1 Kor 16=13-24 Kerkbode 1981

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 16 views
Notes
Transcript

Gods liefdeswoord eis 'n antwoord

LEES: 1 Kor. 16:13-24, Efes. 3:14-20.

SING: Ges. 168:1, 2 en Ges. 177:1, 4, 5.

TEKS: 1 Kor. 16:20 - As iemand die Here Jesus nie liefhet nie, laat hom 'n vervloeking wees. Maranatha.

BOODSKAP

WANNEER die Apostel Paulus sy eerste brief aan die gemeente in Korinte afsluit, dan gebruik hy hierdie woorde: "As iemand die Here Jesus nie liefhet nie, laat hom 'n vervloeking wees Maranatha.". Wat 'n ontsettende harde woord. As ek sou waag om dit vir u te sê, sou u my ongetwyfeld as 'n harde onchristelike mens beskryf het.

Maar hier skryf die man wat ongetwyfeld 'n groot liefde vir mense gehad het, hierdie woorde. 'n Man wat geen moeite vir sy medemens ontsien het nie, wat bereid was om duisende myle vir sy medemens af te lê.

As iemand die Here Jesus nie lief het, laat Hom 'n vervloeking wees. Dan gebruik Paulus die woord Maranatha. Die Aramese woord wat beteken: Die Here kom.

Met hierdie woorde plaas Paulus alles wat hy in hierdie brief geskryf het in die lig van die wederkoms van Christus.

U moet onthou dat in hierdie brief oor die lewe en oor die dood handel. In hierdie brief skryf hy oor die opstanding. Wie Jesus nie liefhet nie, so besluit die Apostel, is 'n vervloeking. Op hulle rus die ewige toorn van God omdat hulle geen wederliefde gehad het vir Hom wat Homself in sy groot sondaarsliefde vir mense gegee het.

Kom ons wees eerlik. Daar is niks mooier as om te hoor dat Jesus my liefhet nie. Dat God se hart warm klop vir my. Niks is mooier as om sy uitnodiging te hoor nie. Kom na My, almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee.

Maar dit is ook 'n gevaarlike woord. Gevaarlik omdat dit 'n antwoord eis.

Iemand het een maal geskryf en gesê: "Die wonderlikste ding wat 'n mens kan doen, is om deur die Woord van God met God gemeenskap te hê. Niks wonderliker, dan om in die kerk te sit en te luister na God se Woord. Niks wonderliker dan om met 'n oop Bybel in 'n groep Bybelstudie te doen of persoonlike stiltetyd te hou nie."

Maar, skryf hy: "Daar is ook niks gevaarliker nie."

Hoor u : Dit is gevaarlik om kerk toe te kom? Die Woord van God is altyd 'n reuk van die lewe tot die lewe of van die dood tot die dood. Die Woord van God bring nuwe lewe in my, Òf dit is 'n veroordeling. Eendag sal dit alles teen my getuig.

Ek kan dus nie maar net hoor van God se liefde en niks daaromtrent doen nie. Ek kan nie net hoor van God se genade, maar dit nie toe-eien nie.

Nou sê Paulus: Maranatha - Die Here kom. Persoonlik hou ek nie daarvan om mense met die hel bang te maak nie. Maar Paulus vra nie vir my waarvan ek hou of nie hou nie. As hy klaar oor die liefde van God vir sondaars geskryf het, dan sê hy: Onthou.

Nou is dit interessant dat die Bybel die bruid van die Here, dus sy kerk op aarde, teken as mense wat verlang na die wederkoms. Wat uitroep - Kom Here Jesus, ja, kom spoedig Heer.

Doen die kerk van die Here dit omdat hulle wil hê dat die Here moet kom om die ander te straf? Nee, die verlange na die wederkoms word nie daaruit gebore nie. Dit word gebore uit die liefde vir Christus.

Laat ek dit so verduidelik. As die apostel Paulus aan die gemeente in Efese skrywe, dan skryf hy dat dit sy gebed vir hulle is om die liefde van Christus wat alle kennis oortref, te ken. Daar is geen groter kennis as om die liefde te ken nie.

Om meer en meer te begryp hoe groot God se liefde vir jou is, maar om 'n wederliefde vir Christus in jou eie hart te ontdek. Om te leer om Christus lief te hê, om te leer om Hom te vertrou. Om alles uit sy liefdeshand te ontvang en in wederliefde vir Hom en jou medemens te lewe.

As ek glo dat Hy my liefhet en as ek Hom liefhet, verander my hele lewe.

Hoe kan ek opstandig raak oor wat met my gebeur? Hoe kan ek so vol spanning wees? Hoe so bang dat ek dalk sal skade ly?

As ek lewe met die wete dat God my liefhet en ek het egte wederliefde sodat ek met 'n liefdeshart na die wêreld kyk, dan begin ek die heerlikheid van eendag, daar anderkant in die Hemel, te smaak. Dan roep ek: Kom Here Jesus!

Wanneer 'n mens iets begin smaak, hoe heerlik word 'n mens se lewe as God regeer. Dan verlang jy dat Hy sal kom en volkome regeer. Luis wanneer jy uitvind hoe sterk die duiwel is, hoe hy jou vang, jou kleingeloof. Dan roep jy: Kom Here Jesus!

Maar onthou die belangrike waarheid. Ons liefde vir Hom groei soos ons al meer besef hoe groot sy liefde vir ons is. Hoe groter my kennis van die liefde van God groei, sal sy gees 'n wederliefde werk.

Daarom moet ons draers wees van die boodskap van sy liefde. Ons moet 'n wêreld oortuig wat dit beteken om uit die liefde van God te lewe.

Maar hierdie teks roep elkeen tot stilstand. Dit dwing ons om na ons eie lewe te kyk.

Is my lewe 'n bewys dat ek Jesus liefhet, of is ek net bang vir Hom?

Kan ek tevrede wees met my lewe? Kan ek sê dat ek Jesus liefhet, en so min by my medemens wil betrokke wees?

Kan ek sê dat ek Jesus liefhet, terwyl dit 'n las is om twee maal op 'n Sondag in die kerk te wees?

Kan ek sê dat ek Jesus liefhet, maar dit gaan by my nie om die koninkryk van God nie?

Laat ek vir myself sê:

As iemand die Here nie liefhet nie - vervloek is hy: Maranatha - die Here kom.

Amen

Ds. C.J. Lamprecht

Related Media
See more
Related Sermons
See more