050 — Jakobus 4:14 | AFHANKLIKE EERLIKHEID

Die Brief van Jakobus  •  Sermon  •  Submitted   •  3:38
0 ratings
· 10 views
Files
Notes
Transcript

GEBED

Here, mag U Woord ons vandag vernuwe — Amen.

SKRIFLESING

James 4:14 AFRIKAAN
14 Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.

OORDENKING

Ek het gisteroggend opgestaan en die dag het soos ‘n berg voor my gelê. My beplanning redelik agtermekaar. Ek het presies geweet wat ek moet en wil doen. Maar, toe draai dit heeltemal anders uit. Daar was ander belangriker dinge vir God as dit wat noodwendig op “ons” skedule was.
Deur die reis van my dag het God my voete by ‘n paar ander plekke gestop. Hierdie plekke het name gehad. Sommiges ken ek reeds en ander is vir my totaal nuut. Hulle name is Sipho, Marius, Hendrik, Dirk, nog ‘n Marius, Job, Reinier, Pieter en Jon, ‘n totaal van 24 mense wat deur hulle verteenwoordig word. Hierdie is net ‘n paar name van mense met wie ek ‘n paar minute van my dag kon spandeer.
Wat het hierdie mense met ons skriflesing te doen? Ek en jy weet nie hoe ons dag van môre sal lyk nie … hierdie mense nog minder. Hulle is almal broodwinners, mense met wie ek ‘n paar minute van my dag kon deurbring. Hulle win hul brood op straat, elkeen met sy eie vindingryke inisiatief. Nie dat ek met elkeen se strategie sou saamstem nie, maar wel met hul bewussyn van verantwoordelikheid. Ek ken hulle nou almal by die naam … God ken hulle lank reeds.
Een van die gesprekke het vir my uitgestaan. ‘n Jongman het op uitnodiging gesê ek kan sy gesin se kos vir iemand anders gee, want hulle is reeds versorg. Sy eerlikheid en vrygewigheid het ons selfsugtige kultuur te bowe gekom. Dalk weet hy meer van Jakobus se boodskap as wat ek ooit sal verstaan.
Christus het gekom om ook hulle dag van môre hoop te gee net soos vir my en jou. Op grond van u elkeen se onbaatsigtige hulp is ons daartoe in staat om hulle, en vele ander, op 25 Desember iets te ete te gee met ‘n Woord en hart van liefde.
Ek vra jou om voorbidding te doen vir hierdie mense. Nie om hulle uit te sonder nie, bloot net omdat God hulle ken, hy het gister hulle aan my voorgestel, want Hy het hulle lief.
Ek vra jou ook om nie by hierdie mense verby te kyk op straat nie, maar om hulle raak te sien, want God sien hulle lank reeds raak.
So in die stilte sê ek: Here, dit is vir my ‘n skande dat ek van hierdie mense nou eers leer ken, dankie vir U vergifnis en dat U hulle aan my voorgestel het.

GEBED

Here, dankie vir U goedheid, U liefde en hoop vir ons dag van môre. Dankie dat U Jakobus se woorde vir ons prakties maak en dankie vir die oorvloedige seën wat U ook besig is om oor hierdie mense uit te giet — Amen.
Related Media
See more
Related Sermons
See more