014 — Jakobus 1:19-20 | Inisieerders van Kwaad

Die Brief van Jakobus  •  Sermon  •  Submitted   •  5:33
0 ratings
· 7 views
Files
Notes
Transcript

GEBED

Here, mag U Woord my hart vernuwe — Amen

SKRIFLESING

James 1:19–20 AFRIKAAN
19 My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. 20 ’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie.

OORDENKING

Die feit dat Jakobus sê ons moet te gewillig wees om te luister maak duidelik dat die wysheid wat hy hier wil deel gaan oor ons reaksie op woorde. Tog is dit ook duidelik uit die res van sy brief dat hierdie luister veel fyner is. Dit gaan daaroor om die toepassing van God se Woord in verskillende lewensituasies te kan hoor, om met fyn aanvoeling van die hart te kan hoor hoe om God se Woord in die lewe toe te pas.
Die wysheid wat ons hier hoor is om vir ‘n oomblik net te dink oor wat jy hoor en wat besig is om voor jou af te speel voor jy reageer. Wat my en jou anders maak as diere is dat ek en jy ‘n paar sekondes het om te dink voor ons reageer. Ons kan selfs voor die tyd antisipeer hoe ons ‘n bepaalde situasie in die lewe moet hanteer sou dit dalk eendag in ons lewe opduik.
Ek wil aan jou vier potensiële situasies voorhou vanuit die Skrif. Dit is situasies wat waarskynlik een of ander tyd sy opwagting sal maak in jou lewe. Die vraag is hoe ek en jy sal reageer in hierdie situasies wat gewoonlik “kwaad” of “woede” ontlont.
I. SEER
Genesis 37:3–4 AFRIKAAN
3 Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is, en daarom het hy vir Josef lang klere met moue gemaak. 4 Toe sy broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle ’n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom gesê nie.
Josef se broers tree op uit “seer” in die hart. Ons kan hierdie “seer” dalk iets anders noem soos byvoorbeeld “jaloesie”. Dit gaan in wese oor die wond wat iets in jou hart nalaat wat “kwaad” in jou hart ontlont.
II. ONGEREGTIGHEID
1 Samuel 20:32–34 AFRIKAAN
32 Daarop het Jonatan sy pa geantwoord en gevra: “Waarom moet hy doodgemaak word? Wat het hy gedoen?” 33 Toe Saul die spies na Jonatan mik om hom dood te maak, het Jonatan geweet sy pa is vasbeslote om vir Dawid om die lewe te bring. 34 Woedend het Jonatan van die tafel af opgestaan en op die tweede dag van die nuwemaan niks geëet nie omdat hy bekommerd was oor Dawid en omdat Saul vir Dawid so sleg behandel.
Jonatan se hart was ontsteld deur “Ongeregtigheid” wat besig is om af te speel. Daarmee saam word “kommer” in sy hart gewek. In wese gaan dit oor iets wat deur onreg teenoor iemand gepleeg word wat jou “kwaad” maak.
III. VREES
1 Samuel 18:5–15 — is ‘n bietjie langer teks wat ek nie nou gaan lees nie. Dit vertel van Saul wat “kwaad” is omdat Dawid opgang maak onder die volk. Saul vrees hy sal sy koninskap moet afstaan aan Dawid. “Vrees” wat nie noodwendig gegrond is nie kan ons ook “kwaad” maak.
IV. FRUSTRASIE
Genesis 4:3–5 AFRIKAAN
3 Na verloop van tyd het Kain van die opbrengs van die land ’n offer aan die Here gebring. 4 Abel het dit ook gedoen, van die eerstelinge uit sy kudde, van hulle vet. Die Here het vir Abel en sy offer aangeneem, 5 maar nie vir Kain en sy offer nie. Kain het baie kwaad geword en hy was bedruk.
Kain het nie sy offer gebring volgens God se voorskrif vir offers nie. Hy is ge-“frustreerd” met Abel wat dit reg gedoen het en word daarom “kwaad”. Hier is ‘n soort van ‘n magtelose woede maar dit het uit eie foutiewelike optrede voortgekom.
Hoe gaan ek en jy optree in situasies wat ons 1) seer maak, 2) wat onregverdig is, 3) wat vrees losmaak in ons en 4) wat frustrasie veroorsaak?
Mag ek en jy ons hart deeglik ondersoek en ons standvastigheid in elkeen van hierdie situasies opskerp.

GEBED

Here, help my asseblief om in hierdie week besonder aandag te gee aan hoe ek frustrasies hanteer — Amen.
Related Media
See more
Related Sermons
See more