Bid vir die owerhede

Evangelisering  •  Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 75 views

Bid vir die owerhede sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.

Notes
Transcript
Votum:
Psalm 125:1: “Die wat op die HERE vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, maar bly tot in ewigheid.”
Groetseën
2 Kor 13:14: “Mag die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle almal wees! Amen.”
Loflied
Psalm 94-1:8-10
Geloofsbelydenis
1. Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
2. en in Jesus Christus, Sy eniggebore Seun, ons Here;
3. wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
4. wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is. Hy het die lyding van die hel ondergaan.
5. Hy het op die derde dag opgestaan uit die dood;
6. opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
7. waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.
8. Ek glo in die Heilige Gees;
9. Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
10. die vergewing van sondes;
11. die opstanding van die liggaam
12. en ‘n ewige lewe.
Amen.
Wet
Lees Eksodus 20
Verootmoedigingspsalm
Psalm 79-1:5-7
Gebed
Ons hemelse Vader,
Ons bid dit in Jesus Christus se Naam. Amen.
Perikoop: 1 Timotheus 2:1-7
Fokusverse: 1-2
Tema: Bid vir die owerhede sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.
Voor die Skriflesing:
Broers en susters, ons luister vandag na God se Woord in 1 Timotheus 2:1-7. Hierdie verse is deel van ‘n groter groep opdragte wat Paulus vir Timotheus gee oor die erediens. Daar is nie veel te sê oor die struktuur van die verse wat ons gaan lees nie. Dit het ‘n baie logiese orde waarin daar eers ‘n opdrag gegee word in vers 1 en 2a. En daarna word die rede gestel waarom die gemeente dit moet doen in vers 2b-7. Oor die boek self kan ons net kortliks noem dat dit persoonlik gerig is aan Timotheus wat in verskeie ander boeke van die NT geïdentifiseer word as ‘n mede-dienaar van Paulus. In die tyd wat Paulus die brief aan hom skryf is hy nie besig om saam met hom te reis en die evangelie te verkondig nie, maar is by ‘n plaaslike gemeente wat hy bedien as prediker. Ons lei vanuit Handelinge en Paulus se ander briewe af dat Timotheus moontlik in Efese was toe hy die brief ontvang het. Timotheus het die brief persoonlik ontvang, maar die inhoud daarvan maak dit duidelik dat dit bedoel was om vir die hele gemeente gelees te word.
Skriflesing: 1 Timotheus 2:1-7
Fokusverse: 1-2
Inleiding:
Broers en susters, bid vir die owerhede. Dit is so eenvoudige opdrag, maar een wat so moeilik is om uit te voer! Want die bose owerhede van hierdie wêreld maak dit nie maklik om van hulle te hou nie, nog minder om vir hulle te wil bid. En tog is dit die eerste opdrag wat aan Timotheus gegee word. Ons gaan hierdie opdrag vandag benader deur eerstens na die opdrag self te kyk en daarna na die rede waarom dit gegee word.
1. Bid vir almal wat hooggeplaas is.
Eerstens dan die opdrag self. Paulus vermaan of moedig ten sterkste aan dat ons moet bid. Hy gebruik vier verskillende sinonieme vir gebed. En hierdie sinonieme is nie ‘n betekenislose herhaling nie, maar elkeen dra ‘n ander nuanse by tot die groter opdrag. In die Afrikaans in die 1933/’53-Vertaling is die betekenis van hierdie woorde eintlik baie goed oorgedra. Ons gaan tog net kortliks na elkeek kyk.
Die eerste woord is vertaal as smekinge. Die Griekse woord dui op ‘n nederige smeking in ‘n spesifieke konkrete situasie teenoor God met die wete dat slegs God kan help. Byvoorbeeld ons sal smekinge doen as ons vra dat God ons uit ons armoede of van ‘n spesifieke siekte moet red. Die tweede woord wat vertaal is as gebede is baie meer algemeen en verwys na alle maniere van hoe en waarom ons met God praat. In die konteks van die vier sinonieme vir gebed het hierdie woord dalk eerder ‘n baie meer beperkte betekenis. As smekinge na spesifike nood of spesifieke omstandighede verwys kan hierdie woord dalk verwys na die breër meer algemene omstandighede waarvoor ons altyd behoort te bid. Byvoorbeeld om vir wysheid te bid is nie iets wat net beperk is tot spesifieke nood situasies nie, maar ons behoort gereeld daarvoor te bid.
Die derde woord is vertaal as voorbedes. Eenvoudig beteken dit dat ons moet bid vir of namens ander. Dit is nie ‘n gebed waarin jy self die persoon is waarvoor gebid word nie. Soos ons later gaan hoor is dit juis die fokus van al hierdie sinonieme van gebed dat ons vir ander moet bid. Die laaste woord is vertaaal as danksegginge en dit voltooi of sluit die gebed op die regte manier af. Ons het verlede week gehoor dat God geseënd is omdat Hy ons seën en het gehoor dat dit beteken dat God se seën vir ons keer terug na Hom in die vorm van ons lofprysing. In 1 Timotheus 2 sien ons dieselfde gebeur. Ons bid vir verskeie goed en omdat ons kan vertrou dat God ons gebede sal verhoor bid ons ook met dank vir God se genade.
Vers 1 eindig met ‘n aanduiding van wie ons voor moet bid. Daar staan letterlik in die Grieks dat dit vir alle mense is. Maar as ons na vers 2 kyk dan sien ons dat hierdie alle mense dalk eerder ‘n spesifieke groep mense is. Dit is die konings en almal wat hooggeplaas is. Broers en susters, ons kan die alle mense beskou as ‘n verwysing na alle mense en dat vers 2 bloot net meer spesifiek is sonder om die mense uit te sluit wat nie konings is of hooggeplaas is nie. Maar dit maak nie in die konteks regtig sin nie. Die konings en hooggeplaastes is eintlik die teiken groep wat in gedagte is en ons moet vir elkeen van hulle bid.
Maar eers dan nou wie is hierdie groep mense? Konings is ‘n woord wat ons ken, maar die mense aan wie Paulus geskryf het, het nie ‘n koning gehad nie. Die keiser was hulle regeerder. Paulus gebruik die woord koning egter vir ‘n rede. Daar was ‘n gebruik in daardie tyd om die hoogste regeerders in Grieks konings te noem. So is die keiser, goewerneurs en ander baie hoë amptenare soms konings genoem. Die hooggeplaastes sal dus al die ander staatsamptenare wees wat nie so hoog soos die eerste groep is nie, maar tog regeer oor mense. Die opdrag is dus dat daar vir al die owerhede gebid moet word op al die maniere wat ons reeds genoem het.
Dit beteken dus dat ons vandag ook vir die owerhede moet bid wat oor ons is. Ons kan hulle nie uit ons gebede los net omdat hulle ons ontstel nie. Die owerhede wat in 1 Timotheus 2 van gepraat word is owerhede wat nie net die ekonomie swak bestuur nie, of net eredienste verbied nie. Dit is owerhede wat openlik en skaamteloos die Christene vervolg het. En dit is juis as gevolg van die owerhede van daardie tyd se vyandigheid teenoor die Christene dat Paulus hulle vermaan om vir die owerhede te bid. Hulle moet bid sodat die openlike vyandigheid vervang moet word met omstandighede wat toelaat dat die Christene ‘n rustige en stil lewe kan lei.
2. Bid vir hulle sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.
Broers en susters, dit is noodsaaklik dat ons hierdie rede nie moet los maak van die opdrag nie. Hierdie vermaning om vir owerhede te bid is nie ‘n algemene oproep om oor baie verskillende goed vir die owerhede te bid nie, maar het ‘n spesifieke doel. Dit gaan oor die ruimte wat geskep moet word sodat die kerk haar taak kan verrig om die evangelie te verkondig, veral in die erediens. Dit is in kort die rede wat gegee word, so kom ons kyk nou bietjie meer in diepte hierna.
Die eerste ding wat genoem word is dat ons moet bid sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei. Hierdie rustige en stil lewe moet ons nie los maak van die res van die sin nie. Hierdie rustige en stil lewe moet in alle godsvrug en waardigheid gelei word. Dit is dus nie ‘n maklik lewe op jou stoep waar jy weg bly van mense af nie. Maar dit is ‘n lewe sonder die vervolging wat die Kerk se godvrugtige en waardige lewe keer.
Die nuwe 2020-Vertaling het die woord godvrugtig vertaal as godvresendheid. Dit dra die betekenis mooi oor dat ons lewe in gehoorsaamheid en eerbied aan God gelei moet word. Die tweede woord is in lyn hiermee. ‘n Lewe wat in waardigheid gelei word is een waarin jou gedrag, denke en woorde pas by dit wat jy is, naamlik ‘n nuwe mens in Jesus Christus wat in alles gehoorsaam behoort te wees aan jou hemelse Vader. Wanneer ons bid vir die owerhede is dit dus sodat hulle die wysheid moet kry om vir ons die ruimte te gee om aan God gehoorsaam te kan wees sonder dat ons daarvoor vervolg word.
Hoe relevant is hierdie opdrag nie vandag nie, broers en susters? Ons word juis deur die owerhede van ons dag nie die vryheid gegee om in alle godsvrug en waardigheid vir God te dien nie. Ons eredienste is steeds verbode! En daarom moet ons volhard om vir die owerhede te bid sodat hulle hierdie verbod moet lig.
In vers 3 en 4 sien ons watter agting God het vir sulke gebede. Dit is vir Hom goed en aangenaam. Dit spreek boekdele van hierdie gebed. Ons weet dat ons as mense soms vir die verkeerde goed bid en daarom sluit ons gereeld ons gebede af met die belydenis dat God se wil sal geskied en nie ons s’n nie.
Slot:
Amen.
Antwoordpsalm:
Skrifberyming 8 (5-3):1-2
Gebed:
Lofprysing en dank:
Hemelse Vader,
Voorbidding (Kerk, mense in nood, owerhede en die wêreld):
Beloftes:
Ons bid dit in Jesus Christus se Naam. Amen.
Dankoffers:
Lofpsalm:
Psalm 98-1:1-2
Wegstuurseën:
Numeri 6:24-26:Die HERE sal jou seën en jou behoed;die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Related Media
See more
Related Sermons
See more