. 5 Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God
1 Corinthians 3:5–17 AFRIKAAN
5 Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. 6 Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. 7 Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei. 8 Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk. 9 Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. 10 Julle is ook die gebou van God. Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ’n goeie bouer die fondament gelê, en ’n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, 11 want niemand kan ’n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. 12 Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, 13 elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. 14 As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; 15 as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is. 16 Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? 17 As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.
1 Corinthians 12:1–11 AFRIKAAN
1 Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek hê dat julle ingelig moet wees. 2 Julle weet dat, toe julle nog heidene was, julle blindelings na die stom afgode meegevoer is. 3 Daarom wil ek hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus”, nie deur die Gees van God praat nie; en niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees. 4 Daar is ’n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee; 5 daar is ’n verskeidenheid van bedieninge, maar dit is dieselfde Here wat die opdrag gee; 6 daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring. 7 Aan elkeen afsonderlik word ’n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. 8 Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ’n woord van wysheid te praat, aan ’n ander ’n woord van kennis deur dieselfde Gees; 9 aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ’n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. 10 Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ’n ander die gawe om te profeteer, en aan nog ’n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ’n ander om dit uit te lê. 11 Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ’n gawe uitdeel soos Hy wil
1 Corinthians 13:1–13 AFRIKAAN
1 Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ’n stuk klinkende metaal, ’n galmende simbaal geword. 2 Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. 3 Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks. 4 Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. 5 Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. 6 Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. 7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. 8 Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak. 9 Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik, 10 maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees. 11 Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind. Maar noudat ek ’n man is, is ek klaar met die dinge van ’n kind. 12 Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. 13 En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde
1 Corinthians 15:1–11 AFRIKAAN
1 Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 2 Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. 3 Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4 Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. 5 Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, 6 en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. 7 Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. 8 Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn. 9 Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. 10 Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is. 11 In elk geval, of dit ek is of hulle—dit is wat ons verkondig, en dit is wat julle geglo het
1 Corinthians 15:12–19 AFRIKAAN
12 As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie? 13 As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie. 14 En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. 15 Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie. 16 As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. 17 En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. 18 Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.
1 Corinthians 16:13–18 AFRIKAAN
13 Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk! 14 Laat alles by julle in liefde geskied. 15 Ek het nog ’n versoek aan julle, broers: julle weet van Stefanas en sy huisgesin, wat die eerste bekeerlinge in Agaje was, dat hulle hulle tot diens van die gelowiges gestel het. 16 Stel julle onder die leiding van sulke mense en van elkeen wat saam met hulle werk en arbei. 17 Ek verbly my oor die aankoms van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus, want hulle het vir my die gemis aan julle vergoed. 18 Hulle het my gees verkwik en ook julle s’n. Wees erkentlik teenoor sulke manne.
2 Corinthians 1:8–11 AFRIKAAN
8 Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. 9 Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe. 10 Dit is Hy wat ons uit so ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig. Hy sal ons ook verder red. 11 Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ’n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank
2 Corinthians 1:15–2:2 AFRIKAAN
15 Dit was in hierdie oortuiging dat ek vroeër die plan gemaak het om julle te besoek, sodat julle twee keer ’n bewys van genade kon ontvang. 16 Ek wou julle op die deurreis na Masedonië toe besoek en weer op die terugreis van Masedonië af, en dan met julle hulp my reis voortsit na Judea toe. 17 Was ek miskien oorhaastig toe ek hierdie plan gemaak het? Of word ek deur menslike oorwegings gelei as ek planne maak, sodat ek in een asem “ja” en “nee” sê? 18 So seker as God getrou is, ons woord aan julle was nie tegelyk “ja” en “nee” nie, 19 want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons, dit is ek en Silvanus en Timoteus, aan julle verkondig het, is nie “ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God, 20 die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê. 21 God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, 22 ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang. 23 Ek roep God tot getuie en staan met my lewe daarvoor in: dit was om julle te spaar dat ek toe nie na Korinte toe gekom het nie. 24 Ons wil nie as heersers voorskryf wat julle moet glo nie. Julle staan immers vas in die geloof. Maar ons wil medewerkers wees om julle geluk te bevorder. 1 Daarom het ek besluit ek kom nie weer na julle toe as my besoek op droefheid uitloop nie, 2 want as ek julle hartseer maak, wie bly dan oor om my op te beur, behalwe dié wat ek hartseer gemaak het?
2 Corinthians 3:4–6 AFRIKAAN
4 Ons sê dit omdat ons deur Christus ten volle op God vertrou. 5 Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God, 6 wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ’n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.
2 Corinthians 4:7–15 AFRIKAAN
7 Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. 8 In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; 9 ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. 10 Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. 11 Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word. 12 Dit beteken dat in ons die dood aan die werk is, maar in julle die lewe. 13 Daar staan in die Skrif: “Ek het geglo, daarom het ek gepraat.” Ons het dieselfde Gees wat die geloof wek, en ons glo, daarom praat ons ook. 14 Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel. 15 Ons doen dit alles om julle ontwil, sodat die genade van God steeds meer mense kan bereik. Dan word die dankgebede ook meer, en God ontvang die eer
2 Corinthians 4:16–18 AFRIKAAN
16 Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17 Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig
2 Corinthians 5:1–8 AFRIKAAN
1 Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan. 2 Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek. 3 Ons wil nie ontklee wees en naak voor God staan nie. 4 Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. 5 Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee. 6 Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, 7 want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie. 8 Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon.
2 Corinthians 6:11–7:1 AFRIKAAN
11 Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12 Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13 Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop! 14 Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis? 15 Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan ’n gelowige dieselfde belange hê as ’n ongelowige? 16 Hoe kan ’n ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van God en afgode? Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” 17 Daarom: “Gaan van hulle af weg en sonder julle af,” sê die Here, “en moenie wat onrein is, aanraak nie.” “Dan sal Ek julle aanneem, 18 en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees,” sê die Here, die Almagtige. 1 Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy
2 Corinthians 8:1–7 AFRIKAAN
1 Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van God ontvang het. 2 Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid. 3 Ek verseker julle hulle het na vermoë, ja, bo vermoë, bygedra. 4 Uit eie beweging het hulle by ons daarop aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea. 5 Dit was meer as wat ons verwag het, want eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons. Dit is soos God dit wil. 6 Daarom het ons vir Titus versoek om hierdie liefdeswerk, waarmee hy vroeër by julle begin het, nou ook te voltooi. 7 Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig.
2 Corinthians 10:12–18 AFRIKAAN
12 Ons waag dit natuurlik nie om ons op een lyn te stel of te vergelyk met sekere mense wat so ’n danige dunk van hulleself het nie. Hulle is dom: hulle meet hulleself aan hulle eie maatstaf en vergelyk hulleself met hulleself. 13 Maar wat ons betref, ons sal met ons roem nie buite die perke gaan nie. Ons bly binne die perke van die werkkring wat God aan ons toegemeet het. Julle val ook binne daardie perke. 14 Dus het ons nie ons perke oorskry deur tot by julle te kom nie. Ons het immers vroeër al tot by julle gekom met die evangelie van Christus. 15 Deur op julle te roem, gaan ons dus nie die perke te buite nie, want dit is nie ander mense se werk waarop ons roem nie. Ons hoop dat julle geloof sal toeneem en dat ons dan onder julle nog meer sal hê om op te roem, steeds binne die perke van ons werkkring. 16 Dan sal ons die evangelie ook in streke anderkant julle kan verkondig sonder om te roem op werk wat tot stand gebring is in die werkkring van iemand anders. 17 Maar die Skrif sê: “Hy wat roem, moet in die Here roem.” 18 Die man wat die proef deurstaan het, is nie die een wat homself prys nie, maar die een wat deur die Here geprys word
2 Corinthians 13:1–6 AFRIKAAN
1 Dit is nou die derde keer dat ek na julle toe kom. “Deur die getuienis van twee of drie getuies moet elke saak bewys word,” sê die Skrif. 2 Aan dié wat vroeër gesondig het en aan al die ander het ek voorheen toe ek by julle was, gesê, en ek sê dit nou weer vooruit terwyl ek nie by julle is nie: As ek nou weer na julle toe kom, sal ek niks en niemand ontsien nie. 3 Julle soek mos ’n bewys dat Christus deur my praat. Hy tree nie swak op teenoor julle nie, maar bewys sy krag onder julle, 4 want al is Hy gekruisig in die swakheid van ’n mens, Hy leef uit die krag van God. En in Hom is ons ook swak, maar saam met Hom sal ons uit die krag van God lewe. Dit sal julle sien. 5 Stel julle self op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie. 6 Ek hoop dan julle weet dat ons wel die toets deurstaan het.
Galatians 1:18–24 AFRIKAAN
18 Eers drie jaar later het ek Jerusalem toe gegaan om met Sefas kennis te maak, en ek het twee weke by hom gebly. 19 Van die ander apostels het ek niemand ontmoet nie behalwe Jakobus die broer van die Here. 20 Wat ek aan julle skrywe, is nie leuens nie—God is my getuie. 21 Daarna is ek na Sirië en Silisië toe. 22 Die gemeentes van Christus in Judea het my toe nog nie persoonlik geken nie; 23 hulle het net gehoor: “Die man deur wie ons vroeër vervolg is, verkondig nou die geloof wat hy destyds probeer uitroei het.” 24 En hulle het God verheerlik oor my
Galatians 2:11–21 AFRIKAAN
11 Toe Sefas egter later na Antiogië toe gekom het, het ek my openlik teen hom verset omdat sy optrede duidelik verkeerd was. 12 Voordat daar van Jakobus se mense aangekom het, het Sefas gewoonweg saam met nie-Joodse gelowiges geëet. Maar toe dié mense daar aankom, het hy hom onttrek en hom eenkant begin hou, omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis. 13 Die ander Joodse gelowiges het ook saam met hom begin huigel, en selfs Barnabas het hom deur hulle huigelary laat meesleep. 14 Toe ek sien dat hulle van die reguit pad van die evangeliese waarheid afwyk, het ek daar voor almal vir Sefas gesê: “Jy is ’n Jood, en jy hou jou nie meer aan die Joodse gebruike nie. As jy self leef asof jy nie ’n Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?” 15 Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. 16 En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie. 17 As uit ons soeke na vryspraak in Christus geblyk het dat ons ook sondaars is, beteken dit dan dat Christus in diens van die sonde staan? Beslis nie! 18 Maar as ek die bepalings van die wet wat ek nietig verklaar het, weer laat geld, dan maak ek myself daarmee tot ’n oortreder. 19 Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20 en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 21 Ek verwerp nie die genade van God nie. As ’n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het
Galatians 3:1–9 AFRIKAAN
1 Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ’t ware aan die kruis kon sien hang! 2 Net een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo? 3 Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig? 4 Was al julle swaakrkry dan verniet? Dit kon tog nie verniet gewees het nie! 5 Hy wat julle met die Heilige Gees toerus en kragtig onder julle werk, doen Hy dit omdat julle die wet onderhou of omdat julle die evangelie glo? 6 So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” 7 Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. 8 Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo. Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring: “In jou sal al die nasies geseën word.” 9 Dit is dus dié wat glo, wat saam met die gelowige Abraham geseën word.
Galatians 3:10–14 AFRIKAAN
10 Maar almal wat staat maak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: “Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.” 11 En dat niemand op grond van die wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik, want “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” 12 By die wet gaan dit egter nie om die geloof nie, maar om die daad, want daar staan: “Hy wat dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.” 13 Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ’n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan ’n hout opgehang is.” 14 Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het
Galatians 3:19–25 AFRIKAAN
19 Watter doel dien die wet dan? Dit is later bygevoeg as gevolg van die sonde, en dit is bedoel vir die tyd totdat die nakomeling op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van ’n tussenganger aan die volk gegee. 20 Maar as daar net één is wat handel, is ’n tussenganger nie nodig nie, en God ís net een. 21 Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God? Beslis nie! As ’n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou ’n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. 22 Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus. 23 Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24 Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25 Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.
Galatians 3:26–4:7 AFRIKAAN
26 Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27 want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28 Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29 En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God. 1 Hierby wil ek nog dít sê: Solank ’n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van ’n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom. 2 Tot die dag wat sy pa bepaal het, staan hy onder toesig van voogde en word sy besittings deur bestuurders beheer. 3 En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls. 4 Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5 om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. 6 En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! 7 Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak
Galatians 5:1–6 AFRIKAAN
1 Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie. 2 Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. 3 Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. 4 Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur. 5 Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word. 6 In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.
Galatians 6:6–10 AFRIKAAN
6 Iemand wat onderrig ontvang in die woord van God, moet sy leermeester laat deel in al die goeie dinge wat hy het. 7 Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes. 8 Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. 9 Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. 10 Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges
Ephesians 1:3–14 AFRIKAAN
3 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4 So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5 In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6 Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. 7 Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8 wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. 9 Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10 en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. 11 Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem. Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. 12 Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. 13 Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14 Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys
Ephesians 1:15–23 AFRIKAAN
15 Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16 hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17 bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18 Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19 en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20 wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21 hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22 Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23 Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul
Ephesians 2:1–10 AFRIKAAN
1 Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2 wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is. 3 So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. 4 Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5 Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6 Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7 sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. 8 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10 Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het
Ephesians 3:8–13 AFRIKAAN
8 Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. 9 Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. 10 Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, 11 soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring. 12 In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan. 13 Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as ’n eer beskou
Ephesians 3:14–21 AFRIKAAN
14 Daarom kniel ek in gebed voor die Vader 15 aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. 16 Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17 dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19 Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. 20 Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21 aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen
Ephesians 4:1–6 AFRIKAAN
1 Ek druk julle dit op die hart, ek wat ’n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2 Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3 Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. 4 Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. 5 Daar is net één Here, één geloof, één doop, 6 één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.
Ephesians 4:7–16 AFRIKAAN
7 Aan elkeen van ons is ’n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. 8 Daarom sê die Skrif: “Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.” 9 Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. 10 Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. 11 En dit is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. 12 Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13 So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. 14 Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. 15 Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16 en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde
Ephesians 6:10–20 AFRIKAAN
10 Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. 14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. 18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. 19 Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak. 20 Ter wille van hierdie evangelie is ek ’n gesant in boeie. Bid dat ek dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is
Ephesians 6:21–24 AFRIKAAN
21 Tigikus, die medegelowige wat ek baie lief het, die getroue dienaar in diens van die Here, sal julle alles vertel, sodat julle ook kan weet hoe dit met my gaan en wat ek doen. 22 Ek stuur hom juis hiervoor na julle toe, sodat julle kan hoor hoe dit hier by ons gaan en, sodat hy die kommer in julle gemoed kan wegneem. 23 Vrede vir die broers, en liefde en geloof, van God die Vader en die Here Jesus Christus! 24 Die genade sal by almal wees wat vir ons Here Jesus Christus met onverganklike liefde liefhet
Philippians 1:19–26 AFRIKAAN
19 want ek weet dat alles op my redding sal uitloop omdat julle vir my bid en die Gees van Jesus Christus my bystaan. 20 Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, 21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. 22 As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. 23 Ek is in ’n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24 maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. 25 Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. 26 As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys
Philippians 1:27–30 AFRIKAAN
27 Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 28 en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle ’n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God. 29 God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. 30 Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry
Philippians 2:12–18 AFRIKAAN
12 My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13 want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. 14 Doen alles sonder kla of teëpraat. 15 Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld 16 deur die woord van die lewe uit te dra. Dan sal ek op die dag van Christus se koms rede hê om trots te wees, omdat dit sal blyk dat ek my nie verniet ingespan het nie en nie verniet geswoeg het nie. 17 Julle geloof is ’n offer in diens van God. Selfs al word my bloed daarby as drankoffer uitgegiet, is ek daaroor bly, ja, is ek saam met julle almal bly. 18 Om dieselfde rede moet julle ook bly wees, ja, saam met my bly wees
Philippians 3:1–11 AFRIKAAN
1 Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid. 2 Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis! 3 Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. 4 Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5 ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, 6 in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. 7 Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8 ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9 en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10 Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11 in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.
Colossians 1:3–8 AFRIKAAN
3 Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle 4 omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges. 5 Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. 6 Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is. 7 Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en ’n getroue dienaar van Christus in julle belang. 8 Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is
Colossians 1:19–23 AFRIKAAN
19 God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon 20 en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. 21 Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. 22 Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. 23 Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, ’n dienaar geword het
Colossians 2:1–10 AFRIKAAN
1 Ek wil hê julle moet weet hoe sterk ek my beywer vir julle en vir die gelowiges in Laodisea en vir al die ander wat my ook nog nie persoonlik gesien het nie. 2 My doel daarmee is dat hulle bemoedig moet word. Hulle moet met liefde aan mekaar verbind wees en saam strewe na diep en volledige insig, sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, 3 en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind. 4 Ek beklemtoon dit, sodat niemand julle met vals redenasies mislei nie. 5 Al is ek nou nie persoonlik daar nie, is ek tog in die gees by julle en is ek bly om te sien dat julle die goeie orde handhaaf en dat julle geloof in Christus stewig vas staan. 6 Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, 7 in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul. 8 Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie. 9 In Hom is die volle wese van God beliggaam, 10 en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag.
Colossians 2:11–23 AFRIKAAN
11 Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. 12 Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het. 13 Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. 14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. 15 Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer. 16 Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie , of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. 17 Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus. 18 Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, 19 en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei. 20 Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld. Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld behoort? Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte 21 soos: “Hieraan mag jy nie vat nie!” “Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!” “Daaraan mag jy nie raak nie!”? 22 Dit gaan alles oor dinge wat bedoel is om gebruik te word en te vergaan, en dit is maar net gebooie en leerstellings van mense. 23 Hierdie leerstellings het wel ’n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie
1 Thessalonians 1:2–10 AFRIKAAN
2 Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou 3 bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus. 4 Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, 5 want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dít om julle ontwil. 6 En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom. 7 So het julle ’n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. 8 Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. 9 Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien 10 en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom
1 Thessalonians 2:13–16 AFRIKAAN
13 Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys. 14 Broers, dit het met julle gegaan soos met die gemeentes van God in Judea, hulle wat aan Christus Jesus behoort: julle moes van julle volksgenote dieselfde behandeling verduur as wat die gelowiges in Judea onder die Jode moes ly. 15 Dit is die Jode deur wie die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg is. Wat God wil, doen hulle nie, en hulle is vyandig teenoor alle mense; 16 hulle probeer verhoed dat ons aan die heidene die boodskap bring waardeur hulle gered kan word. Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref
1 Thessalonians 3:1–5 AFRIKAAN
1 Toe ons dit nie langer kon uithou nie, het ons besluit om alleen in Atene agter te bly. 2 Ons het vir Timoteus, ons broer en medewerker in diens van God, wat saam met ons die evangelie van Christus verkondig, na julle toe gestuur om julle in julle geloof te versterk en moed in te praat 3 sodat nie een van julle onder die vervolginge sou begin wankel nie. Dat ons ter wille van ons geloof vervolg sal word, staan vas. Dit weet julle. 4 Toe ons nog by julle was, het ons julle al gewaarsku dat ons vervolg sal word, en soos julle weet, het dit ook gebeur. 5 Toe ek dus nie langer kon uithou nie, het ek vir Timoteus gestuur om vas te stel hoe dit met julle geloof staan: of die verleier julle nie reeds verlei het en al ons harde werk dalk op niks uitgeloop het nie.
1 Thessalonians 3:6–10 AFRIKAAN
6 Nou is Timoteus van julle af terug by ons, en hy het ons die goeie nuus gebring van julle geloof en liefde. Hy het ons vertel dat julle nog altyd die aangenaamste herinneringe aan ons het en dat julle net so na ons verlang as ons na julle. 7 Daarom, broers, het ons in al ons nood en swaarkry weer moed geskep vir julle omdat julle nog glo. 8 Omdat julle vas staan in die Here, leef ons nou weer werklik. 9 Hoe kan ons na behore aan ons God die dank bring vir al die blydskap wat ons voor Hom oor julle het? 10 Dag en nag bid ons met ons hele hart om julle weer persoonlik te mag sien en om aan te vul wat nog aan julle geloof ontbreek.
1 Thessalonians 5:1–11 AFRIKAAN
1 Oor die tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur, is dit nie nodig om aan julle te skrywe nie, broers. 2 Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ’n dief in die nag. 3 Wanneer die mense sê: “Alles is rustig en veilig,” sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne ’n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie. 4 Maar, broers, julle leef nie in die duisternis nie; dié dag sal julle nie soos ’n dief oorval nie. 5 Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. 6 Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees. 7 Dié wat slaap is van die nag; en die wat hulle dronk drink, is van die nag. 8 Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm. 9 God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. 10 Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe. 11 Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen
2 Thessalonians 1:3–12 AFRIKAAN
3 Ons moet God altyd vir julle dank, broers. En dit is ook reg, want julle geloof neem sterk toe, en sonder uitsondering word julle liefde vir mekaar altyd meer. 4 Daarom praat ons met trots van julle in al die gemeentes van God en vertel ons van julle volharding en geloof onder al die vervolging en lyding wat julle moet verduur. 5 Dit alles is ’n bewys van die regverdige oordeel van God, naamlik dat Hy julle geskik geag het vir sy koninkryk, waarvoor julle nou ook ly. 6 God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; 7 en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8 in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9 Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. 10 Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo. 11 Daarom bid ons ook altyd vir julle: Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak. 12 So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word, en julle deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus
2 Thessalonians 2:13–17 AFRIKAAN
13 Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo. 14 Hy het julle hiertoe geroep deur die evangelie wat ons aan julle verkondig het, sodat julle deel kan kry aan die heerlikheid van ons Here Jesus Christus. 15 Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur ’n brief was. 16 En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade ’n blywende troos en goeie hoop gegee
1 Timothy 1:1–2 AFRIKAAN
1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus in opdrag van God ons Verlosser en van Christus Jesus ons Hoop. 2 Aan Timoteus, my eie kind in die geloof. Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here
1 Timothy 1:3–11 AFRIKAAN
3 Soos by my vertrek na Masedonië toe, dring ek nou weer by jou daarop aan om in Efese te bly. Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied. 4 Hulle moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee. 5 Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit ’n rein hart, ’n goeie gewete en ’n opregte geloof kom. 6 Daar is mense wat hiervan afgedwaal het en in ’n vrugtelose gepraat verval het. 7 Hulle wil leermeesters in die wet wees, maar hulle verstaan nie hulle eie woorde of die dinge waaroor hulle so selfversekerd praat nie. 8 Ons weet dat die wet goed is as ’n mens dit op die regte manier gebruik. 9 ’n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, 10 ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is. 11 Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie wat aan my toevertrou is, die evangelie van die heerlikheid van die goeie God
1 Timothy 1:12–17 AFRIKAAN
12 Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel, 13 al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. 14 Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus. 15 Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. 16 Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. 17 Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
1 Timothy 1:18–20 AFRIKAAN
18 Hierdie opdrag gee ek aan jou, Timoteus, my kind, in ooreenstemming met die profesieë wat vroeër oor jou uitgespreek is. Met hierdie woorde in gedagte, moet jy die goeie stryd stry. 19 Hou vas aan die geloof en behou ’n goeie gewete. Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely. 20 Onder hulle is daar Himeneus en Aleksander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle daardeur kan leer om God nie te laster nie
1 Timothy 2:1–7 AFRIKAAN
1 Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, 2 vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. 3 So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus 6 wat Homself as ’n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God. 7 Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as ’n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie
1 Timothy 2:8–15 AFRIKAAN
8 Ek wil dus hê dat die mans by elke plek van samekoms met ’n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef, vry van onmin en twis. 9 Van die vroue wil ek hê dat hulle ook in hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees. Hulle versiering moenie haarkapsels en goud of pêrels of duur klere wees nie, 10 maar goeie werke, soos dit vroue betaam wat openlik bely dat hulle God dien. 11 ’n Vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer. 12 Ek laat haar nie toe om daar onderrig te gee of oor die man gesag uit te oefen nie; sy moet stil wees. 13 Adam is immers eerste gemaak, Eva daarna. 14 Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het. 15 Maar sy sal haar redding vind in moederskap, as sy maar volhard in geloof, liefde en ’n heilige lewe, en daarby beskeie bly
1 Timothy 3:8–13 AFRIKAAN
8 Net so moet diakens ook manne van goeie karakter wees. Hulle moenie uit twee monde praat nie en nie aan drank verslaaf of op oneerlike winsbejag uit wees nie. 9 Hulle moet in alle opregtheid aan die geopenbaarde waarheid van die geloof vashou. 10 Vooraf moet ondersoek ingestel word na hulle geskiktheid, en as niemand beswaar teen hulle inbring nie, kan hulle as diakens dien. 11 Net so moet vroue ook van goeie karakter wees, nie skinder nie, nugter en in alles betroubaar. 12 ’n Diaken moet aan sy vrou getrou wees en sy kinders en sy eie huisgesin goed beheer. 13 Dié wat as diaken goed gedien het, verwerf vir hulleself ’n eervolle plek in die gemeente en groot vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus
1 Timothy 3:14–16 AFRIKAAN
14 Ek skryf hierdie dinge aan jou hoewel ek hoop om gou na jou toe te kom. 15 Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. 16 En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is: As mens het Jesus in die wêreld gekom, deur die Gees is bevestig dat die reg aan sy kant is, aan die engele het Hy verskyn; aan die heidennasies is Hy verkondig, in die hele wêreld is Hy geglo, en in heerlikheid is Hy opgeneem
1 Timothy 4:1–5 AFRIKAAN
1 Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang. 2 Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is. 3 Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot die kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik. 4 Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, 5 want dit word deur die woord van God en deur die gebed geheilig
1 Timothy 4:6–11 AFRIKAAN
6 As jy hierdie dinge aan die broers voorhou, sal jy ’n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy ’n aanhanger geword het. 7 Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe. 8 Om jou liggam te oefen, het wel ’n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ’n belofte van lewe, vir nou en die toekoms. 9 Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word. 10 Met hierdie vooruitsig span ons ons kragte in en stry ons, want ons het ons hoop op die lewende God gevestig, wat die Verlosser is van alle mense, van almal wat glo. 11 Hierdie dinge moet jy die mense beveel en leer.
1 Timothy 4:12–16 AFRIKAAN
12 Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid. 13 Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee. 14 Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie. Dit is aan jou gegee deur die profesieë toe die raad van ouderlinge jou die hande opgelê het. 15 Lê jou op hierdie dinge toe, leef daarin, sodat almal jou vordering kan sien. 16 Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister
1 Timothy 5:3–16 AFRIKAAN
3 Versorg die weduwees wat werklik alleen agtergelaat is. 4 Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet die kinders leer om as gelowiges allereers hulle verpligtinge teenoor hulle eie familie na te kom en so hulle ouers en grootouers iets te vergoed. Dit is volgens die wil van God. 5 ’n Weduwee wat alleen agtergelaat is en niemand het om vir haar te sorg nie, vestig haar hoop volkome op God en volhard dag en nag met smeking en gebede. 6 Maar ’n weduwee wat uitspattig lewe, is dood, al leef sy nog. 7 Skerp ook hierdie dinge in, sodat almal onberispelik kan wees. 8 As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ’n ongelowige. 9 ’n Weduwee kan op die lys van dienende weduwees kom as sy minstens sestig jaar oud is en aan haar man getrou was. 10 Sy moet bekend wees om haar goeie dade, naamlik dat sy haar kinders goed opgevoed het, vreemdelinge gehuisves het, die voete van die gelowiges gewas het, die verdruktes gehelp het en goed gedoen het waar sy kon. 11 Jonger weduwees moet jy nie in die lys opneem nie. Hulle liggaamlike begeertes kan hulle daartoe bring om hulle af te wend van Christus af en weer te wil trou. 12 Dan is hulle daaraan skuldig dat hulle hulle vroeëre belofte aan Hom verbreek het. 13 Buitendien leer hulle om hulle tyd te verkwis deur net van die een huis na die ander rond te kuier. Hulle is nie net ledig nie, maar ook bemoeisiek en praatsiek, en hulle praat oor dinge waaroor nie gepraat moet word nie. 14 Daarom verkies ek dat die jonger weduwees weer trou, kinders kry, hulle huise versorg en geen teenstander aanleiding gee om kwaad te praat van ons nie. 15 Daar is reeds party wat agter die Satan aan afgewyk het. 16 As ’n gelowige vrou weduwees in haar familie het, moet sy vir hulle sorg. Sy moet nie die las op die gemeente lê nie, sodat die gemeente die weduwees kan help wat alleen agtergelaat is
1 Timothy 6:11–16 AFRIKAAN
11 Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. 12 In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê. 13 Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou: 14 “Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.” 15 Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. 16 Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.
1 Timothy 6:17–19 AFRIKAAN
17 Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. 18 Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. 19 So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.
2 Timothy 1:3–7 AFRIKAAN
3 Ek dank God, wat ek net soos my voorouers met ’n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik dag en nag in my gebede aan jou dink. 4 Ek onthou jou afskeidstrane en wil jou baie graag weer sien. Dit sal vir my ’n groot vreugde wees. 5 Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is. 6 Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas. 7 Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.
2 Timothy 1:8–12 AFRIKAAN
8 Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ’n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. 9 Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 10 Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. 11 Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar. 12 Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.
2 Timothy 1:13–18 AFRIKAAN
13 Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. 14 Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon. 15 Soos jy weet, het almal in die provinsie Asië my in die steek gelaat. Onder hulle is daar ook Figelus en Hermogenes. 16 Mag die Here barmhartigheid bewys aan die huisgesin van Onesiforus, want hy het my dikwels kom opbeur. Hy het hom nie daarvoor geskaam dat ek in boeie sit nie, 17 maar toe hy in Rome kom, het hy ywerig na my gesoek tot hy my gekry het. 18 Mag die Here gee dat hy by Hom ontferming vind op die dag dat Hy weer kom. En wat Onesiforus alles in Efese vir my gedoen het, weet jy self baie goed
2 Timothy 2:14–26 AFRIKAAN
14 Hou aan om die gelowiges aan hierdie dinge te herinner en vermaan hulle ernstig voor God om op te hou stry oor woorde. Dit het geen nut nie en is net skadelik vir die hoorders. 15 Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ’n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ’n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig. 16 Maar die onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, 17 en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, 18 wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige. 19 Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: “Die Here ken dié wat aan Hom behoort,” en: “Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid.” 20 In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. 21 As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens. 22 Vermy die begeertes wat ’n jongmens in gevaar bring, en streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede, saam met almal wat uit ’n rein hart die Here aanroep. 23 Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak. 24 ’n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. 25 Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring. 26 Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam
2 Timothy 3:1–9 AFRIKAAN
1 Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. 2 Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; 3 hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie; 4 hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. 5 Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af. 6 Party van hulle dring in die huise in en kry liggelowige vroue wat met sonde belaai is en deur allerlei sinlike begeertes gedryf word, in hulle mag, 7 vroue wat altyd iets wil leer, maar tog nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie. 8 Net soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het, so verset hierdie mense hulle teen die waarheid, mense wat in die verstand verward is en in die geloof ’n mislukking. 9 Maar hulle sal nie ver kom nie, omdat hulle dwaasheid vir almal duidelik sal wees, net soos dit die geval was met Jannes en Jambres
2 Timothy 3:10–17 AFRIKAAN
10 Maar jy het my nagevolg in leer, lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding, 11 in vervolging en ontbering soos my te beurt geval het in Antiogië, Ikonium en Listra. Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! Maar die Here het my uit almal gered. 12 Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. 13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei. 14 Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeester was 15 en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. 16 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17 sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk
2 Timothy 4:6–8 AFRIKAAN
6 Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. 7 Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. 8 Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms
Titus 1:1–4 AFRIKAAN
1 Van Paulus, ’n dienaar van God en ’n apostel van Jesus Christus. Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God 2 en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe. 3 Nou het Hy op die bestemde tyd sy woord bekend gemaak deur die prediking wat as opdrag aan my toevertrou is deur God ons Verlosser. 4 Aan Titus, my eie kind in die geloof wat ons albei bely. Genade en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Verlosser
Titus 1:10–16 AFRIKAAN
10 Daar is baie, veral onder die bekeerlinge uit die Jodedom, wat in opstand kom teen gesag, wat onsin praat en mense verlei. 11 Hulle mond moet gesnoer word. Hulle bring hele huisgesinne in beroering deur dinge te leer wat nie toelaatbaar is nie, en dít net om skaamteloos geld te maak. 12 Een van hulle mense, hulle eie profeet, het gesê: “Die Kretensers is altyd leuenaars, ongediertes, lui vrate.” 13 Hierdie getuienis is waar. Daarom moet jy hulle streng teregwys, sodat hulle gesond kan word in die geloof. 14 Hulle moet hulle nie langer besig hou met Joodse verdigsels en met die voorskrifte van mense wat van die waarheid afgedwaal het nie. 15 Vir die reines is alles rein, maar vir die besoedeldes en ongelowiges is niks rein nie, want hulle verstand en hulle gewete is besoedel. 16 Hulle gee voor dat hulle God ken, maar hulle dade weerspreek dit. Hulle is verfoeilik en koppig en deug vir geen goeie werk nie
Titus 2:1–10 AFRIKAAN
1 Maar jy moet verkondig wat in ooreenstemming is met die gesonde leer. 2 Sê vir die ouer mans hulle moet nugter wees, eerbaar, verstandig, gesond en vas in geloof, liefde en volharding. 3 Net so moet jy ook vir die ouer vroue sê hulle gedrag moet dié wees van mense wat ’n heilige lewe lei. Hulle moenie kwaadpraat of aan drank verslaaf wees nie. Hulle moet goeie raad kan gee, 4 sodat hulle die jonger vrouens kan leer om liefdevol teenoor hulle mans en kinders te wees, 5 verstandig en kuis, goeie huisvrouens, onderdanig aan hulle mans. Dan sal die woord van God nie in diskrediet kom nie. 6 Net so moet jy die jonger mans vermaan om hulle verstandig te gedra. 7 In alles moet jy self vir hulle ’n voorbeeld stel van goeie werk, suiwerheid in die leer, waardigheid in gedrag, 8 gesonde en onaanvegbare prediking. Dan sal elke teenstander in die verleentheid kom dat hy niks slegs van ons sal kan sê nie. 9 Die slawe moet in alles aan hulle eienaars onderdanig wees en hulle tevrede stel. Hulle moenie teëpraat 10 of iets vat nie; hulle moet bewys dat hulle in alles betroubaar is. So sal hulle in alles wat hulle doen, die aansien van die leer van God ons Verlosser verhoog.
Titus 3:1–8 AFRIKAAN
1 Herinner die mense nadruklik daaraan dat hulle hulle aan owerheid en gesag moet onderwerp, daaraan gehoorsaam moet wees en bereid moet wees om alles te doen wat goed is. 2 Hulle moet van niemand kwaadpraat nie en nie rusie soek nie. Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam teenoor almal. 3 Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. 4 Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. 5 Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. 6 God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. 7 So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag. 8 Dit is ’n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense.
Titus 3:15 AFRIKAAN
15 Almal wat hier by my is, stuur vir jou groete. Gee ons groete aan ons vriende in die geloof. Die genade sal by julle almal wees
Philemon 4–7 AFRIKAAN
4 Elke keer as ek bid, dink ek aan jou en dank ek my God 5 omdat ek hoor van die liefde en trou wat jy aan die Here Jesus en al die gelowiges bewys. 6 My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou ’n dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen. 7 Jou liefde het vir my groot vreugde en bemoediging gebring, omdat jy, broer, die harte van die gelowiges verkwik het
Hebrews 2:10–18 AFRIKAAN
10 God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heelikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. 11 Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. 12 Hy sê tog: “Ek sal u Naam aan my broers bekend maak, in die samekoms van die gemeente sal Ek u lof besing.” 13 Ook sê Hy: “Ek sal altyd op Hom vertrou.” En verder: “Hier is Ek met die kinders wat God My gegee het.” 14 Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15 en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. 16 Dit is duidelik dat dit vir Hom nie om die engele gaan nie, maar om die nageslag van Abraham. 17 Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. 18 Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word
Hebrews 4:1–10 AFRIKAAN
1 Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie. 2 Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. 3 Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesê het: “Toe het Ek in my toorn ’n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” En tog was sy werk ná die skepping van die wêreld reeds afgehandel, 4 want êrens in die Skrif word van die sewende dag dit gesê: “En God het op die sewende dag gerus van al sy werk,” 5 terwyl hier weer gesê word: “In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” 6 Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie, maar vir sommige bly die moontlikheid bestaan om in sy rus in te gaan. 7 God het immers weer ’n dag bepaal, naamlik “vandag”, wanneer Hy, soos reeds voorheen aangehaal, soveel later by monde van Dawid sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie.” 8 As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van ’n ander dag gepraat het nie. 9 Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, 10 want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne.
Hebrews 6:1–8 AFRIKAAN
1 Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap. Ons wil nie opnuut die fondament lê deur te praat oor die bekering uit ’n leefwyse wat tot die dood lei nie, of oor geloof in God, 2 die leer van die doop en die handoplegging, die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie. 3 Ons sal dus verder gaan as God dit toelaat. 4 Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, 5 die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het 6 en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ’n bespotting. 7 Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën. 8 Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur.
Hebrews 6:9–12 AFRIKAAN
9 Maar, geliefdes, al praat ons in hierdie trant, is ons oor julle oortuig van beter: dat julle gered sal word. 10 God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie. 11 Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is. 12 Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het
Hebrews 10:19–25 AFRIKAAN
19 Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20 en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21 En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22 laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23 Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24 Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25 Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom
Hebrews 10:26–39 AFRIKAAN
26 Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. 27 Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. 28 As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. 29 Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? 30 Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld;” en verder: “Die Here sal oor sy volk oordeel.” 31 Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val. 32 Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly. 33 Deels is julle deur beledigings en vervolging openlik tot bespotting gemaak en deels het julle gely omdat julle julle vereenselwig het met ander wat hierdie dinge oorgekom het. 34 Julle het met die gevangenes meegevoel gehad, en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ’n besitting het wat beter en blywend is. 35 Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. 36 Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. 37 Nog net “’n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. 38 En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie.” 39 Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe
Hebrews 11:1–3 AFRIKAAN
1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2 Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is. 3 Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is; die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.
Hebrews 11:4–7 AFRIKAAN
4 Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ’n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood. 5 Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. 6 As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. 7 Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.
Hebrews 11:8–12 AFRIKAAN
8 Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9 Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10 want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is. 11 Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ’n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. 12 Die gevolg was dat daar van een man, ’n man wat nie meer ’n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see.
Hebrews 11:13–16 AFRIKAAN
13 Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. 14 Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ’n vaderland. 15 As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. 16 Maar hulle het na ’n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak.
Hebrews 11:17–22 AFRIKAAN
17 Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19 Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het. 20 Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms. 21 Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun. 22 Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.
Hebrews 11:23–29 AFRIKAAN
23 Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy ’n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie. 24 Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. 25 Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. 26 Die smaad ter wille van die Christus het hy ’n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het. 27 Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien. 28 Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie. 29 Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.
Hebrews 11:30–40 AFRIKAAN
30 Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het. 31 Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie. 32 En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete. 33 Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, 34 gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag. 35 Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot ’n beter lewe deelagtig word. 36 Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. 37 Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. 38 Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe. 39 En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, 40 omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie
Hebrews 12:1–2 AFRIKAAN
1 Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2 die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.
Hebrews 13:1–6 AFRIKAAN
1 As broers moet julle mekaar altyd liefhê. 2 Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. 3 Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word. 4 Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom. 5 Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6 Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen?”
Hebrews 13:7–17 AFRIKAAN
7 Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het. 8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. 9 Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie. 10 Ons het ’n altaar waarvan dié wat nog die offerdiens volgens die ou orde verrig, nie die reg het om te eet nie. 11 Die bloed van die offerdiere word deur die hoëpriester in die heiligdom ingebring vir die sonde, maar hulle liggame word buitekant die laer verbrand. 12 Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. 13 Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, 14 want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige. 15 Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. 16 Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is. 17 Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie.
James 1:2–8 AFRIKAAN
2 My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 3 want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4 En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. 5 As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. 6 Maar ’n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. 7 So ’n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie
James 2:1–13 AFRIKAAN
1 My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. 2 Sê nou daar kom in julle samekoms ’n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ’n brandarm man in met ou klere aan, 3 en sê nou julle maak ’n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,”4 het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie? 5 Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? 6 Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? 7 Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? 8 As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. 9 Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. 10 As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. 11 God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog ’n oortreder van die hele wet. 12 Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak. 13 Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel
James 2:14–26 AFRIKAAN
14 Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15 Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16 en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17 So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. 18 Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. 19 Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs. 20 Jou dwaas, wil jy ’n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? 21 Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? 22 Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. 23 So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is ’n vriend van God genoem. 24 Julle sien dus dat ’n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. 25 Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom het nie? 26 ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood
James 5:7–12 AFRIKAAN
7 Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. 8 Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. 9 Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur. 10 Broers, neem die profete wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld. 11 Ons noem hulle geseënd omdat hulle volhard het. Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming. 12 My broers, dit is baie belangrik dat julle nie ’n eed moet aflê nie, nie by die hemel nie, nie by die aarde nie en ook nie enige ander eed nie. As julle “ja” sê, moet dit “ja” wees; as julle “nee” sê, moet dit “nee” wees. Dan sal julle nie veroordeel word nie
1 Peter 1:3–12 AFRIKAAN
3 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop 4 op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5 En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. 6 Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7 sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8 Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap. 10 In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. 11 Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. 12 Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry
1 Peter 1:13–21 AFRIKAAN
13 Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. 14 As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. 15 Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. 16 Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” 17 Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld. 18 Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19 Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. 20 Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. 21 Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig
1 Peter 2:4–10 AFRIKAAN
4 Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. 5 Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. 6 Daarom staan daar in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion ’n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.” 7 Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword” 8 en: “’n klip waaroor ’n mens struikel en ’n rots waarteen jy jou stamp.” Hulle struikel omdat hulle nie aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem. 9 Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 10 Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys
1 Peter 2:18–25 AFRIKAAN
18 Bediendes, onderwerp julle met die nodige ontsag aan julle werkgewers, of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik. 19 Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees. 20 As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. 21 Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. 22 “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ’n leuen gekom nie.” 23 Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel. 24 Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. 25 Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe
1 Peter 4:12–19 AFRIKAAN
12 Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13 Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. 14 Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly. 15 As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy ’n moordenaar is of ’n dief of ’n misdadiger of ’n kwaadstoker nie. 16 Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik. 17 Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie? 18 “As ’n gelowige beswaarlik gered word, wat word dan van ’n goddelose en ’n sondaar?” 19 Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen
1 Peter 5:5–11 AFRIKAAN
5 En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” 6 Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. 7 Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. 8 Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. 9 Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur. 10 God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. 11 Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen
2 Peter 1:1–4 AFRIKAAN
1 Van Simon Petrus, ’n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons ontvang het. 2 Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here! 3 Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 4 Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.
2 Peter 1:5–11 AFRIKAAN
5 En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, 6 die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, 7 die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. 8 As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. 9 Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. 10 Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. 11 En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.
2 Peter 3:10–13 AFRIKAAN
10 Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ’n dief kom. En op dié dag sal die hemel met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan. 11 Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. 12 Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt. 13 Maar ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.
1 John 3:16–23 AFRIKAAN
16 Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. 17 Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie—hoe kan die liefde van God in hom wees? 18 Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. 19 Hierdeur kan ons ook te wete kom dat ons aan die ware God behoort en kan ons ons gewete voor Hom tot rus bring. 20 As ons gewete ons veroordeel—God is groter as ons gewete, en Hy weet alles. 21 Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; 22 en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind. 23 En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het.
1 John 4:12–16 AFRIKAAN
12 Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. 13 Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. 14 En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. 15 Wie bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom en hy in God. 16 En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.
1 John 4:20–5:5 AFRIKAAN
20 As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21 En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê. 1 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ’n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is. 2 Hiéraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou. 3 Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, 4 want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5 Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is
1 John 5:6–13 AFRIKAAN
6 Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid. 7 Daar is dus drie wat getuig : 8 die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen. 9 Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun. 10 Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. 11 En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. 12 Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. 13 Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo
Jude 3–4 AFRIKAAN
3 Geliefdes, ek was vas van plan om aan julle te skrywe oor die verlossing waaraan ons almal deel het. Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het. 4 Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus.
Jude 5–11 AFRIKAAN
5 Al weet julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel die Here een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié wat nie geglo het nie, laat omkom het. 6 Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag. 7 En dink ook aan die mense van Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle. Net soos daardie engele het hulle onsedelike dade gepleeg en omgang gesoek met vreemde wesens. As waarskuwing vir almal word hulle nou gestraf met die vuur wat ewig brand. 8 En nou is dit met hierdie mense net so. Vanweë die droomgesigte wat hulle sien, bevlek hulle hulle eie liggame, verwerp hulle die gesag van die Here en beledig hulle die hemelwesens. 9 Nie eens die aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou straf.” 10 Maar hierdie mense praat lasterlik oor dinge waarvan hulle geen kennis het nie. Hulle is soos verstandlose diere: al waarvan hulle kennis het, is hulle natuurlike drange, en juis dit is hulle ondergang. 11 Verskriklik sal hulle lot wees, want hulle het dieselfde pad as Kain geloop, vir geld het hulle dieselfde bedrog as Bileam gepleeg, soos Korag het hulle in opstand gekom, en dit was hulle ondergang.
Jude 20–23 AFRIKAAN
20 Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. 21 Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee. 22 Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. 23 Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is
Revelation 2:12–17 AFRIKAAN
12 Skrywe aan die leraar van die gemeente in Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het: 13 Ek ken die plek waar julle bly, daar waar die troon van die Satan is. Tog bly julle aan my Naam getrou en julle het nie julle geloof in My afgesweer nie, selfs nie in die tyd toe Antipas, my getroue getuie, doodgemaak is daar by julle waar die Satan bly nie. 14 Maar Ek het ’n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het. 15 So is daar onder julle dan ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen. 16 Bekeer julle nou, anders kom Ek gou na julle toe en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond. 17 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom ’n wit steentjie gee met ’n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry
Revelation 2:18–29 AFRIKAAN
18 Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is: 19 Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore. 20 Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgods-offervleis te eet. 21 Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie. 22 Kyk, Ek gee haar aan ’n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding—as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23 Haar volgelinge sal Ek deur ’n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late. 24 Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van die Satan”, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; 25 hou net vas wat julle het, totdat Ek kom. 26 Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee. 27 Hy sal hulle met ’n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan. 28 Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee. 29 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê
Revelation 13:1–10 AFRIKAAN
1 En toe het ek ’n dier uit die see uit sien kom met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien heerserskrone en op sy koppe godslasterlike name. 2 Die dier wat ek gesien het, het soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee. 3 Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was, maar die dodelike wond het genees, en die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan geloop. 4 Die mense het die draak aanbid omdat dit hy is wat die gesag aan die dier gegee het. Hulle het ook die dier aanbid en gesê: “Wie kan met die dier vergelyk word? En wie kan teen hom oorlog voer?” 5 Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen. 6 Hy het teen God begin laster, hy het God se Naam en sy woonplek en dié wat in die hemel bly, belaster. 7 Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie. 8 Al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die skepping van die wêreld af geskrywe staan in die boek van die lewe, die boek van die Lam wat geslag is nie. 9 As iemand kan hoor, moet hy hierna luister! 10 As iemand bestem is vir gevangenskap, gaan hy in gevangenskap; as iemand bestem is om met ’n swaard doodgemaak te word, word hy met ’n swaard doodgemaak. Hier het die gelowiges volharding en geloof nodig
Revelation 14:6–13 AFRIKAAN
6 Toe het ek ’n engel hoog in die lug sien vlieg. Hy het ’n goeie boodskap gehad wat vir ewig van krag bly. Hy moes dit aan die bewoners van die aarde, aan elke nasie, stam, taal en volk verkondig, 7 en hy het met ’n harde stem uitgeroep: “Vrees God en gee aan Hom die eer, want die tyd het aangebreek vir sy oordeel. Aanbid Hom wat die hemel en die aarde, die see en die waterbronne gemaak het.” 8 ’n Tweede engel het agter die eerste aan gevlieg en uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon wat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het.” 9 ’n Derde engel het agter die eerste twee aan gevlieg en hard uitgeroep: “Wie die dier en sy beeld aanbid en ’n merk op sy voorkop of op sy hand aanvaar, 10 sal van die wyn van God se toorn moet drink. Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink. In die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam sal hy met vuur en swael gepynig word. 11 Die rook van hierdie pyniging styg tot in alle ewigheid op, en hierdie mense het dag en nag geen rus nie, hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en dié wat die merk van sy naam aanvaar.” 12 Hier het die gelowiges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo. 13 Toe het ek ’n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.” “Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle.
Related Media
See more
Related Sermons
See more