Efesiërs 1:3-14

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 135 views

Ons hemelse Vader het ons in Jesus Christus uitverkies voor die grondlegging van die wêreld.

Notes
Transcript
Votum:
Psalm 124:8: “Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.”
Groetseën
2 Korinthiërs 13:14: “Mag die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle almal wees! Amen.”
Loflied
Lees vers 3.
Psalm 135-1:1-3
Apostoliese Geloofsbelydenis
1. Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
2. en in Jesus Christus, Sy eniggebore Seun, ons Here;
3. wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
4. wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is. Hy het die lyding van die hel ondergaan.
5. Hy het op die derde dag opgestaan uit die dood;
6. opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
7. waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.
8. Ek glo in die Heilige Gees;
9. Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
10. die vergewing van sondes;
11. die opstanding van die liggaam
12. en ‘n ewige lewe.
Amen.
Wet
Lees Eksodus 20.
Verootmoedigingspsalm
Lees vers 2.
Psalm 65-1:2-3
Gebed
Ons hemelse Vader, U is die HERE ons God wat ons gered het van die sonde en die dood. U is die enigste God wat waarlik bestaan en op grond daarvan is U die enigste Een wat aanbid kan en moet word. Vergewe ons vir die afgode in ons lewens en trek ons weg van hulle af sodat ons U alleen aanbid. Laat ons U eer in alles wat ons doen. Bring ons as gemeente gereeld bymekaar sodat ons U mag ontmoet en U Woord mag hoor en U daarvoor loof en prys. Vader soos wat U ons leer om U lief te hê, leer ons om ons naaste ook lief te hê. Hou ons nederig en gehoorsaam aan die mense wat U oor ons aangestel het en gee vir ons die moed om nie vir hulle bang te wees wanneer hulle teen U wil optree en van ons vereis om te sondig nie. Mag ons besef hoe wonderbaarlik die lewe is wat U uit genade vir alle mense gee sodat ons dit beskerm. Mag ons begryp dat die huwelik ‘n heilige instelling is en dat U die mooiheid van ‘n fisiese verhouding gegee het om slegs binne die huwelik tussen een man en een vrou te wees. U versorg elkeen soos wat hy/sy dit nodig het, mag ons daarom nie steel wat U vir ander mense gegee het nie. Hou ons dankbaar vir wat ons het. Help ons om nie ons naaste te beskinder en leuens oor hulle te vertel nie. En laat ons nie met begeerte na ander se rykdom kyk nie.
Lei ons vandag in hierdie erediens om getrou te wees aan U en lei ons ook in elke dag om volgens U gebooie U getrou te dien. Wees met al U kinders wat wêreldwyd vervolg word en verbied word om U Naam openlik as een gemeenskap te bely. Versterk die predikers en kerkrade wat die verantwoordelikheid het om toe te sien dat U Woord bedien word sodat hulle nie bang of lui of ongehoorsaam word nie, maar tydig en ontydig aan te hou om U Woord te verklaar.
Ons bid dit in Jesus Christus se Naam. Amen
Skriflesing: Efesiërs 1:3-14
Fokusvers: 3-4
Belydenis: NGB Artikel 16 en DL Hoofstuk 1.9-10
Tema: Ons hemelse Vader het ons in Jesus Christus uitverkies voor die grondlegging van die wêreld.
Voor die Skriflesing:
Broers en susters, ons luister vandag na Efesiërs 1:3-14. Hierdie gedeelte is baie eienaardig deurdat al 12 verse in die oorspronklike Grieks een lang sin is en dit is moontlik die langste sin in die Bybel. Die 1933/’53-Vertaling het dit in twee verdeel om dit meer verstaanbaar te maak. En so het die nuwer vertalings weer dit in nog kleiner stukke opgebreek om dit nog meer verstaanbaar te probeer maak. Maar selfs in die vertalings waar dit ‘n klomp korter sinne is, is die gedeelte iets van ‘n tameletjie wat ‘n hele paar keer gelees moet word om behoorlik te sien waaroor Paulus alles praat en hoe dit alles aan mekaar verbind is. As gevolg daarvan dat dit een lang sin is, is dit ook baie moeilik om ‘n vaste struktuur in die gedeelte te vind. Paulus praat nie oor een saak en beweeg dan aan na ‘n ander onderwerp nie, maar gaan heeltyd terug na goed wat hy reeds gesê het. Ons kan tog ten spyte daarvan wel met redelike sekerheid sê dat Paulus oor drie geestelike seëninge die heeltyd praat. Die eerste is die uitverkiesing in Christus , die tweede is ons verlossing in Jesus Christus en die derde is die aanneming as die kinders van God deur Jesus Christus. ‘n Verdere saak waarop Paulus ook baie fokus is dat hierdie geestelike seëninge maak dat ons God se heerlikheid moet loof. Ons gaan nie na al drie hierdie geestelike seëninge vandag kyk nie, maar fokus op die uitverkiesing.
Skriflesing: Efesiërs 1:3-14
Fokusvers: 3-4
Belydenis: Sondag 21 V&A 54, NGB Artikel 16 en DL Hoofstuk 1.9-10
Inleiding:
Broers en susters, daar is waarskynlik nie ‘n meer gevreesde woord onder Christene as die woord uitverkiesing nie. Want ons is bang om dit aan mense te verduidelik omdat so baie dit nie verstaan nie. En ons is bang dat dit verdeeldheid veroorsaak omdat sommige mense dit as onregverdig beskou. Daar is ongelukkig nie ‘n middelweg as dit kom by die uitverkiesing nie, want of jy glo dat God sommige mense uitverkies het of jy glo nie so nie. Jy moet dus weet wat dit beteken en dit verduidelik aan ander of jy moet dit verwerp. Die mense wat dit glo is fundamenteel anders as die mense wat dit verwerp. Anders in so ‘n mate dat ons nie eens in dieselfde kerkverband kan wees nie. Want wat jy glo van die uitverkiesing beïnvloed jou hele geloof oor die verlossing in Jesus Christus. Ons gaan vandag aan die hand van Efesiërs 1:3-14 kyk na wat die waarheid is en waarom ons dit bely in al ons belydenisskrifte. Ons het 2 hoofpunte hiervoor:
Wat is die uitverkiesing?
Waarom is dit noodsaaklik dat ons aan iets soos die uitverkiesing glo?
1. Wat is die uitverkiesing?
Eerstens dan wat die uitverkiesing is. Broers en susters, hiervoor gaan ons 3 vrae beantwoord: Wat is die doel van die uitverkiesing? Wie kies vir wie? En waarom doen Hy dit? Wanneer ons oor die uitverkiesing praat is dit uiters noodsaaklik dat ons altyd die doel daarvan voor oë moet hou. Efesiërs 1:4 sê dat ons uitverkies is in Jesus Christus om heilig en sonder gebrek voor God in liefde te wees. Hierdie gaan oor die ewige verlossing in Jesus Christus nie, want om heilig en sonder gebrek te wees beteken dat ons sondeskuld vergewe is en ons sondige natuur weggeneem is sodat ons voor God mag leef in volkome gehoorsaamheid aan Hom. Dit is dus ook ‘n aansporing tot gehoorsaamheid, want net omdat jy die ewige lewe ontvang het maak nie dat jy nou die vryheid het om te sondig soos jy wil nie. Handelinge 13:48 sê die volgende oor die doel van die uitverkiesing: “En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” Dit is baie duidelik waarvoor mense uitverkies word, die ewige lewe.
Wie vir wie uitverkies is die volgende saak wat ons ondersoek. Op grond van Efesiërs 1:3 en 4 is dit die God en Vader van ons Here Jesus Christus. Die res van die gedeelte maak dit baie duidelik dat dit God is wat mense uitverkies. Vers 5 sê Hy het ons voorbeskik om as Sy kinders aangeneem te word. Vers 11 sê dat ons ‘n erfdeel in Christus ontvang het nadat Hy ons vantevore daartoe verordineer het ooreenkomstig die voorneme van alles wat Hy werk volgens die raad van Sy wil. Let daarop, broers en susters, dat God nie alle mense tot die ewige lewe verkies nie. Daarom praat ons juis van uitverkiesing. God het sommige mense uit die hele menslike geslag gekies soos wat ons bely in die DL. Wanneer Paulus in Efesiërs 1 skryf dat God “ons” uitverkies het, verwys hy nie na alle mense nie, maar na homself, die gelowiges in Efese en alle gelowiges van alle eeue regoor die wêreld. Romeine 9:13 sê dat God so spesifiek uitverkies dat Hy een van ‘n tweeling verkies en die ander nie: “Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.” Daar is nog baie voorbeelde in die Bybel waarna ons kan kyk wat direk vir ons sê dat die uitverkiesing eksklusief is, nie alle mense word uitverkies tot die ewige lewe in Jesus Christus nie.
In Johannes 17 bid Jesus vir Sy dissipels, die dissipels is volgens die konteks die 12 en almal anders wat in Hom glo, en dan sê Hy in vers 9 die volgende oor die verlossing in Hom: “Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort.” Hy bid slegs vir die mense wat aan Hom gegee is; vir die mense wat deur die Vader uitverkies is. Die uitverkiesing is eksklusief en nie inklusief van alle mense nie. Broer en suster, in die voorbeeld van Jakob en Esau en in die gebed van Jesus kan ons dadelik hoor waarom sommige mense die uiterkiesing verwerp. Want die uitverkiesing van sommiges tot die ewige lewe beteken dat die onuitverkore mense bestem is vir die ewige dood.
Broers en susters, die mens is onder normale omstandighede baie geheg aan sy familie, dit is hoe God ons geskep het. Dit is daarom vir ons ondenkbaar om te dink dat sommige van ons ewig sal lewe, maar dat ons ma, pa, broer, suster, en selfs ons man, vrou of kinders dalk vir die ewige hel bestem is omdat hulle nie uitverkies is nie. Dit maak nie net dat ons hartseer word nie, maar selfs kwaad word oor iets wat ons as baie onregverdig beskou. Want ons wil hê dat almal vir wie ons op aarde omgee saam met ons in die hemel eendag moet wees. Maar so veel as wat ons dit begeer gaan dit nie gebeur nie. Slegs die uitverkore kinders van God sal daar wees. En ons moet dit mooi verstaan dit is nie onregverdig nie. Dit is nie veronderstel om ons kwaad te maak nie, maar behoort ons eerder bly te maak.
Romeine 9:14-15 hanteer juis hierdie denke dat dit onregverdig is dat sommiges uitverkies is en ander nie. Daar staan: “Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie! Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” Dit is nie ‘n koue liefdelose antwoord wat God vir ons gee so asof ons maar God se besluit met ‘n dikbek moet aanvaar nie. Want dit wat God vir Moses sê is eintlik baie vertroostend. God het geen verpligting om barmhartig te wees of Hom te ontferm oor enige mens nie. Want geen mens verdien dit nie. 1 Johannes 1:8 sê: “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.” Die verdiende straf vir sonde is die ewige hel. Dit is regverdig, broers en susters, dat almal van ons ewig verlore gaan. Daar is dus geen onregverdigheid in God wat sommige mense van hulle verdiende straf red nie, maar dit is alles genade! As God Hom nie ontferm het oor sommige mense nie en oor hulle barmhartig is nie dan het ons almal ‘n probleem gehad! Maar God het gekies om barmhartig te wees, want al is Hy regverdig en straf die sonde omdat dit reg is, is Hy ook barmhartig en genadig en het Jesus gegee om in ons plek gestraf te word sodat ons kan lewe. Teenoor sommige mense is God dus regverdig en laat hulle in die oordeel wat hulle oor hulleself gebring. Maar teenoor ander is Hy genadig en red hulle daaruit.
Gewoonlik wanneer iemand begryp dat die uitverkiesing genade is en nie onreg nie, maar steeds kwaad en hartseer is omdat hulle geliefdes dalk oppad hel toe is word ‘n volgende vorm van onregverdigheid beweer. Hulle beweer dit is onregverdig dat God kies en dat Hy nie ons toelaat om self te kies nie. Want hulle glo as die mens self kan kies dan kan hulle hulle geliefdes oortuig om vir God te kies. Die Bybel leer ons baie mooi oor wat 'n mens sal kies as dit aan hom oorgelaat word. Psalm 14:2-4: “Die HERE het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie. Het al die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis nie, die wat my volk opeet asof hulle brood eet? Hulle roep die HERE nie aan nie.” As God ons los om self te besluit om in Jesus Christus te glo en gered te word sal niemand daardie besluit neem nie dan sal ons almal onder die regverdige oordeel beland. Dit is omdat die mens deur sy sondige natuur nie in staat is om vir God te kies en in Jesus te glo nie.
Jesus sê in Johannes 3 dat jy slegs in Hom kan glo as jy deur die Heilige Gees weergebore word. Jy moet opnuut lewendig gemaak word deur die Gees. In Efesiërs 2:1 staan dat God die gelowiges lewend gemaak het nadat hulle vroeër dood was deur hulle misdade en sondes. Broers en susters, as dit van ons af gehang het om vir die ewige lewe in Jesus Christus te kies, sou ons dit nooit gedoen het nie, want sonder God se ingryping in ons lewe sou ons dood gebly het. God moet ingryp in jou lewe dat jy kan glo en Hy het baie spesifiek gekies om net in sommige mense se lewens in te gryp. Dit is dus nie onregverdig dat God ons nie toelaat om self te kies nie, maar absolute genade dat Hy dit nie doen nie. Hy red ons van ons self!
Nou kom ons by die derde vraag wat ons aan die begin gevra het: waarom doen God dit? Ons kan dit anders stel: waarom kies God net sommige mense en nie ander nie? Efesiërs 1:6 sê dit is op grond van Sy genade en vers 11 dat dit volgens die raad van Sy wil is. Hier is twee sake wat genoem word. Eerstens dat dit nie gaan oor wie ons is of wat ons doen om God te oortuig om ons te kies nie. Ons fokusvers sê dat ons uitverkies is voor die grondlegging van die wêreld. Nog voordat God ons geskep het, het Hy sommiges tot die ewige lewe verordineer. Die uitverkorenes kon dus nog niks gedoen het om God te oortuig om hulle te kies nie. God kies op grond van Sy alwysheid en genade. Dit beteken dat Hy mense kies ten spyte van wie hulle is en nie te danke aan wie hulle is nie. God het nie in die toekoms in gekyk en gesien wie goeie mense is of wie maklik in Jesus sal glo nie. Ons fokusvers sê immers dat ons uitverkies is om heilig en sonder gebrek te wees. Dit veronderstel dat die uitverkiesing daartoe lei of soos ons in die Dordste Leereëls bely: dat die uitverkiesing die fontein daarvan is. Voordat ons uitverkies is is ons nie so gewees nie. 2 Timotheus 1:9 is duidelik daaroor dat ons dit moet bely: “God wat ons gered en geroep het met ’n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is,”
Die tweede saak is dat God volgens die raad van sy wil kies of soos 2 Timotheus dit stel volgens Sy eie voorneme. Dit beteken dat God in Sy alwysheid self bepaal het wie se name in die boek van die lewe opgeskryf is. Dieper as dit kan ons nie in die raad van God se wil in krap nie. Hy openbaar nie vir ons wat die redes is waarom Hy spesifieke mense gekies het anders as dat Hy dit op grond van genade gedoen het nie. Hy het dus nie gekies op grond van wie ons is nie, maar wat Hy is, naamlik genadig. Ons kan Hom dus nie bevraagteken oor Sy keuse nie. En ons kan Hom ook nie oortuig om ons of ons geliefdes aan te neem as kinders nie. Daar is wel vertroosting dat wanneer iemand waarlik begeer om een van God se kinders te wees en dus smag na God is dit ‘n teken dat so persoon uitverkore is. Want die uitverkiesing lei daarna toe om vir God te soek.
2. Waarom is dit noodsaaklik dat ons aan iets soos die uitverkiesing glo?
Broers en susters ons kom nou by ons tweede hoofpunt waar ons vra: waarom is dit noodsaaklik dat ons aan iets soos die uitverkiesing moet glo? Daar is drie redes wat ons in Efesiërs 1 kry waarom God openbaar het dat Hy uitverkies en waarom ons dit moet glo. Die drie rede is dat die uitverkiesing ons leer om nederig te wees, dat dit ons leer dat God ons ‘n ewige troos en blydskap in Jesus Christus skenk en laastens dat ons God moet loof vir Sy genade. Al drie is verbind aan mekaar en kom eintlik terug na een belangrike beginsel toe, naamlik dit leer ons wat ons verhouding teenoor God is.
Die eerste saak het ons eintlik al begin aanraak in die vorige hoofpunt. Ons het reeds gesê dat ons uitverkiesing en gevolglike verlossing nie van onsself afhang nie, maar van God se genade. Dit breek al ons hoogmoed af. Ons is nie goed genoeg vir God se liefde nie, ons is nie goed genoeg om die ewige lewe te verdien nie. Broer en suster, jy as mens kan jouself nie red nie en sou bestem wees vir die ewige hel as God nie genadig was teenoor jou nie en jou nie uitverkies het tot die ewige lewe nie. Die uitverkiesing is baie vernederend vir ons post-moderne mense wat glo ons kan enige iets doen wat ons wil. Ons kan alles kry waarvoor ons hard werk. Hierdie vernedering wat die uitverkiesing veroorsaak, maak ons nederig voor God en laat ons besef hoe afhanklik ons van Hom is. Maar ons word nie net in die vernedering gelos nie, want God het ons ten spyte van ons onbevoegdheid gekies om te kan lewe. Die uitverkiesing breek ons hoogmoed af, maar die genade van God wat ons daarin leer gee weer vir ons ‘n ander en beter vertroosting.
God het ons uitverkies tot die ewige lewe. En God se besluit is vas en sal nooit verander nie. As jy eenmaal gered is in Jesus Christus is jy altyd gered in Hom. As jy uitverkies is, is jou ewige verlossing dus verserkerd. Dit gaan uiteindelik nie net oor hoe klein en sleg ons is nie, maar hoe groot en goed God is wat ons in Jesus Christus geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele. Hy het vir ons alles gegee wat ons nodig het om ewig te kan leef. En die heel eerste ding waarmee Hy ons seën is die uitverkiesing. Daarsonder sal daar geen verlossing in Jesus wees nie en dus ook geen aanneming as God se kinders nie, want daarsonder is jy bestem vir die ewige dood. Maar deur die uitverkiesing verordineer God sommiges tot die verlossing in Jesus en die aanneming as Sy kinders. Broer en suster dit is dus nie net uiters vertroostend om aan die uitverkiesing te glo nie, maar dit is ook uiters noodsaaklik omdat dit is hoe God werk en hoe Hy dit openbaar het.
Die gevolg daarvan dat ons glo dat God mense uit genade kies is dat ons Hom loof en prys. Dit is die laaste rede waarom dit noodsaaklik is dat ons glo aan die uitverkiesing. Dit is ook die rede waarom die Heilige Gees deur Paulus die woorde van Efesiërs 1:3-14 laat neerskryf het. Dit gaan alles oor die lof van God se heerlikheid. Die geestelike seëninge wat God ons gee, gee Hy sodat ons Hom vir Sy heerlikheid kan loof. Ons sien dit nie eerstens in die refrein in verse 6, 12 en 14 nie, maar reeds aan die begin van vers 3.
Vers 3 begin deur te sê dat die Vader geseënd is. Dit beteken nie dat iemand die Vader geseën het soos wat Hy ons seën nie, maar dit is die Joodse manier van praat om te sê dat God geprys moet word omdat Hy Sy verbondsvolk seën. Daar staan met opset dat God wat ons seën geseënd is en nie dat God lofwaardig is soos wat sommige vertalings dit vertaal het nie. Dit beteken verseker dit, maar die 1933/’53-Vertaling het dit reg vertaal dat God geseënd is. Dit wys vir ons dat God se seën vir ons verbind is aan ons lof vir Hom. Ons kan sê God se seëninge vir ons keer terug na Hom in ons lofprysing. Broers en susters, ons dink selde so aan die uitverkiesing. Dit is vir ons baie keer net ‘n moeilike dogmatiese begrip waaroor gereformeerdes en charismate stry. Maar dit is net soos ons verlossing in Christus en ons aanneming as kinders van God ‘n seën uit God se hande wat Hy vir ons gee sodat ons Hom moet loof. En wat vir ons absoluut noodsaaklik is! Vers 5 en 6 sê dit reguit dat God ons voorbeskik of uitverkies het om as Sy kinders aangeneem te word tot lof van die heerlikheid van Sy genade of ons kan sê sodat ons Hom moet loof vir die heerlikheid van Sy genade.
Ons kan van ‘n ander kant af ook dit benader waarom dit vir ons noodsaaklik is om te glo aan die uitverkiesing. En dit is deur te kyk na wat die implikasies is as daar nie iets soos die uitverkiesing was nie. As jy nie uitverkies word nie, maar self moet kies sal jy soos ons reeds genoem het nie vir God kies nie. Jy sal deur die blindheid van jou sonde nie besef in watter gevaar jy is nie en nie verlossing buite jouself by Jesus Christus soek nie. Jy sal sonder hoop op enige uitkoms ewig verlore wees. Maar kom ons veronderstel dat jy dit wel sou kon reg kry om te kies om in Jesus te glo. Dit beteken dat jy weer kan kies dat jy nie wil glo nie en dus weer verlore gaan. Jou verlossing is dus nie versekerd nie, maar is afhanklik van hoe belangrik jy dit ag om deur Jesus gered te word. Omdat jou verlossing nie versekerd is nie en omdat jy nie afhanklik is van God se genade nie is daar dus eintlik geen rede vir jou om God te loof nie, want jou redding is op die einde van die dag in jou eie hande. 'n Geloof waarin die uitverkiesing verwerp word, is ‘n troostelose, onseker en hopelose geloof.
Slot
Broer en suster, moet nie die woord uitverkiesing vrees nie. Dit mag dalk baie mense afskrik om deel van die kerk te word, dit mag dalk maak dat baie mense sê God is onregverdig. Maar die negatiewe sondige reaksies van mense verander nie die feit dat die uitverkiesing werklik gebeur nie. Dit verander ook nie die feit die dat die uitverkiesing ‘n geestelike seëning vanaf God is wat onmeetbaar in waarde is nie. As die leer van die uitverkiesing iemand weg dryf omdat hulle sê God is onregverdig is dit niks anders as die uitverkiesing wat in praktyk gesien word nie. Want ‘n uitverkorene wat die uitverkiesing verstaan word nie daardeur weg gedryf nie, maar word juis daardeur nader na God gebring en wil juis as gevolg daarvan vir God loof en prys. Want daarin sien ons hoe heerlik God se genade is.
Amen.
Antwoordpsalm:
Beryming van Efesiërs 1:3-14.
SB 24 (1-1):1-3
Gebed:
Lofprysing en dank:
Ons hemelse Vader, U is alwys deurdat U vooraf beskik het wat met ons gaan gebeur en in U alwysheid is U ook genadig sodat ons nie moet sterf nie. Ons kan in groot vernedering vra: wat is ons dat U aan ons gedink het? Wat is ons dat U ons so genadig was dat U U eie Seun laat sterf het in ons plek sodat ons kan leef? Ons is niks en tog is U vir ons onmeetbaar lief. Vader, dit maak dat ons niks anders kan doen as om die heerlikheid van U genade te loof nie.
Voorbidding (Mense in nood: kerk, staat en die wêreld)
Vader, ons dra almal op aan U wat siek is, wat honger ly, wat swaar kry as gevolg van hierdie moeilike lewe. Wees met br Jan en sy dokters sodat die operasie mag goed gaan, wees met Hom soos wat U voorheen ook by hom was en hom beskerm het. Hou al ons gemeentelede gesond en beskerm ons van die virus sodat die erediens in Potch-Suid mag voortgaan.
Dit klink vreemd vir die wêreld Vader, maar ons is dankbaar selfs vir die pandemie, want al verstaan ons dit nie altyd nie kan ons vertrou dat U alles wat oor ons pad kom gebruik tot ons beswil. Dat U ons selfs deur die moeilikste van tye vorm tot U eer. Maar hierdie wete en vertroue verminder nie die swaarkry wat ons beleef nie en daarom vra ons dat U tog gou vir ons sal uitkoms gee.
Ons is dankbaar dat U vir sr Petro en brs Pieter en Jaco ryklik seën sodat hulle nog ‘n jaar mag vier. Hou hulle vas en bewaar hulle en seën hulle met alles wat hulle nodig het om U te dien. Mag ons katkisasie volgende week weer begin sodat ons ons kinders kan leer wat die vrees van die Here is en hulle kan opvoed om U te ken en op U te vertrou.
Ons bid dit in Jesus Christus se Naam wat U vir ons gegee het as ewige Verlosser en in wie ons uitverkies is, verlos is en aangeneem is as U kinders. Amen.
Dankoffers:
Die twee kollektes vir vandag is vir die diens van barmhartigheid en vir Bybelverspreiding. U is welkom om die kollektes elektronies oor te betaal of te hou totdat ons weer as gemeente in die erediens kan saamkom.
Lofpsalm:
Lees vers 4.
Psalm 105-1:1, 4 en 5
Wegstuurseën:
Numeri 6:24-26:
Mag die HERE jou seën en behoed;
Mag die HERE sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Mag die HERE sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Amen.
Related Media
See more
Related Sermons
See more