003 — 1 Petrus 1:2 | Die Vooraf Kennis van God

Eerste Brief van Petrus  •  Sermon  •  Submitted   •  Presented   •  3:44
0 ratings
· 14 views
Files
Notes
Transcript

GEBED

Here, mag U Woord vandag oor my lewe skyn — Amen.

SKRIFLESING

1 Peter 1:2 AFRIKAAN
2 Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees

OORDENKING

v. 2 Begin met die woorde: “Soos God die Vader dit vooraf bestem het”. Hy praat van God se kennis van sake voordat dit gebeur. Hierdie is nie so ‘n eenvoudige vers soos wat dit voorkom nie.
Vers 1 en 2 is een lang sin. Die vooraf kennis van God kan daarom na verskillende goed verwys in hierdie sin:
1) Sou dit na v. 1 verwys, dan het God vooraf bestem om die gelowiges wat verspreid woon in die provinsies uit te kies. (Al my Engelse Bybels en die 1933 Ou Vertaling kies hierdie interpretasie)
2) Sou "vooraf kennis” na die deel daarna in v. 2 verwys dan het God die gelowiges uitverkies om deur die Gees afgesonder te word tot gehoorsaamheid en besprinkeling met die bloed van Christus (Dit is dan hoe die 1983 Bybel vertaal is)
3) Sou "vooraf kennis” na Jesus Christus verwys, dan het God vooraf bepaal om die wêreld deur Sy Seun te red.
Dit is inderdaad ‘n kopseer om te probeer vasstel waarna die vooraf kennis van God verwys in hierdie teks. Die drie moontlikhede kan almal reg wees.
Ek wil aan jou ‘n interpretasie voorhou wat die kopseer verwyder. ‘n Invalshoek wat al drie moontlikhede met mekaar versoen. Die maklikste om dit te verwoord is soos volg: God is in beheer van ons saligheid.
Om “uitverkies” te wees, “afgesonder” te wees, “gehoorsaam” te wees en om met die “bloed van Jesus Christus” besprinkel te word het alles met ons saligheid te doen. Petrus bespreek dan ook ons saligheid later vanaf vers 5. As “God die Vader dit vooraf bestem het” dan beteken dit Hy is in beheer daarvan.
Ek sal dit weer moet herhaal maar so bietjie uitgebrei om Petrus se konteks in ag te neem. God is in beheer van ons saligheid, nie die owerheid van die vyf provinsies nie.
As ek lyding moes verduur, en onder groepsdruk beland, sou dit my hoop gee, om te weet “God is in beheer en betrokke”. Dit is aan Hom wat ek gehoorsaam moet bly. Dit gaan dus nie alleen oor die “wie”, “wat” en “hoe” van God se vooraf kennis nie, maar oor Sy keuse tot aktiewe betrokkenheid.
Onthou altyd onder alle omstandighede “God is aktief in beheer”. My optrede moet daaraan erkenning gee.

GEBED

Drie—Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, U is in beheer. Ek gee uit die diepte van my hart erkenning deur U in gehoorsaamheid te eer — Amen.
Related Media
See more
Related Sermons
See more