034 — Jakobus 3:5b-6 | DESTRUKTIEWE TONG

Die Brief van Jakobus  •  Sermon  •  Submitted   •  4:12
0 ratings
· 9 views
Files
Notes
Transcript

GEBED

Here, dankie vir die voorreg om uit U Woord te lees. Laat U Woord my hart vernuwe — Amen.

SKRIFLESING

Jam 3:5b-6 “’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.”

OORDENKING

Toe ek klein was het ek baie kaalvoet geloop. As ons saam met my ouers in “Checkers” was, was my voete onskropbaar vuil. Dit het soms drie dae se bad gevat voor daardie vuilgoed uit was. Jakobus skrop vandag die ongeregtige hart en die vuil tong. Hy skrop nie met ‘n waslap nie maar met ‘n staalborsel.
Kom ons kyk bietjie dieper na wat hy sê. Hy het begin om wysheid by God te vra en hier draai hy met die tong in die dieptes van die hel. Ek wil die simboliek van die hel wat hier gebruik word net die stank, as en dood gee wat dit toekom. Ons moet die erns besef van die diepe ongeregtigheid wat so dikwels die tong dryf.
Die woord wat Jakobus gebruik vir “hel” is “gehenna”. Dit is die naam vir die vroeëre Hinnom vallei suid van Jerusalem waar alle afval en dooie diere verbrand was. Dit is soos die strotingsterrein van ‘n stad met die addisionele reuk van biologiese materiaal wat brand. ‘n Plek van ongekende hitte, afskuwelike reuke en slegte herinneringe. Die naam word simbolies gebruik om die plek van finale straf uit te beeld, die plek waar alles tot hul einde kom. Dit is ‘n baie sterk tasbare beeld van die finale oordeel vir die ongeregtige.
Dit is opvallend dat Jakobus dit hier as oorsprong van die tong se ongeregtigheid uitbeeld en nie die uiteinde nie. As leser kom jy onder die indruk dat hy ‘n beeld gee van iemand wie se hele lewe van begin tot einde deur die bose aangedryf word. Jakobus wek die bewustheid by elke gelowige om met erns hul lewenslange woordeskat en sinskonstruksies te oordink.
Hy volg in die spore van die wysheidsleraars van sy Voorvaders as hy hierdie beeld gebruik. Spreuke sê byvoorbeeld:
Proverbs 15:1 AFRIKAAN
1 ’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ’n krenkende woord laat woede ontvlam.
Proverbs 16:27–28 AFRIKAAN
27 ’n Kwaadwillige mens bring net teenspoed; wat hy sê, is soos ’n verterende vuur. 28 Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende.
Dit is een ding om net na hierdie woorde te luister en daarvan kennis te neem. Dit is iets heel anders om dit te integreer in jou lewe. Om doelbewus daaroor na te dink en die effek daarvan op jou en die samelewing te oordink en daarvan afskeid te neem.
Mag ons in diepe ootmoed ons tong onderwerp aan die wysheid van God. Wat Jesus ons leer oor fisiese kos geld tog immers ook in die geval:
Mark 7:15 AFRIKAAN
15 Niks wat van buite af in ’n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ’n mens uitkom, dit maak hom onrein.”

GEBED

Here, was my hart om rein in U en voor U te wees — Amen.
Related Media
See more
Related Sermons
See more