Faithlife
Faithlife

Rom 1

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 3 views
Notes & Transcripts

Oggenddiens

Teksgedeelte: Rom 1: 1 - 17

Teksvers: Rom 1: 17

Tema: Wie is jy?

1.     Ontmoetingsdiens

1.1.            Votum Sing Sk 20-2: 7 (Staan)

1.2.           Groetseën Uitgespreek (Staan)

1.3.           Lofsang Sing Ps 146: 1, 8 (bl 700) (Staan)

1.4.           Geloofsbelydenis Sing Sk 12-2: 1, 4, 5 & Sk 13-3

2.    Verootmoedigingsdiens

2.1.           Wet Lees Ex 20 (Staan)

3.    Woord- en gebedsdiens

3.1.           Gebed (Sit)

3.2.          Sing Ps 1: 1 (bl 1)  (Staande)

3.3.          Skriflesing

3.4.          Prediking

4.    Antwoorddiens

4.1.           Gebed (Sit)

4.2.         Kollekte (DvB)

4.3.          Sing Psalm 8: 1, 2, 3, 4, 7 (bl 30) (beurtsang) (Staan)

4.4.         Slotseën (Sittende)

4.5.          Sk 13-3


Exodus 20 

Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:

2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

13“Jy mag nie moord pleeg nie.

14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

15“Jy mag nie steel nie.

16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.

17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”


Gebed

Ps 1: 1

Romeine 1

Van Paulus, ’n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God.

2Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, 3en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; 4op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here. 5Deur Hom het ek die genade ontvang om apostel te wees onder al die heidennasies, om tot eer van sy Naam mense tot geloof en so tot gehoorsaamheid te bring. 6Julle is hierby inbegrepe; ook julle is geroep om aan Jesus Christus te behoort.

7Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.

Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Paulus se dank, verlange en verpligting

8Allereers dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, want in die hele wêreld praat die mense oor julle geloof. 9God, wat ek met hart en siel dien deur die evangelie van sy Seun te verkondig, is my getuie dat ek gedurig in my gebede aan julle dink. 10Elke keer as ek bid, vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie. 11Ek sien baie daarna uit om julle te besoek, want ek wil ’n geestelike gawe aan julle oordra om julle te versterk. 12Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s’n en julle deur myne.

13Broers, ek wil hê julle moet weet dat, hoewel ek tot nog toe verhinder is, ek my dikwels voorgeneem het om julle te besoek om ook by julle, net soos by die ander heidennasies, mense vir Christus te wen. 14Ek staan onder ’n verpligting teenoor Grieke en nie-Grieke, teenoor ontwikkeldes en ongeleerdes, 15en vandaar my begeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig.

16Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. 17In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” a


Liewe brs, srs, kinders

1)    Mens sien kort-kort ‘n film waarin iemand sy geheue verloor het.  Dit kan nogal tot humoristiese situasies aanleiding gee.  Die man ken nie die vrou langs hom in die bed nie!  Hy ken nie sy kinders nie – hy kan dalk selfs nie meer sy werk doen nie.

a)     Maar as mens bietjie daaroor nadink, is dit seker een van die mees ontstellende dinge wat mens kan gebeur!  Dink net watter emosionele druk dit op jou plaas!  Om keuses te maak word moeilik – dink ook aan etiese en morele keuses!  Ja, mens kan dalk grap daaroor, maar in wese is dit vernietigend as jy nie weet wie jy is nie!

b)    Dit lyk vir my of kerklidmate tans so ’n bietjie geheueverlies het, hulle identiteit verloor het.  En ek praat nou nie eerstens van ons as gemeente nie, maar in die algemeen.  Ek dink daar is drie redes daarvoor – wat baie nou aan mekaar verbind is.

i)       Die eerste het te make met die oorgang vanaf die ou politieke bedeling na die nuwe. Voor 1994 het die gemiddelde gereformeerde lidmaat – met “Bybelse” begronding gehoor dat die politiek reg is – dit is hoe God dit wil hê. Maar ná 1994 ervaar ons dat daardie preke nie reg was nie, of, as ons nog dink dit was reg, dan dink hulle God het hulle in die steek gelaat.

ii)    Die tweede het te make met die feit dat SA nou oop is na die wêreld toe – allerlei invloede kom na ons kan toe, oa omdat daar nie meer sensuur is nie.  En, die Christelike godsdiens word nie meer bevorder nie, maar ‘n multi-godsdienstige aanpak word as gewens voorgehou.  Ons raak verward.  Is ons geloof reg?  Wat van die Evangelie van Thomas of Judas?  Het die kerk ons ook onder sensuur gehou, sodat ons nie van hierdie goed geweet het nie?  Geleerdes klink soms so seker dat daardie goed ons anders moet laat dink oor die Bybel.

iii)  Die derde saak het te make met verandering en vernuwing in die kerk self.  Nuwe Psalms, ‘n ander Bybelvertaling, ‘n veranderde liturgie, ‘n ander aanpak in die kerk.  Kelkies, vroulike diakens. 

c)     Geen wonder ons moet vir onsself afvra: “Wie is ek?” nie.  Ek sien langs die strate advertensies van die “School of philosophy”.  Hulle bied ‘n kursus aan met die tema: “Who am I?”.  Ons gaan nie ons antwoord in die filosofie kry nie, maar in God se Woord.  Maar dat só ‘n kursus aangebied word, is bewys daarvan dat mense soekend is.  Onseker.  Identiteitskrisis.  Geheueverlies.

2)    Geliefdes, betekenis kan beide negatief en positief beskryf word.  Jy kan sê wat iets nié is nie, of wat dit wél is.  Ons gaan ons identiteit vandag op beide hierdie maniere ondersoek.

a)     In taal word betekenis nie gedra deur die letters (woorde) nie.  Vat byvoorbeeld “berg”.  Daardie vier letters as sodanig het geen betekenis nie.  Dit is slegs as jy dit vergelyk met ander woorde (bv “heuwel”of “koppie”) dat daar deur die verskil tussen die woorde betekenis tot stand kom.  So kan jy doen met alle woorde: mooi & lelik, tafel & lessenaar, kar & fiets & motorfiets & vragmotor, ens.

i)       Op dieselfde manier kan ‘n mens na kerke kyk.  In die wêreld is daar basies vier groot groeperinge van Christene.

(1) Die eerste is die Rooms-Katolieke.  By hierdie kerkgroepering is daar twee belangrike kenmerke. 

(a)  Die eerste is dat hulle die Bybel as Woord van God aanvaar, maar daarby nog byvoeg: Die apokriewe boeke en veral die pous se amptelike uitsprake. 

(b) Die tweede kenmerk spruit voort uit die eerste: hulle maak baie van rituele handelinge, omdat die pous en ander kerkleiers deur die eeue heen hierdie rituele as belangrike kenmerke van die kerk verklaar het.  Die feit dát jy gedoop is, konfirmasie ondergaan het, bieg, mis (nagmaal) gebruik ens is deel van jou verlossing. Aansteek van kerse en sulke dinge speel ook ‘n rol. Jy moet in Jesus glo, maar daar moet iets bygevoeg word – die rituele. En selfs dan kan gewone sterflinge nie genoeg doen om gered te word nie – na die dood gaan hulle siele eers vagevuur toe (‘n tussentoestand tussen hemel en hel) en na jy daar gereinig is, kan jou siel hemel toe gaan (hou onder andere in hoeveel gebede mense op aarde vir jou siel in die vagevuur laat opgaan). 

(i)    Ons teksvers (In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo) het juis bekend geword deur Luther wat uit dié vers geleer het dat die leer van die RKK verword het, en kontrasteer met dit wat in die Bybel geskrywe staan.

(2) Die tweede hoofgroepering kan ons die charismatiese groep noem.  Hier is ook twee onderskeidende kenmerke. 

(a)  Die eerste is dat hulle nie glo in die verbondsdoop nie – kinderdoop.   Net die bekeringsdoop of grootdoop is volgens hulle reg – omdat hulle nie die verbondslyn vanaf die Ou Testament na die Nuwe Testament toe raaksien of genoeg erkenning gee nie. 

(b) Die tweede is dat hulle besondere klem lê op die doop met die Heilige Gees.  En daarmee saam, die gawes van die Gees, veral die sg aanskoulike gawes.  Dus: praat in tale, wondergenesings, byeenkomste waar mense omval en profesieë. 

(i)    ‘n Mens kan hierdie groepering van Christene opsom deur te sê: Die werk van Jesus Christus is vir hulle belangrik, maar net soos die RKK voeg hulle iets by: die grootdoop en die besondere gawes van die Gees.  As jy nie groot gedoop is nie en nie ‘n besondere werking van die Heilige Gees ervaar het nie, is jy nog nie ‘n “diep” Christen nie. 

(3) Die derde groepering word die “evangelicals” genoem.  Die belangrikste kenmerk van hierdie groepering is dat hulle sê dat jy net deur Christus gered kan word, maar dat jy moet help deur jou hart vir die Here te gee.  Hulle sê inderdaad dat, as jy weier om jou hart vir die Here te gee, staan Hy magteloos.  Die knop van jou hart se deur sit aan die binnekant, en jý moet oopmaak.  As mens mooi daaroor dink – is die implikasie dat God nie almagtig is nie.  Jy is sterker as Hy. 

(a)  Inderdaad kan mens dan sê: Ook hier is daar Christus plus nog iets: jou oorgawe.

(4) Die vierde groep is die gereformeerde groep.  Hieroor gaan ek nou meer sê.  Die belangrike van hierdie groepering is dat ‘n suiwer gereformeerde uitgaan van die standpunt: God alleen.  Net uit genade, deur die geloof in Jesus.  Jy kan niks byvoeg nie (“In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo”).

(a)  Voor ek oorgaan tot die positiewe definiëring van ‘n gereformeerde gelowige, net die volgende opmerking: Hierdie onderskeidings is nie altyd waterdig nie.  So kry jy gereformeerde kerke wat ook charismatiese, of baptistiese (dus: grootdoop) of rituele kerke se kenmerke vertoon.  Jy kry evangeliese kerke wat gereformeerde kenmerke vertoon, ens. 

b)    As ‘n mens dan nou op hierdie manier die kontraste tussen die hoofgroepe van kerke bekyk het, blyk dit dat daar vir ‘n positiewe definisie van ‘n gereformeerde aan vier sake aandag gegee moet word: Wat is die plek van die Bybel in die gereformeerde se lewe, hoe verstaan ons Jesus se plek in ons verlossing, wat is die plek van die Heilige Gees in die gereformeerde se lewe en watter plek neem ons dade in in ons verhouding met God? 

i)       Paulus sê in ons teksvers: “in die Evangelie...”.  Die Bybel.  Die Bybel is God se stem wat met ons praat (II Tm 3: 16 “Die hele Skrif is deur God geïnspireer...”). Julle sal onthou van θεόπνευστος*. God praat ook met ons in die natuur – maar daar op ‘n algemene manier.  Die Bybel is baie spesifiek, baie direk.  Daarom is die Bybel altyd vir ‘n gereformeerde die finale bron vir besluite.  In jou persoonlike lewe, maar ook in die kerk. 

(1) Kom ons vat hierdie kontroversie oor die plek van vroue in die kerk – as die Bybel sê vroue kan diakens wees, dan kan hulle wees.  So ook oor vroulike ouderlinge en predikante.  Nou is daar oor die saak verskille in die verstaan van die Bybel. Maar in die grootste gedeelte van die gereformeerde wêreld word die Bybel verstaan dat vroue diakens kan wees.  Daarom is dit só in ons gemeente.  Maar daar is minder sekerheid oor wat die Bybel sê oor vroulike ouderlinge en predikante.  Daarom word verder gestudeer oor die saak. Totdat ons met sekerheid kan sê wat die Here self daaroor sê.

(2) Of die hele ding van die evangelie van Thomas.  Ek gaan nie nou in op hoe ‘n groot geldmakery die hele ding is nie (al meer as 50 jaar gelede ontdek, saam met 50+ soortgelyke gnostiese geskrifte).  Die punt is net: die Bybel sê Thomas was ‘n verraaier, hy is nie deur Jesus aangesê om Hom te verraai nie.  Dus ís Thomas ‘n verraaier. Punt.

ii)    Die Bybel is ook ons finale gesag oor Jesus se werk.  En dit is baie duidelik wat die Bybel sê: “enkel en alleen omdat hulle glo”.  Wat glo? Rm 3: 21 & 22 spel dit uit: “21Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus”.

(1) Dit is dus baie duidelik: ‘n Gereformeerde is iemand wat weet dat hy net gered word op grond van Jesus se offer aan die kruis, en ook die feit dat Jesus die dood oorwin het – opgestaan het uit die graf!  Ek kan niks byvoeg nie – rituele (of tradisies) gaan nie help nie, grootdoop gaan nie help nie, die doop met die Heilige Gees gaan nie help nie.  Dit is net omdat God Jesus se verlossingswerk aan my toereken dat ek gered word.  Sola Christo, en sola fide het die Reformatore gesê. “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe”.

iii)  Maar dit bring dadelik die vraag: “Wat dan van die werk van die Heilige Gees?”.  Moet ons nie ook iets van die Heilige Gees ervaar nie?  Ja natuurlik.  Maar die Bybel leer dat die Gees deur God aan die mens gegee word – om hom te lei tot geloof.  Die Heilige Gees laat jou weer gebore word – nie liggaamlik nie, maar geestelik (Es 36 26Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee. 27Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.  Dít is die doop met die Heilige Gees.  Dit is hoekom selfs die geloof net genade is – dit is nie ék wat Jesus aanneem nie, maar God wat mý aanneem, die Heilige Gees aan my gee, en ek glo.  Die Reformatore het gepraat van sola gratia.  Slegs genade. 

(1) Elke gelowige is dus gedoop met die Gees.  Dit is nie iets waarna jy soek nie.  Maar waarna ons wél moet soek is die vervulling met die Heilige Gees.  Dit is soos ‘n glas wat voortdurend volgegooi word.  En iemand wat vervul is met die Heilige Gees, is iemand wat die vrug van die Gees vertoon: (Gal 5: 22, 23 “22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing).  Hierdie dinge is kenmerkend van elke Christen, terwyl oor die gawes gesê word: “al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ’n gawe uitdeel soos Hy wil”. Daarom is die bewys van die Heilige Gees se teenwoordigheid in ons lewens nie allerlei “ervarings” nie, maar weet ons dat Hy in ons werk as ons glo en as ons dade ooreenstem met dit wat ons met die mond oor God (Vader, Seun en Heilige Gees) bely (Luk 6: 45 & Rom 10: 9 – 10).

(a)  Gereformeerdes weet: die Gees ís aan elke gelowige gegee, en jy sien dit aan die vrug én die gawes, waarvan die vrug in elke gelowige se lewe is, terwyl die gawes verskil.

iv)  En dit bring ons laastens by ons dade.  Is dit iets wat meehelp om ons te red? Glad nie!  Want alles is net genade.  Dit is eintlik baie maklik om te verstaan – as iemand vir jou ‘n groot geskenk gee, en jy sê nie dankie of wys nie dankie nie, dan gaan die persoon dink jy waardeer dit wat hy of sy vir jou gegee het nie. En boonop word dit moontlik om hierdie dinge te doen, net omdat die Heilige Gees in jou werk!

(1)  ‘n Suiwer gereformeerde verstaan van die Bybel bring hierdie groot voordeel aan gelowiges: Jy het sekerheid van jou redding.  Jy hoef nie die hele tyd te wonder of jy genoeg gedoen of genoeg ervaar het om gered te wees nie.  Jy leef nie met ‘n las op jou dat jy moet presteer nie – Jesus het presteer, en jy deel gratis in God se genade!  Jy is regtig vrygemaak.

3)    Slot

Geliefdes

a)     Waarin is ‘n gereformeerde identiteit te vind?  Wel, in die dinge waarin ons verskil van ander Christene.  Maar nie net dit nie, ook die feit dat ons nét die Bybel as maatstaf vir ons lewens neem, omdat ons weet ons is gered deur die werk van Jesus op Goeie Vrydag en Paassondag, omdat ons weet die Heilige Gees ís aan ons gegee, en omdat ons met ons hele lewe dank aan God bewys met ons dade.  Gereformeerd, tot eer van God! Sola Deo Gloria.  Aan God alleen die eer!

Amen.

Gebed (Sit)

Kollekte (DvB)

Sing Psalm 8: 1, 2, 3, 4, 7 (bl 30) (beurtsang) (Staan)

Slotseën (Sittende)

Sk 13-3


----

a Vgl. Hab. 2:4

RELATED MEDIA
See the rest →
RELATED SERMONS
See the rest →