E140. Eks 20'13 - Die Sesde Gebod [3]

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 27 views
Notes
Transcript

EKS 20:13; DT 5:17 : DIE SESDE GEBOD [3]


No. E140




DIE SESDE GEBOD HET VERREIKENDE PRAKTIESE IMPLIKASIES. Baie is reeds daaroor geskryf. Maar in min van die areas is die laaste woord gespreek. Tewens, hier kry ons van die heel moeilikste etiese kwessies. Kom ons kyk vandag na drie van die mees brandende kwessies in ons tyd.


SELFMOORD


 Die Bybel noem 6 gevalle van selfmoord: Simson (Rig 16:23-31); Saul en sy wapendraer (1Sam 31:3-5); Agitofel (2Sam 17:23); Koning Simri (1Kon 16:18-19); Judas Iskariot (Mt 27:3-5).

Nêrens lewer die Bybel kommentaar in uitdruklike taal oor hierdie gevalle nie - nie goed of sleg nie. In die meeste gevalle is dit duidelik dat hierdie manne se selfmoord die uitloopsel was van hulle sondige lewens (1Kon 16:19). Maar die geval van Simson is nie so maklik nie. Hy word immers in Hebreërs 11 se gallery van geloofshelde genoem (v.32, 39). Dis waarom Augustinus geredeneer het dat hy deur die Heilige Gees gedring is om die pilare van die Filistynse tempel om te trek.


 In terme van die Sesde Gebod kan tipiese selfmoord nooit eties geregverdig word nie. Ons mag 'n naaste nie doodmaak nie, omdat hy God se beelddraer is. Maar dis ook op myself van toepassing - ongeag hoe ellendig my situasie.

Selfmoord is om iets geweld aan te doen wat regtens aan God behoort. Die mens is Sy skepsel. Ontvangenis, lewe en geboorte is Sy gawes. Asem, brood en ander lewensnoodsaaklikhede is Sy voorsiening. Sekerlik is dit dan ook Sy soewereine prerogatief alleen om mense vanuit hierdie lewe na die hiernamaals te neem - wanneer en soos Hy wil.

Van die vroegste tye af het die kerk daarom selfmoord veroordeel. Kerk-begrafnisse is in die eerste eeue vir sulke mense gewyer. Tog moet mens versigtig wees vir 'n simplistiese veroordeling.


$ Een van die aanklagte teen selfmoordenaars is hulle selfsug. Hulle ontvlug dalk hulle eie ellende - of so dink hulle - maar laat dikwels ewe groot ellende in ander lewens agter. Dis waar. Maar soms het die agtergeblewenes ook 'n groot aandeel in iemand se selfmoord - direk of indirek, deur daad of deur nalating. Eerder as om uit die hoogte te veroordeel, moet ons eerder onsself afvra of ons gedoen het wat ons kon om sulke mense in hulle nood te ondersteun.

Wanneer ons met mense werk wat op die punt van ineenstorting staan, moet ons hulle ten alle koste aan die verstand probeer bring dat daar in Christus 'n toevlug is vir die mees desperate mense.


$ Die vraag word dikwels gevra of 'n selfmoordenaar gered kan word? Kan daar vergiffenis wees as daar nie geleentheid vir sondebelydenis is nie?

Dit is waar dat selfmoord amper altyd 'n verskriklike sonde is. Dit is waar dat dit sónde is wat mense in die verdoemenis laat beland. Dit is waar dat ons ons sonde aan die Here moet bely - en daarsonder nie sommer net kan aanvaar dat ons vergewe is nie. En dit is waar dat geloof wat nie gepaard gaan met belydenis, verootmoediging en bekering nie, ernstig onder verdenking is.

Maar tog moet ons nie simplisties en mensgesentreerd argumenteer nie. Redding hang ten diepste nie van die mens en sy belydenis en bekering af nie. Wie kan ál sy sonde by die naam bely? Nee, ons word gered en vergewe as ons deur 'n ware en algeheel afhanklike geloof in Christus geregverdig is - 'n geloof wat nie anders kan as om te bely en te bekeer nie! Die vraag is dus: was die persoon wat selfmoord gepleeg het met Christus verenig toe hy gesterf het? Het sy lewe van toewyding en goeie werke dit duidelik laat blyk?

So benader, besef mense skielik dat jy soms ook súlke mense kry wat selfmoord pleeg.

Tog bly 'n ander vraag onontkombaar voor mens staan: sal iemand wat waarlik met Christus verenig is, selfmoord pleeg? Hierop kan mens net met die grootste versigtigheid en piëteit antwoord: dis onwaarskynlik, maar dit kan gewis gebeur! Ook wedergebore mense is steeds van stof gemaak.

In die finale analise moet ons die vraag oor dierbares wat op hierdie tragiese wyse heen is, by die Here laat. Sal die alwyse, genadige en regverdige God van lewe en dood nie weet om reg te doen nie?


 Daar is natuurlik ook iets soos geregverdigde selfmoord - dié van self-opoffering. Sê die Here Jesus nie: "Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê" (Jh 15:13). Uiteraard gaan dit hier nie in die eerste plek om 'n letterlike toepassing nie. Maar dis sekerlik nie uitgesluit nie. Presies dit is die pad wat die Here Jesus baie letterlik gestap het.

Geregverdigde selfmoord is dus wanneer iemand vrywillig sy lewe aflê tot behoud van 'n ander. Dis die man wat tussen sy makkers bo-op 'n handgranaat val. Dis die ma wat tussen haar kinders en 'n misdadiger se koeëls inspring.

Dis waarskynlik hoe Simson se selfmoord verstaan moet word. Hy het dit nie gedoen om 'n einde aan sy misrabele situasie te bring nie. Dit was die afronding van sy lewenstaak - as teenstaander van God se vyande.


 'n Meer subtiele vorm van selfmoord is ook hier ter sprake. Die vergryp aan praktyke en plesiere wat oor die langer termyn selfvernietigend is. Dwelms - van alkohol tot nikotien - asook ongesonde lewens- en eetpatrone, is 'n baie algemene voorbeeld. Dis selfmoord in paaiemente. Lewensgevaarlike sportsoorte kan ook hier geklassifiseer word.


ABORSIE


 Vroeër het kommentatore oor die Sesde Gebod bykans geen aandag gegee aan aborsie nie. Dit was die universele opinie - van Christene sowel as nie-Christene - dat hierdie praktyk totaal onaanvaarbaar is. Vandag is dit egter anders.


$ Die Geneefse Deklarasie van 1948, wat aanvaar is deur die Wêreld Mediese Assosiasie, lui ondermeer: "Ek sal die uiterste eerbied handhaaf vir menslike lewe - vanaf die oomblik van bevrugting."

En so onlangs soos 1973 skryf die Duitse teoloog, Bo Reicke, dat die verbod op moord die enigste element van die Tien Gebooie is wat nog in 'n gesekulariseerde wêreld gehandhaaf word.


$ Aborsie, wat tot onlangs as moord beskou is, word nou selfs deur groot dele van die Christelike kerk gepropageer. Allerlei argumente word aangevoer. Ten grondslag van almal lê die vals aanname dat 'n ongebore kind nie 'n mens genoem kan word nie, omdat die sogenaamde fetus deel is van die moeder, van haar ingewande. En uiteraard kan enige vrou self besluit wat daarmee gebeur - soos met 'n blindederm (so word geredeneer).


$ Hierteenoor leer die Bybel dat God reeds van die eerste oomblikke af intiem betrokke is by die skep van 'n nuwe en unieke persoon (vgl. Ps 139; Job 10:8-12). En hierdie feit word bevestig deur oorweldigende wetenskaplike getuienis.


EUTANASIE OF GENADEDOOD


Eutanasie beteken om goed te sterwe - en in die moderne konteks dui dit op die doodsbespoediging van iemand wat medies gesproke verby die moontlikheid van herstel is en vir wie voortgaande lewe uiters moeilike lyding inhou. Daarom word dit ook soms genadedood genoem.


 Daar is twee soorte eutanasie.

Eerstens is daar die beëindiging van lewe op versoek van die betrokke persoon self. Eintlik is dit niks anders as geassisteerde selfmoord nie.

Tweedens is daar die beëindiging van lewe sonder die instemming van die betrokke persoon - gewoonlik op grond van die naaste familie se versoek, of op grond van deskundiges se mening. Dit sou tipies plaasvind in gevalle van babas wat uiters gestremd gebore word, of van bejaardes wat aan ernstige seniliteit of iets soortgelyk ly.


$ Die basiese argument vir eutanasie lê in die aanname dat óf die individu self, óf 'n paneel van kenners die reg het om te besluit wanneer dit wenslik is om 'n lewe te beëindig. Baie wat nie die legitimiteit van laasgenoemde soort eutanasie erken nie, vind egter nie fout met eersgenoemde soort nie.


$ Die feit bly egter staan dat beide benaderings in stryd is met die Sesde Gebod. Ongeag hoe simpatiek mens ook al na die motiverings daarvoor kyk, bly eutanasie 'n betreding van grond wat net aan God behoort - nl. die beëindiging van lewe hier op aarde.


$ Niemand ontken dat uiters moeilike situasies soms ontstaan nie. Watter toekoms wag daar op kinders wat nooit vir hulleself sal kan sorg nie, wat nooit uit 'n bed sal opstaan nie, wat met niemand kan kommunikeer nie? Watter nut het die lewe vir 'n verswakte bejaarde wat glad nie meer weet wat om hom aangaan nie? En hoe uiters moeilik kan sulke gevalle nie wees vir naasbestaandes nie? Maar steeds - God is God, en ons durf nie oortree op die gebied van Sy soewereine prerogatiewe nie. Óf 'n mens sterf as sy psigologiese of fisieke kragte uitgeput is, óf hy word doodgemaak.


 Dit beteken nie dat mediese behandeling onbepaald moet voortduur nie - ten einde die lewe kunsmatig te verleng. Of anders gestel: dit beteken nie dat die sterwensproses onnatuurlik uitgerek moet word nie, hetsy medisinaal of meganies. Dis belangrik om te onderskei tussen die beëindiging van lewe en die beëindiging van behandeling.


$ Daar kom soms 'n tyd wanneer, medies gesproke, geen hoop op herstel meer bestaan nie. Soms is dit wreed om die dood - wat reeds sou ingetree het sonder kunsmatige lewensonderhouding - langer te weerstaan. Maar selfs dan bly die besluit om "die masjiene af te skakel" skrikwekkend gewigtig. En 'n gelowige kan dit net biddend en met die grootste piëteit neem. Dit beteken nie dat versorging ook onttrek moet word nie; inteendeel. So 'n pasiënt moet byvoorbeeld steeds gevoed en gemaklik gemaak word so goed mens kan. Maar die sterwensproses word toegelaat om sy natuurlike gang te gaan.

Dis belangrik om raak te sien dat so 'n persoon nie doodgemaak word nie. Hy of sy word bloot oorgegee aan die natuurlike sterfproses.


SLOT


Niemand sê dat die sake wat ons aangespreek het, simplisties is nie. Die teendeel is waar. Maar dis vir seker 'n uitdrukking van ongeloof as mens nie huiwer nie om terreine te betree waar die allerhoogste, soewereine en alwyse God alleen mag beweeg. Mag Hy self ons begenadig om steeds 'n ware geloof in Hom te hê, asook 'n diep ontsag vir Sy heilige soewereiniteit.


Nico van der Walt





$ Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.

$ Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie:

E: nico.vanderwalt@reformed.org.za; Posbus 856, Ceres, 6835. Tel: 023-312 1687; 082 7766 141.

$ www.reformed.org.za www.antipas.org.za www.sola5.org

$ Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd in Afrikaans of Engels per e-pos gestuur aan ongeveer 2000 mense wat dit aangevra het.

$ Geen kopiereg. Dupliseer gerus. Of stuur elektronies verder.

$ Vorige E-preke is te kry op die eerste twee webwerwe hierbo.

$ Preekopnames: E: info@nunide.org.za; Tel: 012-8083 906


4/4

4/4


E140 - Eks 20:13; Dt 5:17 : Die Sesde Gebod [3]

Related Media
See more
Related Sermons
See more